Minder advertensies, goedkoper produkte?

Johannes Froneman

Ek het ʼn paar maande gelede geskryf oor die feit dat adverteerders die massamedia grootliks aan die lewe hou. Maar wie is die groot adverteerders en kan hulle nie liewer minder adverteer en hul produkte goedkoper maak nie?

Dit is makliker gesê as gedaan. Advertensies is ʼn integrale deel van alle groot maatskappye se bemarkingsplanne en kan nie goedsmoeds vervang word nie. Selfs kleiner maatskappye moet adverteer — op ʼn gemeenskapsradiostasie of in die dorpskoerant. En natuurlik op die internet.

Neem nou maar Shoprite Checkers, die land se grootste kleinhandelgroep. Hulle omset was in 2021 sowat R168 miljard, dus R168 000 000 000. Hul jongste winssyfers toon dat die maatskappy ná alle aftrekkings (insluitende belasting) net minder as R5 miljard wins gemaak het. Dit is 2.9% op die totale omset.

In ag genome dat Shoprite Checkers R1.5 miljard per jaar aan advertensies bestee, is dit eintlik min. Tog maak dit van die maatskappy een van die heel grootste adverteerders in die land. Maatskappye soos Shoprite Checkers bestee wel groot bedrae aan advertensies, maar dit dryf hul afset, is daarom onvervangbaar en verteenwoordig advertensiebesteding eintlik net ʼn klein deel van hul omset.

Anders gestel: die markomgewing noodsaak daaglikse advertensies en kan nie verminder word sonder om markaandeel te verloor nie. Minder advertensies sou dus skadelik vir die vervaardigers van verbruikersprodukte wees en uiteindelik die produkte eerder duurder as goedkoper maak.

ʼn Maatskappy soos Unilever (vervaardiger van talle huishoudelike skoonmaakprodukte, soos Dove en Sunlight) bestee omtrent net soveel as Shoprite Checkers aan advertensies. Saam met nog ʼn vervaardiger van huishoudelike skoonmaak- en skoonheidsprodukte, GlaxoSmithKline, bestee die top drie in die omgewing van R60 miljoen per dag aan advertensies in Suid-Afrika. Hierdie besteding is oor alle media versprei, insluitende die internet, waarop jy hierdie rubriek op die oomblik lees.

Die jongste syfers dui daarop dat alle adverteerders sowat R30 miljard per jaar in Suid-Afrika bestee. (Advertensies vir alkoholprodukte beloop sowat 11% van alle advertensies.) Terloops, die hele Afrika verteenwoordig maar 1% van wat wêreldwyd op advertensies uitgegee word.

Al hierdie syfers wys maar net weer hoe groot die advertensiebedryf is. Dit is daarop ingestel om jou te kry om bepaalde dienste en produkte te koop. Dit is die enjin van verbruikersbesteding én dra grootliks by tot die voortbestaan van die meeste media.

Vir die drukmediabedryf is daar min goeie nuus. Die swaai na digitale media (veral via selfone) duur onverpoosd voort. Die verwagting is dat die helfte van alle advertensies een van die dae via die internet na Suid-Afrikaners sal kom.

Dis ook te verstane. Ses uit elke tien Suid-Afrikaners oor die ouderdom van dertien is doenig op  sosiale media, met Facebook die gewildste. (As ons na die jonger geslag sou kyk, sal hierdie syfer sekerlik anders lyk. Hulle meen glo dat Facebook ʼn platform vir hul oumas en oupas is.)

Die ouer geslag is inderdaad bedrywig op hul selfone. Hoe anders gaan hulle met hul kinders en kleinkinders daar vêr gesels? Of met hul Bybelstudiegroep gou-gou kommunikeer.

Hoewel mense wat sonder selfone grootgeword het en televisie vir die eerste keer gesien het nadat hulle uit die skool was, is die aanvaarding van nuwe kommunikasievorme noodsaaklik om deel van die wêreld te bly. Hoe dan anders? Met ʼn poskaart? Of telegram?

Tog is dit nie nodig om altyd die heel nuutste, grootste, vinnigste en duurste selfoon te besit nie. Persoonlik sal ek nogal van een hou waarop ek die letters net beter kan sien. Om al die tikfoute telkens te moet regmaak, is nogal tydrowend.

Maar ons beleef allerlei winste op ʼn daagliks basis. Die tegnologie maak ons lewens (meestal) makliker en die advertensies vermaak en lig in. Dit is dalk nie die wêreld waarin ons grootgeword het nie, maar dit is die een wat ons beleef, moet baasraak, verstaan en (met voorbehoude) moet aanvaar.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vexed ·

Ek hou van advertensies. Dit stel maatskappye bloot en wys vir my wie se produkte ek moet vermy. Dit werk.

Marthinus W ·

Reklame is n vreemde ding. Tabakvervaardigers mag nie meer adverteer nie, maar hulle produkte verkoop steeds. Ek was lank betrokke by Telkom se telefoongidse. Die Foonboek [witbladsye] moet volgens wet gratis verskaf en versprei word; die Geelbladsye is die gans wat die goue eiers gele het, maar hy word nou dunner as die witbladsye. Danksy selfone se ingeboude “foonboek” het ons oorleef. Ons het in die middel-1990’s miljoene aan drukkoste gespaar deur tegnologiese verbeterings [die gids het kleiner, dunner, geword, die lettertipe en uitleg is aangepas] n Eiendomsagent vriend van my adverteer glad nie, hy glo in “word of mouth”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.