Geloof en rede onderskei, maar nie geskei

“Geloof en rede verenig” deur Ludwig Seitz (Foto: Wikipedia/ Marie-Lan Nguyen)

Die onderskeid tussen, en die samehang van geloof en rede is ʼn ingewikkelde en omvangryke onderwerp. ʼn Enkele inleidende opmerking is nodig om van die begin af onnodige misverstand uit die weg te ruim.

Die standpunt wat hier aangebied word, is dié van ʼn teoloog wat in die Reformatoriese tradisie staan. Binne hierdie tradisie word geloof en rede onderskei, maar nie geskei nie. Die onderskeiding het met die unieke onderwerp van die teologie te make, naamlik die sonde en die verlossing van die sonde deur Jesus Christus.

Die menslike rede, die nadenke, die filosofie stel nie noodwendig hierin belang nie, en daarom die noodwendige onderskeiding. Geloof en rede word binne hierdie tradisie egter ook nie geskei nie. Sonder die filosofie kon die teologie nog nooit klaarkom nie, aangesien mense wat glo ook mense is wat dink, en denkende gelowiges wil nie onnadenkend met die lewenswerklikheid omgaan nie. Talle filosowe is ook gelowiges, of stel minstens in sekere aspekte van die teologie belang, en vandaar ook ʼn oor-en-weer beïnvloeding.

Die vertrekpunt van hierdie bydrae is programmaties saamgevat in Martin Luther se slotbetoog op die Ryksdag van Worms[1] (1521):

“Indien ek nie deur die getuienisse van die Skrif en rasionele argumente oortuig kan word nie… bly ek ʼn gevangene van die Woord van God. Om hierdie rede kan en wil ek niks [van my geskrifte] herroep nie, aangesien dit nie veilig of heilsaam is om teen jou gewete te handel nie. Mag God my help, Amen!”

Die domkerk van die dorpie Worms waar Luther destyds sy betoog gelewer het (Foto: Wikipedia/AlterVista)

Volgens Luther berus die Christelike teologie op Bybelse uitsprake en rasionele argumente. Enkele aanhalings uit die Bybel is nie genoegsaam om die uitdagings van die lewe te takel nie. Rasionele argumente alleen, is egter ook nie voldoende vir ʼn vredevolle lewe nie. Die geloof in Christus Jesus, wat alle rasionele argumente oorstyg, laat ons in God se vrede deel, en bewaar ons van dwaashede van die denke (Filippense 4:7).

Om die stelling nogmaals te verduidelik: Volgens die filosofie[2] is die mens ʼn “denkbegaafde, sintuiglik-waarneembare en liggaamlike wese” (Luther, Disputasie oor die mens, 1536). Om mens te wees en om as mens te oorleef, moet die mens sy verstand gebruik[3]. Die verstand en die denke is egter beperk, aangesien dit nie antwoorde op al die menslike vrae kan bied nie.

Daarom word “die mens deur die geloof geregverdig” (Romeine 3:28). Dit beteken, dat die mens voor God se aangesig bestaansreg het op grond van die geloof in Jesus Christus. Danksy hierdie “bestaansreg” het die gelowige deel aan die uiteindelike antwoorde op al die duistere vrae van die menslike bestaan (1 Korintiërs 13:12). Hiermee word die Christen nie van die plig onthef om denkend, besinnend, bestuderend met die voorhande werklikheid om te gaan nie. Die waardering en dankbaarheid vir die (wel onvolmaakte) wetenskap is deel van die Christen se gebed.

Wat word met “rede” bedoel?

Die woord “rede” is ʼn versamelnaam vir ʼn hele paar dissiplines, soos die filosofie asook die natuurwetenskappe. “Rede” (of die Duitse Vernunft) het dus te make met kennis, wete, insig en verstaan.

Wanneer sou iets redelik wees?

Martin Luther (Foto: Wikipedia)

Wanneer daar sprake is van inter-subjektiewe begrip, algemeengeldigheid, kontroleerbaarheid en bewysbaarheid. Die speelveld van die rede het dus met kennis te make wat die navorsbare werklikheid kan ontsluit. Die soeke na kennis en begrip van die werklikheid is ʼn uitdaging wat nie ontwyk kan word nie. Ons wil en moet ons werklikheid ken en probeer verstaan, aangesien ons kennis en insig ʼn lewenswaardige bestaan moontlik maak. ʼn Lewe sonder die wetenskappe en die filosofie is (minstens binne die Westerse wêreld) nie voorstelbaar nie. ʼn Fundamentalistiese Biblisisme (wat tans onder ons mense konjunktuur geniet) kan daarom op die lange-duur nie bevredigend wees nie.

