Dis-Chem – vir domheid is daar nie medisyne nie  

(Argieffoto: Dis-Chem)

Dis-Chem se interne memorandum oor die moratorium op aanstellings en die bevordering van wit werknemers moes seker ʼn uur geneem het om op te stel maar dit het ʼn handelsmerk, wat oor dekades opgebou is, opeens ernstig skade berokken.

Die gevolg is dat die Dis-Chem-gevallestudie nou deel gaan word van bemarking- en kommunikasiestudente se studiemateriaal oor hoe swak oordeel ʼn handelsmerk kan benadeel en lojale kliënte kan vervreem.

Daar is talle maatskappye wat hulle al in Dis-Chem se situasie bevind het, waar hulle ver tekort skiet om hul teikens vir swart indiensneming te bereik, en dan drastiese stappe oorweeg om ʼn ommekeer te bewerkstellig.

In voorgenoemde gevalle begin die gesprekke by die maatskappy se gelyke indiensnemingskomitee en eindig dit op die hoogste bestuursvlak. Vakbonde wat verteenwoordiging by ʼn werkplek geniet word hieroor geraadpleeg en so was ek by vele gelyke indiensnemingsgesprekke in die mynbousektor, en ook onlangs by ʼn vooraanstaande finansiële instelling, betrokke.

Die betrokke finansiële instelling se uitdaging is dat hy so ʼn wonderlike werksomgewing, met uitstekende voordele geskep het, dat werknemers nie bedank nie. Daar is gevolglik min geleenthede om swart werknemers op veral senior bestuursvlak aan te stel en dié instelling wou nou ruim vrywillige skeidingspakkette vir senior personeel aanbied om só nuwe aanstellingsgeleenthede te skep.

Dié soort gesprekke is sensitief en soms brutaal, maar ook oop en eerlik en die belanghebbende partye vind mekaar binne die raamwerk van die toepaslike wetgewing. Na so ʼn gesprek volg ʼn interne konsultasieproses om te verseker dat bestuurders insette kan lewer en belyn sal wees rakende die indiensnemingsbeleid – daar word verseker nie onvanpaste interne memorandums hieroor uitgestuur nie.

Wat Dis-Chem betref, is daar sogenaamde arbeidsregkenners, wat in die media aangehaal word, wat meen dat wat in die maatskappy se memorandum vervat is in ooreenstemming is met toepaslike wetgewing en regspraak, en dat die teenkanting misplaas is. Regskenners wat dié standpunt huldig is nie net verkeerd vanuit ʼn regsoogpunt nie, maar mis ook die groter prentjie want die ontploffing op sosiale media en die woede en verdeeldheid wat dit veroorsaak het, is ʼn aanduiding dat Dis-Chem dit totaal verkeerd aangepak het.

Dit is swak oordeel, swak veranderingsbestuur, patetiese openbare betrekkinge en disrespek wat hier ter sprake is, eerder as voldoening of nievoldoening aan die reg. Dis-Chem gaan wel in die hof van openbare mening verhoor word.

Waar het Dis-Chem oral die pad byster geraak?

Eerstens was dit so ʼn ondeurdagte besluit van die uitvoerende hoof om sy onwettige instruksie deur ʼn interne memorandum te kommunikeer.

Tweedens, hoe ondeurdag ook al, is die memorandum swak bewoord en het dit die maatskappy blootgestel aan aanvalle wat ʼn aanduiding is van die maatskappybestuur se gebrek aan aanvoeling en begrip vir die sensitiewe aard en die gevolge wat hul woordkeuse inhou.

Derdens, by ontleding van die memorandum, weerspieël dit ʼn paniekboodskap van ʼn maatskappy wat die bal laat val het oor die onrealistiese teikens wat hy vir homself gestel het.

Verder is die laaste sin in die brief ʼn samevatting van waaroor alles gaan, naamlik die maatskappy se vrees dat hy ʼn moontlike boete van tot soveel as 10% van sy omset in die gesig staar vir nievoldoening aan swart indiensnemingsteikens.

