Joodse weerwraak en broeder Jesus se bergrede

Die Bergrede, deur Carl Bloch, 1890 (Foto: Wikipedia)

Inleiding

Die stryd tussen Israel en die Palestynse bevolking, in veral die Gaza-strook, woed al sedert 1948, met die stigting van die staat Israel. Duisende mense aan beide kante van die konflik het al in ʼn lae intensiteit oorlog gesterf.

Die vyandighede het op 7 Oktober 2023 ʼn groot wending geneem. Vegters van die “terroriste beweging, Hamas” het Israel binnegeval en 1 332 mense (meestal burgerlikes) brutaal vermoor en 250 as gyselaars na Gaza geneem. Op 27 Oktober het Israel begin met ʼn grondinval om die gyselaars te bevry en om Hamas uit te roei. Aangesien Hamas die Palestynse bevolking as menslike skilde gebruik, het hierdie oorlog al die lewens van tien-duisende mense geëis, van wie talle vroue en kinders.

Hierdie bydrae bedink die konflik vanuit ʼn teologiese perspektief met die bedoeling om ʼn sosiaal-etiese bydrae tot die debat te lewer. Daar word begin met ʼn Ou Testamentiese regsbeginsel, naamlik die reg op weerwraak (ius talionis). Die tempering van hierdie reg in die Ou Testament geniet dan vervolgens aandag.

In die derde afdeling word die Jood, Jesus, se uitsprake in die Bergrede (Matteus 5) teenoor die Joodse regsbeginsel gestel. Aangesien daar geen menslike oplossing vir aardse onreg en konflik bestaan nie, word daar afgesluit met die Ou Testamentiese verwagting dat daar ʼn tyd sal aanbreek wanneer die swaarde in ploegskare sal verander. In die lig hiervan word voorgestel dat ʼn etiek van kompromieë gevolg sal word as ʼn weg na relatiewe vrede.

In die naskokke van Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober 2023 (Foto: MAHMUD HAMS / AFP)

Israel en die reg tot weerwraak

In Matteus 5:38 sê Jesus dat daar in die verlede, op grond van die Joodse regsreël, die ius talionis, (die reg tot vergelding), gesê is “ʼn oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand”. Hy verwys na Eksodus 21:24 waar daar ook staan “ʼn hand vir ʼn hand, ʼn voet vir ʼn voet, ʼn brandwond vir ʼn brandwond, ʼn wond vir ʼn wond, ʼn kneusplek vir ʼn kneusplek”. Dieselfde regsbeginsel word ook aangetref in Levitikus 24:20 en Deuteronomium 19:21 waar verder bygevoeg word “ʼn lewe vir ʼn lewe”.

“Kain en Lameg” ‘n 1524-gravure deur Lucas van Leyden (Foto: Wikipedia)
http://www.metmuseum.org/art/collection/search/364766

Hierdie regsbeginsel het die bedoeling gehad om aanhoudende, grenslose vergelding te stop soos wat onder andere in Genesis 4:23–24 gevind word. Daar sê Lameg aan sy vroue dat Kain sewe maal gewreek kon word, maar dat hy, Lameg, sewe-en-sewentig maal gewreek moet word. Die Joodse godsdiens en regswetenskap het egter nog altyd die gedagte van aanhoudende wraak verwerp.

Die huidige Israelse regering het op grond van die reg op vergelding besluit om wraak te neem vir die slagting van 7 Oktober 2023 (en die voortgaande missiel-aanvalle). Die vraag is of vergelding boosheid tot ʼn einde bring, en of dit nie die nare kringloop van moord en weerwraak versterk nie? In die Ou Testament is daar genoeg aanduidings dat weerwraak op die booshede van die vyand nie ʼn standhoudende oplossing bied vir vyandighede nie.

Die tempering van wraak in die Ou Testament

In Eksodus 22:26–27 kry ons die regsreël dat arm mense nie liggaamlike leed aangedoen mag word wanneer daar aan hulle geld geleen word en hulle nie die geldskieter voor donker kan terugbetaal nie. Om kleding wat as pand geneem is nie vir die nag terug te gee nie, is onmenslik en onmenslikheid hoort nie by die verbondsvolk nie. Die Here betoon aan arm mense genade en beskutting, en die geldskieter moet dieselfde doen.

