Koning Dinuzulu en generaal Lucas Meijer

Cetshwayo ka Mpande (Foto: Wikipedia)

Junie is ʼn belangrike maand in die gesamentlike geskiedenis van die Afrikaners en die Zoeloes. Maar ʼn mens begin nie ʼn storie by sy einde vertel nie.

Na die Anglo-Zoeloe-Oorlog van 1879 is koning Cetshwayo, seun van koning Mpande, uit die Zoeloe-koninkryk verban en die koninkryk is deur die Britte in 13 vorstedomme verdeel, elk met sy eie opperhoof. Hierdie toedrag van sake het aanleiding gegee tot groot onstabiliteit, en onderlinge aanvalle, plundery en moord was aan die orde van die dag. As gevolg van hierdie burgeroorlog het Zoeloes gereeld gevlug tot binne die gebied van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), wat groot uitdagings vir die regering, maar veral die grensboere, veroorsaak het. Verder is lede van die koningshuis van koning Cetshwayo, waaronder sy seun prins Dinuzulu, onder die gesag van Inkosi (opperhoof) Zibhebhu kaMapita van die Mandlakazi-stam gestel, wat dié koninklikes baie sleg behandel het.

Die regering van die ZAR het ʼn beroep op die Britte gedoen om koning Cetshwayo weer as koning van ʼn verenigde Zoeloe-koninkryk te laat terugkeer sodat stabiliteit herstel kon word. Die Britte het uiteindelik besef dat omstandighede onhoudbaar word en het darem vir koning Cetshwayo laat terugkeer – maar slegs as koning oor ʼn gedeelte van die koninkryk. Hulle het sy groot teenstander, Inkosi Zibhebhu, laat heers oor die oorblywende gedeelte.

Koning Cetshwayo is verbied om enige vorm van militêre organisering te doen. Dieselfde het vir Inkosi Zibhebhu gegeld, maar hy is deur die Britte toegelaat om ʼn goed bewapende leër te hê. Koning Cetshwayo het verneem dat die Mandlakazi beplan om hom aan te val, en het herhaaldelik ʼn beroep gedoen op die Britse owerheid om hom te beskerm, of hom toe te laat om homself te versterk om weerstand te kan bied. Die koning se beroep het egter op dowe ore geval.

Prins Dinuzulu (Foto: Wikipedia)

Inkosi Zibhebhu se magte val toe op 21 Julie 1883 Ulundi, die setel van koning Cetshwayo, aan. Die Mandlakazi behaal die oorwinning en dood die held van Isandlwana, Inkosi Ntshingwayo kaMahole Khoza, asook koning Cetshwayo se jongste seun (prins Nyoniyentaba) en drie oorlewende vroue van koning Mpande. Koning Cetshwayo vlug met sy gevolg na die Zoeloe-reservaat, waar hy as gebroke man op 8 Februarie 1884 sterf.

Populêre Zoeloe-oorlewering het dit dat koning Cetshwayo vergiftig is – daar het groot bitterheid geheers oor sy afsterwe. Die Zoeloes was van mening dat die Britte koning Cetshwayo na die Zoeloe-koninkryk laat terugkeer het met die uitsluitlike doel om sy dood te veroorsaak. Die Zoeloes het egter van die Voortrekkers en koning Mpande onthou: “Mpande is deur die Boere tot koning gemaak… [hy] leef en sterf in vrede. Cetshwayo is deur die Engelse tot koning gemaak en het niks anders as ellende en verdriet geoes nie en gesterf as ʼn balling in sy eie land.”

Koning Cetshwayo se seun, prins Dinuzulu, is aangewys om sy pa as koning op te volg. Die Britte het egter geweier om prins Dinuzulu as koning te erken en die chaos en die vlug van Zoeloes na die gebied van die ZAR het voortgeduur.

Uiteindelik het die onstabiele omstandighede vir die grensboere van die ZAR te veel geword en het hulle besluit om te bepaal of daar iets is wat hulle self kan doen om die omstandighede te verbeter aangesien die regering van die ZAR nie kon ingryp nie (as gevolg van die bepalings van die Londense Konvensie van 1884) en die Britte nie wou ingryp nie. Die Zoeloes self het ook na die Afrikaners uitgereik vir hulp; koning Dinuzulu druk dit in 1887 by monde van sy boodskappers so uit: “[hy het] die rus versteur gevind in sy land, en die hulp van die Boere, wat vriende van sy vadere was, ingeroep om die moeilikhede uit die weg te ruim”.

Die Afrikaners besluit:

om ʼn aantal van die oudste en mees ervare uit hul midde, die wat hul hele lewe in die nabyheid van die Zoeloes deurgebring het en goed bekend was met hul taal en gebruike, na Zoeloeland te stuur met die doel om uit te vind watter reëling die beste sou wees om ʼn langdurige vrede teweeg te bring. Hierdie mense het Zoeloeland binnegegaan te midde van die oorlog en met gevaar vir eie lewe het hulle noukeurig ondersoek ingestel by die hoofde en kapteins sowel as die volk van Zoeloeland, die volgelinge van Cetshwayo, Zibhebhu en Uhamu. Die uitslag hiervan was dat hulle verseker is dat die enigste bevredigende reëling vir Zoeloeland sou wees om Dinuzulu op sy vader se troon te plaas en Uhamu en Zibhebhu aan hom te onderwerp. Hierdie plan word toe vasgestel. Dit was duidelik dat ʼn aansienlike aantal mense nodig sou wees om dit ten uitvoer te bring, en dat ʼn deurlopende en vaste besetting van ʼn groot aantal Afrikaanse Boere in die land nodig sou wees om ʼn durende vrede te verkry.

