Geleenthede vir Afrikaners in Weste se politieke herskikking

weerhaan

Foto: Nicole Wilcox/Unsplash.com

Die afgelope twee of drie jaar was werklik ’n uitsonderlike tyd in die Westerse wêreld. Omvattende politieke veranderinge het in werking getree wat ernstige vrae oor die toekomstige politieke model van die Weste laat ontstaan het. Dit is duidelik dat daar ’n omvangryke politieke herskikking in die Weste plaasvind en dat die volgende paar jaar groot hervormings gaan meebring. Dit hou vir ’n klein Westerse minderheid wat ’n volhoubare toekoms op ’n Derde Wêreldse kontinent probeer skep, opwindende geleenthede in.

Die verkiesing van Donald Trump in die VSA, die Britte se besluit om uit die Europese Unie te tree, die verkiesing van aweregse regerings in Italië en selfs Oostenryk en die uitdagende selfvertroue van rebelerende regerings in Pole, Hongarye, die Tsjeggiese Republiek en Slowakye is enkele van die tekens dat die idee dat liberale Westerse demokrasie en politieke konsensuspunte wat na die einde van die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het, ’n soort permanente stelsel in die Weste geword het, verkeerd is.

Die komende verkiesing van verteenwoordigers vir die Europese parlement in Mei vanjaar sal sonder twyfel ’n meer amptelike resultaat aan die ontwikkelende politieke herskikking in Europa verleen.

Westerse lande soos die VSA, die meeste Europese lande, Australië en Nieu-Seeland is almal tans ekonomies redelik welvarend. Selfs lande in Suid-Europa toon sterk herstel ná die skokke van die 2007/2008-finansiële krisis, en in die meeste Westerse lande word die beste vlakke van welvaart en veiligheid ooit beleef.

Tog heers daar wesenlike onsekerheid onder baie Westerlinge oor die toekoms van hul lande en volkere. Die kombinasie van interne veranderinge en die verskuiwing van eksterne magsverhoudinge dryf hierdie veranderinge. Lande in Asië is weens sterk bevolkingsgroei en ekonomiese groei besig om hul spiere te bult en begin om op groter geo-politieke invloed aan te dring. Dit, gepaardgaande met die voortdurende bedreiging van Islamitiese terreur, vrese vir ’n nuwe kernstryd, kommer oor volgende ekonomiese krisisse, klimaatsverandering en die algemene uitbuiting van natuurlike hulpbronne, die toename in hopeloosheid, dwelmmisbruik en algemene geestesgesondheid asook die verkrummeling van na-oorlogse politieke konsensuspunte, bring ons by ’n punt waar mense in Westerse lande vandag, ten spyte van hoë vlakke van welvaart en veiligheid, deur knaende onsekerheid en uitsigloosheid geteister word. Dit skep ’n geo-politieke klimaat wat deur geleentheid en risiko gekenmerk word.

Frances Fukuyama bespreek in sy boek The Origins of Political Order die biologiese grondslae van die politiek in diepte. Dit is veral sy klem op die feit dat mense nooit in ’n presosiale staat bestaan het nie en dat die mens se behoefte vir kollektiewe erkenning vandag baie relevant is. Daarom is dit ook interessant dat een van die belangrikste politieke besprekingspunte in Westerse lande vandag identiteitspolitiek is. Dit is niks anders as identiteitspolitiek wat tot die verkiesing van Trump, Brexit en die interessante regerings in Italië, Oostenryk, Hongarye, Pole en nog ander lande aanleiding gegee het nie.

Volgens Fukuyama ontstaan die meeste konflik in die wêreld weens ’n behoefte aan erkenning eerder as ’n behoefte aan hulpbronne. Samuel Huntington het in 1968 in sy boek Political Order in Changing Societies geskryf dat politieke verval begin intree wanneer politieke ontwikkeling nie tred hou met ekonomiese en sosiale ontwikkeling nie. Is dit nie moontlik presies die uitdaging wat talle Westerse lande vandag in die gesig staar nie?