Die kritiese vraag is egter, of die waarhede van die wetenskappe en die insigte van die filosofie, voldoende is om ʼn betekenisvolle bestaan te voer?

Ons almal weet dit is nie genoegsaam nie, onder andere, omdat vandag se sekerhede môre betwyfel kan word. Ons weet ook op grond van ervaring, dat ons menslike insigte nie antwoorde bied op die mees tergende vrae nie: vrae soos wie en wat is ek, waar kom ons vandaan en waarheen is ons op pad? Aangesien ons nie die diepste vrae van ons bestaan self kan beantwoord nie, vlug ons na die geloof, godsdiens en die teologie. Vir sommiges is dít onsinnig, maar vir talle ander bly dit die enigste uitweg.

Die Franse filosoof Blaise Pascal (1623 – 1662) het tereg gesê: “Die hart het sy redes wat die verstand nie ken nie.”

Wat word met “geloof” bedoel?

Onder “geloof” verstaan ek die Christelike geloof. Dit het te make met die vertroue in die één God wat Homself in en deur Jesus Christus geopenbaar het as die barmhartige Vader wat ons, ons ongeloof en ondankbaarheid wil vergewe, en aan ons ʼn nuwe lewe wil skenk.

Geloof ontneem die rede van niks nie; dit hef die rede ook nie op om vir sigself plek te maak nie, aangesien die geloof geskep word deur die verkondiging van die evangelie en die werking van die Heilige Gees. Die geloof is daarom nie van die rede afhanklik nie, net soos die rede nie van die geloof afhanklik is nie. Die Christelike geloof is selfgenoegsaam, en het nie nodig om homself aan te bied as die “ware filosofie” (Justinus die Martelaar, 165 n.C.) nie.

Die filosofie moet daarom ook nie probeer om haarself as “Christelike filosofie” aan te bied nie, aangesien dit nie voortdurend op die temas van die teologie konsentreer nie en die teologie nie ʼn wesenlike bydrae tot die wetenskappe (soos wiskunde) kan maak nie.

Die samehang van geloof en rede

Geloof en rede is duidelik nie dieselfde dinge nie, maar die een wil ook nie sonder die ander een klaarkom nie. Die wedersydse afhanklikheid is klassiek deur Anselmus van Canterbury in 1077/8 saamgevat in die volgende twee slagspreuke: “Geloof soek na insig” (“fides quarens intellectum”) en “ek glo om te kan weet” (“credo ut intelligam”).

‘n 19de-eeuse loodglasvenster wat Anselmus as aartsbiskop uitbeeld (Foto: Wikipedia)

Wat Anselmus bedoel het, word nou al vir honderde jare bespreek. Dit lyk vir my of daar binne sekere Afrikaner-kringe aan die volgende interpretasies vasgehou word: Geloof gee ons ʼn hupstoot om die werklikheid te ken en te verstaan; en ek glo omdat dit ʼn onmisbare element is om die werklikheid te ken en te verstaan. Die eintlike saak is dus die filosofie (en daarmee saam die wetenskappe), en die geloof is ʼn meevaller. Met só ʼn standpunt kan die geloof, die teologie en die kerk netsowel vergeet word (en dít is wat rondom ons gebeur)!

Om uit hierdie impasse te kom, moet aanvaar word dat die Christelike geloof nie ʼn wêreldbeskouing is nie. Die geloof laat die verstaan van die werklikheid aan die rede (die filosofie en die wetenskappe) oor, aangesien die temas van die teologie geen wesenlike bydrae tot wetenskaplike kennis kan maak nie. Die bydrae wat wel gemaak kan word, naamlik die kennis van sonde, die hoop op vergewing en die drang tot dankbaarheid, is volgens die wetenskappe waardelose inligting.

Geloof en rede kom egter nou al vir meer as 2 000 jaar nie sonder mekaar klaar nie. Hulle wil met mekaar in gesprek tree.

