Die Reformasie, die regverdiging deur die geloof en die strewe na geregtigheid

Gestoor. Martin-Luther-Reformasie-500_2.jpg

Martin Luther (Foto: Pt.aleteia.org)

Die herdenking van die Reformasie

Sedert 1617 herdenk Protestantse kerke die Reformasie van die sestiende eeu op 31 Oktober. Op hierdie dag in 1517, het Martin Luther (1483 – 1546 n.C.) aan die biskop van Mainz, Albrecht von Brandenburg, ʼn uitnodiging gestuur, om op grond van 95 stellings wat kritiek uitspreek teen die aflaatstelsel van daardie tyd, met hom, die universiteitspersoneel en die publiek, debat te voer oor die Bybelse begronding van daardie praktyk.

Luther se kritiek teen die aflaatstelsel het gou positiewe resultate opgelewer en hy het waarskynlik nie weer aan hierdie saak aandag geskenk nie. Hy kon toe vir die res van sy loopbaan aan die dieperliggende teologiese probleme in die Roomse teologie aandag skenk.

Een van die belangrikste temas waaraan hy gewerk het, was die uitsprake van Paulus in Romeine 1:17, 3:21–22 en Galasiërs 3:22 wat met die regverdiging deur die geloof te make het. Hierdie tema, wat ingebed lê in die groter tema van God se geregtigheid, sou die groot geskilpunt met die Rooms-Katolieke Kerk word.

Ná bykans vyf eeue is daar gelukkig vandag, minstens onder die meeste toonaangewende teoloë van die onderskeie konfessionele groeperings, ʼn redelike mate van konsensus oor die verstaan van die “regverdigingsleer”. Dit is noodsaaklik dat ons ook gereeld aan hierdie tema aandag skenk.

Dat ʼn mens deur die geloof, en nie deur werke en doenighede regverdig verklaar word nie, is nog altyd met onbegrip begroet. Nie net Jode nie, vir wie wetsgehoorsaamheid die hart van godsdiens is, maar ook pligsgedrewe mense in die algemeen, vind dit moeilik om die Pauliniese regverdigingsleer te verstaan. Luther self het al gekla dat wanneer hy oor die regverdiging deur die geloof preek, die mense aan die slaap raak, maar wanneer hy ʼn storie vertel hulle die ore spits.

Afrikaanssprekendes verberg hulle ongemak met hierdie Bybelse tema deur daaroor te swyg. Wie egter met die Skrif, deur die lens van die Reformatoriese teologie, erns maak kan en mag nie oor hierdie belangrike tema swyg nie.

Die aktualiteit van die regverdigingsleer

Alle mense wil gerespekteer en na waarde geskat word. Mense wil hoor dat hulle bestaansreg gegun word op grond van hulle beskeie bydrae tot die samelewing. In die algemeen meen mense, dat hulle arbeid, aktiwiteite en doenighede hulle reg om mens te wees, bepaal. Wie doelgerig besig is, voldoen aan die eise van menswees, aangesien daar geglo word dat die handelende mens met reg menslik genoem kan word.

Om ʼn geregverdigde mens te wees, impliseer dat jy werke opgelewer het wat aan jou bestaan die reg gun om hier, tussen ander mense, te mag wees.

Foto 3_Luther en sy gesin

Martin Luther en sy gesin. (Argieffoto)

Die lewe is egter ʼn aanhoudende tribunaal. Daar word voortdurend oor ons hier-wees en ons so-wees geoordeel. Die soeke na lewensruimtes waar jy nie veroordeel word nie, sal ongelukkig nie gevind word nie, aangesien dit nie bestaan nie. Om die kerklike ruimtes te vermy, beteken nie dat jy ʼn oordeelvrye bestaan sal kan voer nie. Die wêreld en die mense van die wêreld oordeel en veroordeel ieder en ʼn elk, en die genade is maar min. Voor die tribunale van die wêreld moet jy jouself voortdurend regverdig. Dit is nie slegs die gegewendheid van jou bestaan wat regverdig moet word nie, maar ook die wyse waarop jy aan jou bestaan gestalte wil gee.

Die implikasie van ʼn vertribunaliseerde werklikheid is dat jy voortdurend werke moet oplewer wat jou menswaardigheid en aanvaarbaarheid kan verseker. Uiteindelik is die las van selfregverdiging té swaar om te dra en moet daar ingesien word dat die werke van die wet, die doenighede en die aanhoudende besig-wees nie ʼn gelukkige lewe kan verseker nie. Die geheim van die lewe, so leer ons by Luther, is om persoon en werke te onderskei en om jou persoon-wees oor te laat aan die oordeel van die barmhartige God.

Persoon en werke

Martin Luther het in sy Romeine-kommentaar van 1515/-16, Aristoteles (384 – 322 v.C.) se stelling dat ʼn mens ʼn regverdige of ʼn agting-verdienende mens word, deur goeie en regte dinge te doen, omgedraai deur te beweer dat die mens wat geregverdig is, aanhoudend goeie en regte dinge kan en waarskynlik sal doen.

