Die Praagse Lente – ʼn donker kol in die ANC-geskiedenis

Inwoners van Tsjeggo-Slowakye loop met hulle nasionale vlag verby ʼn brandende tenk in Praag terwyl die Sowjetunie die land binne val. Foto: CIA/Flickr.com/En.wikipedia.org

Dit is laat die aand van 20 Augustus 1968 – vandag presies 50 jaar gelede. Sowat 250 000 troepe en 2 000 tenks uit die Sowjetunie, Oos-Duitsland, Bulgarye, Hongarye en Pole is al dae lank besig met oefeninge in Oos-Europa.

Kort voor middernag blyk dit dat die oefeninge slegs ’n rookskerm is. Hulle steek die grens van Tsjeggo-Slowakye oor en ruk vinnig op na Praag, die hoofstad.

Daar aangekom, beset hulle vinnig al die belangrikste verkeersweë, die regeringswyk. Slegs by die kantore van die staatsradio en televisie bied ’n groep joernaliste verbete weerstand om die wêreld so lank moontlik oor die geweld ingelig te hou.

Die drama waarmee die wêreld douvoordag die oggend van 21 Augustus wakker word, laat harte oor die vrye wêreld heen van vrees ineenkrimp. Is dit die begin van ’n Derde Wêreldoorlog?

Die inval van Augustus 1968 was, agterna gesien, onvermydelik.

Teen 1968 was die ystergreep wat die Sowjetunie in die laaste maande van die Tweede Wêreldoorlog deur die weswaartse opmars van die Rooi Leër op Sentraal- en Oos-Europa verkry het, onbreekbaar stewig. Dis twee keer ernstig uitgedaag: In 1953 het Duitse arbeiders in Oos-Berlyn in opstand gekom, en drie jaar later het Hongarye gedreig om pad te gee uit die Warschau-Pakt, Navo se kommunistiese teenhanger.

Albei pogings is met brute geweld onder die rusperbande van Sowjet-tenks in bloed gesmoor.

Die platloop van Sentraal- en Oos-Europa in 1945 het maar deels te make gehad met die uitvoer van die kommunistiese ideologie; dit was óók die skepping van ’n breë veiligheidsgordel teenoor die Weste om die tradisionele Russiese vrees vir omsingeling te besweer.

Dus kon die Kremlin eenvoudig geen bres in die buitemure van sy bastion toelaat nie.

Maar in Januarie 1968 het die Tsjeggo-Slowaakse Kommunistiese Party ’n nuwe leier aangewys, Alexander Dubček. Dubček wou die kommunisme in sy land hervorm tot ’n stelsel “met ’n menslike gesig”.

In die Weste is dié liberaliseringsproses die “Praagse Lente” gedoop.

In later jare het Zdenek Mlinarž, een van Dubček se luitenante, getuig dat dié nie van plan was om die bande met Moskou deur te knip nie. Maar hy was naïef en het geglo hy kan die kommunistiese stelsel demokratiseer.

Dubček se stappe om vryheid van spraak en van kritiek op sy regering toe te staan, het dosyne gevaarligte in die Kremlin laat flikker. Sowel die Sowjetunie se leier, pres. Leonid Brezjnjef, as die ortodokse kommunistiese leiers in ander lande agter die Ystergordyn, het haarfyn besef dat die Dubček-hervormings die dun ent van die wig sou wees wat op die volledige ineenstorting van die kommunistiese stelsel en die Sowjet-heerskappy sou uitloop.

Die Russiese historikus Dimitri Wolkogonof het die Kremlin-dokumente uit die tyd noukeurig geraadpleeg en ’n gedetailleerde beskrywing gegee van hoe die Sowjet-leiding se denke ontwikkel het. Hulle het begin met ’n dialoog met Dubček om hom tot ander insigte te bring, en geleidelik meer druk toegepas.

