Die noodsaak van objektiewe geskiedskrywing en interpretasie

geskiedenis-ou-kamera-retro

Foto: Pixabay.com

Deur Evelyn D. Ferreira

Die debat oor wat nou eintlik die “regte geskiedenis” van Suid-Afrika is, heers al vir jare. Kyk ʼn mens na titels van gesaghebbende werke wat al oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis geskryf is, bestaan daar ʼn wye verskeidenheid. In 2018 is die oproepe tot die noodsaaklikheid van ʼn “gebalanseerde” geskiedenis van Suid-Afrika egter steeds hoorbaar. ʼn Geskiedenis wat kinders op skool moet leer sodat hulle die Suid-Afrika van vandag beter kan verstaan. Dit ten spyte van pogings wat al deur historici aangewend is om gehoor aan bogenoemde versugting te gee. Die geykte vraag wat dan maar weer ter sprake kom, is natuurlik: “Uit watter perspektief?” Want die stemme kom uit alle kante van die spektrum.

Die woord “gebalanseerde” is met die wegspring al problematies. Beteken dit dat die geskiedenis so geskryf moet word dat dit almal tevrede stel? Sou dit beteken dat sekere feite verswyg moet word en ander weer meer beklemtoon moet word sodat die leser moet hou waarvan hy/sy hoor? Dit bring my by die vraag oor die objektiwiteit van geskiedenis as vakdissipline. Beskik iemand inderdaad oor die vermoë om objektief om te gaan met feite wat hom/haar gemaklik of ongemaklik laat? Die deurwinterde historikus sal dadelik sê dat nie moontlik is nie, maar dat daar op ’n wetenskaplike wyse daarna gestrewe kan word. Amper soos die gelowige wat na volmaaktheid strewe hoewel hy weet dat hy dit nie in hierdie ondermaanse sal kan bereik nie. Hoewel akademici en mense wat in die wetenskaplike metode van geskiedskrywing opgelei is, sekerlik die mense is wat “vertrou” behoort te word met die waarheid oor die verlede, is daar vandag ook ’n groot aantal “kundiges” wat hul weergawe van die geskiedenis aan die publiek opdis. En hulle word geglo! Onder hulle is uiteraard sommige politici wat dit al vir jare misbruik vir politieke gewin. Die jongste gronddebat is ’n klassieke voorbeeld van hoe dit gedoen word. Selfs Jan van Riebeeck word aan die hare bygesleep!

Miskien moet ʼn mens dan maar weer teruggryp na wat historici al vir jare oor hul vakgebied gefilosofeer het. Ja, miskien moet ons weer vra wat die noodsaak van geskiedenis nou eintlik is. Dit kan dalk verdere lig werp op ons uiters ingewikkelde situasie in Suid-Afrika. ʼn Eenvoudige antwoord op die vraag oor die noodsaaklikheid van geskiedenis sal dadelik wees dat die vraesteller homself moet verbeel of indink wat die gewone lewe sou wees in ʼn maatskappy waarin niemand enige geskiedenis geken het nie. Marwick stel dit mooi as hy sê: “Imagination boggles, because it is only through knowledge of its history that a society can have knowledge of himself.” Professor Levi Strauss sê: “Those who ignore history condemn themselves to not knowing the present, because historical development alone permits us to weigh and to evaluate in their respective relations the elements of the present.” Miskien het Cicero dit die beste uitgedruk toe hy gesê het dat om nie te weet wat gebeur het voordat jy gebore is nie, is om vir ewig ʼn kind te bly. Die groot probleem kom natuurlik by die interpretasie en dikwels herinterpretasie van hierdie historiese feite. Wat eers veronderstel was om feite te wees, word dikwels “nuwe” feite vir almal om aan te wend soos nodig. Reeds sedert die 19de eeu het selfs van die beroemdste historici die geskiedenis vereng tot staat en politiek. Dit het uiteraard ’n teelaarde geskep vir baie subjektiewe interpretasies van die geskiedenis deur veral politici en magshebbers van die dag.

As multikulturele land, saamgestel uit die geskiedenisse van ’n groot aantal gemeenskappe, was die uitdaging vir historici nog altyd om in die Suid-Afrikaanse konteks elke gemeenskap se unieke “eie” geskiedenis, asook die geskiedenis wat elke gemeenskap met ander gemeenskappe gedeel het, te boekstaaf en dan ’n “objektiewe” weergawe van ’n oorkoepelende Suid-Afrikaanse geskiedenis te probeer saamstel. Die vraag is egter aan wie die interpretasie van hierdie geskiedenis toevertrou moet word ten einde die geloofwaardigheid daarvan te verseker. Na my mening lê hierdie verantwoordelikheid grootliks by historici wat objektiwiteit nastreef as deel van hul taak as wetenskaplikes. Die verskillende benaderings tot geskiedenis as vakdissipline kompliseer natuurlik sake, maar die historikus wat sy sout werd is, sal hierdie uitdaging tot objektiwiteit met die nodige erns opneem. Dit is wetenskaplikes soos historici wat hopelik kan verseker dat die mense van Suid-Afrika bewaar word van ’n “nuwe geskiedenis” wat sy seile elke nou en dan na die politieke winde van die dag moet span.

