Frankryk se geelbaadjies en die rewolusie van die werkers

Geelbaadjie-betogers in Marseille, in die suide van Frankryk (8 Desember 2018) (Foto: AP Photo/Claude Paris)

Vir meer as twee maande word Parys en ander groot Franse stede op Saterdae amper oorlogsones as gevolg van protes. Hierdie opstande – wat min publisiteit kry – word gelei deur die sogenaamde Geelbaadjies (in Frans die gilets jaunes) en is gemik teen die Franse president Emmanuel Macron, Europa se vernaamste globalis en sy politieke meelopers. Hierdie is ’n spontane opstand wat ’n klasse- (en selfs rasse-) karakter aanneem, aangesien dit die werkersklas en plattelanders is wat die “elite” teenstand bied. Kom ons noem dit wat dit is – ’n nuwe Franse rewolusie.

Die “Petits Blancs” vs. die “Bobos”

Vele wonder wie die Geelbaadjies is en waaroor hulle nou eintlik betoog? Die antwoord skuil in die minagting van die sogenaamde stille minderheid – dié wat die Amerikaanse presidentskandidaat, Hillary Clinton, in 2016 die “bejammerenswaardiges” (deplorables) genoem het en gelei het tot die skokkende verkiesing van Donald Trump as president. Soos in die VSA, is Europeërs toenemend verdeeld tussen die stedelike elite wat goed betaalde werk het en die (stedelike en) plattelandse middel- en werkersklas, wat jaar ná jaar meer sukkel om kop bo water te hou.

In Frankryk het die goed betaaldes in die regering en groot Franse korporasies gewoonlik simpatie met die stringe onwettige immigrante. Macron wys gereeld sy menslikheid, deur empatie met die swart en Arabiese minderhede te toon. Macron het egter min empatie met die wit middel- en werkersklas. Hy (Macron) is in 2017 verkies deur die elite, die bobos (in Frankryk basies die jappies, oftewel bourgeois, en boheemse mense), asook die swart en Arabiese minderhede en hul nasate. Hierteenoor is die wit middelklas (wat neerhalend as Petits Blancs – die laerklasblankes – beskryf word) die belastingkoeie wat die staatskas voed en baie van die nuwe inkomelinge (Moslem en swart immigrante) van staatsubsidies voorsien. Dis hierdie mense wat verder deur ’n onsimpatieke EU-administrasie in die steek gelaat word en grootliks verarm.

Die Petits Blancs se stryd word puik deur die onkonvensionele, maar briljante Franse skrywer, Michel Houellebecq, in sy nuwe boek genaamd Serotonin, wat laas week verskyn het, verwoord. Houellebecq beskryf die Franse werker en plattelander se stryd om oorlewing in die boek – beide materiële en kulturele oorlewing. In Serotonin is die hoofkarakter ’n staatsamptenaar wat erg teen die EU en die gevolge van globalisme gekant is. Die hoofkarakter glo dat die Franse politici vere voel vir die gewone mense, maar globalisme met hul lewe sal beskerm. Houellebecq het ook in 2015 die Franse geskok met sy roman Submission, waarin ’n Moslem-president die Franse verkiesing in 2022 wen en Islamitiese sjariawette instel. Ironies genoeg het Moslem ekstremiste op dieselfde dag in 2015 as wat Submission verskyn het, Franse in die Charlie Hebdo-slagting afgemaai.

Houellebecq, ’n kettingroker en peinsende, teruggetrokke skrywer, het ook die Franse stof tot nadenke gegee toe hy in Desember 2018 president Donald Trump as “een van die beste Amerikaanse presidente ooit” beskryf het, asook sy opposisie teen die EU en sy bereidwilligheid om met leiers soos Wladimir Poetin (die Russiese president) en Kim Jong-oen (die Noord-Koreaanse leier) bande te verstewig, aangeprys het.