Maar toe ’n groep ortodokse Tsjeggo-Slowaakse kommuniste in Julie 1968 ook nog ’n beroep op die Kremlin doen om in te gryp, was dit die finale strooi. Uit die notules van die Politburo kan gesien word hoe die Sowjet-leiers steeds vir ’n herhaling van die bloedige Hongaarse opstand gevrees het en dus besluit het om met geweld ’n einde aan die Praagse Lente te maak.

Dit het later bekend geword as die “Brezjnjef-doktrine” – die reg van die Sowjetunie om gewapenderhand in te meng as enige van die gebiede onder sy beheer dreig om weg te breek.

In dié geval het dit gebeur onder die dekmantel van grootskaalse oefeninge van die Warschau-Pakt. ’n Oorweldigende mag het in die weke hierna stelselmatig nader aan die Tsjeggo-Slowaakse grens gekruip – tot kort voor middernag op 20 Augustus.

’n Ironiese feit: Vir die tweede keer in die 20ste eeu het Duitse troepe Tsjeggo-Slowakye binnegeval. Die eerste keer was toe Nazi-Duitsland die land in 1939 platgeloop het; by die tweede in 1968 was Oos-Duitse troepe betrokke.

Die binnevallende troepe is wysgemaak dat hulle die Tsjeggo-Slowaakse bevolking gaan “bevry”. Hulle was nie voorbereid op die witwarm woede wat hulle in die strate van Praag teengekom het nie, en in sommige gevalle het die jong dienspligtiges in trane uitgebars voordat hul offisiers hulle met harde hand gedissiplineer het.

Die Tsjeggo-Slowaakse weermag het geen enkele kans gestaan nie, en Dubček het vinnig beveel dat geen weerstand gebied moet word nie. Nietemin het talle Tsjeggo-Slowake met straatstene en ander middele teruggeveg, en altesame 137 mense is dood.

Dubček en sy regering is in hegtenis geneem en dieselfde dag na Moskou gevlieg, waar hulle opgesluit is. ’n Ander regering is in sy plek gestel wat binne weke alle liberaliseringsmaatreëls herroep het.

Moskou se heerskappy was veilig. Maar die episode het soos niks anders nie die morele verrotting van die Marxisme-Leninisme gewys.

Talle denkers in die vrye Weste het die punt gemaak dat die geskiedenis ons leer dat brute militêre krag nie voldoende is om ’n ongewilde oorheersing van een groep deur ’n ander onbepaald lank vol te hou nie.

In Europa was die Marxisme-Leninisme, ondanks alles, tog by ’n minderheid steeds ’n lewensvatbare alternatief vir die kapitalisme. Die brute geweld wat die Kremlin in 1953 en 1956 gebruik het, het die morele aanvaarbaarheid van dié alternatief al klaar ondermyn, en die gebeure van 1968 het die Wes-Europese ortodokse kommuniste tot ’n onbeduidende groepie laat wegkwyn.

Die inval het ook weerklank in Suid-Afrikaanse kringe gevind. Die SA Kommunistiese Party het al ’n maand voor die inval die Praagse Lente as ’n bedreiging vir die sosialisme bestempel en dit vier dae ná die gebeurtenis entoesiasties toegejuig.

Die ANC het aanvanklik geweifel. Die beweging het – waarskynlik weens interne verdeeldheid – ’n maand gewag voor hy hom vierkant agter die Kremlin geskaar het. In ’n verklaring is verwys na die “dangerous situation” in Tsjeggo-Slowakye “which was deliberately engineered by right-wing counter-revolutionaries with the support of imperialism”. Die Sowjet-ingryping “will protect and consolidate the achievements” van die revolusie en die twee lande in staat stel “to march arm-in-arm to fulfil the objectives of international socialism”.

Dis ʼn donker kol in die ANC-geskiedenis waaroor vandag angsvallig geswyg word.

