Hoe kan Bitcoin waarde hê?

Deur Frank Karsten

Foto ter illustrasie (Foto: MichaelWuensch/ Pixabay)

Die Amerikaanse ekonoom en Nobelpryswenner Paul Krugman het eenkeer gesê: “Fiat-geld word gerugsteun deur mans met gewere, Bitcoin is nie. So waarom sou hierdie ding enige waarde hê?”.

Trouens, fiat-geldeenhede soos die dollar en die euro is iets werd omdat regerings hul burgers dwing om dit te gebruik om vir kruideniersware en belasting te betaal. Sonder daardie dwang, sou dié geldeenhede vinnig hul waarde verloor omdat hulle nie gerugsteun word deur enigiets wat mense waardevol vind nie.

In die verlede kon banknote darem by die bank omgeruil word vir ʼn vaste hoeveelheid edelmetaal, maar nie meer nie. Terwyl ek en jy hard moet werk om ons geld te maak, kan politici en hul sentrale bankiers honderde miljarde uit die lug skep deur ʼn paar nommers in ʼn rekenaar in te tik. Dan moet landsburgers weer eenvoudig ʼn bietjie harder werk om hul koopkrag te behou.

Bitcoin word nie gerugsteun deur ʼn edelmetaal of deur mense met gewere nie, so hoe kan dit moontlik waarde hê?

Elke Bitcoin is immers ʼn eenvoudige string karakters wat jy vir niks anders kan gebruik nie. Die nie-monetêre waarde daarvan is nul, want anders as byvoorbeeld goud kan jy dit nie in elektronika gebruik of om jou tande te laat blink nie.

Talle ekonome het al hul koppe hieroor gebreek – waarom kan hierdie kriptogeldeenheid soveel werd wees? Sommige het gedink dat geld net kan ontstaan uit iets wat reeds verhandel is en waarde het, soos skulpe of edelmetale. Ander het gevoel dat geld ʼn regering vereis om daaragter te staan. Maar die Bitcoin-prys is ʼn bewys dat niks hiervan nodig is nie. In daardie opsig is hierdie monetêre innovasie ongekend en kan menige ekonomiese boek herskryf word.

Bitcoin is iets werd juis omdat dwang nie ʼn rol speel nie. Almal kan deelneem, want niemand kan net nuwe munte skep of transaksies blokkeer nie. Die euro het waarde deur dwang, Bitcoin het waarde deur vryheid. In ʼn wêreld waarin feitlik alle lande hul eie nasionale geldeenheid met blymoedigheid op hulle burgers afdwing en die waarde daarvan nog blymoediger verminder deur die geld-drukker aan te skakel, het ʼn groot behoefte aan eerlike, neutrale en harde geld ontstaan.

Bitcoin het geen sentrale gesag wat bates kan bedrieg of vries nie. Duisende onafhanklike rekenaars wêreldwyd hou dieselfde “kasboek”, die blokketting. Dit dui aan hoeveel elke Bitcoin-adres het en watter transaksies sedert sy ontstaan in 2009 plaasgevind het. In beginsel het elkeen met so ʼn adres ook die gepaardgaande geheime sleutel waarmee sy of haar digitale eiendom veilig en seker oorgedra kan word. Enigeen kan die volledige lys van oordragte sien. Enigeen kan ʼn kopie van die kasboek op ʼn skootrekenaar oopmaak en deelneem aan die validering van alle transaksies.

Vir die eerste keer in die menslike geskiedenis het ʼn geldstelsel ontstaan ​​wat só oop, neutraal en eerlik is, danksy die internet en kriptografie.

Omdat Bitcoin nie ʼn fisiese ding is nie, kan dit jou die sekerheid gee dat jou muntstuk joune is en dat niemand dit kan wegneem nie. As gevolg van die kriptografiese enkripsie van alle Bitcoins in die kasboek, kan slegs die individuele eienaars dit verhandel.

Aan die ander kant kan jy nie goud, tafels of aartappels enkripteer nie. As ʼn kasboek rekord sou hou van wie hoeveel goud het, is dit dalk nog onwrikbaar, maar maak dan seker jy kry jou goud as dit iewers by ʼn bank gebêre word. Bitcoin het nie hierdie probleem nie, want dit is net data.

Jy mag dalk dink dit is egter vreemd, want Bitcoin se rekenaarkode kan vrylik deur enigiemand gekopieer word om Bitcoin-klone te skep. Byvoorbeeld, sedert 2009 het meer as tienduisend ander digitale munte in die kriptowêreld na vore gekom, almal met hul eie spesiale eienskappe.

So hoekom is Bitcoin soveel meer werd as alle ander kriptogeldeenhede? Ek sal dit in my volgende rubriek verduidelik.

  • Frank Karsten is die skrywer van The Discrimination Myth (discriminationmyth.com) en mede-outeur van The Democracy Beyond (beyonddemocracy.net).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

OW ·

Baie interessante skrywe.Ek weet nog te min van kriptiese geld om dit enigsins uit te toets.Die feit dat dit rekenaar gedrewe is,maak mens alreeds onrustig.Gewone geld is gekoppel aan ‘n sentrale bank en handelsbanke,maw daar is fisiese plekke waarna mens kan gaan indien daar problem of diefstal uit jou rekening sou plaasvind.Hierdie geld “apps”en elektroniese stelsels vat ek maar met agterdog.Waaraan word bv bitcoin gekoppel,want dit lyk vir my dit verloor waarde en styg weer soos die internasionale markte op die effektebeurse?Internet diefstal is enorm en wie moet jy gaan sien as jy een oggend wakker word en al jou kriptiese geld het soos mis voor die son verdwyn.

Eclectus ·

Ek kon nog nooit die konsep verstaan nie en sal ook seker nie. My vraag is net, hoekom word Bitcoin se waarde nog steeds gekoppel aan regte wêreld geld? En hoekom moet mense regte wêreld geld gebruik om dit te koop? En wie se beursie word gevul met daardie regte wêreld geld wanneer dit gekoop word? Kripto mag dalk pastei in die lug wees maar dit het ‘n reuse impak op die omgewing in die regte wêreld. In 2022 was daar reeds amper 19 000 kripto eenhede waarvan Bitcoin alleen meer energie gebruik as die hele bevolking van Argentinië en ‘n koolstof voetspoor het gelykstaande aan die van Griekeland. Kripto aktiwiteit in die VSA alleen se jaarlike koolstof voetspoor is gelykstaande aan die totale diesel verbranding van al die spoorweë in die VSA. Miskien kan hierdie outeur ons ook probeer inlig wat skeefgeloop het met FTX.

annie ·

Cyril het nou vir Ernie Els gekoöpteer tot binne-in sy Bitcoin-kraal. En hy nooi almal om saam dom te kom wees. Skoenmaker hou by jou lees, sou mens wou aanraai…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.