Die pyn van resessies, ’n goeie skoot werklikheid en ’n boodskap van hoop

Moody's

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s. Foto: ANA

Die internasionale graderingsagentskap Moody’s het in hul onlangse Global Macro Outlook-verslag ronduit verklaar dat Suid-Afrika se kanse hoog is om in ’n tegniese resessie te verval.

Dit volg op die kommerwekkende nuus dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) gedurende die eerste kwartaal van 2019 met 3,2% gekrimp het – die grootste inkrimping in ’n dekade. Die ekonomie het in 2018 met ’n skamele 0,8% gegroei nadat ’n tegniese resessie in die eerste helfte van die jaar toegeslaan het.

Volgens Moody’s is die land se “voortslepende ekonomiese swakheid” aan ’n louwarm binnelandse privaatsektoraanvraag toe te skryf. Dit hou verband met huishoudelike besteding en investering, en die skadelike invloed wat wydverspreide kragonderbrekings op die vervaardigings- en mynbedryf het.

“Komplekse ekonomiese probleme staar Suid-Afrika in die gesig. Die taak om die ekonomie te laat herleef, sal uitdagend wees en hervormings sal tyd neem om ’n invloed te hê,” lui die verslag.

In dieselfde week het ’n rusie in die reeds verdeelde ANC losgebars oor die nasionalisering van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB). Ace Magashule, sekretaris-generaal van die party, het volgens berigte die paar reëls oor die nasionalisering van die SARB by die lekgotla-verklaring ingevoeg.

Die rand het ’n draaiduik gemaak en tot R15 teen die dollar verswak. Markte en beleggers is die skrik op die lyf gejaag. Die Ramaphosa-faksie (ten minste, skynbaar) was woedend en het op ’n treurmare van maatreëls aangedring om die invloed van die Magashule-faksie hok te slaan. Heel voorspelbaar het Magashule gereeld sy deuntjie oor die saak verander. Hy het aanvanklik ontken dat hy die reëls by die verklaring ingevoeg het en gesê dat hy dit gelees het soos hy dit ontvang het. Toe twiet hy oor nasionalisering van die SARB – en toe verdwyn dié twiet. Magashule hou toe voor dat sy rekening (net hierdie een keer) gekaap is. Jy kan nie sulke goed uit die duim suig nie. The Sunday Times het berig dat hy sy optrede later geregverdig het deur te sê dat hy eenvoudig die daad by die woord gevoeg het oor besluite wat die ANC tydens sy nasionale konferensie in Desember 2017 geneem het – die einste konferensie waar Ramaphosa tot ANC-presidentskap verkies is.

Nodeloos om te sê, is ’n resessie nie goeie nuus nie. Dis slegte nuus vir beleggers, verbruikers en sakevertroue, wat weer slegte nuus is vir die ekonomie en werkskepping. Dis ook slegte nuus vir die koers waarteen salarisse en lone toeneem – en dit belemmer aanvraag.

Hoewel dit nie inflasie direk veroorsaak nie (omdat daar minder aanvraag vir goedere en dienste is), benadeel dié negatiewe sentimente die waarde van die rand, en dit veroorsaak dat die brandstofprys weens die wisselkoers toeneem. Mettertyd sal stygende brandstofpryse opwaartse druk op voedselpryse toepas en veroorsaak dat inflasie toeneem en besteebare inkomste selfs nóg sal verminder.

’n Stygende inflasiekoers sal die SARB oortuig om rentekoerse dieselfde te hou of te verhoog in ’n tydperk waarin rentekoersverlaging verwag of selfs verlang word. Dit sal broodnodige verligting vir verbruikers in die wiele ry en tot die SARB se ongewildheid onder groot segmente van die publiek, die ANC en sy alliansievennote bydra. Onder dié omstandighede wend ’n sosialistiese regering soos ons s’n hom tot verdere verhoging van belasting, en pas meer druk op die beleërde middelklas toe. Banke sal versigtig wees om geld aan kliënte te leen.