Die gedagte van menslikheid loop soos ʼn goue draad deur die Ou Testament, en daarom moet die reg tot vergelding ook hieraan getoets word. Daar kan geen twyfel wees dat die Joodse gedagte van menslikheid die reg op weerwraak in Israel temper nie, en dat geen regsreël misbruik mag word om ʼn toestand van ongeregtigheid te skep nie. Die huidige regering van Israel moet daarom besef dat hulle eie “Heilige Boek” die reg op wraak temper en menslikheid van sy volk eis.

Die belangrikste etiese beginsel wat onmenslike weerwraak kan stuit, is die liefde vir die vyand. Jesus het met sy gebod oor die liefde vir die vyand (Mattheus 5:43–47; Lukas 6:27–36) ʼn baie hoë etiese standaard gestel. Die vraag is of die Ou Testament naby hierdie radikale eis kon kom?

Die eis van naasteliefde (Levitikus 19:17–18) is sonder enige twyfel primêr op die “volksgenoot” gerig. Kan die “vreemdeling” egter staatmaak op dieselfde behandeling as die “volksgenoot”? Volgens Levitikus 19:33–34 moet die “vreemdeling” wat tussen en by die “volksgenote” woon, net soos die bloedbroers behandel word. Die “vreemdeling” is egter nog steeds nie die “vyand” nie. In die latere Spreuke 25:21–22 kom die “vyand” dan tog wel voor in ʼn etiese voorskrif. Ons lees daar: “As jou vyand honger is, gee hom brood om te eet en as hy dors is, gee hom water om te drink; want jy stapel vurige kole op sy kop, en die Here sal jou beloon”.

Al is hierdie eis veel minder as wat Jesus eis, is dit duidelik dat ʼn “volksmoord” nie deel van ʼn konserwatiewe, godsdienstige Jood se denke en strewe kan wees nie. Dit is daarom (teoreties) ondenkbaar dat Israel se weerwraak in die huidige konflik op “volksmoord” kan uitloop. So iets is godsdienstig nie toelaatbaar nie. Daarmee word nie gesê dat Israel se wraak in alle opsigte van medemenslikheid getuig nie. ʼn Mens kan net vertrou dat die Joodse geestelike leiers die politici en die weermag by die etiek van die Ou Testament sal hou.

‘n Man versamel vuurmaakhout in Rafah, in die suide van die Gaza-strook waar gevegte voortduur. (Foto: Mohammed Abed/AFP)

Broeder Jesus se bergrede

Die Jood, Jesus, het in sy bergrede (Matteus 5–7) die ius talionis van die Ou Testament bevraagteken en totaal nuwe handelingswyses voorgestel. Hy verwerp volgens Matteus 5:38–39 die vergeldingreg en stel voor dat wanneer ʼn booswig jou leed aandoen, jy hom nie moet teëgaan nie, en “as iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander een vir hom… en as iemand jou onderkleed wil vat, gee hom ook die bokleed”.

Volgens Jesus is geweldloosheid die enigste manier om die siklus van geweld en weerwraak te stop. Die kritiese vraag is of die bergrede as ʼn politieke strategie gebruik kan word?

Daar is in die navorsing groot eenstemmigheid dat dit nie in ʼn politieke en militêre strategie omskep kan word nie. Geweldloosheid is ʼn persoonlike saak wat binne die privaat sfeer toegepas kan word, maar dit is nie ʼn handelingsaanwysing vir die politieke sfeer nie. Een rede is dat elke mens en volk die reg op selfverdediging het, en dit geld ook die huidige Israel. ʼn Wêreld sonder geregverdigde geweld is dus ondenkbaar. Permanente en volhoubare vrede tussen mense, volke en state, bly dus hoogstens ʼn eskatologiese ideaal. Van só ʼn toekomsverwagting lees ons in die profete-boeke van die Ou Testament.

Die eskatologiese verwagting

In Jesaja 2:4 en Miga 4:3 lees ons wat in die Joods-Christelike godsdiens van die toekoms verwag word: “Die Here sal regspreek tussen baie volke en die reg handhaaf vir talryke nasies tot in die verste uithoeke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese snoeimesse. Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie, hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie, maar elke man sal onder sy wingerd en onder sy vyeboom sit, sonder dat iemand hom opjaag”.

