Is daar iets in die drinkwater by Rand Water?

Die Vaaldam se sluise (Foto: Dept. van water en sanitasie)

Rand Water is ʼn staatsbeheerde onderneming (SBO) onder die nasionale Departement van Waterwese. Dit is reeds in 1903 met hierdie naam gestig en sorg al vir meer as 100 jaar dat mense in die noordelike dele van die land water het. Deur Rand Water se toedoen is die Barrage by Vereeniging in 1923 opgerig, en die Vaaldam in 1937. Die Lesotho-Hoogland-waterprojek is in die 1980’s begin en die laaste fases word nou nog voltooi.

Rand Water is die grootste water-nutsmaatskappy in Afrika en een van die grootstes in die wêreld. Volgens die webwerf voorsien dit daagliks water aan 11 miljoen mense in Gauteng, dele van Mpumalanga en Noordwes. Dit besit 58 reservoirs en voorsien 3,6 miljoen liter water per dag. Die water kom uit die Vaaldam en gaan eerstens na die Vereeniging- en Zuikerbosch-suiwerings- en pompstasies. Daarna word dit na Zwartkopjes – die hoof aanjaer (“booster”) pompstasie – gepomp. Daarna word dit aan drie satelliet-aanjaer-pompstatsies by Palmietfontein, Eikenhof en Mapleton gepomp. Daardie pompstasies voorsien dan water aan tientalle reservoirs oor die hele Gauteng en dele van Mpumalanga en Noordwes.

Dor en uitgelewer

Ten spyte van hierdie indrukwekkende gegewens en statistieke, het dit in die laaste paar jaar dikwels gebeur dat dele van Johannesburg en Pretoria sonder water gesit het. So, byvoorbeeld, was groot dele van Pretoria onlangs vir dae aaneen sonder water. Een gebied in Pretoria-Oos (Mooikloof) was sedert 23 Januarie vanjaar vir 36 dae sonder water. Enigeen weet dat ʼn gebrek aan elektrisiteit (vir ʼn paar uur per dag) baie moeilik is, produktiwiteit in die wiele ry en sakebedrywighede knou. ʼn Mens kan egter darem steeds met jou lewe aangaan, al is dit dan met rukke en stote.

Maar om vir 10-14 dae op ʼn slag sonder water te sit (vir welke diens jy die plaaslike munisipaliteit betaal) is ʼn ander storie. Jy kan ten duurste water koop om te drink en kos mee te maak, maar jy kan nie bad of stort en die toilet spoel nie – om maar enkele nare gevolge van ʼn gebrek aan water te noem.

Dit is bloot ʼn logiese afleiding dat as jy êrens in Gauteng bly, en jy het nie water nie, die oorsaak tien teen een by Rand Water lê – en net soms by jou plaaslike munisipaliteit. Die vraag is: begin Rand Water stadig maar seker dieselfde simptome as ander SBO’s (soos Eskom en Transnet) vertoon? Mediaberigte het oor die afgelope maande oor onderhoudsprobleme, verouderende toerusting, groeiende skuld deur plaaslike owerhede, diefstal en vandalisme berig.

Die amptelike webwerf en jaarlikse geïntegreerde verslag van Rand Water is nie baie nuttig om hierdie vraag te beantwoord nie. Daarvolgens gaan alles voor die wind – behalwe miskien vir die oplopende skuld van plaaslike owerhede.

ʼn Kommerwekkende tydlyn

Dit is daarom insiggewend om eerder die gebrek aan water in Pretoria-Oos (insluitende Mamelodi en Eersterust) die afgelope maand as toetssteen te gebruik. Soos talle ander munisipaliteite, het Tshwane ʼn diensvlakooreenkoms met Rand Water om (teen betaling, natuurlik) water aan die metro te voorsien, wat die metro dan weer aan inwoners voorsien (ook teen betaling, natuurlik).

Op 9 Februarie word berig dat groot dele van Pretoria vir etlike dae sonder water gaan wees. Die oorsaak was ʼn kragonderbreking by die Mapleton-pompstasie van Rand Water. Mapleton voorsien die hoof-reservoir vir Tshwane, Vlakfontein. Daarom kon slegs 50% van die daaglikse watervolume gepomp word. Hierdie probleem is redelik spoedig opgelos, maar die vraag het toe al ontstaan hoekom daar nie rugsteun in die vorm van kragopwekkers is nie?

