Die val van ʼn vredesikoon – Aung San Suu Kyi

Aung San Suu Kyi. Foto: Claude Truong-Ngoc/Commons.wikimedia.org

Daar is maar ’n klein lysie van sogenaamde internasionale vredesikone – mense wat die wêreld aangegryp het met besonderse vredes- of vergewensgesindheid ten spyte van groot politieke onderdrukking. Daar is natuurlik nie ʼn amptelike lysie nie en menings hieroor verskil, aangesien sommige maar erge geraamtes in die kas gehad het.

Die kleinste groepie

Nietemin is daar redelike eenstemmigheid dat dié ikone die oorlede Indiese aktivis en staatsman Mahatma Gandhi, die Suid-Afrikaanse oudpresident Nelson Mandela, die spirituele leier van Tibet genaamd die Dalai Lama (wat terloops nie welkom is in SA nie omdat dit die Chinese regering sal ontstel) en dan ook die leier van die vryheidstryd in Mianmar (die land in Suidoos-Asië voorheen bekend as Birma), Aung San Suu Kyi, insluit. Die meeste van hierdie ikone het een of ander tyd die Nobelprys vir Vrede ontvang. Nog ’n Nobelpryswenner, die bejaarde Suid-Afrikaanse anti-apartheidstryder, Desmond Tutu, en sy ondersteuners beskou hom dalk ook in hierdie uitgelese groepie, maar na regte het hy het eintlik nie ’n aanspraak as lid van dié groepie nie.

Die “ikoon”-groepie het egter in 2017 ’n terugslag gekry ná hewige kritiek uit alle oorde wat aandring om die enigste vrou – Suu Kyi – se Nobelprys te herroep en ’n ongekende aanslag teen haar weens die onderdrukking van ’n minderheidsgroep Moslems, die Rohingya-Moslems in Mianmar. Sy het probeer om haar aansien te red deur ’n internasionale paneel aan te stel om na die omstandighede van die Moslems te kyk, insluitend ons eie oudminister Roelf Meyer. Teen einde Januarie 2018 het die prominentste lid van dié paneel en groot Bill en Hillary Clinton-vriend, Bill Richardson, uit die paneel bedank en sy jarelange vriend Suu Kyi se paneel as ’n juigkommando bestempel.

Om ’n vredesikoon te word is natuurlik nie maklik nie. Dit verg jare lange moed om ongewilde regimes teen te staan sonder om die wapen teen hulle op te neem. Tronkstraf of verbanning is dikwels jou voorland. Suu Kyi het in die tradisie van Gandhi vir 26 jaar teen die militêre regering ’n nie-gewelddadige stryd gevoer en uiteindelik is haar party in 2015 verkies en sy het die de facto-regeerder geword. Sy het meestal in huisarres verkeer sedert 1989, toe sy begin aandring het op demokrasie in Mianmar en het eers in 2010 vryheid verkry. Amper soos Nelson Mandela, wat vanjaar 100 jaar oud sou wees. Mandela was egter betrokke by ’n gewelddadige stryd teen apartheid en sou sy vredesikoon-status eers na jare in die tronk verkry.

’n Militêre junta het Mianmar vir dekades beheer en Suu Kyi sou eers lank nadat sy uit huisarres in 2010 bevry is, die geleentheid kry om die politieke toneel amptelik te betree. Jarelange druk op die militêre regering het haar bevryding en die stelselmatige daarstel van ’n verkose regering veroorsaak. Sy is in 2012 tot die Mianmar-parlement verkies en die junta het basies in 2015 die eerste keer toegelaat dat ’n demokratiese verkiesing gehou word en Suu Kyi se party het die verkiesing maklik gewen. Sy kon egter nie die president word nie, aangesien haar man en kinders buitelanders is en sy is toe as “Staatsraad” aangestel – die de facto-staatsleier.

Suu Kyi het ’n leidende rol gespeel om die siviele regering op die been te bring en internasionale hulpverlening en investering te verkry vir Mianmar, een van die armste lande in Suidoos-Asië. ’n Ware verhaal van ’n aspoestertjie wat die onmoontlike reggekry het.

