Kan Suid-Afrika weer ’n kernwapen maak?

Pelindaba

Die Pelindaba kernnavorsingsentrum net wes van Pretoria. Foto: NJR ZA/Commons.wikimedia.org

Deur Tienie Fourie

Die minister van buitelandse sake oorkant die koffietafel het saggies begin lag. Minister Alfred Nzo en ek het pas klaar tee gedrink ná ’n uitmergelende sessie onderhandelinge in Wene, Oostenryk. Dit was êrens in 1994, en die geveg om Suid-Afrika se setel op die Internasionale Atoomenergie-Agentskap (IAEA) se raad van goewerneurs terug te kry, was op sy hewigste.

“Waarom lag u so, minister?” het ek gevra.

“Volgende Dinsdag gaan ek, wanneer die kabinet in Pretoria vergader, die enigste een wees wat weet wat HEU is,” sê hy ingenome.

HEU? Die Engelse term “highly enriched uranium”, ofte wel die kernbrandstof wat in kernplofkoppe gebruik word. Tydens tee het hy breedvoerig uitgevra oor hoe ’n kernbom, soos die ses wat Suid-Afrika ontwikkel het en aan die einde van die tagtigerjare afgetakel het, presies werk. Ek het na die beste van my vermoë probeer verduidelik: Hoe ’n pen in ’n stuk hoogverrykte uraan (meer as 93%) ingeplof word sodat die uraan self kan ontplof en (soos die Amerikaners tydens die Tweede Wêreldoorlog met die kernbom genaamd “Little Boy” op Hirosjima in Japan) die lewe van derduisende mense eis.

Nzo het aandagtig geluister, uitgevra na Pelindaba, net wes van Pretoria waar die uraan vir Suid-Afrika se kernbomme vervaardig is, en na die perseel daar naby waar die meganiese gedeeltes vervaardig is. Hy wou van my die versekering hê dat Suid-Afrika wel sy kernwapens vernietig het. Nadat ek hom daarvan verseker het, het hy opgemerk: “Julle weet nie hoe trots ons is dat Suid-Afrika so iets kon vermag nie. Dis net jammer dat julle dit afgetakel het. Afrika wou dit gehad het”.

Ek was toe as diplomaat Suid-Afrika se adjunk- permanente verteenwoordiger by die IAEA en in daardie hoedanigheid gasheer van die inspekteurs van die organisasie op hul besoeke aan Suid-Afrika om die waarheid oor ons kernwapenprogram te wete te kom. Tydens die besoeke moes ek ’n vertrouensverhouding met inspekteurs van die IAEA opbou wat ons in die stryd om die setel goed te pas gekom het.

Hoe die diplomatieke stryd verloop het, is ’n artikel op sy eie werd. Genoeg om hier te sê dat, indien dit nie vir wyle minister Nzo en die ANC se historiese bande met sommige Noord-Afrikaanse lande was nie, Suid-Afrika nie op 25 September 1995 weer sy regmatige plek op die raad van goewerneurs sou kon inneem nie. Egiptiese diplomate het later vir my gesê hulle het nooit verwag dat lande soos Algerië en Tunisië (albei Arabiese lande) Suid-Afrika se kandidatuur sou steun nie. Egipte het op hulle staatgemaak om die setel, wat hy beklee het nadat Suid-Afrika oor sy apartheidsbeleid uitgeskop is, sonder slag of stoot te behou.

Maar wat het dit met vandag te doen? Die gesprek met Nzo het by my opgekom te midde van die huidige bohaai oor die Suid-Afrikaanse regering se planne om nuwe kernkragsentrales op te rig. Suid-Afrika was in 1995 en is steeds die enigste land in Afrika wat ’n kernkragsentrale het. Die feit het in 1995 daartoe bygedra dat Suid-Afrika as die mees gevorderde kernkragmoondheid in Afrika sy setel kon herwin. Pres. Jacob Zuma het dit onlangs bevestig toe hy gesê het die Weste wil nie hê Suid-Afrika moet kernvaardigheid hê nie omdat dit “in die hande van kommuniste sou wees”.

Feit is dat niemand dit moet onderskat nie dat Suid-Afrika steeds na politieke punte soek –en dit waarskynlik sal kry – indien hy sy kernkragvermoë verder kan uitbrei. Om eerlik te wees, Suid-Afrika het, afgesien van die skandale aan die wapenverkryging verbonde, nie fregatte en ’n hele vloot vegvliegtuie nodig nie. Suid-Afrika se reputasie as die land met die magtigste gevegsmag op die vasteland, was op die spel.

Onlangs het die Suid-Afrikaanse regering ’n soort samewerkingsooreenkoms met lande soos Rusland, Frankryk, China en Brittanje geteken.

Wat wil die regering met die ooreenkomste en onderhandelinge bereik? Die kabinet het reeds sy goedkeuring aan die projek gegee, en net die gebrek aan geld kniehalter hom op die oomblik. Volgens berigte het hy reeds heimlik ’n ooreenkoms met Rusland gesluit om kernkragsentrales te bou.