In ’n era van redelike stabiliteit, groeiende welvaart en sterk internasionale instellings, moet gevra word: Waarom soveel onsekerheid? Waarom is ’n meerderheid van burgers in soveel Westerse lande diep ongelukkig en ontevrede met hul leiers en regerings? Waarom is daar so min hoop en soveel vrees? Die rede is waarskynlik omdat die politieke stelsel nie meer ’n volwaardige antwoord bied op die veranderende politieke en sosiale omgewing waarin mense leef en waaraan hulle elke dag blootgestel is nie. Die veranderinge van die afgelope paar dekades is sterk gedryf deur globalisasie. Terwyl globalisasie talle voordele gebring het, het dit ook gelei tot verhoogde immigrasie, toerisme en uiteindelik ’n bedreiging van gemeenskappe, kulture, tale, historiese terreine en duidelike afbakenings wat vir eeue ook ’n sterk mate van sekuriteit gebied het.

Terwyl die rol van instellings soos die Verenigde Nasies, die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie en die Europese Unie nog tot onlangs duidelik en onbetwisbaar was, word daar vandag ernstige vrae oor hul toekomstige rol gevra. Politieke leiers soos Viktor Orban in Hongarye en Matteo Salvini in Italië daag uitgesproke en reguit die liberale demokrasie uit en stel alternatiewe voor, wat sterk aanklank in veral Sentraal-Europese lande vind.

Dit is nie net Westerse lande en leiers se introspeksie wat belangrik is nie, maar ook die feit dat hulle die res van die wêreld toenemend meer realisties begin beoordeel. In die VSA en Europa is daar minder simpatie vir Afrika se probleme en die droom dat Suid-Afrika die eerste volwaardige liberale demokrasie met Westerse instellings en ideale sou word, het nie net vervaag nie, maar bestaan nie meer nie.

Afrikaners as ’n Westerse minderheid wat ’n volhoubare toekoms op ’n Derde Wêreldse kontinent vir homself wil, moet geleenthede hierin sien. Die historiese geheue van die Weste is steeds verbind tot ’n beeld van die Afrikaner as ’n bevoorregte minderheid wat lank na die einde van kolonialisme steeds ’n slegte, rasgebaseerde orde in Suid-Afrika in stand gehou het. Die beeld van apartheid is steeds sterk in Westerse lande, hoewel dit onder ’n jonger generasie Westerlinge vervaag.

Solank die Afrikaner deur Westerlinge en veral Westerse politici, akademici en ander leiers vanuit die apartheidsidioom beoordeel sal word, sal ons ’n gediskrediteerde volk bly.

Wat die Afrikaner moet doen, kan in drie stappe opgesom word. Ons moet deeglik en eerlik met ons verlede afreken. Tweedens moet ons onsself sterker tot Afrika verbind en derdens moet ons met selfvertroue – maar nie arrogansie nie – op ’n ingeligte, eerlike wyse erkenning op ’n reg om in Afrika ons taal en kultuur te laat voortgaan en floreer wêreldwyd gaan verdien.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Stephan de S ·

Dankie Jaco, uitstekende ontleding. Soos die heersende politieke konsensuspunte ontrafel , sal hopelik ook die heersende sosiologiese konsensuspunte verander. Ek bedoel dat baie dinge wat vandag as rassisme gebrandmerk word, bloot die mens se natuurlike instink is om hom volgens sy eie sosiale patrone te rangskik. Politici ontken dit omdat hulle n gerieflike melkstal verkies…..waar hulle kan melk twv hul eie sak.

Rasper ·

Ek het meer as tien vingers nodig om al die partye te tel wat onafhanklikheid nastreef. Dit is ook nie net die Afrikaners nie, maar ook die Kleurlinge, en ander minderhede. Die hoeveelheid mense wat emmigreer maak dit duidelik dat hulle nie tevrede is met die “nuwe SA” nie, al verkondig die DA iets anders. Daar is nie “liefde” in ‘n geforseerde huwelik nie, (dit is wat die onderhandelinge in 1991-1994), se uiteinde was. Maak nie saak hoeveel reenboognasie advertensie op die televisie kom nie. Ek is ook seker ‘n mens hoef nie die Weste se arm te hard te draai vir die nodige hulp om ‘n BRICS land op te breek nie. ‘n Suid-Korea is beter as ‘n Noord-Korea, en dit is wat ons moet verkoop. Daar is egter twee probleme. Een, die Afrikaners met wie dit goed gaan in die nuwe SA, alhoewel in die minderheid, koop nog hulle “apartheid”, en sal elke liewe stok wat hulle kan kry in enige plan se wiel druk. Twee, die DA. Hulle kan net oorleef in die toekoms deur die minderhede se saak te los, en die meerderheid tegemoet te kom. En hoe langer hulle die minderhede, wat wel meerderhede op sekere plekke is, aan hulle neuse lei, hoe skraler raak die kans op verandering in die toekoms. Mense met dieselfde einddoel moet nou saam staan.

