Federale werklikhede aan die suidpunt van Afrika

Barend Uys lewer sy aanbieding tydens die Kajuitraad (Foto: Verskaf)

Inleiding

Mattias Desmet skryf in sy boek The Psychology of Totalitarianism:

“Truth-telling is a way of speaking that breaks through an established, if implicit, social consensus. Whoever speaks the truth breaks open the solidified story in which the group seeks refuge, ease, and security.”

Hier in Suid-Afrika is daar ʼn geïmpliseerde sosiale konsensus oor die sentralistiese eenheidstaat as die enigste oplossing wat geregtigheid en demokrasie vir burgers kan verseker.

Daar is egter ook ʼn wye konsensus dat die staat tans totaal misluk om die mees basiese verantwoordelikhede aan burgers na te kom. Die meeste kommentators en burgers is van mening dat die oplossing vir die probleme van gemeenskappe in die land, die beter implementering van die sentralistiese bestel is.

Oplossings wat werk

Indien daar ʼn probleem is wat opgelos moet word, kan die oplossing slegs werk indien dit op die waarheid, of anders gestel, die werklikheid, gegrond is. Eenvoudig gestel. Die oplossing moet ʼn goeie passing op die werklikheid wees, anders is dit eenvoudig gedoem tot ʼn gesukkel en uiteindelik mislukking.

Die waarheid, of die werklikheid van die hede wat ons in ag moet neem, is tweeledig. Die waarheid van die wêreld waarin ons leef; en die waarheid van die menslike toestand.

Eerstens dan ʼn paar opmerkings oor die waarheid van die wêreld waarin ons leef.

Geografie

Suid-Afrika se grondgebied is op ʼn halwe persent ná so groot soos die gekombineerde grondgebied van Frankryk, Duitsland, Italië en Nederland. Lesotho, wat soos ʼn klein lappie grond binne Suid-Afrika lyk, is binne 0,3% presies so groot soos België.

Die setel van die uitvoerende gesag van Suid-Afrika (in Pretoria) is so vêr van die wetgewende gesag (in Kaapstad) as wat Brussel van Rome af is. Tussen Brussel en Rome steek ʼn mens 4 internasionale grense oor. “Suid-Afrika” is ʼn reusagtige en onbestuurbare eenheid.

Waarom is dit vir mense ʼn gegewe dat vier verskillende regerings nodig is om dieselfde grootte grondgebied in Europa goed te bestuur, terwyl dit hier ondenkbaar is dat iets anders as een sentrale regering plaaslike sake hoort te bestuur?

ʼn Mens wonder nog verder oor die oorsaak van dié denke as ʼn mens besef dat België uit drie outonomie-gebiede, Vlaandere, Wallonië en Brussel bestaan, terwyl Duitsland, wat maar 29% van die grootte van Suid-Afrika se grondgebied beslaan, ʼn federale bestel is wat uit 16 deelstate bestaan.

Klimatologie

Klimatologies is Suid-Afrika net so divers. Suid-Afrika het ten minste 10 verskillende soorte klimaatsgebiede. ʼn Mens wat van die nat, oostelike dele van die land afkomstig is, kan moeilik begrip hê vir die werklikhede van die droë westelike dele van die land.

Sentrale beheer, byvoorbeeld een sentrale gestandaardiseerde beleid oor natuurrampe, is eenvoudig nie ʼn goeie passing op dié werklikheid wat wissel tussen woestyn en reënwoud nie.

Gemeenskappe

ʼn Volgende werklikheid van Suid-Afrika is dat die bevolking van die land nie ʼn homogene groep individue is nie, maar ʼn gemeenskap van gemeenskappe. Daar is verskeie taal-, kultuur-, geloofs-, en ander -gemeenskappe in die land.

Taal

Dit is welbekend dat 11 gesproke tale die status van amptelike taal in Suid-Afrika geniet. Die werklikheid is egter baie meer kompleks as dit – daar word naas die amptelike tale meer as 20 ander tale ook gepraat.

Wanneer ʼn mens na ʼn kaart van die land kyk wat die provinsiale grense aandui, en jy plaas ʼn kaart van die verspreiding van die tale wat in Suid-Afrika gepraat word bo-oor, is dit duidelik dat die provinsiale grense nie ʼn goeie passing op die taalwerklikhede, en daarom die kultuurwerklikhede, is nie.