In April 1884 trek ʼn Afrikaner-kommando Zoeloeland binne, prins Dinuzulu sluit by die kommando aan. Op 1 Mei gee die Afrikaners aan Inkosi Zibhebhu en prins Uhamu kennis dat prins Dinuzulu, die troonopvolger in Zoeloeland, sy toevlug tot hulle geneem het en dat alle partye gemaan word om hul wapens neer te lê – hulle verklaar dat die Boere nie gekom het om oorlog te maak nie, maar om vrede te herstel en te handhaaf.

Prins Dinuzulu reik op 21 Mei 1884 ʼn proklamasie uit waarin hy verklaar dat hy alle pligte, regte en besittings as koning van Zoeloeland oorneem. Prins Dinuzulu verklaar soos volg: “dat ek almal wat tot op hede die wapen teen my vader Cetshwayo of myself opgeneem het, kwytskeld van die misdaad” en verder “eis ek dat alle vroue en kinders en al die vee wat gedurende die laaste vyandelikhede van die strydende partye geneem is, aan hul vroeëre wettige eienaars teruggee word”.

Andries Marthinus Johannes Laas.

Prins Dinuzulu word op die volgende dag deur Andries Marthinus Johannes Laas tot koning oor die Zoeloes gesalf, met inagneming van Zoeloe-gebruike en in die teenwoordigheid van ʼn groot menigte opperhoofde en lede van die Zoeloe-volk. Die Boere sluit ná die inhuldiging ʼn kontrak met koning Dinuzulu waarin hulle hulself daartoe verbind om vrede, wet en orde in die grondgebied van die Zoeloe-nasie te herstel… om daartoe al hul kragte in te span”.

Koning Dinuzulu verbind hom daartoe om “met raad en advies van sy raadsmanne en groot kapteins, aan die offisiere en bestuurders van die Boere ʼn landstreek af te staan wat grens aan die Zuid-Afrikaansche Republiek”.

Inkosi Zibhebhu gee te kenne dat hy gewillig is om hom aan koning Dinuzulu se gesag te onderwerp, maar hy gee nie die vee terug wat hy van koning Cetshwayo geroof het nie; daarop berei hy homself voor vir teenstand. Inkosi Zibhebhu doen vergeefs ʼn beroep op die Britte om hom te ondersteun omdat hy lojaal teenoor hulle was. Hy skryf dat hy “teen sy eie nasie vir die Britse regering geveg het, maar noudat die Boere kom, wil u my nie help nie”.

Die Boere het herhaaldelik probeer om op ʼn vredeliewende wyse met Inkosi Zibhebhu tot ʼn vergelyk te kom, maar moes uiteindelik aan hom skryf dat die vrede van die land sy onderwerping aan koning Dinuzulu vereis. Toe Inkosi Zibhebhu nie aan die skrywe gehoor gee nie, trek die magte van koning Dinuzulu, vergesel deur 100 Boere, onder bevel van kommandant Lucas Meijer, teen die Mandlakazi op.

Op 5 Junie 1884 word die Mandlakazi beslissend deur die gekombineerde magte van koning Dinuzulu en die Boere verslaan tydens die Slag van Spookberg, oftewel eTshaneni, ongeveer vyf kilometer oos van Mkhuze in die Lebomboberge. Verskeie familielede van Inkosi Zibhebhu sterf tydens die veldslag en hy vlug na die Zoeloe-reservaat, dieselfde plek waarheen hy koning Cetshwayo vroeër verdryf het.

Lukas Meijer (Foto: Wikipedia)

Hoewel daar nog ʼn paar verdere veldslae tussen die magte van koning Dinuzulu en die Mandlakazi plaasgevind het, was die Slag van Spookberg deurslaggewend vir die bevestiging van koning Dinuzulu se posisie as regmatige opvolger van koning Cetshwayo en sy bevestiging en erkenning as koning van die Zoeloes.

Die mooi verhaal van samewerking tussen Afrikaners en die Zoeloe-koningshuis kan nie beter afgesluit word as met die woorde van prins Ndabuku, broer van koning Cetshwayo nie: “Ons sou nie hier vandag in die lewe gewees het as die Boere nie hier was nie”.

Die aanhalings in hierdie meningtuk is vertalings van Nederlandse aanhalings uit die volgende bron: Leyds, W.J. 1914. Het inlsuiten van die Boeren-Republieken. Deel II. Amsterdam: Allert de Lange.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wilhelmina Cecilia ·

In die berig val Zibhebhu se magte Cetshwayo aan op 21 Julie 1883, dan Cetshawayo sterf op 8 Februarie 1883
“Inkosi Zibhebhu se magte val toe op 21 Julie 1883 UlundiKoning Cetshwayo vlug met sy gevolg na die Zoeloe-reservaat, waar hy as gebroke man op 8 Februarie 1883 sterf., die setel van koning Cetshwayo, aan. ”
Of lees ek verkeerd?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.