Grys ·

Ek dink ons toekoms lé voor buite Suid-afrika, ons moet die land verlaat vir n nuwe tuislande, dis soos om te skei, soms is dit die enigste manier om geluk te gee vir altwee parties[die minderheid en meederheid] daar geen rede om in n toxic huwelik te bly nie en daars geen rede vir ons om in hierdie “nasionale huwelik” te bly nie. Dis so maklik as om n groot genoeg groep eilande te koop en met internasionale lande te werk om n republiek te vestig, een wat ons uiteindelik vryheid gee, vryheid van geloof, haat, skuld, politieke parties, en soo aan. Dit sal min ondersteuning ontvang en tonne afrikaners sal gekant wees, maar dis ok, want soos die prinsiples van natural selection werk, sal sulke swakkes net probleme veroorsaak dis beter as hulle net uitsterf, ons was nog altyd sterker in kleiner nommers. As ons in wetenskap vertrou kan ons n volhoubare staat vestig, ons probleme op los met nuwe tegnologie. Ons kan as ons regtig will.

John ·

… mense met dieselfde einddoel? Wat sou dit wees? En dit is juis die kruks van die saak. Eerlikheid tov die einddoel… ‘n verskuiwende horison. Selfsug lè ten grondslag van alles wat die menslike spesie ten doel het. Afrikaners word nou vertel dat hulle die ander minderhede moet abba sodat dit met hulself beter kan gaan. Dit is ‘n klug. Ons groepie sal gou ten gronde gaan en deur die eise van hierdie mense tot slawe en welsyndienswerkers bevorder word. En die bietjie wat ons het sal uitgesuig word onder die dekmantel van naasteliefde. As ons kulturele uitlewing wil bevorder, fine, maar watter ander groep deel ons godsdiens/geskiedenis of gaan ons dit ook nou uitwis? ‘n Donkie stamp nie sy voet teen dieselfde ou klip nie. Hoekom wil ons?

Rasper ·

‘n Eerlike ontleding van die Afrikaner tans is nodig. Wat wil ons hê, en wat is ons bereid om vir dit te betaal. Ek het al met te veel van my mense by die kerk, skool en werk te doen gekry om te weet dat ons wragtig nie engeltjies is nie. Ek het al self gewonder hoe het ons oor die Drakensberge gekom…. Wat ek wel weet is dat ons hardkoppigheid gaan veroorsaak dat ons met niks sit nie. Ek verstaan dat Afrika ons hard gemaak het, baie hard. Maar dit affekteer ons strategiese denkvermoë. Ten spyte van dit alles, is dit my mense, goeie mense met foute. Maar as ons nie gaan nuut dink, aanpas, sonder om prys te gee, en hande uitreik na vriende nie, moet ons maar liewer ou Jerry se raad vat, en emmigreer.

Jerry ·

Jaco, die enigste manier vir enige Afrikaner in SA, jonk of oud om homself los te maak van apartheid is om afstand te doen van jou Afrikanerskap deur met die ANC te versoen en ANC lidmaatskap te vat. Die ander manier is om oorsee te gaan en dubbele burgerskap te kry en dan terug te kom as n burger van n ander land, sou jy nog wou. In SA kan jy nie van jou sondes ontsnap nie, dit gaan bly kleef tot vier geslagte van nou af vorentoe! As jy dink jy kan van dit ontsnap dan het jy nog niks geleer van Afrika gedurende jou tyd in Afrika!

Vryheid ·

Dankie Jaco. Baie goeie artikel. Jy verwoord ten dele wat ek beskou as dat ons – die Afrikanervolk – moet strewe na vryheid. Liberale demokrasie is n uitgediende model bo en behalwe dat dit, myns insiens, n verregaande en onwerkbare model is in n multi-kulture Suid-Afrika. Onder n homogene gemeenskap, n volk, met n sterk gedeelde waardestelsel en moraliteit het dit bestaansreg maar meestal kan word die mens se sondige natuur nie na behore in enige hedendaagse politieke bestel in ag geneem nie.

Die pad is die van Josua: “….Ek en my huis ons sal die Here dien…”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.