Marwick is reg as hy sê dat ons nie geskiedenis kan ontsnap nie. Ons lewens word volgens hom regeer deur wat in die verlede gebeur het en ons besluite deur wat ons glo in die verlede gebeur het. Sonder die kennis van geskiedenis, sal die mens en gemeenskappe “soos bote sonder ʼn stuur op die ongekarteerde oseaan van tyd” ronddobber. “Man must know his past, and so he must know the infinite richness and variety – in arts and science as well as social organisation and politics – of his past”.

En Suid-Afrika? Beskik mense oor die kennis, die ware feite, of steun ons net op interpretasies van die geskiedenis soos dit dikwels deur sommige politici en ander sogenaamde “meningsvormers” aan die publiek gebied – ʼn mens wil amper sê “opgedis” – word? ’n Mens kry dikwels die indruk dat baie mense weens “akademiese luiheid” dit aan ander oorlaat om aan hulle te vertel wat hul geskiedenis nou eintlik is en wie hulle dus as gevolg daarvan is. Ons behoort mekaar daagliks op te roep tot ’n groter kritiese ingesteldheid teenoor wat oor Suid-Afrika se geskiedenis kwytgeraak word. Soos die historikus wat objektiwiteit nastreef, behoort ons moeite te doen om die feite te weet. Slegs dan kan daar verantwoordelik geïnterpreteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Ou Genealogieliefhebber Erdvark van Geskiedenishoop ·

“Objektiewe geskiedenis” is ‘n objektiewe drogbeeld en ‘n menslike interpretasie onmoontlikheid. Geskiedenis kry net beter konteks indien mens dit bestudeer teen die agtergrond van jou eie familiegeskiedenis. Kennis van “geskiedenis” is onlosmaaklik van die eie familiegeskiedenis. Wat wesenlik belangrik is, is dat die mens leer uit die foute van die verlede. En met moderne tegnologie behoort elkeen vele bronne te raadpleeg en sy eie gevolgtrekkings maak en nie ‘n slaaf van andere se sieninge wees nie.
“Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna u ideaal en trag om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik”
—- Zuid-Afrikaanse Republiek Staatspresident Stephanus Johannes Paulus Kruger

Casper Labuschagne ·

Jy het dit heeltemal reg, Erdvark. Geskiedenis begin by die punt waar jy uitvind wie jy is en waar jy vandaan kom. Wat is en was jou ouers en voorouers se geskiedenis, waar het hulle gebly, wat het hulle gedoen en hoe het die samelewing gelyk waarin hulle gebly het? Eers as jy dit weet mag jy begin om te vra hoekom het hulle gedoen wat hulle gedoen het. Wanneer jy self jou herkoms navors, besef jy eers waar jou eie plek in ‘n lang geskiedkundige tydslyn is en besef jy hoe kosbaar die kennis van die verlede is.

As jy versuim om jou eie herkoms te begryp en te verstaan, kan jy ook nie jouself in die huidige definieer nie. En sonder kennis van waarom jy is wie jy is en waar jy heen sal gaan, sal jy noodgedwonge ronddobber soos dryfhout op ‘n reuse getygolf wat die geskiedenis genoem word. (En nee, dit is nie my eie beeldspraak nie, dit is ook een van die hooftemas van Tolstoy se boek, “War and Peace” – die geskiedenis is ‘n gety wat ons almal meesleur.)

Dit is dalk juis die verskil tussen die adellike klas en die burgery van die verlede, dat die adellikes geweet het wat hulle herkoms was en gevolglik ‘n visie vir die toekoms kon definieer terwyl die burgery sonder ‘n verlede of ‘n visie vir ‘n toekoms bloot van oomblik tot oomblik gelewe het.

nico k ·

Ek stem saam. Geskiedenis word selde onjektief geskryf. In die ou SA het ons net Afrkaner geskiedenis geleer, want dit was vir ons belangrik en daar was sekerklik niks daarmee verkeerd nie. Maar ek het daardie jare al besef dat om van die Groot Trek en die Anglo Boere oorlog te leer, kon nie baie interessant vir ander bevolkingsgroepe gewees het nie.

Leopold Scholtz ·

Uitstekende, genuanseerde stuk. Veels geluk daarmee, Evelyn. Doe zo voort!

rassie ·

Dit is moeilik om politiek en geskiedskrywing van mekaar te ontkoppel.

Polities gesproke sou dit die beste vertrekpunt wees om uit die verlede te neem wat goed en mooi was en die toekoms daarop te bou.

