Kan jy ʼn vredemaker wees?

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Ek wil en moet my vertrekpunt duidelik stel. Ek is ʼn gelowige. Ek glo dat Jesus, die Seun van God in die volheid van die tyd na die aarde gekom het om te doen wat ek nie kan doen nie, naamlik om my te verlos van myself. Dit is ʼn lewenslange reis en gaan gepaard met baie worsteling.

Ek is baie beslis oor wat ek glo. Dis klaar uitgewerk, dis klinkklaar, daar is geen twyfel nie.

Dit is in my DNA.

My “eie ek” word gekenmerk deur selfsug, eiegeregtigheid, selfvoldaanheid en egoïsme. Hoogmoed is netjies onder die oppervlakte versteek en die gevoel van meerwaardigheid steek kort-kort bykans ongemerk kop uit. Lees gerus weer Romeine 3.

Paulus praat daarvan, ek is van nature ʼn hater van God en my naaste. Om dit te ontken is om teen die geopenbaarde Woord te staan te kom.

Ek het egter meer as genoeg getuienis in my eie lewe dat die sentimente ook by my teenwoordig is.

Maar ek dink nie ek is alleen in hierdie stryd nie. Hierdie geneigdheid tot die kwaad is universeel. Niemand spring dit vry nie. Die Bybel sê immers die hele wêreld het gesondig en dit ontbreek aan die heerlikheid van God. Daarteenoor het God die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het. (Rom.3:23;6:23; Joh.3:16)

Suid-Afrika, ons geliefde geboortegrond, gaan gebuk daaronder. Ons kom daarvan nie vry nie, al probeer ons hoe hard. Dit is net God, sy reddende genade en die inwerking van die Heilige Gees wat ons stelselmatig al hoe meer vernuwe en verander om die karakter van Jesus in hierdie wêreld te vertoon.

Ek het ʼn regmatige belang by my eie en die voortbestaan van mense wat soos ek is. Ons assosieer met mekaar sonder verskoning. Ek voel rustig, geliefd, relevant, gelukkig tussen my eie mense. Ons deel dieselfde kultuurgoedere en vier ons unieke eienskappe.

Dit is ook waar van alle mense. Jy sien dit raak waar mense sosialiseer, waar kinders groepies vorm, waar byeenkomste gehou word, oral. Kan ek genuanseerd sê: “soort soek soort”?

Ander se manier van dinge doen is somtyds totaal vreemd tot my verstaan van die wêreld. Ek vind dit somtyds selfs steurend en onvanpas. Ek beoordeel dit egter aan my standaarde van aanvaarbare gedrag en maak ʼn subjektiewe waardebepaling daarvan.

So kry ek kategorieë om ander se gedrag te tipeer, kategorieë wat nie altyd vriendelik en strelend is nie. Die waarheid is egter dat ek nie verstaan nie, nie kennis het nie en toelaat dat vooroordele my voorsê. Bietjie rustig navraag doen bring verheldering en selfs waardering.

Enkele voorbeelde:

Ons praat nie almal ewe hard nie. Kinders gee vrye teuels aan hul gevoelens en dit is raserig op skool veral as juffrou die klaskamer vir ʼn wyle verlaat. Dis eintlik waar van alle byeenkomste. Dis nie lank nie en jy moet orde roep, so geniet die mense mekaar se geselskap. Maar ons het aan moedersknie geleer om sag te praat, nie te skree nie en mekaar in ag te neem. Ons maak groepies en sluit ander van ons geselskap uit. Dit gaan hulle immers nie aan nie, behalwe as daar van hulle geskinder word.

Ons mede-Afrikane praat dat die berge antwoord gee. Dis ʼn oor en weer gekuier selfs oor afstand heen. Ek verstaan nie wat gesê word nie, maar as jy die taal praat weet jy presies waaroor daar gesels word.

Ek kan my nie vir ʼn oomblik voorstel dat wat so energiek en entoesiasties gedeel word, kwaadstokery of iets dergeliks as inhoud het nie. Almal hoor en almal kan maar hoor. Dis openbare kennis.

duif-vrede-vredemaker

Foto: Sunyu/Unsplash.com

Ek het ʼn persoonlike ruimte. My woning is genadiglik groot genoeg dat ek nie nodig het om in ander se ruimte in te beweeg nie. Daarom voel ek ergernis as ek in ʼn ry staan en wag en my ruimte nie gerespekteer word nie. Ander mense is nie so gelukkig nie. Eenvertrekskuilings akkommodeer lede van verskillende geslagte en generasies. Daar is geen ander opsie as naby mekaar wees nie.

Persoonlike ruimte is ʼn luuksheid. Skaamte is eweneens nie ʼn hoë prioriteit as daar nie ʼn tweede en derde vertrek is nie.

Tuinmaak, selfs skoonmaak is minder belangrik as oorlewing jou voorland is.

Dit steur as mans by die gimnasium skeer, maar as daar tuis geen warm water, ʼn wasbak en seep is nie, gebruik jy die geleentheid.

Met ʼn bietjie moeite kan ek hierdie en vele ander dinge toelaat en verdra.

Paulus sê die bediening van versoening is aan ons toevertrou (1 Kor. 5:13).

Ná alles, as versoening en verdraagsaamheid nie ʼn appèl op ons gemaak het nie, sou ons in eie krag voortgeploeter het.

Juis daarom dat ons bid, “Here, maak my na voorbeeld van Jesus, ʼn vredemaker.

Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus (Gal 3:28)

Naskrif: Ek is seker dat dieselfde gesprek aan die anderkant gevoer word. Ons moet leer om mekaar se behoeftes in ag te neem as ons wil vorentoe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jerry ·

Bou n brug van versoening en verdraagsaamheid in diepe geloof van waar ons hulp vir ons daaglikse behoeftes en krag en insig en wysheid vandaan kom. Om mure en sakeryke te bou terwyl ons mense se leiers wat geen onreg verdra nie in die howe verneder onder die dekmantel van geregtigheid, is uiters sleg vir almal se gesondheid!

Frieda ·

Dit is die waarheid en as elke mens in Suid Afrika dit probeer sal ons die stryd begin wen!!

Stanley ·

Dankie vir die herrinering om altyd te strewe om beter saam met ons medemens oor die weg te kom deur met ‘n eensgesinde hart in die geloof van ons Here Jesus met wysheid te leef.

Steve van Tonder ·

Jannie Pelser se “Kan jy n Vredemaker wees” is die moeite werd om daagliks te lees en te probeer toepas in ons lewens wandel – hoe moeilik ookal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.