Gemeenskapsorde

ʼn Werklikheid van die tradisionele gemeenskappe van suidelike Afrika is dat hulle ʼn tradisionele orde het, ʼn regerings- of gesagsorde met wortels wat baie vêr terug lê. Ons kan die Zoeloe-kultuurgemeenskap as voorbeeld gebruik.

Daar is die koning (“iSilo”) en langs hom die tradisionele eerste minister, die ndunankulu. Die koninkryk bestaan uit verskeie stamme, elke stam het ʼn opperhoof, die “inkosi” met sy eie eerste minister of “ndunankulu”. Die ndunankulu is die hoof van die hoofmanne (“izinduna”). Onder elke induna is daar raadslede.

Die induna bestuur die toekenning van grond waarvoor hy verantwoordelik is, in oorleg met sy raadslede. Die stelsel is in wese baie federaal – die inkosi meng nie in met grond wat ʼn induna toeken nie, die koning het geen direkte invloed op die toedeling van grond deur die inkosi op voetsoolvlak nie.

Dit is verder belangrik om te verstaan dat die afdwingbaarheid van die inkosi en induna se gesag op meerderheidskonsensus berus – vandaar die kultuur van raadpleging, beraadslaging en konsensussoeking. Dit is baie anders as ʼn sentralistiese staat wat sy gesag deur die monopolie op geweld afdwing.

Die tradisionele leiers is verantwoordelik vir die handhawing van tradisionele reg in hul gebiede. Tradisionele reg werk anders as reg met ʼn Westerse oorsprong. Tradisionele reg en gebruike word pragmaties toegepas, afhangende van die omstandighede. Die hoofdoel van ʼn verhoor is om ʼn oplossing te kry, om ʼn herhaling van verkeerde optrede te voorkom – nie om te straf nie, al is daar wel gevolge vir verkeerde optrede.

Die vraag is. Is daar genoegsame ruimte binne die huidige sentralistiese bestel vir die tradisionele orde om tot volle potensiaal te ontwikkel en stabiliteit en geluk vir gemeenskappe te verseker? Het ons hier met ʼn goeie passing te make?

Die permanente

Dit is ʼn eenvoudige werklikheid dat, uit die hoek van die tradisionele gemeenskap gesien, die tradisionele leierskap, die opperhoof en die koning, die permanente is. Die ander orde, of eerder ordes, is dít wat met verloop van tyd kom en gaan.

ʼn Mens hoef eenvoudig terug te kyk. Vir die afgelope 200 jaar al (sedert die tyd van koning Shaka) is die Zoeloe-kultuurgemeenskap op dié manier georganiseer. Intussen het die kolonie, die unie, die republiek en die huidige bestel, elk met hul eie papiere en persone gekom, en gegaan. Wat vasstaan, is iSilo, amakosi en die izinduna. Is ʼn orde wat dié werklikhede nie behoorlik verdiskonteer nie, gepas?

Komplekse wêreld

Generaal Stanley McChrystal skryf in sy boek Team of Teams: New rules of engagement for a complex world dat die wêreld al meer kompleks en daarom al meer onvoorspelbaar word. Hy verduidelik dat ʼn instelling wat binne dié werklikheid suksesvol wil wees, eerder deursigtig en meer organies as ʼn hiperdoeltreffende masjien moet wees, omdat aanpasbaarheid belangriker is as effektiwiteit onder sulke omstandighede.

McChrystal gebruik die bekende Maginot-lyn, wat Frankryk na die Eerste Wêreldoorlog gebou het om ʼn Duitse inval te verhoed, as voorbeeld. Terwyl dit wel ʼn Duitse inval kon vertraag waar dit geleë was, was dit totaal onaanpasbaar en is dit eenvoudig deur die Duitse magte omseil tydens die Tweede Wêreldoorlog.

ʼn Gesentraliseerde, eenheidstaat wat aangebied word as ʼn gepaste oplossing om ʼn diverse, komplekse samelewing harmonieus te laat funksioneer en gemeenskappe te laat gedy is die starre Maginot-lyn van ons tyd.

Meganistiese ideologie

ʼn Volgende belangrike werklikheid van ons wêreld wat in gedagte gehou moet word, is dat ʼn meganistiese ideologie die oorhand gekry het. Desmet skryf:

“The dominant ideology is mechanistic in nature. This ideology typically derives its appeal from the utopian vision of an artificial paradise. The world and man are a machine and they can be comprehended and manipulated as such. The hitches in the machine that cause suffering can be mechanically “repaired.” Yes, even death can be eliminated in the long run. Moreover, all this can be done without man having to reflect on his role in his own misfortune, without questioning himself as a moral and ethical being.”

