Die Slag van Cuito Cuanavale, albei kante het daar in ’n afgrond gekyk

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Op Vrydag 23 Maart is ’n konferensie oor die Slag van Cuito Cuanavale 30 jaar gelede aangebied in Chatham House, tuiste van die Royal Institute of International Affairs. Die datum, 23 Maart 1988, was naamlik die dag van die derde en finale (mislukte) poging van die SA Weermag om die laaste brughoof wat die Angolese weermag beset het oos van die Cuitorivier – net oorkant die dorp Cuito Cuanavale – te verower.

Sedertdien is dié onbetwiste terugslag, wat op ’n lang reeks taktiese oorwinnings gevolg het, in die Kubaanse en Angolese propaganda verhef tot iets soortgelyk aan Hitler se nederlaag by Stalingrad. Aangesien die konferensie deur die Angolese regering geborg is, het maklik 80% van die bydraes dieselfde gees geadem.

Die egte waarheid (altans soos ek dit sien) is wel uitgedra deur genl.maj. (afg.) Roland de Vries, die Britse skrywer Fred Bridgland (skrywer van ’n boek oor die laaste fase van die SAW-betrokkenheid by die oorlog in Angola), prof. Chester Crocker (die Reagan-administrasie se hoofonderhandelaar), en – hopelik – myself.

Joernalistieke etiek verhinder my om sowel verslaggewer as deelnemer aan die konferensie te wees. Dus word dié artikel aan my bydrae gewy.

Ek het begin deur te stel dat 80%-90% van die skrywers oor Cuito Cuanavale en alles wat daarmee saamhang, bloot ánder skrywers se bydraes oorskryf. Hulle doen nie self behoorlike navorsing nie. As jy jou gesaghebbend oor die veldtog wil uitlaat, moet jy die argiewe raadpleeg.

Daar is uitsonderings, soos die Italiaans-Amerikaanse historikus prof. Piero Gleijeses en die Rus prof. Wladimir Sjoebin, wat baie gedoen het om die Kubaanse en Russiese argiewe te ontsluit. Maar, ofskoon veral Gleijeses se video-boodskap op die konferensie akademies bekwaam was, is hul vooroordeel tog só duidelik dat hul skrywes baie versigtig benader moet word.

’n Tweede punt, wat ook deur Bridgland beklemtoon is, is dat daar om politieke redes veel te veel klem op Cuito Cuanavale geplaas word. Veral Fidel Castro het die SAW-terugslag hier verhef tot ’n epiese stryd tussen Dawid en Goliat, tussen goed en sleg, waar laasgenoemdes sleg sou verloor het.

Daar is ’n goeie saak voor uit te maak dat die gevegte aan die Lomba, waar Fapla (die Angolese leër) sleg op sy baadjie gekry het, die toneel was waar die Sowjet-imperialisme in Suider-Afrika gestuit is.

Albei plekke is dus van belang as jy ’n akkurate, genuanseerde vertolking van die veldtog wil weergee. Bly weg van politieke agendas as jy geskiedenis skryf; gaan waar die bronne jou lei, nie waar ideologies-politieke oorwegings jou beweeg nie.

Die bronne wys dat dié oorlog, soos byna elke konflik in die verlede, gelei het tot ’n skewe begrip van die ander kant se doelstellings en motiverings. Byvoorbeeld: Die Kubane en Angolese het opreg gemeen die SAW se teiken is die verowering van Cuito Cuanavale self en om daarna deur te stoot in die rigting van Luanda en die vervanging van die MPLA-regering met ’n bewind van Unita.

Ja, die Suid-Afrikaanse regering sou ’n vriendelike Unita-bewind beslis verwelkom het, en agter die skerms is druk daaroor gedebatteer. Maar realisme het elke keer die deurslag gegee – daar is besef dit sou die oorlog laat eskaleer tot ’n punt waar Suid-Afrika met sy beperkte vermoëns nie die pyp sou rook nie; en bowendien sou dit te veel ongevalle verg.

Die argivale bronne wys dat daar in ’n stadium ’n behoorlike debat op topvlak in die SAW oor Cuito Cuanavale as doelwit was. Maar dit was in die konteks van die roete waarlangs die SAW-teenoffensief in die tweede fase moes geskied – wes of oos van die Cuitorivier.

