Hoe het Suid-Afrika sy morele kompas verloor?

Deur Botha Laubscher

Argieffoto (Foto: www.saccess-project.eu)

ʼn Aantal Sondagaande gelede blaai ek deur die televisiekanale en haak vir ʼn ruk vas by ʼn eNCA-program waar ʼn groot groep verteenwoordigers van verskillende nieregeringsorganisasies die vraag bespreek: Het Suid-Afrika sy morele kompas verloor?

Die antwoord op dié vraag is voor die hand liggend gegewe die hoë vlakke van misdaad, moorde, plaasmoorde, korrupsie, bende-aktiwiteite, geweld teen vroue ensovoorts.

Later in die program bespreek die groep oplossings vir die probleem. Alhoewel daar ʼn aantal oplossings genoem word wat beslis sal help om die huidige situasie te verbeter, is baie van die oplossings gemik op gevolglike probleme (simptome) eerder as op die onderliggende kern-oorsake.

Morele waardes is eie aan elke geestelik gesonde individu – deel van elkeen se karakter of anders gestel sy sieninge van wat reg en verkeerd, goed of sleg of aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. (In ʼn vorige artikel) op Maroela Media het ek presies dieselfde woorde gebruik om kultuur te definieer.) As ons dus sê dat Suid-Afrika sy morele kompas verloor het, beteken dit dus dat daar ʼn groot aantal individue is wat hulle morele kompas verloor het – dit wil sê persone wie se persoonlike waardesisteem sodanig is dat hulle misdaad of selfs moord as aanvaarbaar of selfs geregverdig sien.

Sou sulke individue in beheer van organisasies of die regering wees, dan sal oneerlikheid en korrupsie ook deel van daardie organisasies se kultuur word bloot omdat die hoof en/ of bestuur van daardie organisasie nie optree teen die wandade nie (dit nie tugtig nie) of selfs, self betrokke is by wandade of korrupsie.

Sodanige individue kan ook maklik by bendes betrek word. Daar is bewerings dat ongeveer 12 miljoen mense in Suid-Afrika (20% van die bevolking) aan bendes behoort. Ek kan nie vir die korrektheid hiervan instaan nie, maar dit is algemeen bekend dat daar groot en sterk bendes bestaan.

Die vraag oor hoe dit gebeur het dat Suid-Afrika sy morele kompas verloor het, kan dus gereduseer word na die vraag – hoe het dit gebeur dat soveel individue hulle morele kompas verloor het?

Ten einde bostaande vraag te kan beantwoord, moet ons eerstens verstaan hoe die morele kompas van individue “beheer of bestuur” word.

Die morele kompas

In die praktyk word morele standaarde deur vier gesagstrukture gevorm en beheer. Hierdie strukture is eerstens die ouers of gesin, tweedens die gemeenskap (wat bestaan uit die skool, kerk, omgewing waarbinne jy woon, jou vriendekring en familie, organisasies waaraan jy behoort), derdens die staat (wette en regspleging) en die vierde gesagstruktuur is die geloof in ʼn opperwese.

Elke gesagstruktuur het sy eie metodes en maniere waarvolgens hulle die individue tugtig, sou die individue nie by die reëls hou nie. Tugtiging is die proses waardeur die persoon geleer word wat verkeerd en sleg is en aanmoediging is die proses waardeur daar geleer word wat goed en reg is.

Die volgende belangrike vraag wat ons moet beantwoord is: Wie maak die reëls?

Hier is dit belangrik om weer na kultuur te kyk. Kultuur is, soos reeds gesê, eintlik ʼn stel reëls van wat deur die kultuurgroep of gemeenskap as goed en sleg, reg of verkeerd gesien word. Dit word gevorm deur die ondervinding van vorige geslagte oor wat werk en wat nie, dit wil sê wat goed en sleg is sowel as die oorheersende godsdiens van die kultuurgroep. Kultuur word van geslag tot geslag oorgedra.