Dit is duidelik dat dié ideologie die teenoorgestelde van die werklikheid is soos verwoord deur McChrystal. Dit is ook ʼn krag wat in wese sentraliserend van aard is en federalisering en desentralisering teenwerk.

Die werklikheid van die menslike toestand

Nou net enkele opmerkings oor die tweede deel van die waarheid waarna vroeër verwys is – die werklikheid van die menslike toestand.

Elkeen van ons is ʼn mens, met ons gawes en tekortkominge. As ons daarom dink aan die ordening van ons samelewing, is dit nodig om die menslike toestand in ag te neem. ʼn Mens moet vra – hoe moet die orde gestruktureer wees, hoe moet prosesse werk om mense se gawes aan te wend en tekortkominge te oorkom terwyl voorspoedige voortbestaan steeds verseker word?

Sentralisering van mag skep ʼn groter risiko vir dinge om skeef te loop – eenvoudig omdat daar te veel op een mens (of ʼn klein groep mense) rus en omdat dié wat moet beplan en uitvoer eenvoudig te vêr van die grond, van die werklikheid, af is.

Federalisme en die desentralisering van mag wat daarmee gepaardgaan is ʼn meer organiese manier waarop die risiko’s (en geleenthede) van die menslike toestand bestuur en benut kan word. ʼn Federale benadering en die desentralisering van mag versprei verantwoordelikhede en mag. Dié verspreiding van mag tussen verskillende polisse verhoed ook die risiko’s verbonde aan ʼn enkele punt van faling.

ʼn Federale benadering vestig meer organiese prosesse en strukture wat dit moontlik maak vir meer stemme om gehoor te word, daardeur word die ruimte geskep vir meer idees en oplossings om ontwikkel en oorweeg te word. Federalisme spreek dus nie slegs risiko’s aan nie, maar skep ook geleenthede.

Gemeenskappe, mense, het menslike behoeftes. Hoe nader gesag aan die gemeenskap is, hoe minder standaardisering is nodig, en hoe makliker is dit om die menslikheid van optrede te verseker. ʼn Gesentraliseerde regering is vêr van die gemeenskap af, kan nie die kompleksiteite op voetsoolvlak in ag neem nie, moet noodwendig standaardiseer en dit lei daarom noodwendig tot ʼn minder menslike stelsel, en ongelukkige mense.

ʼn Induna ken elke gesin in sy gebied.

Waarom bestaan Suid-Afrika

Ons moet onsself afvra – waarom bestaan Suid-Afrika as reusagtige eenheidstaat soos dit vandag is? Waarom bestaan die kleiner state van Eswatini en Lesotho soos ons dit vandag ken? Waarom is daar nie ʼn outonome of onafhanklike KwaZulu nie?

Suid-Afrika as eenheidstaat is gebore met Uniewording in 1910. Daar was stemme, vanuit ander kultuurgemeenskappe, vir die daarstelling van ʼn federale suidelike Afrika. Van dié stemme was tradisionele leiers. Dié wat leiding geneem het, het daardie oproep op federalisering nie ondersteun nie.

Vrae

Die tyd het aangebreek dat ons antwoorde soek op ʼn paar vrae:

  1. Is die gesentraliseerde Suid-Afrikaanse bestel ʼn pasgemaakte oplossing vir ons uiters komplekse samelewing, of is dit die resultaat van die verloop van komplekse historiese gebeure?
  2. Is gesentraliseerde regering die beste model om die risiko’s van die menslike toestand te bestuur?
  3. Skep die gesentraliseerde orde die ruimte waarbinne die wysheid en insigte vanuit verskeie oorde oorweeg en in werking gestel kan word?
  4. Is ʼn gesentraliseerde bestel die beste benadering om te verseker dat menslikheid seëvier?

Ons het weer ʼn kans

Desmet skryf verder:

“No matter how fruitful a social consensus may be at a certain time, if it is not dismantled in time and renewed, it will putrefy and eventually have a suffocating impact on society. In such times, the truth will emerge as a sincere voice that breaks through the dull refrain of an established story and lends a new sound to old and ageless words.”

Die voetpad van die verlede het ons gebring hier waar ons nou is, die wye horisonne van die toekoms lê voor ons oop – óns kan kies waarheen ons gaan.