Indien daar wes van die rivier in ’n noordwaartse rigting opgeruk sou word, sou die dorp as ’t ware deur die agterdeur ingeneem kon word – nie om hom te beset nie, maar om die vloei van voorrade na die vyf Fapla-brigades oos van die rivier af te sny. Dit sou ’n doodskoot vir die Angolese offensief gewees het.

In die dokumente is daar wel ’n paar terloopse opmerkings oor die inname van Cuito Cuanavale – as die dorp sonder ’n geveg in die SAW se hande val, kan dit gedoen word. Punt uit.

Verder was die opdrag in al die dokumente dat Fapla oos van die Cuito vernietig of weswaarts oor die rivier gedryf moet word. Dan moet die rivier met mynvelde gefortifiseer word, Unita moet die verdediging oorneem en die Suid-Afrikaners kan vir ’n welverdiende bier huis toe gaan.

Ek het vertel dat ek binnekort weer die SANW-dokumentasiesentrum in Centurion vir verdere navorsing gaan besoek. Dit sal waarskynlik weer op ’n boek uitloop.

Ek het ook verwys na die Kubaanse suidwaartse offensief ver na die weste van Angola begin 1988 na die Suidwes-grens en dit ’n briljante skuif genoem. Daarmee het hulle die illusie van ’n bedreiging vir Suidwes gevorm, al het die SAW se waardering dit duidelik gestel dat die Kubane die grens waarskynlik nie sal oorsteek nie.

Jy kan baie van Castro se ideologie en staatstelsel sê – ek het dit duidelik gestel dat ek dit nie bewonder nie – maar ook dat ek my hoed afhaal vir sy politieke en militêre talente. Sy doel met dié eskalasie, soos Crocker dit tereg gestel het, was nie om dieper in die oorlog ingesuig te word nie, maar juis om ’n opening te skep waardeur hy kon ontsnap.

Hy het dit besonder vernuftig reggekry. Hy het terselfdertyd ’n mite geskep dat die SAW ’n verpletterende neerlaag toegedien is en dat sý kant ’n glorieuse en heldhaftige oorwinning behaal het.

Maar albei kante het daar in ’n afgrond gekyk. Geeneen het gehou van wat hulle gesien het nie en albei het teruggedeins.

Die keuse was: eskaleer ons die oorlog tot op ’n punt waar geeneen die konflik kan volhou nie en albei gaan verloor? Of stop ons die malligheid nou en gaan huis toe vir daardie bier?

Dus: Uiteindelik was die ooreenkoms wat geteken is, ’n kompromis waarmee albei kante kon saamleef.

Ek wou eintlik nog meer gesê het, maar die sprekers is slegs 10 minute elk gegee, en ek is kortgeknip. Ek wou nog vertel het hoe die veldtog ’n beskeie bydrae gelewer het tot die ineenstorting van die Sowjetunie en die einde van apartheid, dog die tyd was op.

Alles in ag genome, was dit ’n waardevolle byeenkoms.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Casper Labuschagne ·

‘n Belangrike punt wat u ook in u boek oor die SAW in die Grensoorlog maak, is die gepaardgaande offensief van die Kubane wat langs die weskus sou afbeweeg het om Suidwes Afrika aan te val. Die skaakmat posisie by Cuito het die Kubaanse westelike aanval gestuit, maar so ‘n inval sou verseker ‘n algehele konvensionele oorlog tot gevolg gehad het wat ook seker verskeie ander lande sou ingetrek het. Dit het almal ontsenu omdat die SAW polities beperk was tot ‘n beperkte oorlog met die doel om die grens van die Suidwes Afrika te beskerm.

