Langtermynoplossings nodig vir immigrasiekrisis

ʼn Kunsinstallasie wat migrante uitbeeld by die ingang van die VN-migrasiekonferensie in Marrakesh, Marokko in Desember 2018. (Foto: Mosa’ab Elshamy, AP)

Daar is tans daagliks berigte in die nuus van bootjies met immigrante uit Afrika wat êrens in die Middellandse See probleme ontwikkel. Mense uit Afrika probeer in desperaatheid Europa bereik en is bereid om hul eie lewens hiervoor op die spel te plaas.

Die afgelope paar maande is die toestroming van onwettige immigrante uit Suid- en Sentraal- Amerika na die VSA ook daagliks in die nuus. ’n Onlangse foto van ’n pa en dogter uit El Salvador wat dood is nadat hulle ’n rivier op die grens tussen Mexiko en die VSA probeer oorsteek het, het byna net soveel opslae gemaak soos die foto van die lyk van ’n Siriese seuntjie wat in September 2015 op die suidwestelike kus van Turkye uitgespoel het nadat hy en sy familie Europa met ’n bootjie probeer bereik het.

Een van die grootste hedendaagse uitdagings in ekonomies-welvarende streke en lande is massa-immigrasie uit arm streke en lande. Hierdie massa-immigrasie word nie net deur konflik en oorlog gedryf nie, maar is meestal ekonomies gedrewe.

In die VSA voer die Trump-administrasie ’n verbete stryd teen die daaglikse instroming van duisende mense uit die sogenaamde noordelike driehoek van Suid-Amerika, naamlik El Salvador, Guatemala en Honduras. Die Amerikaanse regering het verlede week aangekondig dat hulle met ’n grootskaalse deportasieproses gaan begin. Intussen het die Amerikaanse kongres ’n hulppakket goedgekeur ten einde die humanitêre krisis op die grens te verlig. President Trump het ook ’n ooreenkoms met Mexiko aangegaan waarvolgens dié land meer moeite sal doen om immigrante wat deur Mexiko na die VSA reis, voor te keer.

In Europa het verskeie lande sedert die immigrasiekrisis van 2015 begin om op eie houtjie stappe te doen om massa-immigrasie teen te werk. Die huidige Italiaanse regering weier, met goeie reg, deesdae om bote wat onwettige immigrante op die Middellande See red, by hulle hawens toe te laat. Dit los egter steeds nie die probleem op van duisende mense uit Afrikalande wat na veral Libië reis om van daar Europa met boodjies te probeer bereik nie.

Wat is die oorsake vir massa-immigrasie uit plekke soos Afrika, die Midde-Ooste en Suid-Amerika na Europa en die VSA? Hoewel konflik en oorlogsituasies in lande soos Sirië en Jemen korttermyn-massa-immigrasie oor die afgelope paar jaar gedryf het, is die probleem veel groter.

George Shultz, ’n voormalige minister van arbeid in die VSA en Pedro Aspe, ’n voormalige minister van finansies in Mexiko, skryf in ’n onlangse artikel in die The Wall Street Journal dat die huidige massa-immigrasie deur ’n toename in bevolkingsaanwas in arm lande, swak regering, hoë vlakke van geweld en beperkte werkgeleenthede gedryf word.

Daarmee saam beleef Westerse lande goeie ekonomiese groei, ’n afname in jong mense wat die arbeidsmark toetree, weens ’n besonder lae bevolkingsaanwas, en gevolglik arbeidstekorte.

Terwyl beter grensbeheer en meer effektiewe immigrasiestelsels nodig is, sal ’n meer omvattende internasionale oplossing vir die krisis gevind moet word. Beter regering en ekonomiese ontwikkeling is in arm lande nodig en die Weste sal daarmee moet help. Westerse lande sal egter ook wyses moet vind om hul eie demografiese uitdagings te bowe te kom. Intussen sal die immigrasiekrisis eerder vererger as verbeter omdat dit ’n menslike ding is om wanneer jy in ’n hopelose situasie verkeer, na groener weivelde te vlug.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jerry ·

Alles wat jy noem van swak regering tot geen werksgeleenthede is ook van toepassing op SA. Jy kan maar net die regering se NDR programme vir de-kolonialisasie wat misdaad, kommissies, plaasmoorde vir onteiening sonder vergoeding onder andere insluit, byvoeg. Die regering se NDR programme is dus n direkte aanslag op die Afrikaner en sy welvaart wat n baie sterker motivering is vir die Afrikaner om te emigreer na veiliger groene weivelde as mense van ander Afrika lande!