Goeie werke, sê Luther, maak nie van iemand ʼn goeie persoon nie, maar ʼn goeie persoon doen goeie werke. Die “goeie mens” is die mens wat glo dat ons sondes vergewe word en dat ons ʼn nuwe, ewige lewe, danksy Jesus Christus, belowe word. Danksy die geloof hoef daar nie om aansien en erkenning geveg te word nie. Dít word geskenk en moet in dankbaarheid aanvaar word. Die vryheid van die las om voortdurende selfregverdiging, maak aanhoudende medemenslike liefdesdiens moontlik.

Die mens wat begaan is oor sy eie aansien, doen uit eersug en selfsug dinge wat aan hom aansien kan verskaf, terwyl mense wat bevry is van selfbeheptheid, in vryheid werke verrig wat met reg naastediens genoem kan word. Vryheid, die gawe wat ontvang en nie verwerf word nie, verander naastediens as ʼn verskuilde program van soeke na erkenning, na spontane diens aan die naaste, sonder selfsugtige bybedoelings (Galasiërs 5:4–6 en 13).

ʼn Persoon, ʼn mens wat menslik gemaak word deur geloof in Jesus Christus, poog nie om deur moreel-goeie werke aansien te verdien nie. Aansien, erkenning en aanvaarding word deur die God van geregtigheid aan almal geskenk wat daarom bid. Wanneer hierdie geskenk in dankbaarheid ontvang word, verdwyn die stryd om minderwaardigheidskomplekse en kan daar menslik en medemenslik geleef word.

Foto 1_Luther se lessenaar

Martin Luther se lessenaar. (Argieffoto)

Volgens Luther is die kernprobleem van menswees die sonde. Sonde beteken om in jouself gekeer, en op jouself gerig te wees. Óf God bestaan óf nie bestaan nie maak nie vir die sondaar saak nie, aangesien die mens en die dinge wat hom besig hou, genoegsaam is om te bestaan. Die sondaar is egter permanent vasgevang in selfbeoordeling. Die selfoordeel is egter op die lange duur onbevredigend, aangesien dit misleidend is. Óf jy oorskat jou eie belangrikheid, óf jy onderskat jou eie waardigheid.

Die alewige twyfel oor jou reg op bestaan, laat jou net nog dieper in jouself gekeer raak. Die oplossing is om die rede vir jou bestaan “buite jouself, in Christus” te gaan soek. Danksy Christus se voorspraak is God se oordeel oor my lewe ʼn genadige en barmhartige oordeel. Die persoon wat glo, word verlos van vertwyfeling en minderwaardigheidsgevoelens. Wie nie verder met die kwelling van moontlike onwaardigheid hoef te lewe nie, word vry om dinge te doen wat tot die beswil van ander sal wees. Hierdie doenighede bepaal nie my daar-wees en so-wees nie, maar is hoogstens tekens van my dankbaarheid vir God se barmhartige oordeel oor my bestaan.

Die geregtigheid van God ontvang en sosiale geregtigheid bevorder

Die geloof dat God my bestaan regverdig en dat ek nie nodig het om dit self te probeer doen nie, is die basis van lewensgeluk, vreugde en vrede. Die regverdig-verklaarde mens, die vreugdevolle mens, behoort hom vir aardse geregtigheid te beywer. Die voorwaarde is dat aardse geregtigheid aards moet bly en nie omslaan in ʼn nuwe poging van selfregverdiging nie. Menslike voorstellings van geregtigheid is in elk geval voorlopig en daarom altyd regstellend-behoeftig.

Dit is belangrik om te besef dat voortslepende ongeregtigheid in die samelewing groot frustrasie skep, en selfs haat laat ontwikkel teenoor dié wat meer besit en dié wat meer suksesvol is. Die woede van die “agtergeblewenes” kom tot uiting in skuldtoewysings en aanklagte van die instandhouding van vorige ongeregtighede. Diegene wat op grond van naïwiteit oortuig word dat hulle op ʼn regverdige wyse deur die hof van die openbare mening tot skuldenaars gemaak en só gehou mag word, moet dan die swaar las op hulle skouers neem deur hulle weer self voortdurend te regverdig.

Die aanhoudende poging om jou bestaan te moet regverdig teenoor die aanklagte en skuldigbevinding van jou ongelyke buurman, laat ʼn mens gou besef dat dit ʼn fout is om jouself uit te lewer aan geregtigheid-soekende mense en hulle ondersteuningstribunale in die openbare media.

Philip Melancthon, Martin Luther, Pomeranus (Johann Bugenhagen) en Cruciger (Gaspard Creuziger), die vier groot Duiste Protestantse teoloë werk aan Luther se vertaling van die Bybel.