Wat min mense wel oor skryf is die ferm strop wat deur die regering in Pretoria op die SADF geplaas is om slegs ‘n beperkte oorlog met beperkte doelwitte te voer. In die tydperk van Cuito het die SA Departement van Buitelandse Sake reeds reuse diplomatieke deurbrake gemaak en dit was in Pretoria reeds ‘n gegewe dat Namibië binne enkele jare volle onafhanklikheid sou ontvang. Daar was verseker ‘n groot spanning tussen die Uniegeboue en die SAW hoofkwartier, waar die SAW op daardie stadium die stryd by Cuito moes bedryf as ‘n kampanje wat amper nie bestaan het nie anders as “slegs steun aan Unita” en waar hul met politieke remme aan moes oorlog voer.

Ek self was nie by Cuito nie, ek twyfel of die burgermag se gemeganiseerde divisies gebruik is anders as reserwemagte. Maar al die SAW veterane by Cuito het gesê dat ons gewen het.

Vermeendes ·

Ek was skaar 20 maar tot vanag nog onhou ek die vrees, die reuk van kordiet, vroeg oggend as die buffels ratels en kwevoëls opstart dan het daai diesel reuk swaar in die lug gehang, die tatata van n browning wat loop en die 90’s wat hulle werk doen, die reuk van die russiese tank wat brand.
Die moeilikste is om dit self te ervaar het en nou 30jaar later daaroor te lees en hierdie trotse militere geskiedenis van ons word gedraai en weer en weer verdraai tot dit die eiendom van ons vyand geword het.

CG ·

Sommer baie trots op jou en die ander jongmanne wat so hul man gestaan het! Sommer baie, baie trots!!

Herman G ·

Ek dink die SAW (generals, nie troepe nie) het 2 groot foute began:
1) Hulle moes Cuito Cuanavale van die weste ingeval het. Dit sou ‘n groot terugslag vir Fapla wees. Jou volgende boek kan dalk hulle besluit om van die Ooste in teval meer toelig. Daar is baie, baie voorbeelde in militere geskiedenis oor die “indirect approach”. Die SAW het noue bande met die Israelies gehad, en hulle het die baie, veral in die Ses daagse oorlog gebruik.
2) Ek wonder nog steeds hoe het dit gebeur dat die Kubaanse 50e divisie op die SWA grens ‘n verassing vir die SAW was. Soos ek dit verstaan was die die 50e divisie, ‘n panser brigade en 6 of 8 gemengde SWAPO/ Kubaanse bateljonne. Dit is ‘n mag van 20 – 30,000 man. Hoe kan dit ‘n verassing wees? So ‘n mag het ten minste 2,000 – 3,000 voertuie. En die meeste moes deur die hawe van Namibe deurkom. Is die hawe nie gemonitor nie?

Die soldate het hulle baie, baie goed van hulle taak gekwyt. Ek is baie trots op hulle.

Leopold Scholtz ·

Beste Herman, die Kubaanse mag wat suidwaarts na die grens opgeruk het, was net die 50ste divisie – so 11-12 000 man met tenks en artillerie. Die SAW het reeds agtergekom dat hulle in Angola is in April, toe slegs die voorhoede nog daar was. Ek stem saam met die stelling dat ‘n aanval op Cuito Cuanavale vanuit die weste die beste opsie sou wees.

CG ·

Leopold. Ek is bly jy het jou woord ingekry! Kom ons wees nou maar eerlik: beide die Kubane en SAW is redelik stert tussen die bene uit Angola. Die Kubane omdat hulle ons vermoë oorskat het en ons omdat ons weet hoe naelskraap ons weggekom het van ‘n baie bloedige affere. (Praat nou van die laaste Kubaanse opmars na die grens). Is jy seker SA het geglo die Kubane sou nie die grens oorsteek nie? Daar was gebeurlikheidsbeplanning dat die SAW tot by die hoëgrond by Tshemeb sou terugval, verdedigingstellings inneem en die vernietigingsgeveg daar voer. Was dit nie vir Brig Serfontein en sy manne wat ons swakheid met aggresiewe, offensiewe optrede kon wegsteek nie, sou die Kubane beslis SWA ingeval het. Veral ons vermoë tov die luggeveg (vegvliegtuie en lugafweer) was skrikwekkend swak. Die MiG 23 het die Mirage F1 ge “outfly, outshoot, out everything”. Na ‘n paar dae se veg sou ons slegs enkele Mirages in die lug kon kry. Daar was ‘n kritiese tekort aan “droptanks” vir langafstand uitvlugte. Op die grond het ons terruggeval op die verouderde 25ponder kanonne en Eland pantserkarre. Min mense, gelukkig insluitende die Kubane, het destyds geweet hoe verswak ons werklik was. Ons veglus en veglis het egter die knoop deurgehak, sodat ons met darem net een groot terugslag (lugaanval op die dam) kon onttrek.