Die inval het die Kremlin-oorheersing net tydelik beveilig. Slegs 21 jaar later het die damwal gebars en die kommunisme volledig weggevee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

CG ·

Dankie dat jy ons hiervan herinner, Leopold! Mens verstaan beter wat tans in Suid-Afrika aangaan indien mens die geskiedenis onthou.

Hannes ·

Ja, en die ANC se sosialistiese ideologie kom nog al die jare sterk deur, veral nou met die toe-eiening v grond sonder vergoeding of toestemming. Dis fassinerend dat die trustgrond stelsel wat al donkiejare in plek is, niks anders as ‘n vorm van Afrika sosialisme is nie. ie twee magsbassise ie tradisionele leiers/ rade en die wetlik verkose regering probeer nou naarstig hulle magte konsolideer. Die wetlike verkose regering, alhoewel hy honderde duisende hektaar landbou en ander grond besit, probeer nou naarstig sy magsbasis en houvas uitbrei deur hom te vergryp aan grond wat wettig in terme v landswette bekom is. Intussen hou hulle tradisionele leiers in plek met miljoene Rande se belastinggeld elke jaar. Die twee ganse wat die goue eiers lê en sosialisme (hulle noem dit nasionaliseer) bevorder is die middelklas belastingbetaler en die tradisionele leiers itv die stempoel wat hulle vir die ANC verseker. Dit alles onder die dekmantel van demokrasie en grondwetlike regte. Die klousule in die grondwet wat bepaal regte kan geskend word, bepaal effektief dat minderhede se regte vertrap kan word. Dit moes nooit ingeskryf gewees het nie en maak dit ‘n swak stuk wetgewing. Afrika sosialisme word verdoesel met ‘n mantel van demokrasie en die Westerse wêreld eet dit vir soetkoek op. Die ANC was nog altyd in die sakkie van die Sowjet Unie, Kuba en China. Maar terselfdertyd is dit ‘n vreeslike sonde as ‘n ware demokrasie soos die VSA dreig om ontwikkelingshulp te sny.

Marie ·

Die fliek Dr. Zhivago beeld duidelik uit wat gebeur as n paar sg. politieke leiers besluit om gewone hardwerkende mense se eiendom te begin uitdeel aan hulle self. Chaos. Dankie vir n uitstekende artikel Leopold.

Stephan de S ·

Dankie hiervoor……wonderlike naslaan werk van die historiese feite waartoe almal nie altyd geredelik meer toegang het nie. Die geskiedenis is so belangrik om perspektief oor die lewe en wereldgebeure te he.

Rupert Ashford ·

Dankie Leopold. Dit is wat in skole as geskiedenis geleer moet word vir die wat deesdae so hunker na sosialisme en kommunisme, ook die varieteit wat ‘n groen baadjie dra soos ‘n waatlemoen…

Marthinus Willemse ·

Aleksander Dubček is vervang met `n Brezjnef-ondersteuner, dr Gustáv Husák, wat die land sou omskep in `n lojale skoothondjie van Moskou. Die Sowjet-okkupasie het geduur tot 1990, en die Russiese volk is gepaai met die onderdukking van die Praag-lente deur die storie te verkondig dat hulle “uitgenooi” is om in te gryp. Dit is so min geglo deur die Russiese volk, dat hulle die volgende grappie vertel het:

`n Paar maande nadat Sowjettroepe Tsjeggo-Slowakye binnegeval het, word `n Partyleier gevra, “Waarom bly ons troepe só lank in Tsjeggo-Slowakye?”
“Hulle soek na die man wat hulle uitgenooi het.”

Die optrede teenoor die Sowjetunie deur Husák se regering, het weer tot die volgende grappie gelei:

“Waarom is Tsjeggo-Slowakye die mees neutrale land in die wêreld ”
“Want hy meng nie eens in in sy éie interne aangeleenthede nie.”

Ina Botha ·

Ek was deel van ‘n groepie RAU-studente wat iewers in ‘n Johannesburgse straat gestaan en protesteer het teen die Russiese inval in Praag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.