Die nuwe ongeregtigheid ontbloot

Die program van “regstellende indiensneming” van die huidige regering is ʼn bewys dat “regstellende geregtigheid” ʼn politieke program is wat nuwe ongeregtigheid oplewer. Die ANC-regering se droom, dat sy program van “geregtigheidsbevordering”, sy magsuitoefening moreel sou regverdig, het die teendeel na vore gebring. “Regstellende geregtigheid” het ontaard in ʼn nuwe bedeling van ongeregtigheid, wat so gou as moontlik gestuit moet word sodat die vrede herstel kan word.

Die neomarxistiese geregtigheidsideaal van die huidige bewind, steun op die gedagte dat geregtigheid sal gedy wanneer die ongelykhede tussen sosiale groeperings beëindig word. Volgens die huidige staatsideologie kan geregtigheid dus alleenlik tussen gelykes gedy. Die werklikheid is egter dat die lewe deur ongelykhede gekenmerk word. Sekere gestaltes van ongelykheid kan dalk wel verander word, maar nuwe gestaltes van ongelykheid sal altyd weer na vore tree.

Wie nie met die ongelykhede van die lewe vrede kan maak nie, sal altyd smag na wraak en moord. Die lied “kill the Boer, kill the farmer” moet teen hierdie agtergrond verstaan word. Toepaslike geregtigheid vir hierdie land, sal dus op geregtigheid tussen ongelykes moet konsentreer.

Hiervoor is daar meer as genoeg impulse in die Bybel te vinde. In Jeremia 7:5, byvoorbeeld, kom “geregtigheid” neer op die toesien dat die reg aangewend word in sake van belang vir weduwees en wese. Die sterkere beoefen dus geregtigheid deur toe te sien dat die reg toegepas word wanneer dit kom by die belange van diegene wat nie die middele het om dit self te doen nie. Kerke en nie-regeringsorganisasies moet bloot toesien dat die owerhede regeer soos Psalm 72 verwag; en dít is om reg te laat geskied aan almal, die swakkes ingesluit.

Vanselfsprekend moet individue ook doen wat reg is en laat wat verkeerd is. Amos 2:6-16 noem enkele “booshede” wat nog steeds voorkom; alhoewel in ʼn ander gewaad. Amos praat van mensehandel, om op swakkeres se koppe te trap, pa en seun wat dieselfde vrou vat, om borggeld te steel en om jong boompies af te kap. Daar is dus talle handelingsaanwysings, wat oor ʼn wye terrein strek, wat gevolg kan word.

Die etiese dwingendheid van hierdie (en talle ander) sake, spreek vanself, maar die morele daad as sodanig sorg nie vir geregtigheid voor God nie; daarvoor sorg die geloof in Jesus Christus.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

Ons probleme is veel groter as net wat in SA gebeur. Die hartseer waarheid is dat protestantisme amper dood is. In 2017 word daar gesamentlik bome geplant in Duitsland as 500 jarige Reformasie herdenking. Wie se siening het in 500 jaar verander en wie s’n het dieselfde gebly? Luther, Melanchton, Wesley en vele ander het amptelik die RKK, korrek identifiseer as die eerste dier in Openbaring 13. In 1798 word pous in die tronk gegooi en verloor die RKK sy politieke mag.(einde van die 1260 jaar/ 42maande x 30 dae = 1260/ tyd,tye en halwe tyd =3.5jaar = 42maande = 1260 jaar profesiee van Daniel en Openbaring) Dit lyk soos dodelike wond. Ons leef in die tyd wat die klein horinkie herstel het. Ronald Reagan is eerste president wat weer ambassadeur in Vatikaanstad plaas. Sedertdien het die RKK se politieke mag tenvolle herstel. Daniel 11v40, Koning van die Noorde (RKK) gaan koning van die suide oorrompel. Lyk of Amerika (en die hele wereld sal volg) in 2025 gaan terug beweeg na konserwatisme. Terug na die goeie ou dae van waardes en normes. Dit gaan goed wees. Kerke en Christene gaan dink dis tyd vir herlewing. Die uiteinde hiervan gaan ongelukkig heelmoontlik wees dat die tweede dier van Openbaring 13, nl Amerika, ‘n beeld maak van die eerste dier, naamlik Staatkerk vennootskap, dan gaan die bloed weer vloei. Ns: Mensgemaakte klimaatsverandering is fopnuus. Dit is eintlik ‘n geestelike agenda wat gedryf word. Google terme soos Eco conversion, Climate change covenant en Climate Sunday.

Marthinus W ·

Die reformasie het hernuwing gebring, wat n belangrike begrip in die Nuwe Testament is: n nuwe hemel en n nuwe aarde. Ons kannie voorploeter nie, ons moet onsself vernuwe.

n Moslemvriend van my het eenkeer genoem dat hulle n reformasie nodig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.