Daar is dus niks edel aan Dis-Chem se bedoelings met swart bemagtiging, soos die Black Business Council en andere dit beskou nie, want dit gaan bloot oor kwaadwillige voldoening (“malicious compliance”) om ʼn boete te voorkom. Maatskappy-omset is dus vir Dis-Chem belangriker as personeelomset.

Die gevolg van ʼn situasie wat uit vrees vir ʼn boete so swak hanteer is, kan wees dat Dis-Chem nou meer as 10% van sy omset kan verloor weens die vervreemding van kliënte. Maar die memorandum stuur ook ʼn baie negatiewe boodskap aan Dis-Chem se wit én swart werknemers.

Vir wit werknemers word gesê hulle moet aanhou om hard te werk want die volhoubaarheid van die maatskappy is in almal se belang, maar hulle moenie enige bevordering as beloning vir hulle harde werk te wagte wees nie.  Wit werkaansoekers kry weer die boodskap dat hulle Dis-Chem asseblief nie moet belas met die administrasie om hul werksaansoeke af te keur nie. (Dis-Chem is wel bereid om die administrasie-moeite op aankope vir hul wit kliënte by die kasregister te doen).

Vir swart werknemers is die boodskap duidelik: Indien jy vir ʼn bevorderingspos aansoek doen, gaan jou ras vir Dis-Chem belangriker wees as jou vaardighede en prestasie. So sal elke swart werknemer wat bevorder of aangestel word voortaan wonder of hulle bevorder of aangestel is omdat hulle goed is, of omdat hulle swart is.

Om, soos in die memorandum vervat, bestuurders se bonusse aan die aanstelling en bevordering van swart werknemers te koppel, beteken dit in die praktyk dat dit nie meer gaan oor die waarde wat die applikant vir ʼn afdeling bring nie, maar die bonus wat die applikant vir die bestuurder bring.

Gideon du Plessis.

Al voorgenoemde voorspel niks goeds vir rasseverhoudinge in die maatskappy nie.

Dis-Chem se direksie het intussen ʼn verklaring uitgereik wat die inhoud van die omstrede memorandum betreur en verskoning vra vir die skade wat dit berokken het. Weereens het Dis-Chem die bal laat val. Enige opregte verskoning moes onmiddellik nadat die gewraakte memorandum in die openbare domein verskyn het, uitgereik gewees het en die trae verskoning het duidelik in reaksie op die opbou van openbare druk gevolg.

In fynere ontleding van die verklaring is die boodskap in hoofsaak dat Dis-Chem jammer is, maar nie regtig só jammer is nie, en hoewel die bewoording van die memorandum betreur word, sal die indiensneming- en diskriminasiebeginsels soos vervat in die memorandum van krag bly.

Dis-Chem het ʼn duur fout begaan, maar die slegte nuus vir hom is dat sy probleme nou eers gaan begin. Daar is kliënte wat so vervreemd voel dat hulle nie die flou verskoning – of wit leuentjie – sal aanvaar nie en hulle gaan hul aankope voortaan elders doen.

Dan is Dis-Chem nou ten volle in die visier van die departement van indiensneming en arbeid en die reguleerder, wat geken word aan sy gebrek aan kapasiteit om maatskappye se indiensnemingsvoldoening te ondersoek, sal nou moeite doen om Dis-Chem uit te sonder en deurlopend te oudit.

Maar so sal Solidariteit, saam met individue en instellings aan weerskante van die debat, Dis-Chem ook fyn dophou. Die uiteinde is dat sou Dis-Chem wel die riglyne volg wat in die interne memorandum vervat is, hy moeilikheid het en as hy dit nie doen nie, het hy ook moeilikheid.

Vir domheid is daar nie medisyne nie en die gevolge van die berugte interne memorandum en gepaardgaande indiensnemingsbeleid gaan nóg ʼn groter hoofpyn vir Dis-Chem se topbestuur en direksie word. Verwag maar binnekort ʼn opvolgverklaring van hul direksie om verdere skadebeheer toe te pas weens die sosialemedia-tsoenami wat hul handelsmerk ernstig skaad en dreigende verbruiker- en regsaksies.

