Die nadraai van George Floyd se dood

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Op Woensdag 27 Mei het ‘n skokvideo op Amerikaanse nuusskerms mense wêreldwyd met afgryse vervul. In die video kan gesien word hoe ’n polisielid, Derek Chauvin, sy knie stewig op die nek van George Floyd plaas en hom op die grond vaspen omdat hy hom glo teen inhegtenisneming verset het. Die polisieman het hom nie gesteur aan Floyd se angsuitroepe, “Ek kan nie asemhaal nie!”

Floyd se ysingwekkende stryd om lewe en dood het ongeveer agt minute geduur voordat hy gesterf het. Die beeld van sy liggaam op ‘n draagbaar het die land geruk. Soos verwag het betogers die strate ingevaar – dit was die hoeveelste haatmisdaad, die hoeveelste voorval van polisiebrutaliteit teen swart mense.

Ná die dood van Trayvon Martin, Ahmaud Arbery, Breonna Taylor en Eric Garner, was die dood van Floyd soos olie op die vuur. Vreedsame protesoptredes in Minneapolis, waar die noodlottige aanranding plaasgevind het, het spoedig ontaard ​​in onluste van epiese omvang.

Sedert Vrydag is duisende oproeriges in hegtenis geneem, hordes ondernemings beskadig en geplunder, heelwat daarvan wat Afro-Amerikaanse gemeenskappe bedien. Selfs ’n polisiekwartier is aan die brand gesteek. ’n Afro-Amerikaanse vrou in ‘n rolstoel, wat uit ‘n hoë gebou gered is, het in trane uitgebars toe sy sien dat die plaaslike winkels wat haar medisyne en alles wat sy nodig het, verkoop, tot op die grond afgebrand is. Verskeie swart mense het saam met hul wit gewapende landgenote probeer om die klein ondernemings wat dekades lank goeie dienslewering gebied het, te beskerm.

(Foto: John Minchillo, AP)

Wetstoepassingbeamptes op straat was so afwesig soos die wet. Die georganiseerde oproeriges het die polisie se onwilligheid om in te gryp, gewaar, en het ‘n plundertog van vernietiging, chaos en anargie begin. Die aandklokreël wat in verskeie stede ingestel is, het geensins gehelp nie – bloot omdat dit mosterd na die maal was en die verwoesting reeds plaasgevind het.Protesoptogte tesame met opstande het soos ’n veldbrand deur New York (die Bronx, Manhattan), die staat van Washington, Washington DC, Seattle, Nevada, Dallas, Philadelphia, Atlanta, St. Louis, Los Angeles en baie ander versprei. Minneapolis, soos Philadelphia, het in ‘n oorlogsone ontaard.

In ongeloof het ek aanskou hoe moordlustiges ‘n klomp onbemande polisievoertuie se bande afblaas, vandaliseer en stroop. Tonele van straffeloosheid is tot in ander stede gevoel – ‘n leitmotif van vreesloosheid aangesien die sigbare polisie weinig gedoen het om die golf van bloedige geweld te stuit. Dit was duidelik dat die wetstoepassers opdragte uit ʼn hoër gesag ontvang het om hulself te weerhou van enige optrede wat die situasie verder kon laat opvlam.

Dit is ook moontlik dat baie polisiebeamptes eenvoudig nie opgetree het nie uit vrees dat hulle hul werk kan verloor. Selfs ikoniese geboue het deurgeloop. Die St. John’s-kerk naby die Withuis (waar elke president sedert Madison dienste bygewoon het) is aan die brand gesteek; die Lincoln- en Tweede Wêreldoorlog-gedenktekens is gevandaliseer; plaaslike winkels is geplunder en aan die brand gesteek; luukse winkels in Manhattan is verwoes, en in Los Angeles is die gesogte Grove Mall ook geteiken.

(Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Voor die Withuis het woedende plunderaars die versperrings afgebreek waar hulle deur ’n kordon van geheimediensagente gekonfronteer is. Laasgenoemde is egter uitgetart met bakstene, petrolbomme, waterbottels en so meer. Baie agente is in die skermutseling beseer. Tonele van plunderaars wat met groot hoeveelhede gesteelde goedere verby polisielede loop, het ‘n algemene gesig geword. ‘n Oproerige wat ‘n hamer gebruik het om eiendom te beskadig, is deur betogers aan die polisie oorhandig nadat die polisie hom wel gesien, maar geïgnoreer het. Die onwilligheid van die polisie om mense in hegtenis te neem, was duidelik merkbaar. Georganiseerde plunderaars in motors sonder nommerplate, en met moderne selfone, stapels bakstene en waterbottels het met geesdrif bygedra tot die bloedbad.

Twee gerespekteerde prokureurs van Brooklyn, die 32-jarige Colinford Mattis, vergesel van die 31-jarige Urooj Rahman, is in hegtenis geneem vir die gooi van petrolbomme in twee polisiemotors en vir die uitdeel van brandbomme aan betogers. Albei het hul opleiding onder die Ivy League-vaandel ontvang – die een aan die Princeton-Universiteit en die New York School of Law, en die ander aan die Fordham University School of Law. Nodeloos om te sê dat hul loopbane nou na die maan is.

(Foto: AP Photo/Noah Berger)

Black Lives Matter (BLM) en Antifa, albei aktief onder oudpres. Barak Obama, sowel as ʼn verskeidenheid van kommunistiese organisasies, is ongetwyfeld verantwoordelik vir die chaos. Hierdie goed befondsde ekstremistiese netwerke kom altyd tydens protesoptogte met verdagte reëlmaat na vore.

Dié rewolusionêre anti-regeringsbewegings word openlik deur pro-Demokratiese Party-donateurs ondersteun met die doel om pres. Donald Trump se administrasie te destabiliseer. Netflix (van wie die Obamas $200 miljoen ontvang het), Amazon, Hulu en baie ander in Hollywood wat BLM befonds, bied nou aan om die oproeriges wat in hegtenis geneem is, se borgtoggeld te betaal. Terwyl baie ondernemings die BLM ondersteun het, is hul winkels nietemin aan die brand gesteek. BLM en Antifa funksioneer soos bewegende teikens en het oral selle, aldus hul vermoë om hul militante vernietigende aksies landwyd te koördineer.

Die openlike mislukking van die onwaar aanklag van Russiese sameswering om Trump te onttroon, het die linkse magte gedryf om ‘n tragiese voorval soos Floyd se dood te gebruik om die Trump-presidentskap te probeer ontspoor. Onlangse onthullings van ‘n poging tot ’n staatsgreep teen Trump (met nog dagvaardings teen hooggeplaaste beamptes), is niks minder nie as ’n aanvuring om die president te onttroon. Hoe anders verklaar ons senior Demokraat-politici, die media en Hollywood wat Trump van ’n “moord” wat in Minneapolis plaasgevind het, beskuldig? Of ‘n demokratiese plaaslike regering, met ‘n demokratiese burgemeester en goewerneur en polisiekommissaris?

(Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Trump se aandrang op die herstel van orde, asook die toenemende antipatie van plaaslike inwoners teenoor BLM en Antifa vir die vernietiging van hul woonbuurte, het burgemeesters en goewerneurs genoop om die modus operandi van hierdie ekstremistiese groepe wat hul eie agendas uitoefen, te erken vir wat dit is: ’n goed georkestreerde bloedbad wat met militêre presisie uitgevoer is.

President Trump het Antifa sonder verwyl as ‘n terreurgroep verklaar en prokureur-generaal Barr opdrag gegee om elke aspek van dié organisasie verder te ondersoek. Antifa (hoofsaaklik wit georganiseerde anti-Trump-groepe) het geesdriftig betrokke geraak om die BLM-beweging se rewolusionêre optrede meer legitimiteit te gee en deur middel van geïnstitusionaliseerde meganismes te befonds.