Geen burgerregte

Die sprokie het egter vinnig platgeval nadat ’n ernstige vlugtelingskrisis ontstaan het aan die begin van 2017. Aanvalle van ekstreme groepe in die Royingya-Moslemgemeenskap het gelei tot die dood van etlike Mianmar-soldate. Mianmar is ’n Boeddhistiese staat en die 1 – 1,2 miljoen Moslems, wat meestal in die noordoostelike Rakhine-provinsie bly, word nie as burgers beskou nie. Hoewel sommige reeds eeue in die ou Birma woon, het hulle geen aanspraak tot burgerskap en ander regte soos eiendomsreg nie. Hulle word as ongewenste vlugtelinge uit die buurland, Bangladesj, beskou.

Die aanval op die Mianmar-soldate het tot hewige teenreaksie van die weermag gelei en enige opstand is wreed onderdruk. Hoewel die weermag beheer aan ’n siviele regering afgestaan het, is hulle steeds ’n sterk mag en het op verskeie Moslem-dorpies toegeslaan om die aanvallers uit te snuffel. In die proses is dorpies afgebrand, vrouens verkrag en het duisende in die konflik tussen die weermag en die ekstreme Moslem-groepe gesterf. Teen die einde van 2017 het tot soveel as 650 000 van die miljoen Moslems na Bangladesj gevlug en nog meer as 100 000 word in kampe in Mianmar aangehou. Honderdduisende het al voorheen uit Mianmar gevlug na Bangladesj.

Die aanvalle op die Moslem-bevolking en hul gebrek aan regte is aan die groot klok gehang en het heelwat internasionale aksie ontlok. Die aanvalle en vlug van die Rohingyas word as ’n etniese suiwering beskou. Asem is opgehou dat die vredesikoon Suu Kyi moet ingryp. Tot almal se verbasing het sy nie die weermag se vergrype veroordeel of die Moslems se regte ondersteun nie. Sy het basies die bestaansreg van die Rohingya-Moslems ontken en selfs hul minderheidstatus ontken. Daar is heelwat minderheidsgroepe in Mianmar teenoor die meerderheid Bamar- etniese groep wat Suu Kyi ondersteun.

Suu Kyi het uitgevaar teen die eensydige beriggewing van die internasionale media wat die aanvalle van Moslemgroepe teenoor Boeddhiste en die veiligheidsmagte veroordeel. Hoewel dit gedeeltelik waar is, het sy enige etniese suiwering en die vlugtelingskrisis ontken en oornag van ’n vredesikoon na ’n onderdrukker verander.

Teen einde 2017 het sy wel die weermag sovêr gekry om die aanvalle op die Moslems te staak. Teen hierdie tyd het byna al die Moslems reeds oor die grens gevlug. Sy het ook ná onderhandelinge met die VN se spesiale gesante ’n paneel saamgestel om advies te gee oor die terugkeer van die vlugtelinge en die toekoms van die Rohingyas. Bill Richardson en Suu Kyi het egter in ’n hewige argument betrokke geraak oor twee Reuters-joernaliste wat vroeër in hegtenis geneem is en die dekadelange vriendskap is beëindig en Richardson se bedanking uit die paneel gaan die onafhanklikheid van die paneel om die konflik te beëindig, beïnvloed.

Roelf Meyer is een van die oorblywende vier internasionale kenners op die paneel. Hy is meer bekend as die hoof onderhandelaar van die vorige Suid-Afrikaanse regering wat heelwat toegewings aan Cyril Ramaphosa, destyds die ANC se hoof onderhandelaar en tans die ANC-president en moontlike toekomstige staatshoof, gemaak het tydens onderhandelinge tussen die Nasionale Party-regering en die ANC in die 1990’s. Baie mense beskou sy oënskynlike eensydige toegewings aan die ANC as die belangrikste rede dat daar vandag in SA bitter min, indien enige, minderheidsregte of taalregte vir minderhede bestaan. Meyer was ook betrokke as internasionale raadgewer by komplekse internasionale geskille in onder andere Noord-Ierland, Sri Lanka, Kosovo en Rwanda.