Danksy die wedersydse gesprek neem hulle mekaar se taalgebruik oor, en die gemeenskaplike taalgebruik skep gemeenskaplike tema-velde. Waarteen altyd gewaak moet word, is die versoeking om vanuit die rede aan die geloof voor te skryf wat geglo kan word en hoe geglo moet word. Die Roomse skolastiek van die laat-Middeleeue het Aristoteles in der mate misbruik, dat die reformatore genoodsaak was om die teologie te bevry van ʼn onbybelse verlossingsleer. Aristoteles moet gerespekteer en gebruik word as ʼn uitstaande filosoof. Hy moenie gebruik word om voor te skryf hoe die verlossingsleer verstaan moet word nie (Luther, Heidelbergse Disputasie, 1518).

Deur die eeue heen het filosowe ook Bybelse begrippe en gedagtes gebruik om filosofiese sisteme te bou (byvoorbeeld Ernst Bloch, Die Prinsiep van die Hoop, 1959). Wanneer té veel op Bybelse uitsprake gekonsentreer word, verloor só ʼn teks sy filosofiese glans. Die teenargument kan wees dat godsdiensfilosofie en filosofiese teologie vakgebiede is met bestaansreg.

Dit is dus duidelik dat geloof en rede, teologie en filosofie (in die Europese tradisie) onlosmaaklik verbonde is en sal bly. Die uitdaging sal egter ook bly om geloof en rede deurgaans reg te onderskei.

Die onderskeid tussen geloof en rede

Volgens Luther is die persoon wat reg kan onderskei tussen geloof en rede ʼn ware teoloog. Jesus sê in Johannes 7:16: “Wat ek leer, is nie my eie nie, maar kom van Hom wat my gestuur het”. Volgens Paulus (1 Korintiërs 1:23) verkondig ons Jesus as die gekruisigde wat vir sommiges ʼn struikelblok en vir ander dwaasheid is. Christene stel daarom nie hulle vertroue in die filosofieë nie, maar in Christus wat uit die dood opgewek is.

paulus-deur-valentin_de_boulogne

‘n 17-eeuse voorstelling van Paulus deur Valentin de Boulogne. (Foto: En.wikipedia.org)

Wie hiervan ʼn filosofie wil maak is welkom, maar die evangelie is nou eenmaal nie ʼn filosofie nie. Maar, wie in die kerk nie van die filosofie wil leer nie, sal taalgebrekkig bly en tekort skiet aan insig in die lewenswerklikheid waarvan die lidmate onlosmaaklik deel is.

Noodwendige wedersydse beïnvloeding

Die gesprek tussen filosofie en teologie is ʼn noodsaaklike een. Filosofie vertel hoe mense die wêreld vandag verstaan. Die evangelie moet aan hierdie, en nie ander mense nie, verkondig word. Sonder kennis en begrip van mense se werklikheidsverstaan kan teologie nie ontwikkel nie en sal die geloof stagneer.

Die geloof en die teologie gee in die lig van die werklikheidsbeskrywing egter ʼn eie perspektief op ons lewenswerklikheid. Geloof en teologie herhaal nie wat die wêreld weet nie, maar verduidelik wat die wêreld nie weet nie. Net so moet die filosofie nie herhaal wat die kerk weet nie, maar dit moet bly verduidelik wat die kerk nie weet nie. Só kan die Afrikaanssprekende samelewing dalk beter gedien word.

[1] Volgens die notule van die Ryksdag, en nie volgens die begrondingslose legende wat lui “Hier staan ek, ek kan nie anders nie”.

[2] Luther gryp terug op die Pythagoreense geneeskundige, Alkmaion van Kroton, uit die sesde/vyfde eeu v.C., wat beweer het dat slegs die mens ʼn denkende wese is. Hierdie stelling is weer in die vierde eeu v.C. deur Aristoteles verdedig.

[3] Calvyn het dit ook geweet, en daarom sy groot waardering en liefde vir, onder andere, die regswetenskap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Interessante artikel, iets om oor na te dink. Ek dink wel die groot probleem waarmee julle sit is dat die groot vrae oor die bestaan van die mensdom (soos waar kom ons vandaan, waarnatoe gaan ons en wat is die doel van die lewe) net so maklik geantwoord kan word met: “Ek weet nie”.

OW ·

Baie leersame en interessante skrywe.Opsommenend moet “die filosofie nie probeer om haarself as Christlike filosofie aan te bied nie en die teologie nie ‘n wesenlike bydrae op die wetenskappe kan maak nie”Ek dink dit is ‘n belangrike begrip wat in gedagte gehou moet word.
@ Pieter.Ek dink nie die mens is so mak gemaak om net te sê,ek weet nie,wat wel die standpunt is van die agnostisiste.
Solank die mens sy verstand gebruik,sal daar denke en ondersoek plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.