Eers dae later, toe die chaos voortduur, het senior owerhede, wat voorheen vyandiggesind teenoor Trump was, hul stem laat hoor. Gavin Newsom, goewerneur van New York het gesê: “Mense wat die pyn van Kaliforniërs uitbuit om chaos en vernietiging te saai, is verwerplik”. Die burgemeester van Washington DC, Muriel Bowser, wat beweer het dat die federale polisie-optrede skandelik is, het grimmig saam met Trump die verwoesting van ikoniese historiese monumente in die hoofstad veroordeel en ‘n aandklokreël ingestel – ongelukkig ‘n bietjie te laat.

(Foto: AP Photo/Ashley Landis)

Bill De Blasio, burgemeester van New York, wat aanvanklik die polisie se selfbeheersing geprys en protesoptogte “vreedsaam” genoem het, het sy deuntjie vinnig verander toe sake begin skeefloop en in geweld ontaard het, en dit bekend geword het dat 33 polisielede beseer en 47 polisievoertuie beskadig is. Garcetti, burgemeester van Los Angeles, het geweier om die verwoesting wat gesaai is, te erken, totdat dit na Los Angeles oorgespoel, en groot verleentheid veroorsaak het. Keisha Lance Bottoms, burgemeester van Atlanta, het egter die regte toon aangeslaan en die oproeriges in geen onduidelike taal veroordeel nie.

President Trump het Sondag die land toegespreek en sy medelye met die Floyd-familie betoon en terselfdertyd die vernietiging van menselewens, eiendom en besighede sterk veroordeel.

Alle Amerikaners is tereg gewalg en in opstand deur die wrede dood van George Floyd. My administrasie sal sorg dat geregtigheid vir George en sy gesin geskied. Sy dood sal nie tevergeefs wees nie. Ons kan nie toelaat dat die geregverdigde krete van vreedsame betogers deur ‘n woedende skare gesmoor word nie. Die grootste slagoffers van die onluste is vredeliewende burgers uit ons armste gemeenskappe.

As president en bondgenoot van alle vreedsame betogers, sal ek veg om hulle veilig te hou. Ongelukkig is ons volk die afgelope dae in ’n greep vasgevang deur professionele anargiste, gewelddadige skares, brandstigters, plunderaars, misdadigers, oproeriges, Antifa en ander. Dit is jammer dat ’n paar staats- en plaaslike regerings nie daarin geslaag het om die nodige stappe te doen om hul inwoners te beskerm nie.

Amerika het opbou nodig, nie vernietiging nie; samewerking, nie minagting nie; veiligheid, nie anargie nie; genesing, nie haat nie. En geregtigheid, nie chaos nie.

Ek mobiliseer alle beskikbare federale hulpbronne – burgerlik en militêr – om die oproer en plundering te stop, om die vernietiging en brandstigting te beëindig, en om die regte van wetsgehoorsame Amerikaners te beskerm – jul tweede wysigingsregte ingesluit. Daarom is die volgende maatreëls onmiddellik van krag: Eerstens sal die onluste en wetteloosheid wat in ons land versprei het, beëindig word.

Ek het aan elke goewerneur die opdrag gegee om die Nasionale Burgermag in voldoende getalle te ontplooi sodat ons die strate kan beheer; burgemeesters en goewerneurs moet ‘n oorweldigende teenwoordigheid van wetstoepassing bewerkstellig totdat die geweld beëindig is. Sou ‘n stad of staat weier om dié stappe te doen om die inwoners en hul eiendom te beskerm, sal ek die Amerikaanse weermag ontplooi en die probleem vir hulle vinnig oplos.

President Trump het sy woord gestand gedoen en 17 000 Nasionale Burgermaglede in 24 state ontplooi. Slegs twee state het egter aanvanklik meer as 1 000 Burgermaglede ontplooi. ’n Gefrustreerde Trump het gesê:

Ons het al die mans en vroue wat nodig is, maar hulle word nie opgeroep nie. Julle moet domineer, as julle nie domineer nie, mors julle jul tyd – die oortreders gaan bo-oor julle hardloop en julle soos ’n spul gekke laat lyk. Julle moet die wetsoortreders opspoor, in hegtenis neem en hulle vir tien jaar lank in die tronk laat sit, dan sal hierdie dinge nooit weer gebeur nie.

