Groot marklesse in Indië te leer

Deur Justin Chadwick

‘n Vrugtewinkel in Mumbai, Indië. (Argieffoto: Indranil Aditya/NurPhoto/AFP)

Baie mense glo jy kan ʼn land volgens sy verkeer beoordeel. In Nieu-Delhi in Indië is die verkeer chaoties – maar dit werk. Van voertuie aan die verkeerde kant van die pad, tot enige plek ʼn draai gooi … die vloeiende beweging van die massa voertuie is net so verstommend as wat dit vreesaanjaend is. Dit lyk of selfone ʼn permanente bykomstigheid vir elke bestuurder is, en mense skree verwoed in die toestelle terwyl fietse, motorfietse, bromponies en toek-toeks net-net misgery word.

Dit stelsel werk. Daar is geen aggressie nie, eerder ʼn stadige beweging in die regte rigting; en as dit in die verkeerde rigting is, is daar ʼn rede daarvoor.

Op een of ander manier maak dit alles sin. Geen toegang- tekens en verkeersligte word eenvoudig geïgnoreer – en tog het ons nie een ongeluk gesien nie.

Boonop is dit nêrens meer chaoties as in die munisipale markgebied nie. Hier is die geluide en aantal voertuie op ʼn heel ander vlak terwyl diegene wat van die mark afhanklik is, daarop toesak om hul daaglikse voorraad aan te koop voordat hulle weer die pad vat om ʼn inkomste te gaan verdien.

Groot afleweringsvragmotors ding mee met klein trokkies; motorfietse wat tuisgemaakte sleepwaens trek, beweeg in en uit; en fietse, haas onmoontlik swaar gelaai met vrugte en groente, kreun onder die gewig terwyl die verkoper spartel om regop te bly en vorentoe te beur. Dit terwyl mense moeiteloos deur die massas gly met bakke gebalanseer op hul koppe of stapels bokse op hul skouers.

Dit is ʼn kaleidoskoop van kleure en geraas; alles ʼn gewoel om ʼn inkomste uit vars produkte te verdien.

Justin Chadwick is die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SASKV). (Foto: CGA/X)

Hier leer jy wat verbruikers werklik van jou produk dink. Die handelaars verkoop die produkte óf aan die eindverbruiker, óf aan die smouse wat dit aan die eindverbruiker verkoop. En as ʼn klant ongelukkig is, word die vars produkte teruggebring en vervang.

Gevolglik weet hierdie handelaars presies watter vrugte die beste is en uit watter lande kom produkte van uitstekende gehalte met ʼn goeie rakleeftyd.

ʼn Afvaardiging van Fruit South Africa het die afgelope week talle handelaars in die mark besoek en was verheug om te hoor dat hulle almal die lof van Suid-Afrikaanse vrugte besing. Die handelaars het Suid-Afrikaanse produsente veral geloof vir die gehalte wat betref kleur, ekstraksie, smaak, grootte en raklewe. Boonop is Suid-Afrika se pryse uiters mededingend. Hulle het ook belangrike riglyne gegee oor watter variëteite verkies word.

‘n Vrugtestalletjie in ‘n mark in Kerala, Indië. (Argieffoto: Michel Gunther/Biosphoto/AFP)

Die handelaars het egter ook ʼn waarskuwing oor Suid-Afrika se mededingingsposisie gegee. Invoerbelasting op Suid-Afrikaanse vrugte bly hoog, terwyl mededingers vrye- of voorkeurhandelooreenkomste beding. Sou Suid-Afrika nie sy hoë invoerbelasting bestuur, terwyl ander lande hul eie verlaag nie, kan Suid-Afrika se posisie veel minder mededingend word.

Die ander faktor wat uitbreiding beperk, is die vereiste dat kouebehandeling nie in transito gedoen kan word nie. Dit word deur proef-verskepings getoets en indien suksesvol, sal in transito-kouebehandeling toegelaat word.

Die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SASKV) werk hard om veiligheid en doeltreffendheid deur die proeflopie te bewys.

Baie geluk ook aan Hortgro met hul markontwikkelingsveldtog in Indië. Terwyl Suid-Afrika ʼn paar jaar gelede kwalik sigbaar in die mark was, is daar nou Suid-Afrikaanse kern- en steenvrugpromosiemateriaal oral te sien.

Ek woon ook Fresh Produce India in Mumbai by en sal later meer volledig terugvoer daaroor gee.

Die openingsessie het vyf sleutelneigings in Indië uitgelig en dit was uiters insiggewend.

  1. Die evolusie van die verbruikersmark: As die wêreld se digbevolkste land, met ʼn opkomende middelklas, verstedeliking en ʼn gemiddelde ouderdom van 29, is dit noodsaaklik om die verbruiker te verstaan.
  2. Digitalisering: Met sommige van die goedkoopste datatariewe ter wêreld is selfone ʼn noodsaaklikheid en daar is ʼn app vir alles. Dié ruimte definieer die toekoms.
  3. Kleinhandelveranderinge: van e-handel tot dadelike tuisaflewering, daar is ruimte vir almal, van die smous tot die moderne kleinhandelaar.
  4. Produksienodes vir nuwe vrugtegewasse: Indië produseer nou vrugtegewasse wat nie ʼn paar jaar gelede beskikbaar was nie.
  5. Opknapping van vervoerinfrastruktuur: die verlaging van koste en die verhoging van doeltreffende aflewerings.
  • Justin Chadwick is die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SASKV). Hierdie is sy weeklikse nuusbrief.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Landbounuus, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Teen 2040 gaan Indië die wêreld se grootste ekonomie word, met China nommet 2.

Oom ·

Niemand kan geld maak uit mense met ‘n klein huishoudelike inkomste nie. Die maatstaf is nie die grootte van die land se hele ekonomie nie, maar die gemiddelde per capita inkomste. In beide Sjina en Indië is kwalik 10% van die bevolking “vermoëend”. Suid-Afrika is in dieselfde liga. In die EU/VSA is 85% van die bevolking “vermoëend”. Sjina/Indië (13.44 miljoen 15kg houers) sal nie in die volgende 100 jaar die volume sitrus kan koop as die EU (65.1 miljoen 15kg houers) nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.