As ons nou, as voorbeeld, na die Afrikaners in vorige bedelings kyk sou al vier die gesagstrukture volgens die vyfde gebod onderhewig wees aan die gesag van God Drie-enig, die Oppergesag. Volgens dié gebod moet elke Christen gelowige, bo en behalwe sy gehoorsaamheid aan God, ook gehoorsaam wees aan die gesag van al drie die ander gesagstrukture op voorwaarde dat hulle in lyn met God se wil optree soos geopenbaar in Sy Woord en die natuur. Dit beteken dus dat elke gesagstruktuur ook verantwoordelik is aan God Drie-enig. Reg en verkeerd, goed en sleg is binne dié struktuur duidelik en volkome belyn. Enige afwyking van die reëls sal deur die toepaslike gesagstruktuur getugtig word.

Laat ons nou kyk na wat met die vier gesagstrukture en die tugprosesse in Suid-Afrika gebeur het en steeds gebeur.

As agtergrond om te verstaan hoekom dit gebeur het, is dit nodig om na twee aspekte van die moderne liberale ideologie te kyk naamlik die dryf na gelykheid en die klem op individuele vryheid.

Eerstens die groot gelykheid. Hierdie ideologie sien net mense en almal is gelyk, selfs eenders of dieselfde. Die fokus op mense as gelyke individue beteken dat natuurlike grense daargestel deur verskillende kulture, godsdienste en tale vir ondersteuners van dié ideologie verkeerd is en dat sulke grense positief afgebreek moet word. Die doel is dus om alle individue te oortuig om een gemeenskaplike kultuur, godsdiens en taal te ondersteun en om sodoende een homogene en gelyke burgery te skep. Gedwonge integrasie van kultuurgroepe word dus heeltyd gedryf. Suid-Afrika word gesien en gepropageer as een.

Die tweede aspek van die ideologie wat van belang is, is individuele vryheid. Die moderne liberalisme predik dat individuele vryheid al is wat belangrik is en dat almal, ook kinders, kan besluit wat hulle as reg en verkeerd, goed of sleg sien. Kinders in Amerika mag selfs hulle eie geslag kies. Hierdie is in wese ʼn ongebonde vryheid.

Laat ons nou kortliks na die vier gesagstrukture kyk wat die morele standaarde beheer.

Ouers of gesin

Hier gaan dit oor die opvoeding van die kind – ʼn proses wat deur ouers, kerk en skool in harmonie gedoen moet word. Die moeder vervul tans telkens nie meer haar tradisionele rol as opvoeder van die kinders nie as gevolg van onder andere die gelykheid-ideologie of anders gestel die emansipasie van die vrou of omdat sy sogenaamd moet werk weens finansiële redes of omdat sy ʼn enkelouer is ensovoorts. Tugtiging deur die ouers en in die skole is afgewater deurdat lyfstraf, die tradisionele en bewese effektiewe metode van tugtiging, nou verbode is.

Skole

Skole is ʼn belangrike rolspeler en deel van die gemeenskap se rol in die opvoeding van die kind. Tugtiging en daardeur ook respek vir die onderwysers het afgewater geraak. Godsdiens is uit die skole gehaal en as die skoolbanke gedeel word deur kinders van verskillende kultuurgroepe, wie se definisies van reg en verkeerd, goed en sleg, drasties van mekaar verskil en ook verskil van dit wat in die ouerhuis geleer word, skep dit verwarring by die kind.

Verder, met inagneming van die individuele vryheid, kan hy mos maar self besluit wat reg en verkeerd is. Hierdie verwarring duur voort ook op die tersiêre vlak waar drank, dwelms en vrye seks hoogty vier. Hierdie konflik tussen kulturele denke en reëls wat almal moet aanvaar ter wille van politieke korrektheid en niemand durf oor praat nie terwille van nasiebou heers ook tot ʼn mindere of meerdere mate in die woonbuurte, besighede en elders in gemeenskappe.

Godsdiens/ geloof

Alle gelowe word in die naam van godsdiensvryheid gelykgestel en die grense tussen hulle word afgebreek. Die Christelike godsdiens vir een is in baie kerke so afgewater en tegemoetkomend ten opsigte van ander godsdienste dat dit baie vêr weggedwaal het van die ware Christelike leer.

Tug in die kerke werk eenvoudig nie meer nie en word telkens glad nie meer toegepas nie omdat lidmate eenvoudig net die kerk verlaat as die leraar of ouderling hulle sou aanspreek, want hulle individuele vryheid gee hulle die reg om te besluit wat reg en verkeerd in hulle oë is. Op regeringsvlak is die oppergesag van God ook vervang deur die oppergesag van ʼn baie gebrekkige grondwet en die Grondwethof is nou die opperheersers.