Lakse en tartende Demokratiese leiers het Trump natuurlik die skuld gegee dat hy die land gemilitariseer het toe hy belowe het:

Ek sal veg om julle te beskerm.

(Foto: AP Photo/Matt Slocum)

Intussen is min oor George Floyd bekend, behalwe dat hy met ‘n vervalste $20-noot vir sy pakkie sigarette betaal het. Hy het wel ook ‘n lywige kriminele geskiedenis. Blykbaar het hy onlangs na Minneapolis verhuis om ‘n nuwe blaadjie om te slaan. ’n Video waarin hy jongmense maan om hul lewens te verander en hulle tot God te wend, doen die rondes.

Onafhanklike patoloë wat deur die gesin gehuur is, het die oorsaak van sy dood, wat veroorsaak is deur aanhoudende ​​versmoring wat die bloedvloei na sy brein afsny het, bevestig. Sy dood is waarskynlik deur sy onderliggende gesondheidstoestand en medikasie versnel, maar Floyd sou vandag gelewe het as Chauvin korrek en volgens die reëls opgetree het.

By die één geleentheid, toe Amerikaners verenig was in hul afkeer van hierdie gruwelike misdaad, het die Demokrate dit gebruik om in hul meedoënlose strewe na mag groot verdeeldheid te skep. As hulle so voortgaan, kan die Verenigde State binnekort bekendstaan as die Disunited States of America.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Therese ·

Tragiese voorval in die VSA.
Die skokkende gebeure wat daarop gevolg het, verbaas my geensins.
In Hillary Clinton se toespraak as verloor-kandidaat het sy haar huilende ondersteuners opgesweep met die woorde: “never stop fighting” etc.
Hulle het haar letterlik verstaan, en nog nie ophou baklei die afgelope vier jaar nie.

Vriendelike Frikkie ·

Hier in SA ook gehoor van ‘n bekende vrou dat hulle die land met vuurhoutjies en brandende bande gaan bevry. Het hulle dieselfde leerskool gehad?

Jacobus ·

Eerstens dankie aan Rhoda wat waarskynlik die mees akkurate verslag doen (soos altyd) en nie geskoei op die opruiende verslaggewing deur die gewone ongebalanseerde pers in die VSA (Waar werklike feite nie nuuswaardig is nie.)
Die spulletjie raak nou duur – gelukkig hoef Soros nie vir die skade te betaal nie, net vir die profesionele boewe.
Ons hét simpatie met die lewensverlies. Selfs al sou ‘n tweede na-doodse ondersoek feite bevestig gaan feite nie ver nie.

Andre ·

Alewig, arme ons….

‘n Polisieman het mag oor jou – hy probeer die wet handhaaf!
As ‘n polisieman jou vra om stil te staan ens. want hy wil jou dalk deursoek om te kyk of jy wapens aan jou het – ek stel voor doen dit. As jy niks het om weg te steek nie, dan is daar mos geen probleem nie!
Die meerderheid van polisie mense is ordentlik en wil net die wet handhaaf, jy kry wel jou korrupte vrot appels. Ek is jammer dat hierdie Floyd ou se lewe moes verloor het, pleks hy eerder net na die polisie geluister het en nie homself pap gedrink het en probeer het om sigarette met vervalste geld probeer koop nie.
Snaaks, as mens die regte goed doen, gebeur die regte goed met jou!
BTW – vir al die AA, hierdie is “police brutality” en nie rassisme nie!!!

Spook ·

Rhoda, miskien moet die sogenaamde “Afro-Amerikaners” eerder probeer om hulself as Amerikaners te sien. Hulle oortuig hulself dat die hele wereld hulle probeer onderdruk. Siestog. Maar soos Tyl Uilspieel gesê het: “Almal haat my, maar ek maak daarna.”

tvw ·

‘n Gees van wetteloosheid wat al hoe meer na vore kom. Diesulkes is soos stout kinders wat nie hul sin kry en dan skop en skreeu vir aandag. Hier by ons in Suid Afrika gaan dit net so erg met tye, daar is definitief ‘n hoër gesag wat die geweld en geplunder aanhelp.
En vir die van ons wat glo in eskatologie, weet dat dit net erger gaan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.