Kan ons vakbonde se mag breek?

Dr. Pieter Mulder

Hoeveel stakings vir salarisse van dubbel die inflasiekoers kan die Suid-Afrikaanse ekonomie vat voor dit in duie stort?

Die staatsdiens se Vereniging van Staatsamptenare (VSA) het kennis gegee van ʼn staking nadat die meeste van sy 235 000 lede die regering se loonaanbod verwerp het. Hulle is ook vies omdat die regering eensydig ʼn 3%-verhoging geïmplementeer het.

In die 1970’s het vakbonde in Brittanje soveel mag gehad dat hulle die ekonomie op sy knieë gehad het. In 1974 het hulle die Britse regering laat val. Me. Thatcher, as destydse eerste minister, het daarop oorlog teen die vakbonde verklaar. Toe daar vanuit haar eie party druk op haar geplaas is om die stryd te laat vaar, was haar bekende woorde:

“You turn if you want to. The lady’s not for turning.” Ná ʼn uitgerekte stryd het sy gewen, die vakbonde se mag gebreek en só die Britse ekonomie gered.

Enkele Suid-Afrikaanse voorbeelde: In 2014 het Amco-mynwerkers by Rustenburg se platinamyne vir vyf maande lank gestaak. Hulle het ʼn verdubbeling van salaris gevra. As jy staak, geld die reël “No work, no pay.” Die werkers het oor hierdie tydperk R11 miljard in lone verloor. Die platinamynbedryf het ongeveer R24 miljard verloor.

Ná die staking was die mynmaatskappye daarom verplig om vier myne te sluit. Talle nuwe skagte, wat nuwe werk sou skep, is gestaak ten einde weer winsgewend te word. Ongeveer 4 900 mynwerkers het hulle werk verloor. Die werkers het hulleself letterlik arm gestaak!

Daar is bereken dat dit daarna vir ʼn stakende mynwerker tot twee en half jaar geneem het om met sy nuwe verhoogde salaris terug te kom in die finansiële posisie waarin hy voor die staking was.

Sou ʼn geheime stemming tussen Amco-lede toegelaat gewees het, sou hulle waarskynlik gestem het om die staking na ʼn tyd te beëindig. Dit het egter nie die Amco-base, wat deurlopend volle salarisse ontvang het, gepas nie. Die wet verplig hulle nie om ʼn geheime stemming onder stakende vakbondlede te hou nie. Om die land te red, behoort die regering ʼn geheime stemming in die wet verpligtend te maak. Wat is die kanse dat die ANC-regering dit sal doen?

Poskantoorwerkers het ook in 2014 vir drie maande lank gestaak. Ná baie onderhandelinge het hulle ʼn geringe salarisverhoging gekry. Die poskantoor het egter 30% van sy jaarlikse inkomste verloor. Meeste van die poskantoor se groot kliënte soos boekversendingsmaatskappye, tydskrifverspreiding en Unisa as korrespondensie-universiteit was verplig om hulle besigheid na betroubare privaat instansies te neem.

Ná die staking het hierdie kliënte nie na die poskantoor teruggekeer nie. Die poskantoor het tot op datum nog nie van hierdie staking herstel nie en ly reuseverliese elke jaar. Tegnies is die poskantoor vandag bankrot en het die bestuur die regering tot R9 miljard se hulp gevra om te kan oorleef.

Die Transnet-staking is sopas verby. Verlede jaar was Transnet se verlies R8,4 miljard. Transnet se opgeloopte skuld is R129 miljard. Omdat 60% van Transnet se begroting reeds aan salarisse gaan, is daar geen geld om die skuld terug te betaal nie.

Tog het Transnet se vakbonde besluit om te staak ongeag die ekonomiese implikasies vir Transnet en die Suid-Afrikaanse ekonomie. Omdat Transnet soos Eskom ʼn monopolie het, het so ʼn staking groot impak op die hele ekonomie. Transnet behoort daarom as ʼn noodsaaklike diens verklaar te word wat nie mag staak nie. Wat is die kanse dat die ANC-regering dit sal doen?

Die Wêreldbank rangskik vraghouerhawens dwarsoor die wêreld van een tot 351 volgens hulle produktiwiteit en dienslewering. Die hawens van Durban, Kaapstad en Port Elizabeth is nommers 347 en laer op daardie lys. Onder die swakste vyf. Transnet het die afgelope tyd ʼn ernstige poging aangewend om die vertroue in hierdie hawens te herstel. Dit moet keer dat al meer skepe verby vaar omdat hulle nie die vertragings in die hawens kan bekostig nie.

Tot dertig skepe het tydens die onlangse Transnet-staking buite elk van die Durban- en Richardsbaaihawens gelê en wag. Dit kos die eienaars miljoene rand as skepe so vertraag word. Alle herwonne vertroue is weer verloor. Twaalf volgelaaide skepe het verby gevaar. Hulle houers word nou by ander Afrika-hawens, soos Maputo, afgelaai van waar dit ten duurste met vragmotors terug na SA vervoer moet word.

Die steenkoolprys is tans op ʼn rekordhoogte. Die steenkoolbedryf het tot R850 miljoen per dag verloor omdat hulle nie kon uitvoer nie. Die ysterertsmyngroep Kumba se produksie is met tot 50 000 ton per dag geraak omdat hulle nie ystererts kon uitvoer nie.