Die uiteinde van die wêreldgeskiedenis (so glo ons saam met ons Joodse broers) is nie ʼn alles-vernietigende oorlog nie, maar vrede en die reg wat op geregtigheid berus. Hiervoor sal God self sorg. Intussen het mense en volke die verantwoordelikheid om alles te doen wat menslik moontlik is om vrede te bewerkstellig. Dít geld ook vir Israel en Palestina.

Israel se regspan in Den Haag staan die volksmoordklag van Suid-Afrika teen te staan. (Foto: Remko de Waal / ANP / AFP)

Die etiek van kompromieë

Vrede kan en sal slegs deur onderhandeling bereik word. Ernstige en eerlike onderhandelinge het één doelwit voor oë, naamlik om rasioneel-begronde kompromieë te bereik. Die ANC se klag by die Internasionale Geregshof, dat Israel volksmoord probeer pleeg, help niks om ʼn billike kompromis te bereik nie. Dit instrumentaliseer slegs die vreesaanjaende gedagte van ʼn volksmoord vir goedkoop en opportunistiese politiekery. Net só Israel se oortuiging dat aanhoudende, brutale vergelding tot ʼn oplossing sal lei. Nie een van die strydende partye dink op hierdie stadium aan kompromieë nie, maar die toekoms sal leer dat daar nie ʼn ander weg is nie.

Daar sal hopelik ook mettertyd ingesien word dat Jesus se bergrede uiteindelik tog die regte basis lê vir reg, geregtigheid en vrede. Die liefde en voorbidding vir die vyand (Mattheus 5:43–44) mag na onsin klink, maar irrasioneel is dit beslis nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johannes ·

Ek het nie ń perd in diè resies nie, een helfte noem my ń “infadel” en die ander verwys na my as “goyim”.
Maar hoe onderhandel mens met ń groep wat niks minder as jou totale uitwissing eis nie? “From the river to the sea” is ń oproep tot volks moord, net soos “Kill the Boer”.

Hendrik ·

Dankie Johannes. Nie een van die twee groepe belei dat Jesus die Here is nie.

Heinrich ·

Moeilike een, maar soos Prediker 3 sê: Daar is ‘n tyd vir vrede en ‘n tyd vir oorlog. Ek is van mening dat Jesus se riglyne in die bergprediking bietjie meer van toepassing op die individu is, en nie regeringsbeleid is nie. ‘n Regering het die verantwoordelikheid om sy burgers te beskerm teen ‘n terroristeorganisasie wat onskuldige, ongewapende burgers (teen die Geneva konvensie se riglyne) koelbloedig kom aanvan, verkrag en uitmoor.

Hussin ·

Natie, die aanval is nie weerwraak nie. Verder, lees bietjie op oor draai die ander wang, en, jy sal vind dit is allermins passief. Inteendeel. Mooi probeerslag.

OW ·

@ Hendrik.Ons lewe in die nuwe bedeling,maw na Jesus se opstanding.
Die heidene wat in hierdie nuwe bedeling tot geloof kom,nie ‘n nuwe volk van God vorm nie,maar op Israel van die Ou Testament geëent word terwyl die ongelowige Jode takke is wat afgebreek word Rom11.Eintlik moet mens dus na die dood van Jesus nie meer van die Jode as Israel praat as jy met “Israel”bedoel die volk van God nie.Die Kerk is nou Israel(Gal 6:16 en die Kerk bestaan uit gelowige Jode en heidene wat tot bekering gekom het.

Nettie ·

Klink amper asof die skrywer dink hierdie gaan nog lei na etniese uitwissing. Ek is van mening etniese uitwissing is besig om te gebeur.

Hoe stop ‘n mens dit as die sterkste moondhede in die wereld hulle ondersteun daarin? Is dit nie die plig van Christene om die Christene in Palestinie te probeer help op elke moontlike manier, en so gou moontlik nie?

Ek sien egter maar bitter min ondersteuning of bewyse van liefde uit die Christenwereld.
Ons kan dus ook nie kla as niemand ons dan probeer help nie! Wat ons saai, sal ons maai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.