Hoewel hy Trump se kleingeestigheid kritiseer, glo hy dat Trump Amerika se imperialistiese buitelandse beleid beëindig het – tot voordeel vir die wêreld en die VSA. Die Europeërs en Franse is, volgens Houellebecq, nou vry van Amerikaanse imperialisme en hy ondersteun die beëindiging van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), terwyl hy Brittanje se onttrekking uit die EU (Brexit) sterk ondersteun.

Dit blyk dat Houellebecq met sy opmerkings en boeke in ’n groot mate die Fransman (en ook Europeër) se frustrasies bewoord. Daar is ’n toenemende verset teen die “elite” se onsimpatieke optredes teenoor die middel- en werkersklas, terwyl hulle die instroming van Derde Wêreld-burgers aanmoedig. Verder moet hemelhoë belasting op petrol- en energiepryse, oënskynlik klimaatsverandering teenwerk en befonds word deur die middel- en werkersklas. Die voordele van feitlik oop grense na die EU moet opgeweeg word teen nadele soos terrorisme, Europeërs wat toenemend onwelkom voel in hul eie land en die elite se omarming van vreemdelinge en toenemende identiteitspolitiek.

Dit gaan oor globalisme

Die gevolg is dat ons stadig maar seker ’n skuif in wêreldpolitiek beleef. Nie net in Frankryk nie, maar ook in Brittanje, die VSA en Italië. Die tradisionele politieke partye, die konserwatiewe en sosialistiese sentristiese partye, se beleidsverskille het nou vervaag en daar is amper geen verskille tussen hulle oor nie. Beide het sosialisme, identiteitspolitiek en onwettige immigrasie aanvaar en globalisme omarm. Gevolglik het Europese maatskappye hul groot fabrieke na Asië geskuif, terwyl arm en ongeskoolde arbeiders ingevoer word om goedkoop arbeid binnelands te verseker.

Soos in die Franse Geelbaadjies se geval, is die opposisie teen hierdie nuwe globalisme die sogenaamde vêrregses en vêrlinkses, al is dit met verskillende oogmerke. Dis ironies dat beide die vêrregses en vêrlinkses gekant is teen vryhandel omdat dit die werkersklas bedreig, die opheffing van vervalle infrastruktuur in middel- en werkersklasgebiede vereis en (meestal) albei gekant is teen die instroming van goedkoop Derde Wêreld-arbeid.

Europa se lot sal in die volgende dekade bepaal word. Die opsies is eerstens die status quo van globalisme wat die meeste Europese regerings tans kenmerk: die instroom van nie-assimileerbare immigrante, oop grense, kousale terrorisme, verhoogde belastings en werkverliese. Uiteraard is daar voordele: meer en goedkoper produkte en arbeid van ander lande, groter rykdom vir die elite en vryheid van beweging. Die tweede opsie en teenpool is nasionalisme, proteksionisme en die uithou van vreemdelinge. Hierdie opsie kan weer in twee vertakkings gedeel word: die pad van dié wat konserwatiewe en patriargale stelsels voorstaan (die sogenaamde vêrregses) – gebou op kapitalisme en patriotisme; of die beskerming van die werkersklas en oordadige belasting van die rykes om gelykheid te bewerkstellig (die sogenaamde vêrlinkses).

Suid-Afrika, soos die res van die wêreld, het presies dieselfde keuses. In Suid-Afrika, met die groei in steun van vêrlinkses in beide die ANC en die EFF, is die opsies net meer beperk. Die skielike groei van swart nasionalisme versnel die beweging van ’n sosialistiese sentristiese stelsel na ’n vêrlinkse stelsel.

Globalisme was nie goed vir SA nie: die elite het hulself verryk, endemiese staatskorrupsie het ontstaan en tienduisende werkgeleenthede het in verskillende bedrywe verlore gegaan. Die populêre vêrlinkse agenda wat tans aanhang geniet, verklaar die toename in diensleweringproteste, rassisme teen wittes en xenofobie. In Suid-Afrika het die ander alternatief; naamlik dié van patriotiese, nasionalistiese konserwatisme reeds in 1994 tot ’n einde gekom en tans lyk dit nie of daar in die nabye toekoms groot entoesiasme daarvoor is nie. Laasgenoemde is in elk geval eerder in homogene samelewings die norm as in geïntegreerde samelewings soos Suid-Afrika.