Twee groot politieke leiers uit die Suid-Afrikaanse verlede het dit trouens beklemtoon.
Die eerste was Moshesh in 1854 tydens ‘n dinee saam met Hoffman van die Vrystaat in Bloemfontein.

Ongeveer vyftig jaar later het Paul Kruger dieselfde mening uitgespreek.

Dit is egter ‘n politieke vertrekpunt en wilsbesluit gefokus op eensgesindheid en vreedsame saambestaan. Net so ook is die politieke seleksie van slegs die slegte ‘n politieke wilsbesluit met politieke oogmerke.

In die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing het die leerplanne van die sestigs en sewentigs ongelukkig ‘n selektiewe oorbeklemtoning van nasionalisme behels en ‘n ongelukkige verswyging van die hele groter storie. Gevolglik is daar baie onduidelikhede oor die groter SA verlede.

Evelyn is na my mening dus korrek dat ons weer self moet gaan kyk na wat andere ons probeer wysmaak het.

‘n Goeie vertrekpunt is moontlik die herlees van Van Riebeeck se Dagjoernaal wat in druk beskikbaar is. Veral die gesprek tussen hom en Harry op die dag toe die plase langs die Liesbeeckrivier uitgegee is oor die grondkwessie, die oorsake van die eerste Khoi-Hollandse oorlog ens, soos in die Joernaal aangeteken, is insiggewend en kan moontlik nuwe perspektief gee.

Casper Labuschagne ·

Geskiedenis was destyds ‘n skoolvak wat weergegee is as ‘n stel datums en gebeure wat soos versies opgesê en geleer moes word. En vandag wonder ek of dit nie dalk die enigste ware geskiedenis verteenwoordig nie, alle ander interpretasie van geskiedenis is onderhewig aan die waardestelsel van die sosiale norme van die huidige. En wat geskiedenis betref, beteken die huidige interpretasie van die geskiedenis van die verlede, alles.

Dit is sekerlik ongewens om die verlede te interpreteer teen die heersende stel waardes van die tyd waarin die toeskouer leef, of is dit? En dit is vir my ook die verduideliking hoekom die huidige geslag wat na 1990 gebore is, die verlede geheel anders interpreteer as diegene wat die tydperk voor 1990 self beleef het. Dit voel soms asof daar ‘n onoorbrugbare kloof bestaan tussen my weergawe van die geskiedenis en die interpretasie van daardie selfde geskiedenis deur die nuwe geslag waar die huidige waardestelsel en sosiale norme die lens is waardeur hulle kyk. Dit kom dikwels voor asof die huidige geslag ‘n oordeel gevel het en dat die geskiedenis, soos dit gebeur het, hul opinie (na my mening, misplaaste opinie) nie in die minste sal wysig nie.

Dit laat my met die vraag, hoe word die heersende zeitgeist by gebrek aan ‘n beter beskrywing van die tydsgees en motivering vir hoekom, van enige tydperk, vasgelê sodat die aspek van hoekom bewaar kan word deur diegene wat self daardie geskiedenis beleef het.

JohanV ·

Het in die sewentiger, tagtiger en begin negertigs vir swartmense, van die Ciskei tot Venda, Zululand tot Tswana gevra, “wie skryf julle geskiedenis op, jullle gedigte, liedere, vertellings, spreekwoorde?”
Die antwoord is een van twee, “ek weet nie” of “onderwyser of moruti x”. Meestal die eerste een.
Hoe bring mens nou die kloutjie by die oor waar andere nie hulle geskiedenis opgeskryf het nie of nie belangstel om dit op te skryf nie?
‘n Ander probleem is die feit dat daar waarskynlik geen wetenskaplike dus objektief-strewende, historikus is wat al die tale van hierdie land kan praat, lees en skryf nie. Toegegee dit is nie onoorkomelik nie maar die stel van ongemaklike vrae aan en oor ‘n ander ras se geskied, kan maklik in die huidige tydsgewrig as rassisties afgemaak word. Dit is ook nie maklik om ander rasse se geskiedenis interpersoonlik te bevraagteken indien ‘n historikus se persoonlikheid nie sodanig is om die spanning en ongemak te kan hanteer nie.
Op die persoonlike vlak begryp ek dat die oplossing maar in selfstudie van die eie geskiedenis is vir sover doenlik uit “goeie?” bronne, gesprekke met veral ouer mense inheems (outochtoon) tot ‘n bepaalde gebied wat baie van die vertellinge ken. Dit is nie alleen interresant nie maar dui verskillende perspektiewe op die mikrovlak van die samelewing wat eweneens op die geskiedenis as geheel dui.

Lourens ·

Geskiedenis is wat in die verlede gebeur het. Waarheid is iets wat alreeds gebeur het, iets wat nog moet gebeur is voorspelling. So boekstaaf die waarheid van die verlede. Die waarheid maak seer, maar die waarheid kan versoening bring.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.