‘n Strategiese vergadering wat op 25 April gehou is tussen Rand Water en ‘n afvaardiging van die stad Tshwane, gelei deur die uitvoerende burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink.
Die vergadering het ten doel gehad om werksverhoudinge tussen Rand Water en Tshwane te versterk. (Foto: Rand Water/Facebook)

Op 13 April waarsku Rand Water vir Tshwane dat, as gevolg van die oorstroming van ʼn enjinkamer van die Zuikerbosch-watersuiweringsaanleg, daar weer geen water nie of lae druk water in Tshwane gaan wees – hoofsaaklik die oostelike dele. Die oorstroming het plaasgevind toe ʼn pyplyn tussen Zuikerbosch en Mapleton herstel moes word en het tot gevolg gehad dat alle reservoirs van Rand Water leeggeloop het. Dit sou twee weke neem om die watertoevoer en druk na Tshwane te herstel.

Die moeilikheid moes groot gewees het om alle reservoirs te laat leegloop het. Die gevolg was geen toevoer na enige Tshwane-reservoirs nie – en dat die reservoirs wat die hoërliggende dele van Pretoria (hoofsaaklik in die ooste) voed, totaal leeggeloop het. Van die Tshwane-reservoirs is kleiner oopgemaak, sodat die watervlakke vinniger kon herstel, maar dit het beteken dat die hoërliggende dele geen water sou hê nie.

Om sake verder te vererger, word op 14 April (die volgende dag) berig dat daar ʼn algehele kragonderbreking by die Mapleton-pompstasie was, wat alle pompaksies gestop het. Die oorsaak daarvan is vandalisme. Sekere Rand Water-reservoirs sal heeltemal leegloop – onder ander Tshwane se hoof-reservoir, Vlakfontein. Hierdie keer word nie net Pretoria-Oos getref nie, maar groot dele van Tshwane. Die stadsraad begin watertenkers in groot dele van die stad ontplooi. Teen 16 April pomp Mapleton weer teen kapasiteit en reservoirs word stadig maar seker vol. Maar daar word weer gewaarsku dat Tshwane-reservoirs laaste sal vol word, veral dié in hoogliggende dele.

Teen 19 April is watervlakke in die res van Pretoria normaal, maar Pretoria-Oos sukkel steeds met geen water nie of lae waterdruk. ʼn Verklaring deur die betrokke Tshwane-raadslid, Themba Fosi, wys daarop dat Tshwane hulle Garsfontein-reservoir kleiner oopgemaak (ge-“throttle”) het om toevloei na Grootfontein en Mooikloof te verbeter. Tshwane het Rand Water ook versoek om dieselfde met hulle Bronberg-resevoir te doen. Hulle was stadig om die besluit te neem, omdat hulle nie ander gebiede wou benadeel nie, maar dit is uiteindelik tog gedoen.

Op 20 April word dit duidelik dat Rand Water vereis dat die Vlakfontein-reservoir eers 40% vol moet wees voordat water na die Mooikloof- en Grootfontein-reservoirs mag vloei. Dit word verder duidelik dat die Mooikloof-reservoir water aan meer woongebiede as net Mooikloof voorsien, en dat dit ook eers 40% vol moet wees voordat daar na hoërliggende gebiede gepomp kan word. Dit beteken dat in dieselfde woongebied (in hierdie geval Mooikloof) sommige inwoners in laagliggende gebiede in die algemeen hoogliggende Mooikloof water het (as gevolg van swaartekrag), terwyl ander niks het nie. En solank die Mooikloof-reservoir onder 40% kapasiteit is, kan nie gepomp word om aan hoërliggende dele te voorsien nie.

Sommige uiters gefrustreerde inwoners van Mooikloof het geëis dat die reservoir met die hand toegemaak word totdat dit 100% vol is, maar dit is volgens Tshwane moeilik uitvoerbaar omdat dit ter plaatse gedoen moet word omdat daar geen sentrale beheerstelsel is nie.