In sommige Europese lande soos Italië, Oostenryk, Pole en Hongarye lyk dit of die nasionalistiese pad tans veld wen. Of hierdie lande tot die ontbondeling van die globalisme (die EU) gaan bydra, is natuurlik ’n ope vraag, aangesien al hierdie lande in ’n mindere of meerdere mate ekonomiese probleme ondervind en van die EU afhanklik is.

In die VSA is die stryd tussen die sogenaamde vêrregses, vêrlinkses en die globaliste nog onbeslis en groot verdeeldheid oorheers die politiek. Brittanje het eintlik net sentristiese politieke partye en gevolglik is die politieke elite gekant teen wat hul eie kiesers voor gestem het: naamlik om die globalistiese EU te verlaat. Tyd sal leer wat van hierdie sirkus gaan word. Vêrlinkse state het hulself natuurlik al oor en oor as mislukkings bewys: die Oosbloklande, Kuba, Venezuela en Zimbabwe is sekerlik sprekende voorbeelde hiervan.

Macron kan nie oorleef nie

In Frankryk is die regering van Emmanuel Macron erg bekommerd oor die klasrewolusie van die Geelbaadjies, wat nou vir nege agtereenvolgende Saterdae die regering basies op sy knieë gedwing het en die kop van die elite se hofnar, Macron, eis. ’n Ooglopend spontane, leierlose beweging deur linkse en regse werkers, middelklasmense en plattelanders het soortgelyke beelde opgewek van die grootskaalse Franse betogings in 1968 teen die destydse (eers beminde en later arrogante) president Charles de Gaulle. De Gaulle moes later bedank.

Dit is hoekom die Geelbaadjies nou in ’n rewolusionêre beweging ontaard het en tot Macron se ondergang kan lei. Die arrogansie van Macron en sy elite het veroorsaak dat tot soveel as 350 000 Franse by tye landwyd aan die protes deelneem. Macron het geen antwoord teen die protes nie en sy regering se enigste hoop is dat die Geelbaadjies se stoom gaan opraak en die rewolusie ’n natuurlike dood gaan sterf.

Dis moeilik om te sien hoe Macron se politieke loopbaan kan oorleef, selfs al val die Geelbaadjies se opstand plat. Sy gewildheid het immers tot ongeveer 20% gedaal en die Geelbaadjies word steeds (ten spyte van erge skade hier en daar) deur die bevolking gesteun.

Wat ook al in Frankryk gaan gebeur, wil dit voorkom of die Europese bevolkings toenemend in opstand kom teen hul eie verkose leiers se selfsug en hul ignorering van hul kiesers se wense. Europese demokrasie is nie tans in gedrang nie, maar die Geelbaadjies se (soms gewelddadige) protes kan ander inspireer om teen globalisme in opstand te kom.

Eers dan kan ons begin praat van ’n Europese “lente” (soos die mislukte Arabiese lente) van ’n dekade gelede.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jerry ·

Die geelbaadjies het jare gewag vir n president soos Macron, want vir hom en die elite kan hulle nou onttroon en die regering oorvat. Hulle gaan nie stop nie!

waarheid1 ·

Uiteindelik het die Franse wakker geword oor vir wie hulle gestem het. Hulle leer op die harde manier.
Hoop Le Penn kom nou sterk na vore.