Die vraag op almal se lippe is natuurlik of Suid Afrika dan nou weer ’n kernbom kan ontwikkel. Die antwoord is natuurlik dat die verbruikte brandstof of geberg of herwin kan word. Om dit prontuit te stel: Kan Suid-Afrika die brandstof gebruik om weer ’n kernwapen te maak? Die antwoord is nee, want nie net het Suid-Afrika die Pelindabaverdrag onderteken wat ten doel het om die hele Afrika kernwapenvry te maak nie, maar hy mag ingevolge die kernsperverdrag ook geen kernwapens ontwikkel nie. Suid-Afrika het wel, toe hy destyds hierdie wapens ontwikkel het, beperkte navorsing oor plutonium-plofkoppe gedoen, maar dit is vernietig.

Is daar dus enige politieke gevaar? Miskien, want dit is moontlik dat daar lande gaan wees wat enige oortollige uraan of plutonium by Suid-Afrika sal wil koop. As ondertekenaar van die Zanger-ooreenkoms en ander internasionale ooreenkomste wat die handel in kernmateriaal verbied, mag Suid-Afrika dit nie doen nie. Maar niks is onmoontlik nie.

Op die oomblik word Suid-Afrika se verrykte uraanvoorraad by die Safari-reaktor op Pelindaba in ’n kluis gehou. Dit word 24 uur per dag deur middel van ’n video-verbinding deur die IAEA in Wene dopgehou. Sal dieselfde veiligheidsmaatreëls met die nuwe reaktors geld? Inspekteurs van die IAEA sal ook van die begin af betrokke moet wees.

Die werklikheid is dat lande soos Nigerië kliphard probeer om Suid-Afrika as kernkragleier op die vasteland verby te steek. Dit kan met Amerikaanse of Engelse steun geskied om kerngeheime uit die hande van “kommuniste” te hou. Rusland en China, albei BRICS-lande, sal Suid-Afrika se uitverkorenes wees.

’n Laaste opmerking: Wat van korrupsie? Myns insiens leen nuwe kernreaktors hulle nie noodwendig tot meer korrupsie as byvoorbeeld steenkoolkragsentrales of aanlegte vir son- of windkrag nie. Dit is wel gevaarliker in die hande van nepotistiese aanstellings en daarom moet die regering soos in alles streng dopgehou word.

Maar die werklike stryd is tussen die “kommuniste” van Suid-Afrika en die “kapitaliste” van die Weste.

  • Tienie Fourie is ’n oud-joernalis, en was in die 1990’s Suid-Afrika se verteenwoordiger by die Internasionale Atoomenergie-Agentskap in Wene, Oostenryk. Hy was later ook hoof van die skakel-afdeling by die Nasionale Kernreguleerder in Pretoria.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

11 Kommentare

Harry ·

Natuurlik kan ons weer ‘n kernbom vervaardig! Ons hoef net die Plutonium van die ou brandstof wat gereeld deur Koeberg gelewer word, chemies te skei. Die tweede kernbom wat tydens die tweede wereldoorlog op Nagasaki geval het was die “fatman” Plutonium-bom en het minder as 7kg soliede Plutonium bevat. Plutonium word verkry of gevorm tydens die kernreaksies van Uraanbrandstof in ‘n kernkragstasie soos Koeberg en letterlik honderde Plutoniumbomme kan van die ou kernbrandstof van ‘n enkele kernkragstasie vervaardig word.

Basson ·

Interessant! Hoop om nog meer te hoor :)

Hoeveel geheime het ons aan die VSA weggegee destyds, onder hulle dekmantel van ter plaatse ‘inspeksies’?

Eish ·

Ek sou die berig nooit geplaas het nie.
n Kernplofkop kan 200 miljoen Amerikaanse dollar haal op die swartmark.
Jul gaan nou n klomp staatskapers aan die dink sit noudat die geldkrane opdroog, en hulle vrinne is glad nie mense wat jy na jou braai sal wil nooi nie.
Maar, deur die genade, kan dit nie sonder wit monopolie kennis gedoen word nie.

John ·

Die vraag moet lees: Hoe gou gaan SA weer so ‘n dwaasheid aanvang. Die Gupta’s besit ‘n uraanmyn: Lank lewe moeilikheid…

Hasie ·

Ongelukkig het ons die vermoe in ons land verloor om rioolstelsels optimaal te laat funksioneer, laat staan nog ‘n kernbom vervaardig.

Schalk ·

Is dit moontlik? Ja. Waarskynlik nee.
Lees op in ‘n inseklopedie hoe om ‘n bom te maak, maklik. in praktyk baie moeilik.
Sanksies het gemaak dat ons alles gedoen en vervaardig het.
Nadat die komunistiese muur geval het en die vrylating daarna van Nelson Mandele rugbaar geword het is alles wat betrekking het op die vervaardiging van uraan en verrykte uraan afgebreek en vernietig. Die wat nie dood is nie is meeste van nie meer betrokke in daardie bedryf nie

Johannes van Staden ·

Hoe kan jy die atoom probeer split as jy nie eers n resturant bill kan split hehe Hier kom n meltdown !

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.