Die enigste pluspunt is dat ander maatskappye nou ʼn les uit die Dis-Chem-sage kan leer, en die Wet op Gelyke Indiensneming onder die loep geplaas word vir die finansiële las wat dit op werkgewers plaas en die toenemende diskriminerende en verdelende onderbou daarvan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

George ·

so ook al die blankes wat daar werk ne, die einstes wat die bevorder mag word nie, gaan eerste lei.

Spook ·

George, Dischem lei die blankes by die deur uit. Die blankes gaan wel ly as Dischem hulle in elk geval nie bevorder of aanstel nie

Lubbe ·

Daar is baie groot maatskappye wat tans dieselfde beleid volg. Dit word net nie in die media gepubliseer nie. Dis goed, maak van hulle n voorbeeld mar ons het nog n lang pad om te stap wat die kwessie aanbetref.

Wielspore ·

Wat is die teenoorgestelde van “Ditsem” – “Dischem”
Ditsem – aanduiding dat ‘n opmerking gepas of korrek is
Dischem – aanduiding dat ‘n opmerking onvaanpas of nie korrek is

antieke antie ·

kan die groot maatskappye nie iets begin dat hulle net laat werk by mense wat nie BEEEEEEE enEE E is nie….

JN ·

Nee dis duidelik…
Dis chem het baie geld gemaak en met hul arrogante rassisties houding voel en wys dat hul die wit ondersteuning wat hul gehelp n sukses word nie waardeer nie..
Inteendeel dit is n helse klap in die gesig van alle blankes om te sien dat Dis Chem rassistiese anti wit beleide toepas wat spesifiek teen blankes diskrimineer..Is apartheid dan nie juis beëindig om almal n gelyke kans ongeag van ras te gee nie…N mens kan nie verewig se maar hul is agtergeblewenes nie want hul skep nou presies dieselfde insident oor..
Hoe lank is lank genoeg dan?
Hul is nie jammer oor hul anti wit houding nie hul is net jammer dat hul moontlik nou n negatiewe reaksie van blankes met ruggraat kan verwag..
Hoekom sal n blanke in Suid Afrika die lot dan nog wil ondersteun?
Maar tog kry jy die gerieflikes wat n veer voel of sy eie soort insluitend hy of sy homself te na gekom word solank hy net nie moeite hoef te doen om n standpunt in te neem nie…
Dis pure rassisme uit en uit!!!

Elma ·

Ek dink nie die gekleurde werknemers wat bevorder word sal werklik wonder oor die rede vir die bevordering nie. Of hulle nou op kleur of op meriete bevorder word, solank die pay pakkie dikker is, sal hulle baie min gepla wees.

Louis ·

Presies, hulle is nie daar om trots te wees op hul werk nie, net vir die geld.

Tricea ·

Ek stem 100% saam. Dis hoekom mens dan altyd houding kry – want ek word bevorder, so wat ek doen is reg. Daar word geensins omgegee of ek dit verdien nie, want “entitlement” vier hoogty!

thejudge ·

Suid-Afrikaners hou van hulle “brand”. By Dischem sal hulle bly koop. Dit is soos met die Spur “boikot” – almal skree “Spur sien my nooit weer nie”, maar kom Sondag na kerk, dan sit Spur volgepak met Mamma, Pappa, kiddies, Ouma en Oupa.

Wielspore ·

Dit mag dalk so wees maar ek kan jou waarborg dat SPUR ‘n dure les geleer het en groot verliese gehad het. Die stigter van Spur het ook sy eie lewe geneem na die debakel.

Jacob ·

Dankie vir die artikel. Maatskappye sal uiteindelik die regsgeldigheid van die “Wet op Gelyke Indiensnaming” in die hof moet gaan toets. Hierdie wet gaan immers nie oor gelyke indiensname nie.

RS ·

Baie dankie mnr. Dit soos jy die saak stel is presies waar. Hoe ook al hul die brief bewoord is die boodskap dieselfde.