Gert ·

In Suid-Afrika is ons uitsonderlik beperk polities met die drie grootste politieke partye (ANC,DA,EFF) wat polities almal links, pro-migrante en pro-swart is, en wat saam 90%+ van alle stemme trek. Dis ook dikwels gestel dat in ‘n etnies diverse land, verkiesings neerkom op ras-sensusse, daarom is verkiesings eintlik futiel in so ‘n land as daar nie spesifieke maatreëls is om minderhede se belange te beskerm nie. Die verskil tussen ons en Europa is dat daar hier nie ‘n groot groep is wat benadeel word deur regeringsbeleid nie, basies word minderhede benadeel om die meerderheid te bevoordeel.
So, ek sien nie ‘n werkbare weg vir Suid-Afrika uit hierdie situasie nie.

Annie Webb ·

Gert, die DA is nié pro-migrante nie. Ek het Maimane en ander al baie duidelik hoor sê dat SA beter grensbeheer moet toepas omdat die land nie die las van onwettige migrante kan dra nie. Maimane het ook by die opposisie in Venezuela kers opgesteek. Die linkses en regses is ewe besig om die DA te jag, terwyl hulle só duidelik die beste veelrassige alternatief is. Of is dit juis daarom? ‘n Mens moet net by die rasretoriek verbykyk, dis ‘n noodsaaklike euwel.

Stephan de S ·

Dankie vir die netjiese uiteensetting vd “klasse-stryd” in die Westerse wêreld. Ek verstaan dit nou baie beter en het soveel begrip vir die stryd vd “nie-elite”. Onder Afrikaners is hierdie stryd ook aan die werk: het onlangs n sekere byeenkoms bygewoon en daarna besef dat feitlik net gegradueerdes dit bygewoon het…….ongegradueerdes voel skynbaar nie welkom nie.

Thinus Erasmus ·

Soos die artikel die situasie in Frakryk beskryf, so ondervind ek as plattelander die situasie in SA.
Die gemiddelde persoon in die stede en groter sentra, verstaan nie dat die ekonomie anders werk op die platteland of vir die stedelike hande arbeider nie. Hulle het ook geen simpatie vir ons omstandighede of enige begrip dat ons nie maar net ons eie omstandighede kan verander nie.
Soos die groter besighede groter word en kleineres toe maak, so word die ekonomie al meer deur minder beheer.
Bv. Megaboere veroorsaak minder werkgeleenthede, minder gesinne wat betaan kan maak op plase en minder koopkrag in die plattelandse dorpies. Die Mega boer se vrou koop in die stad, sy kinders is in privaatskole in die stad en al sy medies, finansiele en aankope besigheid is ook in die stad gesentreer.
Sy plaaslike besigheid is min en sy werkers is nou nie juis top salaris trekkers nie.
So gaan dit met ander besighede ook, die “ryk” mense se geldd gaan na groot besighede, dikwels in die stad, en net die arm mense moet mekaar bedien.
En daarby word amper alles wat die arm mense koop, op een of ander manier deur die ryk mense beheer.
Die realiteit is dat die “vrye” mark met soveel regulasies en monopolie, baie mense arm hou om ‘n klein groepie vreeslik ryk te maak.
Dan word die situasie so ondraaglik dat die arm mense “Franse Rewolusie” – soos nou en soos die regte bloedige een in die geskiedenis. Lang kommentaar, jammer.

Kobus ·

Dieselfde is van toepassing op die winkelsentrums wat in die plattelandse dorpies gebou word. Plaaslike kleinhandelaars word deur die sogenaamde “nationals” vervang. Sodoende word die geld wat plaaslike sakemense uit wins en huur sou verdien uit die dorp geneem en die gemeenskap verarm.

Annie Webb ·

Puik, ewewigtige analise sonder die gewone ooglopende ophemeling van die skrywer se persoonlike politieke voorkeure en afkraak van sy eie afkeure. DANKIE Nico Stegmann!

Therese ·

Skitterende artikel.
Interessant dat die skrywer ook opmerk van die min publisiteit wat die geelbaadjie-opstande in Frankryk kry. Dan wonder mense nog waarom die hoofstroommedia van ‘n bepaalde agenda verdink word, Trump word geterroriseer, maar oor Macron is hulle stom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.