Rand Water, voorheen bekend as die Randse Waterraad, is ‘n staatsbeheerde maatskappy wat reeds op 8 Mei 1903 gestig is. (Foto: Rand Water/Facebook)

Teen 21 April het Rand Water volgens Tshwane vir ʼn volle drie dae heeltemal opgehou om water na die Pretoria-reservoirs te pomp, skynbaar sonder enige verduideliking. Dit het onder andere beteken dat die Mooikloof-reservoir weer heeltemal leeg geloop het. In Tshwane-vergaderings met verteenwoordigers van verskillende woongebiede, word dit duidelik dat die verhouding tussen Tshwane en Rand Water nie goed is nie, en dat Rand Water duidelik onder druk is met sy eie bestuur en die stabiliteit van sy stelsels. Dit het ook begin lyk asof Rand Water hierdie toedrag van sake probeer wegsteek en/ of ontken. Dit klink na ʼn organisasie onder druk.

Eers teen 29 April kon Mooikloof-inwoners weer water uit hulle krane kry. Die vraag is egter: is dit, na 36 dae sonder water in 2023, die einde van die probleem? As ʼn mens na die groter prentjie en Rand Water se situasie kyk, lyk dit nie so nie.

Politieke komplikasies

ʼn Wateringenieur wat betrokke is, het daarop gewys dat die waterprobleem oor die jare opgebou het. As gevolg van bevolkingsgroei het waterverbruik skerp toegeneem, maar Rand Water het nie meer infrastruktuur geskep nie, en ook nie die bestaande infrastruktuur ordentlik in stand gehou nie. Met die hoër vraag na water en die gepaardgaande hoër volumes wat gepomp is, het die verwaarloosde infrastruktuur begin probleme gee. Daarby het meer beurtkrag diewe en vandale geleentheid gegee om vir langer tye die onbewaakte pompstasies te besteel en te vandaliseer.

Die situasie is dus dat Tshwane ʼn diensvlakooreenkoms het met ʼn maatskappy wat in effek ʼn monopolie het om water te verskaf en te verkoop, maar niks kan doen as die diensverskaffer nie die water lewer of nie die water lewer teen die voorwaardes in die dienskontrak nie – soos dat die waterdruk teen 12 bar behoort te wees en nie slegs teen 10 bar nie (wat beteken geen water kan na hoogliggende gebiede gepomp word nie).

Tshwane is tans vir 79% van inwoners se water afhanklik van Rand Water. En daarby lyk dit asof Rand Water erg burokratiese prosesse het en nie effektief kommunikeer nie. Rand Water hou eenvoudig nie by die diensvlakooreenkoms met Tshwane nie. Dit plaas Tshwane in ʼn posisie dat dit nie antwoorde het vir duisende ontevrede kliënte nie. Hierdie kliënte sien Tshwane as die sondebok, terwyl Rand Water effektief geen verantwoordelikheid vir dié toedrag van sake dra nie.

Dit is nie onmoontlik nie dat Rand Water (in effektief ʼn ANC-regeringsinstansie) die metro Tshwane (nou beheer deur ʼn DA-geleide koalisie) se watervoorsiening vertraag om dié metro polities in ʼn swak lig te stel. Dit lyk asof hulle veral nie Johannesburgse metro se waterverskaffing (selfs net tydelik) wil beperk om Tshwane te help nie. Selfs ʼn ontmoeting met die adjunkminister van waterwese (David Mhlobo) het nie baie gehelp nie, omdat die uitvoerende hoof van Rand Water (Sipho Masai) nie beskikbaar was nie.

Theuns Eloff (Foto: Verskaf)

Dit lyk dus asof Rand Water op die rand van groot probleme is – en dit terwyl daar genoeg water in die Vaaldam is. Vir die oostelike dele van Pretoria, waar die Balwin-ontwikkeling (as ʼn openbare-privaat venootskap met die regering) by Mooikloof Mega City ʼn verder 50 000 wooneenhede beplan, is dit slegte nuus. Paaie-infrastruktuur is reeds onder erge druk. Elektrisiteit bly ʼn probleem, en water gaan ʼn nog groter probleem wees.

