Landbou dalk sterker as wat boere self besef

landbou-mielies-pexels

Foto: Pexels/Pixabay.com

Deur TLU SA

Met die eerste reën wat geval het in die somerreënvalgebiede is daar weer optimisme en opgewondenheid onder die boere. Boere sien daarna uit om die ploeg in die grond te druk en dan die reuk van vars, vogtige geploegde grond te ruik.  Dit is die begin van nuwe lewe.

Dieselfde optimisme onder boere was waarneembaar tydens TLU SA se onlangse kongres, waar dié liggaam se 120ste bestaansjaar ook gevier is.  Boere is inherent optimistiese mense, al gaan dit soms moeilik.

In die Kaap gaan dit tans egter baie sleg as gevolg van die droogte, en namate die winterreënvaltydperk ten einde loop, word baie boere moedeloos by die gedagte van nog ʼn droë seisoen.

Nietemin wil die boere net boer, hoewel die regering dit toenemend moeilik maak vir hulle. Die politieke bedreigings wat ophoop voorspel niks goeds nie, tensy boere hande vat en hulle organisasies versterk. Die landbougemeenskap het baie meer bedingingsmag as wat hulle waarskynlik self besef, maar dit moet georganiseerd aangewend word.

Die sogenaamde tegniese resessie waarin die land verkeer het, is beëindig deur die enorme bydrae wat kommersiële landbou tot die ekonomie gelewer het. Die land se ekonomie kan dus eenvoudig nie sonder kommersiële landbou klaarkom nie, en daardie feit kan deur die landbouers en hulle organisasies benut word om volhoubare boerdery te verseker. TLU SA het al etlike jare gelede gesê dat die boere nie getel moet word nie, maar ekonomies geweeg moet word. Die waarheid daarvan is met die onlangse resessie bewys.

Ongelukkig steur die regering hom nie noodwendig aan ekonomiese feite nie en gaan voort met sy politiekery van landbou en grond.

Maar ander realiteite begin tog nou ook ongemaklik aan landbou se deur klop, en dit word deur die hele waardeketting raakgesien. As daardie waardeketting behoorlik gemobiliseer kan word saam met georganiseerde landbou, kan dinge verander, want dan is dit nie meer net ʼn klein landboustemmetjie roepende in die woestyn nie.

Diefstal en korrupsie, waar dit ook veral landbou raak, word ʼn tameletjie.

Die ouditeur-generaal het onlangs onthul dat die departement van water en sanitasie ongemagtigde uitgawes van R406 miljoen aangegaan het, vrugtelose en verkwistende uitgawes van meer as R140 miljoen gemaak het en onreëlmatige uitgawes van meer as R3 miljard aangegaan het. Die OG reken dat daar groot onsekerheid bestaan of die departement kan voortgaan as ʼn lewensvatbare bedryf.

Intussen treiter daardie departement boere met rekeninge vir water, waar damme en kanale leeg is, maar dan word dit so gemors. Waarom sal boere nog enigsins vir water wil betaal as dit so aangaan?

Die forensiese ondersoekeenheid van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming is besig om 85 sake, wat strek van beweerde korrupsie en bedrog met grondeise tot die wanbestuur van grondoordragte en -waarderings, te ondersoek, terwyl die wanaanwending van fondse vir herkapitalisering en onbehoorlike optrede deur amptenare van die departement ook ondersoek word.

Grondhervorming misluk dus en is tot in sy wese korrup. Dit is wat gebeur as onnatuurlike prosesse ingestel word om sekeres, in hierdie geval die boere, te benadeel om ander te bevoordeel. Laat die vrye mark sy loop neem, en hierdie dinge sal feitlik verdwyn.

Maar dit is hierdie feite wat die waardeketting kan gebruik om ons boere te laat aanhou boer om kos op ons tafels te sit.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Eish ·

Hoekom, in hierdie tydsgleuf, vat boere nie hande en versterk hul nie hul organisasies nie?
Hoekom wend hul nie hul bedingingsmag georganiseerd aan nie?
Hoekom staan TLU SA apart van ander organisasies in die landbou bedryf?
Hoekom is die hele waardeketting nie lankal verenig nie?
Hoekom word Afrisake nie betrekking in die waterkwessie nie?
Ek staan verstom oor die artikel. Boere wat deesdae so gespesialiseerd boer, van nature saamstaan deur onder meer studiegroepe, nie lankal reeds die sake aangespreek het soos deur die artikel uitgewys nie.
Dit lyk my, indien die artikel korrek is, hul lei aan dieselfde siektes as die gewone burgery, onbetrokkenheid, wat ek waaragtig nie kan glo nie!

Johan ·

Verwys na jou laaste sin. Jy is reg as jy twyfel het. Ek het bv môre (12/12) die laaste vergadering met drie waterskemas waar ek die watertarief dispuut tussen hulle en die DWS hanteer.
Daar was reeds twee interdikte in die Hooggeregshof verkry sodat ons nou in die posisie is omdie sakkie toe te knoop. Hierdie drie skemas se saamstaan gaan die DWS seker in die omgewing van so R80 na 90m kos want die regsfoute wat gemaak is maak dit moontlik.
Ek help ander boere-organisasie ook. So sien ek Vrydag ‘n regspan waar ons die afronding sal doen vir ‘n bepaalde boere-unie om nie munisipale eiendomsbelasting te betaal van 2009 tot datum.
Oor al die ander aksies wil ek nie uitbrei nie. Hierdie is die sake waarby ek betrokke is.
Landelike veiligheid – wanneer laas was daar ‘n plaasaanval in die Groot Marico, Swartruggens, Zeerust omgewing. Dit is boere wat die organisasie gestig het, dit bestuur en operasioneel hou.

Daan ·

Eish. Eish. Maar jy het verskriklik baie vrae. Ons soek mense met baie antwoorde. Daar is genoeg vrae. Kom en kom help. Om op ‘n afstand raad te gee help niks

John ·

Logiese beredenering en lyste vol grondige feite, waarskuwings oor toekomstige rampe, wetboeke en smeekbede help absoluut niks nie as mense die verkeerde pad wil loop. Dit is ook waarom diesulkes ‘n leier aanhang wat dit beloof wat na aan hul harte le, naamlik die verkeerde. ‘Verkeerd’ is ‘n geharde sluwe wese en om met hom ‘n vertroulike verhouding te probeer opbou, is fataal. So, wat doen ‘n mens in daardie geval want dit is waar ons nou staan?

Herman ·

Waneer en hoe kan al die boere en privaat besighede besluit om belasting te weerhou… dit kan mos nie so moeilik wees nie?
Ek voorsien die staat sal kom mooibroodtjies bak terwyl ons nog besig is om die proses ordentlik te beplan… want hulle weet as die beursie toemaak is die gort gaar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.