Jeug teleurgesteld deur skisofreniese staatsrede

jeug

Foto: Devin Avery/Unsplash.com

Vir die hoeveelste keer word daar groot planne beraam in die jaarlikse staatsrede, in daardie opsig is niks werklik nuut nie. Pres. Cyril Ramaphosa is ʼn prominente spreker, en het verskeie van sy politieke opponente in hul eie taal gegroet, selfs ʼn sinnetjie of twee Afrikaans is gehoor.

Die president het nie die probleme wat Suid Afrika in die gesig staar, in doekies toegedraai nie, hy het dit ook duidelik gemaak dat hy ambisieuse planne het om hierdie probleme aan te pak. Maar wanneer dit by die jeug kom, blyk dit dat die president ’n skisofreniese benadering in gedagte het.

Ons hoor dat die regering nie genoeg werkgeleenthede skep nie. Die werkloosheidsyfer onder jong mense is inderdaad meer as 50%. Hy mik om in die volgende 10 jaar byna 2 miljoen werkgeleenthede te skep, alhoewel hy nie gesê het hoe hy dit gaan regkry nie. Terselfdertyd hoor ons dat daar geen planne gereed is om arbeidswetgewing te liberaliseer nie. Dus, wie gaan hierdie jongmense aanstel?

“Ons soek implementering, en ons soek dit nou” – stel president Ramaphosa dit. Maar is dit werklik waar? Die regerende party het alreeds vir ’n dekade lank die sogenoemde Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) nagejaag, en tot dusver was dit ʼn reusemislukking. Die nuutste BBP-syfers (bruto binnelandse produk) wys dat die ekonomie letterlik agteruitgaan. Die ekonomie het met 3% gekrimp in die eerste kwartaal van 2019. Dus het die tyd vir implementering reeds verstryk.

Nietemin het die president 5 punte uitgewys waarop daar gefokus gaan word in sy vyfjaartermyn as staatspresident:

  1. Ekonomiese transformasie.
  2. Onderrig, vaardighede en gesondheid.
  3. Werkskepping en afname in ongelykheid
  4. Sosiale kohesie en veilige gemeenskappe.
  5. Die bou ʼn ontwikkelingstaat.

Hierdie doelwitte klink positief en tot ’n mate rasioneel, wie sal met so ’n lys drome kan stry? Maar tot dusver was die implementering van hierdie planne in direkte kontras met wat eintlik op voetsoolvlak aangaan.

As die vierde hoofdoelwit stel hy voor dat sosiale kohesie nagejaag gaan word – tog tree sy party nie op teen Zindzi Mandela nie, ʼn ampsdraer in ʼn hoë pos, wat openlik aanvoer dat wit mense moet weggaan. Verder word Steve Hofmeyr hof toe gesleep vir sy reaksie op Zindzi se twiet… Dit is nie hoe mens kohesie bevorder nie, Meneer President.

Die president wil ’n ontwikkelingstaat bou en werkskepping najaag, maar om hierdie twee doelwitte langs mekaar te sit, behoort ook as ʼn lagwekkende paradoks gesien te word. ’n Ontwikkelingstaat impliseer dat die staat direk wil inmeng in die ekonomie – juis dít wat in die pad van werkskepping staan. Die staat kan tydelik en vir ’n handjievol werkloses werk skep, maar daar is net een manier om volhoubare werkskepping te verseker, en dit is in die privaat sektor.

Klein en medium grootte besighede stel die meerderheid Suid-Afrikaners in diens, dus is hulle die rugsteun van ons ekonomie. Dit is duidelik dat die president nie weet wat hy wil hê nie, want hy het later gesê hoe hy staatsuitgawes wil sny.

Ramaphosa sal een van die twee moet kies, want dit is onmoontlik om albei te hê.

Om ʼn lang lys doelwitte op te stel, spreek nie van iemand wat gereed is vir implementering nie – dit spreek van ʼn idealis wat nog nie naastenby reg is om te implementeer nie. Die feit dat die president sy toespraak afgesluit het met die idee van ’n “slim stad”, is nie net absurd nie, maar op ʼn manier poëties. Die waarskynlikheid van ’n staatsgedrewe “slim stad” is bitter skraal – die ANC kan nie eens die ligte aanhou in ons huidige stede nie.

Maar dit verhoed nie die jeug om die toekoms in hul eie hande te neem nie. Ons het nie die regering se toestemming nodig om vir onsself ʼn toekoms in die land te bou nie. Wie weet, dalk sal daar eendag ʼn slim stad in Suid-Afrika wees. As jongmense sal ons egter nie ons geld op Ramaphosa sit om dit ʼn realiteit te maak nie.

  • Hierdie kommentaarstuk is opgestel deur Solidariteit Jeug. Besoek gerus hul webblad by www.jeug.co.za vir loopbaanadvies en ander nuttige inligting wat van toepassing is op die Suid-Afrikaanse jeug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jerry ·

As die jeug teleurgesteld is, dink net hoe teleurgesteld moet hulle voorouers nie wees nie. Alles wat hulle vir die jeug bewaar het word doelbewus geplunder en vernietig. Wat is die kanse dat die jeug dit wat hulle in SA bereik vir die nageslag bewaar en dat dit behoue sal bly? Die kans dat die volgende geslag jeug nog erger teleurgestel gaan word is uitstekend. Die geleenthede vir die jeug om te emigreer is legio, self jeugdige swart Suid Afrikaners gryp die geleenthede aan en emigreer. Spyt is iets wat altyd te laat kom. Die jeug moet gly, hulle kan altyd weer terugkom indien hulle sou wou, alhoewel ek niks daarop sal wed nie!

Elizabeth ·

Ek glo ook dat ons binnekort ‘n “slim stad” sal hê, maar nie een wat Ramaphosa gebou het nie (seker sonder stadsbeplanners, argitekte, ingenieurs, ens.), maar wel een van die duisende disfunksionele stede wat ons jongmense gevat en “reggemaak” het op eie inisiatief sodat hulle sonder die staat se inmenging op menswaardige wyse kan leef. Ons kon deur die eeue nog altyd oorleef “ten spyte van” i.p.v. “deur bemiddeling van”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.