En soos Tony Leon in ’n snydende stuk op BusinessLive uitgewys het, is dit maar die begin – en daar is veel meer wat wag: “There are rich pickings to be had in the war of all against all in the ANC from both its Nasrec conference resolutions and embedded in its 2019 election manifesto. Utterly unaffordable, totally uncosted, economically ruinous each of them: prescribed assets, a national health insurance, a state bank and many more delights dreamed up for a socialist utopia which will break the back of our on-its-knees economy.”

Voeg hierby die heel werklike vooruitsig van ’n wysiging aan die Grondwet om onteiening sonder vergoeding toe te laat (en waarvan grond bloot die afspringplek vir ander klasse bates sal wees) – asook die legio veiligheidskrisisse en die ekonomiese sabotering wat deur die afbrand van trokke op die N3 en ander ekonomiese slagare gepleeg word – en ’n hutspot van kataklismiese gebeure sal enige kosmetiese stappe wat op ekonomiese groei gemik is, meer as net uitskakel.

Ramaphosa mag aan ons ’n nuwe begin belowe het, maar sy party is daarop uit om dit ’n valse belofte te maak. En die president van die ANC en Suid-Afrika blyk nie opgewasse te wees om die plunderaars en skelms in sy party aan die pen te laat ry nie – bygesê, as die wil inderdaad bestaan om hulle neer te fel. Mens sou seker met oortuiging kon redeneer dat Ramaphosa steeds ’n langtermynplan het, maar hy bestuur Suid-Afrika reeds sedert Februarie 2018 en het bitter min voordele en prestasies om daarvoor te wys, buiten ongerealiseerde beloftes oor investering.

Ramaphosa moet nog bewys dat hy die korrupte en misdadige elemente in sy eie party kan neutraliseer en dit miskien selfs kan reinig. Miskien kan hy, miskien nie. Ek bly egter skepties en onwillig om te wag dat dit moet verbygaan. Die ANC-verkiesingsmanifes spog met sý naam en beloftes, en hý het openlik elke verwoestende beleid onderskryf wat ekonomiese groei in die wiele ry. Boonop weier hy om teen geweld en misdaad op te tree (nie eens retories nie), en koop hy tyd saam met sy partygenote, wat verwoestende ekonomiese skade saai.

My enigste afleiding is dat Ramaphosa, ’n selferkende “kapitalis met sosialistiese instink” (wat dit ook al mag beteken), eenvoudig nie die verlosser is wat baie dink hy is nie. Die ANC is ’n wegholtrein op ’n krom, sosialistiese spoor, en Ramaphosa is die ongelukkige, teenstrydige drywer wat in beheer blyk te wees, maar in wese geen beheer meer oor die hefbome of remme het om dié trein te stop of op ’n ander spoor te plaas nie. Ons – as individue, gemeenskappe, burgerlike samelewing en die burgery – moet in die eerste plek uit dié droom wakker skrik dat een man of party ons sal red, en besef dat die sosialistiese ANC en regering slegs op druk en moedige optrede reageer, en nie op naïewe verering of blinde hoop nie. Dan moet ons vorentoe tree en hulle tot verantwoording roep en, op ’n verskeidenheid van wyse, ons eie toekoms uitkerf, die onbekwaamheid en eindelose mislukkings van hierdie regering ten spyt.

Dit gebeur reeds, hoewel daar nie so gereeld daaroor verslag gedoen word soos in die geval van resessies en agteruitgang nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

eks nou amper 52, maar vandat ek 12 was, en dit was nou in die ou SA, hoor ek van resessie en taai ekonomiese tye. jaar na jaar na jaar.
MAAR gaan kyk hoe lyk winkelsentrums oor n naweek. dan is daar GEEN resessie nie. bespreek plek by n vakansieoord of op n vliegtuig of trein – maande vooruit volbespreek
so waar is die resessie wat al die afgelope 40 jaar aan die gang is???

John ·

… skuld, skuld, skuld… is ‘n lekker ding! Elke bank kan daaroor sing… die hoè rentekoerse aan die anderkant maak ook die lewe moeilik vir mense, maar dit is juis die baie skuld wat die hoè koerse noodsaak. SAfrikaners wil almal soos sterre lewe. Alles wat bling moet ons hè en die winkels weet dit. SA se oè is groter as hul… beursies… soos Jaco terreg sè.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.