Helde het ook maar voete van klei

Om terug te keer na mevrou Suu Kyi. Dit is natuurlik makliker om uitsprake te maak en vrede te bepleit as jy nie politieke mag het nie. Suu Kyi se geval bewys dit beslis. Terselfdertyd het die ander vredesikone ook maar voete van klei gehad. Gandhi word van rassisme en pedofilie beskuldig, as ANC-leier het Nelson Mandela ’n leeue-aandeel aan die geweld waarin duisende in die ou Natal voor 1994 gesterf het en die Dalai Lama word daarvan beskuldig dat hy soos ’n diktator sy volgelinge onderdruk het terwyl hy in ballingskap in Indië gebly het.

Ten spyte van hul menslike swakhede word vredesikone meestal gevorm deur die media-aandag. Net soos mense graag superhelde se doen en late in flieks volg ten spyte van hul menslike swakhede, wil hulle graag die buiteperd ondersteun – eerder die swakke klein Dawid as die sterk reus Goliat. Die behoefte na sulke helde word bevorder deur die media se beeld van ’n stryd teen onreg, van die goeie teen die slegte.

Aung San Suu Kyi se son as vredesikoon het egter vir altyd gesak. En Mianmar self is steeds ’n bitter arm land met ’n ernstige probleem: om net een van sy minderhede as ’n minderheid te erken.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Ellisras ·

Almal kan ontspan. Roelf Meyer is daar. Hy gaan vir ons “checks and balances” inbou wat niks beteken nie.

Casper Labuschagne ·

Hier is nog ‘n voorbeeld van hoe ander lande en kulture beoordeel word vanuit westerse standaarde van vryheid en menseregte. Terwyl westerse lande self gebuk gaan onder die geweld van ‘n moslem groepe wat Jihad verklaar het, was enkele lande in Suid Oos Asië vir baie eeue die teenvoeter teen die opmars van Islam en die boeddhiste in Burma/Myanmar het ‘n lang geskiedenis in ‘n stryd teen die geweldadige uitbreiding van Islam. Net soos in Joegoeslavië, het die diktatuur van kommunisme hierdie stryd om grondgebied en siele onderdruk. Nou sien ons hoe die pot oorkook tot geweld in gebiede wat histories oorheersend aan die een of die ander groep behoort het. Dit is allermins ‘n konflik wat deur die Westerse beginsels van verdraagsaamheid, vryheid en liberalisme opgelos sal word. Vergelyk gerus hoe die koloniale Indië ten koste van tientalle miljoene lewens verdeel is tussen Pakistan
, Indië en Bangladesh.

T.v.S. ·

Doodreg.

Ook altyd opvallend dat stabiele, oorwegend Moslemlande nou nie juis oor hul voete val om hulp aan hul verdrukte broeders in die geloof te bied nie.

Hendrik van George ·

Ek kan maar net glimlag as ek Nelson Mandela se naam sien… kyk maar die gemors waarin ons nou sit.

CG ·

Goeie genade, Nico! Jy stel dit dat daar redelike eenstemmigheid is dat Nelson Mandela ‘n vredesikoon is. Jy stel dit om ‘n vredesikoon te word “verg jare lange moed om ongewilde rigimes teen te staan sonder om die wapen teen hulle op te neem”. Jy het duidelik geen begrip van Mandela se rol in die sg. “gewapende stryd” nie en jy het blykbaar vergeet dat hy PW Botha se aanbod om vrygelaat te word indien hy geweld sou afsweer, van die hand gewys het! Ag nee, man!

John ·

Antie San was dik vriende met Obama… lyk ampers na bloedfamilie… Het sy hom nie gekoester dat dit ‘n naarheid is nie. Maar soos dit met sulke groot lekkertes gaan (en beide met vredespryse bekroon), word die meel bitter as die muise se pense te vol raak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.