Die vraag wat bly krap, is hoekom die metro’s van Johannesburg, Pretoria en Ekhuruleni nie gesamentlik vir Rand Water verantwoordbaar hou nie? Dit is asof die leierskap van Rand Water amper anoniem bly en geen openbare aanspreeklikheid vir ʼn duidelike gebrek aan voldoende watervoorsiening en nakoming van diensvlakooreenkomste wil aanvaar nie.

Miskien moet Tshwane se Themba Fosi met sy eweknie in Johannesburg, Mpho Sesedinyane, ontmoet en saam kajuitraad hou. En miskien is dit nodig dat die Openbare Beskermer ʼn ondersoek doen na die vermoë en kapasiteit van Rand Water om die diens waarvoor dit ʼn mandaat het, uit te voer. Water is té belangrik om iets daarin te laat dryf.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Groen Ghoen ·

Dit is dieselfde stofgetrapte paadjie, liewe dr. Eloff. Ideologie met al sy vae beloftes van “‘n Beter lewe vir almal” en die Reënboognasie” klink lieflik mooi op papier. Ongelukkig sukkel dit om die werk gedoen te kry en rekeninge te betaal. So nou sit ons maar met die hoogste werkloosheidskoers van almal, al minder elektrisiteit, onder die aanvaarde beleggingskoers, plaasaanvalle en kruipende sosialisme. En nou ook sonder skoon water.

Hendrik ·

In ons gemeenskap , oos van Pretoria, het ons genoeg goeie water al is dit beurtkrag. Gemeenskappe moet eenvoudig wakker word en sorg dat hulle water in tenks het, net soos in die ou dae. Ek sien dat in Pta en Centurion almal alles gelate aanvaar sonder om plan te maak. Gemeenskappe moet druk op die owerhede plaas vir goeie diens. Moenie wag vir 2024 net om die kruisie te trek en dink jy het jou deel gedoen nie. Iets doen is beter as niks doen.

Lynne ·

So. Another institution owned by the ANC is about to bite the dust…… what next? Perhaps we will all lose our properties and land………..

Republikein in die Wes Kaap ·

Oral knak die infrastruktuur. Die afgelope 30 jaar is weinig politieke beplanning gedoen vir toekomstige uitdagings. Die fondse wat gebruik kon word is ook wanaangewend. Verder begin die bevolkingsaanwas en migrasie nou sy tol eis. En dit gaan erger word. Feit is, die land was nog altyd net té groot en té divers om as eenheid te bestuur. Nou ook té arm. Die ANC het misluk, en sy opvolger sal ook misluk. Die uitdagings bly dieselfde. Dis tyd om die realiteite te aanvaar en met gesprekke te begin om te werk aan nuwe staatkundige oplossings. Noem dit maar ontbondeling. Indien nie, sal ons net voortploeter en armer word. Intussen kan jy met jou voete stem en na die Wes Kaap verhuis, maar hier het ons dieselfde uitdagings.

Manie ·

Kom ons wees eerlik, ons kan enigiets van die ANC regering en hulle trawante verwag, selfs al ly hulle eie mense daaronder. Hulle sal enigiets doen om aan bewind te bly of mag te bekom, dus sal dit my nie verbaas indien hulle dit doelbewus doen om ander regerende partye in ‘n swak lig te stel nie.

Marthinus W ·

Ek het die eerste 55 jaar van my lewe in die suide van Jhb gebly, en Rand Water (se kantore, mense) was deel van my lewe. Onwettige (onbeheerde invloei van) immigrante het die bevolkingsdruk dramaties laat groei. Nuwe woonbuurte en uitbreidings van die bestaande, het verdere druk geskep. En dis nie net water nie, maar ook paaie, vullisverwydering ens. Daar is nie voorsien dat Jhb eendag 12 miljoen mense gaan he nie. En die persone in beheer wil nie delegeer aan n (gewoonlik bekwame) witmens nie. Dis n mengsel ego, onkunde, gods-water-oor-gods-akker…

Pieter ·

Baie goeie artiekel – regtig insiggewend. Ek het selker meer as 20 mense gevra wie of wat is RAND WATER eintlik is en nie een persoon kon my ‘n goeie antwoord gee nie. Nou weet ons – dit is SBO.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.