Leopold Scholtz ·

CG, natuurlik kon die SAW nie verseker weet die Kubane sou nie die grens oorsteek nie. Die SAW se direktoraat inligting het egter in verskeie waarderings (ek het die dokumente self gesien) gemeen dis onwaarskynlik dat die Kubane dit sou doen. Ek verskil met jou dat die MiG-23 soveel beter as die Mirage F1 was; hulle was vir verskillende doeleindes ontwerp. En ons vlieeniers was aansienlik beter. Wat wel waar is – en dit skryf ek op grond van argiefdokumente in my boek – is dat die SA lugmag teen iets later in 1988 nie veel operasionele vliegtuie beskikbaar kon stel nie. Die rede is eenvoudig dat die intensiewe operasies van 1987-88 die diensbaarheid aangetas het. Hulle moes eers uitvoerige onderhoud ondergaan. Daarby het ons teen Julie 1988 ‘n hele gemeganiseerde divisie op die grens gekonsentreer. As die Kubane die grens sou oorsteek, het ‘n hartlike ontvangs op hulle gewag!

CG ·

Het ons die “Slag van Cuito” gewen? Doodeenvoudig nee, aangesien ons nie ons doelwit om die vyand oos van die rivier te verdryf, bereik het nie. Het die ander kant gewen? Nee, hulle het bloot oorleef. Het ons by die Lomba gewen? JA. Het ons die operasionele situasie beheers? Ja – onhou die plan van die vyand was oorspronklik om Mavinga te vat. Hulle het geeindig in loopgrawe op die oewer van die Cuitorivier. Dit is net die Kubane wat van so ‘n terugval en sulke verskriklike verliese’n “oorwinning” kan maak. Het die Kubane die “geskiedenis gewen”? Nie solank daar manne soos Leopold Scholtz en andere is wat die geskiedenis objektief neerskryf en vertel nie! Dankie!!

Vermeendes ·

CG, kom ek stel dit so vir jou, wat was die opjektief met die slag van Cuito gewees, om die veiand tot anderkant die lombo te verdyf wat gedoen is vwn die brue is vernietig.
Hel SA oor die mannekrag beskuk on cuito in en oor te neem en te hou, nee. SA was nooit in n oorlog teen Angola nie, ons het die Suid Wes grens beskerm.
Rusland het 5 of 50 Biljoen Dollar met die slag van Cuito verloor. Rusland het ook aan Kuba gese dat hulle hierdie oorlog nie kan wen nie en Fidel het toe self uit Kuba beheer gevat.
Wat is die doel van n oorlog, om jou vyand van sekere beleid of besluite te laat afstand doen en nie om te moor nie.
Jy vat daai burgers se beskerming weg, hulle voedsel en invrastruktuur om die druk op die regering te verhoog.

Vermeendes ·

Jy moet net onthou die grensoorlog was eintlik die warm deel van die koue oorlog tussen Amerika en Rusland. Op daar stadium was die Sues kanaal gesluit en die kortste toete van oos na wes was om die Kaap, SA was gerugsteun deur Amerika en Kuba deur Rusland so die een wat die Kaapse seeroete beheer het het dan handel beheer.
By Cuito was daar geen wenners nie maar SA het die opjektief bereik maar die oorlog verloor. Ons kan net bepaal wie die beter mag gehad het en dit meet jy in verliese en die vyand se verliese was baie baie groot in lewens en oorlogtuig maar ons het die oorlog verloor, het ons maar net meer politisie gehad met die moet en postuur van hulle seuns dan sou SA die oorlog ook gewen het.

AwvdM ·

Ek was nie daar Nie….Tog haal ekke my hoed in eerbied af, aan elke lid wat wel daar was…. Salute / Saluut !!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.