Helizna ·

Die oorsaak dat Europa se bevolking ophou groei het, is kulturele marxisme.

Kallie ·

Die dag gaan kom dat Afrikaners ook vlugtelinge sal word om te oorleef. So, moenie oordeel nie.

Gert ·

Na my mening is die hele immigrantekrisis veroorsaak deur die liberalistiese media wat simpatie vir derde wêreld mense massief opbou, gekombineer met Westerse lande se absoluut oordadige welsynstaat-benadering, waar inwoners van daardie lande basies volle sekerheid van inkomste en mediese sorg het. Hierdie situasie maak dit uiters aantreklik vir opportuniste uit die derde wêreld om na Westerse lande te stroom, en daar af te tree in weelde en voorspoed sonder om ooit weer ‘n vinger te lig om enige werk te doen. Die arme sekuriteits-amptenare wat die grense moet beveilig, word deur hulle eie bevolking uitgeskel as Nazis as hulle hulle werk probeer doen, so daar is uiteindelik geen optrede om die stroom te stuit nie.
Dis net ondenkbaar dat die Westerse lande se bevolkings nie kan insien dat staatsgeld nie onbeperk is nie, en dat jy nie die welsynstelsel onbepaald kan uitbrei vir immigrante uit die derde wêreld om hulle ten volle te onderhou nie. Die enigste oplossing is om kragdadig op te tree teen onwettige immigrante, en om met behoorlike versperrings soos Trump se muur die stroom te stop.

John ·

Die populistiese siening vanaf groot tv-stasies tot by die VN se Portugese baas (die landjie wat self sy grense styf toeknyp) met Zoros as super-kragopwekker, is dat menseliefde grensloos moet wees… met slinkse wèreldoorheersing as grondplan. Die EU is reeds gevang. Die idee van elders die lewensdroom te bewaarheid is die pessiekte van die tyd. Gewone mense dink nie eens meer daaraan om swak leiers te vervang nie. Die TV toon ‘n droomwèreld elders en almal spaar vir die reis na hul paradys.

Frans C ·

Solank die regerings waarvan die immigrante afkomstig is nie die toestande in hul eie
lande verbeter nie,sal mense altyd trek na beter omstandighede en stabiele regerings.

Dus moet mense met humanistiese,liberale gedagtes ophou om lande wat weier om nog meer immigrante te huisves,te kritiseer en hul leiers te beswadder , eerder die swak regerings van die lande waaruit mense vlug voor stok kry en aandring op beter omstandighede en geleenthede vir hul mense.

Dan doen hul ten minste iets positief.

Onnodig ·

Daar word van die blanke verwag om terug te gaan Europa toe, maar nou is die lotte van Afrika ook op pad soontoe. Hoe nou?

Marthinus Willemse ·

In die Washington DC “swamp”, het Samantha Power, Anne-Marie Slaughter en minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, vir die president en Nobel Vredespryswenner Barack Obama, oorreed om soldate in Libië in te stuur en dood en verwoesting te saai. Moemmar Gadaffi is gedood, waarop Clinton op TV verskyn het met `n breë glimlag, en die woorde, “We came, we saw, he died” geuiter.

Dit het `n vakuum geskep vir duisende immigrante na Europa. Wat Obama en sy span gedoen het was nie net `n oorlogsmisdaad nie, maar ook `n misdaad teen die mensdom, en `n verergering van die immigrantekrisis.

Trojaanse Donkie ·

Ons kan nerens met kleinbootjies gaan nie. dis omdat jy geen exSA’s in bote kry nie!

aj ·

Dit was vroeër jare algemene praktyk na bv. oorloë, dat die Verenigde Nasies sekere lande onder administasie van ‘n naburige land geplaas het. So is bv Suid Wes Afrika onder SA administrasie geplaas!

Die VN moet nou wéér ingryp en die MASSA migrasie van mense (vlugtelinge?) stopsit deur die disfunksionele regerings onder VN adminstrasie te plaas (vir 20 jaar … of totdat ‘n bevoegde regering in staat is om die land te administreer).

Die goedkoopste, beste en mees humanitêre oplossing vir die massa migrasie is om die inwoners tuis te hou en die DISFUNKSIONELE REGERINGS te vervang … ja selfs met dwang!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.