Misdaad in Suid-Afrika: Die skreiende werklikheid

Bheki Cele. Foto: @GovernmentZA/Twitter

Deur Lorraine Claasen

Die minister van polisie, Bheki Cele, het op 12 September 2019 Suid-Afrika se jongste misdaadsyfers by die parlement in Kaapstad bekendgemaak. Die syfers vir die 2018/’19-boekjaar is skokkend en beaam die werklikheid dat Suid-Afrikaners in vrees lewe. In elke jaarlikse verslag word ’n misdaad geïdentifiseer wat feitlik daagliks plaasvind, wye mediadekking kry en gefokusde aandag van die SAPD geniet. In 2017 was dié misdaad plaasaanvalle, in 2018 was dit transitorooftogte en hierdie jaar is geweldsmisdaad teen vroue en kinders, met goeie rede, onder die vergrootglas.

Al wissel die syfers jaarliks, toon geen kategorie in die kontakmisdaad-groepering ’n afname nie. Altesaam 617 210 kontakmisdade is in hierdie tydperk aan die SAPD gerapporteer en sluit moord, poging tot moord, seksuele oortredinge, aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer, roof en roof met verswarende omstandighede in. Altesaam 52 420 sake van seksuele oortredinge is in dié tydperk geopen – ’n toename van 4,6%. Alhoewel dié soort misdade meestal “agter geslote deure” plaasvind, en gevolglik moeilik is om te voorkom en te polisieer, is dié syfer waarskynlik hoër omdat die misdade nie altyd aangemeld word nie.

Die land se reaksie die afgelope paar weke op geweld teen vroue en kinders is dus sonder twyfel geregverdig. Kontakmisdade waarin kinders die slagoffers was, het met 3,9% toegeneem – in 899 gevalle wat gerapporteer is, is seksuele misdade teen kinders gepleeg en 29 kinders is in dié tydperk vermoor.

‘Afname in die toename’ troos min

Met 170 979 insidente het aanranding met die doel om ernstig te beseer die hoogste syfers van al die kontakmisdade. Aanrandings (common assault) het met 5 769 insidente toegeneem tot 162 012 gevalle wat by die SAPD aangemeld is. Roof met verswarende omstandighede het ook toegeneem – 140 032 gevalle is aangemeld. Tog meen Cele dat dié stygings laer is in vergelyking met die vorige finansiële jaar, ten spyte van sy belofte in die 2017/2018-bekendmaking dat Suid-Afrikaners ’n afname in misdaad kan verwag.

Volgens die SAPD is argumente of misverstande, huishoudelike geweld, bendegeweld en gewapende roof die vernaamste oorsake van moord. Moord het ook met 3,4% toegeneem – altesaam 21 022 insidente is aangemeld. Vuurwapens is in 7 156 van dié gevalle gebruik, en messe in 4 720 gevalle. In die Wes-Kaap was bendegeweld verantwoordelik vir 938 moorde uit 4 720 insidente wat in die provinsie aangemeld is. Uit 27 813 insidente van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is argumente ook as die vernaamste rede aangedui.

Buiten die sewentien kategorieë van ernstige misdaad wat die publiek aangemeld het, het misdaad wat die SAPD self opgemerk en gerapporteer het, met 21,8% gedaal. Dié misdade sluit die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, dwelmverwante insidente, dronkbestuur en seksuele oortredings in. Hierdie daling is egter nie positief nie, aangesien 94 685 minder misdrywe as in die 2017/2018 tydperk deur die SAPD se direkte optrede aangeteken is. Dit is nodig om vas te stel of polisie-sigbaarheid werklik ’n suksesvolle afskrikmetode is, en om die sukses van misdaadbekampingstrategieë in sogenaamde hotspots te bepaal. ’n Strategie of aksieplan wat ten doel het om ’n sekere tipe misdaad te verhoed, of op ’n sekere gebied van toepassing is, kan slegs positiewe uitkomste hê as die implementering en deurgaanse evaluering daarvan suksesvol bestuur word.

Cele sê dit is noodsaaklik dat akademici en kenners met die SAPD saamwerk. Redes vir die toenames in geweld, asook die oorsake van geweldsmisdade wat oor naweke gepleeg word, moet ondersoek word. Alhoewel navorsing oor hierdie onderwerpe belangrik is vir enige misdaadbekampingstrategie, het Suid-Afrikaners na dese “minder praat en meer doen” nodig.

Genl. Khehla Sitole, die nasionale polisiekommissaris, het op ’n onlangse skriftelike navraag van die DA gereageer en gesê dat die aantal polisiereserviste oor die laaste nege jaar met 96% afgeneem het. As dit wel die geval is, het die wetstoepassers van Suid-Afrika geen duidelike plan om die landsburgers se veiligheid in die nabye toekoms te verseker nie.

Tabel: Verskaf.

Die tabel is ’n uittreksel van die SAPD se CRIME SITUATION IN REPUBLIC OF SOUTH AFRICA TWELVE (12) MONTHS (APRIL TO MARCH 2018_19)” voorlegging.

  • Lorraine Claasen is ‘n navorser by AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
FrisFrikkie

Hoekom lyk die minister of die ligte aan is maar daar is niemand by die huis nie ?

waarheid

Frikkie ek stem saam,
Met so ‘n hoof van polisie kan dit eenvoudig net nie goed gaan nie.
Comrade in beheer voorspel niks goeds nie – dis verseker.

Gemaskerde Sopbeen

As ek ‘n betaal word om ‘n diens te lewer en ek doen dit nie, maak my kliënte my deure vir my toe. Dis tyd dat die regering begin verantwoordelik gehou word vir die dienste waarvoor die belastingbetaler betaal, en nie ontvang nie. Moord slagoffers se boedels en hulle naasbestaandes behoort kwytgeskeld te word van enige vorm van belasting aan die staat………..want die staat het hulle gefaal in hulle EERSTE basiese konstitusionele reg, nl. die reg op veiligheid en sekuriteit. Waar is ons konstitusionele experts….dis tyd om “verantwoordbaarheid” te begin afdwing!!

SjN

Kan of wil hul nie besef na 25 jaar dat hul nie opgewasse is vir die taak nie?

Suzette Geringer

Mnr die “hoed”kapper jy vra vir hulp van akademici en kenners, maar wanneer julle die raad kry word dit van die tafel af gevee want die een wat die raad gee is nie die regte kleur nie.
Die regering van hierdie land het dit in die toestand in bestuur. ALLES het ten gronde gegaan sedert 1994.