Ons werklikhede maak desentralisering en die vestiging van gemeenskapsfederalisme nie net makliker nie, maar noodsaaklik. Ons moet die werklikheid vierkantig in die oë kyk, ons eie oë glo en die geleentheid aangryp om van onder af die federale werklikhede wat bestaan te versterk en uit te bou om ʼn gemeenskapsgesentreerde orde te vestig waarin gemeenskappe kan leef, groei en gedy.

Hout

Suid-Afrika is soos ʼn pragtige stuk hout wat met ʼn dun lagie vernis bedek is. Die vernis begin reeds krake wys, dit bedek die ware aard van die hout.

Dit het tyd geword dat daardie lagie vernis afgeskuur word, sodat die hout weer kan lewe; sodat die ware kleur, die ware geur, die grein – die wese daarvan, tot reg kan kom.

So ʼn voorwerp, gestroop van die kunsmatige en die onware, kan gestem word om in harmonie met sy skeppingsdoel te resoneer.

  • Hierdie artikel vorm deel van ‘n reeks oor federalisme wat op Maroela Media geplaas word. Die artikels is verwerkings van die aanbiedings soos gelewer deur die onderskeie skrywers tydens die jaarlikse Kajuitraad, wat deur Opinor in samewerking met AfriForum aangebied word. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Suid Afrika is ‘n mensgemaakte mengelmoes wat reeds in 1910 gedoem was tot mislukking. Snaaks genoeg, die Engelse in Natal het dit toe al besef en was teen die Unie.Vir dekades veg ons teen swaartekrag om alles bymekaar te hou. In 1994 het alles finaal uitmekaar gespat. Daar bestaan nie ‘n “een land” nie. Dis net ‘n konsep wat magsbehepte politici al vir dekades versprei, want hulle word daardeur bevoordeel. Dis bykans onmoontlik om die land te bestuur. Dis geografies net te groot en die mense net te divers. Vergeet van federalisme. Laat streke wat wil wegbreek en onafhanklik word toe om dit te doen. Begin by die Wes Kaap, al is dit net sekere distrikte. Ons het reeds strukture in plek op grondvlak.

Kokerboom ·

Dis ‘n punt! Laat my altyd dink aan ou Transvaal voorbeeld. Vanuit Pretoria het oorlede oom Willem Cruywagen die ou PWV, Oos, Noord en Wes Transvaal effektief bestuur met beter toestand van infrastruktuur. Nou sit ons met 4 sub parlemente, massiewe personeelstrukture en kostes met minder of geen uitkomstes?!!!Hoe kan ons ooit wen?!!!

Manie ·

Dit verg ‘n baie slim regering om 1.22 miljoen vierkante kilometer (SA) te wil regeer. Veel slimmer en minder korrupte regerings wêreldwyd regeer nie eers oor ‘n kwart van die grootte nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis ook ‘n enorme uitdaging vir staatsamptenare.

Treurwilger ·

Waarom, o waarom, is hierdie feite nie bespreek, met die hulp van onafhanklike buitelandse insette as dit dan moes, vóór SA in sy geheel aan ‘vryheidsvegters’ oorhandig is nie?
Buthelezi het probeer … maar aan die ander was geen keer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die destydse regering en NP het nie oor die vermoë beskik om te onderhandel nie. Politici en wit amptenare het sonder breë konsultasie ingestorm en hulle vasgeloop teen ervare teenstanders. Hulle vas reeds vroeg op die planke. Die destydse president was MIA.

Harley Davidson ·

Deel die provinsies op in onafhanklike state met hulle eie regering en grense waarvan elk sy eie geldeenheid en wette het soos die Europese Unies

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit sal eerste prys wees. Trouens, KZN sal die gemaklikste wegbreek, met kantons vir Indiërs.

annie ·

In 1838 was die Afrikanerboere dik vir die koloniale regering se pedantiese houding en die trekgees het posgevat: Kom ons vat soos ons voorouers in Europa weer die pad. Nou noord op in Afrika. Opwinding oor die ooptes het duisende hul pragtige plase vir ‘n appel of ui verkoop en die waens gepak. Godsdiens was hul daaglikse brood en die bloed het gevloei en Brittanje het soos ‘n seekat beheer behou vir bloedtrek. Nou wil die boere weer terugtrek om maar onder die Engelse en hul Afrika-base te gaan dien. Ingebreek en mak. Is daar nog ‘n lappie iewers… Asseblief!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.