Bertie ·

Dis nie net Dischem wat hulle hieraan skuldig maak nie. Alle groot maatskappye en universiteite doen dit skaamteloos. Dischem het net die fout gemaak om dit op skrif te stel. Bevoegdheid en kwalifikasies is lankal nie meer die norm nie, slegs velkleur. Dis tyd dat die witmense ontslae raak van hulle skuldgevoelens en in opstand teen teen hierdie rassediskriminasie.

Eden ·

Dis-chem se optrede is swak, maar alle groot maatskappye pas presies dieselfde beleid toe, dalk net sonder om dit aan die groot klok te hang. ‘n Dis-chem boikot is seker hul verdiende loon, maar geen oplossing nie. Boikotte hou ook nie lank nie.

Ek en my gesin het reeds jare terug besluit om sover moontlik groot maatskappye te vermy. Ons boikot niemand nie, ons ondersteun net oorwegend klein familiebesighede, veral ondernemings wat nie spog oor hul BEE status op hul webblaaie nie.

So het ons reeds jare terug eerder ons plaaslike apteek begin ondersteun i.p.v. Dischem en ander. Ons kry puik diens, in Afrikaans.

Ons betaal dalk ‘n bietjie meer vir ons produkte, of kry nie bonuspunte ens nie, maar voel dis ‘n belegging in families, nie groot maatskappye wat vêre vir ons voel nie.

Kyk gerus rond en ruil die groot maatskappye vir onafhanklike ondernemings of selfs franchisehouers. Dis nie altyd moontlik nie, maar ons kry waarde vir geld.

Phillip ·

Hoekom word die swart bemagting na amper 30 jaar afgedwing 8m n m8nderheid uit werk te hou. Ons as blankes is maar ongeveer 5miljoen werksmag swart is ongeveer 35 miljoen is dit nie duidelik dat meer swart mense salarisse bo 3500 per maand verdien as wit nie. Net dit maak die wet onbillil en rassities. Hoekomn word dit nie aan gepsreek in concourt niem

Alma ·

Presies, ek kon dit nog nooit verstaan nie. Is hulle dan so bang dat die bietjie wit soveel beter is as die magdom swart, dat hulle dit op so manier moet keer en nie op meriete nie?

Lubbe ·

As ons al die maatskappye moet boikot wat hierdie pad volg sal ons in die donker sit. Ek is egter baie bly vir die werk wat gedoen word om dit te ontbloot maar ons het nog a lang pad om te stap. Mense wat by Woolworths koop moet dalk 2 keer dink.

Tricea ·

Ek stem Lubbe – ek gebruik nou al jare lank nie meer Spur, WW of Engen nie. As jy dit aan die groot klok hang en duidelik maak vir almal, dan kan ek mos kies. Ons weet almal doen dit, maar ek het vrye keuse of ek jou dan wil ondersteun!

Hightower ·

Vra namens ‘n vriend. Boikot ons nog die Spur of nie meer nie ?

Christine ·

Swak Dischem! Ongelukkig weet ek ook dat mense se geheue baie kort is……..

Racheltjie Debeer ·

Ek sal twee keer dink voor ek weer my voete in ‘n Dis-Chem winkel sit, maar hoeveel van die ander groot ketting winkels, soos PnP, Checkers, Clicks, Jet, PEP ens. volg dieselfde beleid, sonder dat ons daarvan bewus is? Let maar bietjie op hoeveel blanke persone by hierdie winkels werk, indien enige. Dieselfde geld vir kitskos restaurante, Wimpy, McDonalds, Nandos, Romans, noem maar op, jy sal ver moet soek om ‘n wit gesiggie daar te kry, maar nou kruisig almal Dis-Chem. Ek sê nie wat Dis-Chem gedoen het is reg nie, maar as jy hulle wil boikot, moet jy die ander ook boikot, want ek wed jou hulle volg dieselfde beleid.

Schalk ·

Mens vergeet ook dat die tipe aksie gewoonlik interne friksie veroorsaak.

Andre ·

As daar pille vir domheid was sal Dis-Chem dit sekerlik nie aanhou nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.