Die staat

Ek vermoed dat die moderne liberale ideologie positief werk aan die vernietiging van die ander drie gesagstrukture sodat uiteindelik slegs die staat oorbly om die reëls te maak, dit wil sê die staat raak outokraties. Dit is ʼn tendens in baie van die Westerse lande waar die ideologie ook vêr gevorder het maar, anders as in Suid-Afrika is wetstoepassing in daardie lande effektief, in Suid-Afrika het die staat ook gefaal in wetstoepassing (tugtiging). Wette is ook nie altyd aanvaarbaar vir alle kultuurgroepe nie.

Suid-Afrika het dus sy morele kompas verloor omdat al vier die gesagstrukture wat die morele kompas moet beheer afgewater geraak of grootliks gefaal het.

Die oplossing vir die probleem is nie eenvoudig nie, maar ʼn belangrike eerste stap sal wees dat ouers en meer spesifiek moeders die opvoeding van hulle kinders ernstiger opneem en hoër prioriteit gee. Die era van die gehoorsame ouers moet vervang word met ʼn terugkeer na gehoorsame kinders met sterk morele waardes. Sport op skool is ook nie belangriker as Christelike, volkseie onderwys nie.

  • Botha Laubscher is uitgetrede uitvoerende direkteur van Clover.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Suid Afrika is ‘n mengelmoesland. Dis absurd om te verwag dat hier ooit ‘n nasionale morele kompas was. Afrikaners het wel ‘n geslote morele kompas gehad. Dít het Afrikaners wel verloor. Die oormag is te groot en ons verloor ons identiteit. Kyk maar na MM se jongste peiling.

annie ·

Maar nou wil ‘ons’ maar saamsmelt met ander rassegroepe met allerhande gelowe en gene, net vir die Afrikaner se oorlewing of diegene wat reeds in die Kaap ‘n lekker huis het? Wat wil die sg Republikeine nou eintlik hê. Hulle weet self nie en dink ook nie diep daaroor nie. Dit is die gevaar, maar ag wat, moenie worry nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons is almal minderhede wat wil oorleef en mekaar ‘n plek in die son gun. Ons het reeds 30 jaar gelede besef dat die dag van afstigting sal aanbreek, en het voorbereidings begin tref vir D-dag. Moenie nou klippe gooi nie. Dis te laat daarvoor. Kyk na die peiling hieronder se resultate en maak jou eie afleidings. Afrikaners beskou hulself eerstens as Suid-Afrikaners. Die van ons wat oor is het van mekaar wegbeweeg. Ons amibisies, ideale en verwysingsraamwerk verskil. Die gom is los na 30 jaar.

Hendrik ·

Die volk het ‘n keuse en op hierdie staduim is daar net 300 kinders in ‘n CVO skool in Pretoria.

Kwikkie12 ·

Die mens is te lief vir hulle sonde as om dit optegee al gaan hulle ten gronde! Mense leef of daar nie ‘n God is nie ongeag of hulle in Hom glo of nie! Kerke het hulle doel verloor!! Vertel my eerder ek moet my bekeer van my sonde as om my te pamperlang.

Truman Burbank ·

Ek kom agter daar is deesdae n kerk om elke hoek en draai. Twee winkel sentrums langs mekaar in Centurion, het elkeen n kerk. ‘n Ander een in Centurion het twee kerke daar. Skole, tente, nuwe geboue ens. En hoe meer daar opgerig word, hoe erger word dinge. Laat mens wonder.

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar daar is ook gevestigde kerke wat leegloop…

Hendrik ·

Ons is al vir baie jare uitgelewer aan hd tendens. Kan dit nie meer n stryd noem nie. Die ganse wereld het almeer grensloos, mobiel geraak. Kultuurdifiesie is die proses. Om modern te wees is die inding en dit pas globalisme uiters goed. Dit maak ook ons ideaal om as onafhanklike staat te bestaan internasionaal uiters ongewens.

johann ·

Die antwoord is voor die handliggend. Gaan lees net die Bybel vir die antwoord. Dit neem nie ‘n dokter’s graad om dit te kan doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.