Die sagtevrugtebedryf werk met bederfbare produkte waarvan tot veertigduisend palette sitrusvrugte tydens die staking in yskaste by hawens moes wag. Elke dag wat die staking langer geduur het, moes van hierdie vrugte vernietig word.

Wat kan ons doen om te keer dat hierdie onverantwoordelike vakbonde ons ekonomie vernietig?

Ons kan Brittanje naboots en ʼn sterk leier soos me. Thatcher kry om die mag van die vakbonde te breek en die nodige wette soos hierbo voorgestel te wysig.

Die president het minister Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, gestuur om die Transnet-probleem op te los. Hy het nie geslaag nie – waarskynlik omdat hy ’n oudvakbondman is wie se simpatie eerder aan die vakbonde se kant is.

Kom ons stuur dan president Ramaphosa self. Probleem: Hy is ʼn ou vakbondman wat aan die hoof van die rofste mynwerkerstakings voor 1994 gestaan het.

Hoe kom ons in hierdie situasie?

Toe die ANC in 1990 ontban is, het die ANC baie min politieke takke gehad. Vakbonde soos Cosatu het landswyd gevestigde takke en strukture gehad. Die ANC het baie van sy takke met die oog op die 1994-verkiesing op bestaande Cosatu-strukture gebou. Gwede Mantashe het in soveel woorde as sekretaris-generaal van NUM gevra dat elke Cosatu-tak ook ’n ANC-tak moet word.

Met baie Cosatu-lede as afgevaardigdes binne die ANC-beleidskongresse het hierdie vakbonde ver bo hulle vermoë invloed in die ANC gehad. Ons arbeidswetgewing, wat grootliks werkers bevoordeel, was die resultaat hiervan. So ook die ANC-SAKP-Cosatu-alliansie wat uit hierdie verlede gebore is.

Die kanse dat die huidige ANC-regering in belang van die land die vakbonde se mag sal kan breek, lyk daarom baie skraal. Al wat dan oorbly is om in belang van Suid-Afrika van die ANC-regering ontslae te raak. Dit gaan nie maklik wees nie — maar 2024 is daar ʼn eerste geleentheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marthinus W ·

In die middel-80’s, met die “chicken run” en disinvestering, het ons in die Dept Pos & Telekommunikasie n besluit geneem wat na ons mening die organisasie gered het, maar dit was bitter. Die P&T Vereniging, vakbond van ons wittes, het genoem dat ons sou kon vra vir n 10% verhoging, en dit heelwaarskynlik kry, maar, volgende jaar sou die werklikheid die kasboek tref, en sou van ons ons werk verloor het. Hulle het voorgestel dat ons daardie jaar geen salarisverhoging aanvaar nie, in ruil vir n brief van die posmeester-generaal, dat ons poste en salarisse vir die volgende drie jaar veilig sou wees. Ons het dit gedoen. Geen verhoging gekry nie. My broer en susters in die privaatbedryf het goeie verhogings gekry. En ons het geleidelik maar net agteruit geboer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Smaak my die doktor woon al in Malta waar mens nog kan droom.

Fluisterwind ·

Ek twyfel sterk of die VF+ weer my stem gaan kry, maar nog meer of ek weer in die verkiesing gaan deelneem, want daar is nie een party wat my belange op die hart dra nie. Aan die begin van die nuwe bedeling het ons (1) EEN duidelike mandaat aan die party gegee : SELFBESKIKKING. Na 28 jaar het die VF+ nie ‘n millimeter daarin gevorder nie. Nou hou die VF+ hom besig met die gebreekte SA se probleme soos vakbonde ens. Nee wat die ANC moet maar die volgende verkiesing 100% wen en klaar kry – geen “paycheck” vir Afrikaner politici.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek stem saam Drikus. Daar was in die mid -1990s ‘n statutêre liggaam wat die proses aan die gang moes kry in terme van grondwet. Die VF Plus was ook betrokke, maar dit het egter alles doodgeloop want die deure is glo “toegeklap.” Nes jy sê, die VF Plus is nou pens en pooitjies vasgevang in “swart” politiek wat nie Afrikaners se toekomspad gaan bepaal nie. Wanneer laas het hulle iets vir Afrikaners gedoen, behalwe toesprake lewer op 16 Desember? Ek het afgetrek na die suide en werk vir afstigting. Dis nou wel saam met Engelse en bruin groeperings, maar dis steeds beter as die VF Plus se beloftes.

Hendrik ·

Wel geen ander party gaan jou ook selfbeskikking gee nie en jy moes dit al lankal besef het. In ons gemeenskap werk on vir onafhanklike selfbestuur wat sekerlik soos SA uitmekaar gaan val gaan lei tot SELFBESKIKKING. Op die oomblik lyk dit vir my of jy buite die stadion wag en diep ingekoop het in die ZA demokrasie.

Hannelie ·

Dalk moet die PSA net staak soos Transnet, want om vir 3 jaar nie verhoging te kry nie, is nie ‘n grap nie. Maar die Ministers swem in die geld, dié wat nie in daardie bootjie sit nie, sal nie regtig weet nie. Die regering verarm sy mense.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ons gaan nie die vakbonde se mag breek nie. Ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid gaan Suid-Afrika en implisiet die vakbonde se rûe breek. SA is al klaar maar net ‘n 3de wêreldland wat nie eers die Eerste Industriële Rewolusie -tegnologie kan bestuur nie, wat nog te sê van die 4de Industriële Rewolusie-tegnologie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.