ʼn Volkslied vir Orania?

Deur Anje Boshoff

orania-betonletters

Orania in die Noord-Kaap. (Foto: verskaf)

Die aankondiging van ʼn prysvraag vir ʼn volkslied vir Orania is, van buite beskou, seker minder onverwags as wat dit onwaarskynlik mag voel. Die klein gemeenskap vaar reeds onder ʼn eie vlag en dryf handel met sy eie banknote (streng gesproke koepons en nie ʼn geldeenheid nie), en het ʼn sterk sin vir sy eie identiteit.

Maar maak ʼn eie “volkslied” sin? Is die “volk van Orania” nie ʼn bietjie klein nie? Of maak hulle aanspraak op die ou, aparte “Afrikanervolk” waarvan soveel Afrikaners hulle stilweg of luidrugtig onttrek het? Word verdelende kragte nie bevorder terwyl eenheid in Suid-Afrika versterk behoort te word nie? Dit (en ander) is vrae waarop OKeR, Orania se kunsteraad wat die kompetisie uitgeskryf het, graag wil antwoord.

Meer grondliggende vrae wat daarmee saamhang, is: Hoe beskou Orania homself? Hoe beskou hy sy omgewing? Wat verwag Oraniërs van die toekoms? en Waar pas ʼn eie volkslied in?

In sy meer as dertig jaar se bestaan is Orania al op baie verskillende maniere aangebied, in die media meestal negatief. Dit sou, veral aanvanklik, ʼn voorbeeld van onaanpasbaarheid en ʼn verlange na die verlede wees, gedoem tot mislukking en die vergetelheid. Meer onlangs egter, het Orania se klein suksesse, soos sy sonplaas en nuwe rioolwerke, al hoe skerper teen die groot verval van tallose Suid-Afrikaanse dorpe en stede afgesteek, om van die Suid-Afrikaanse nasionale projek nie eers te praat nie.

Is ʼn eie volkslied dan ʼn aanduiding dat Orania aan homself as ʼn aparte “nasionale projek” dink? Dit is dalk die kernvraag – en Orania haas hom nie om dit te ontken nie. Hy kan dit egter ook nie sonder ʼn paar belangrike kwalifikasies bevestig nie. Orania plaas homself, om voor die hand liggende redes, nie op dieselfde vlak as Suid-Afrika nie, maar hy kan ooglopend ook nie in die Suid-Afrikaanse transformasionisme (die beste beskrywing van SA se huidige verdelende nasionale ideologie) opgaan nie.

Orania is ʼn selfstandige Afrikanergemeenskap met sterk kultuur- en geloofswaardes wat sy identiteit nie van die staat ontvang nie en hom in die geheel nie van die staat afhanklik maak nie. In ʼn staat wat deur ʼn selfbevoordelende elite geregeer word, al sy dit met die pretensie dat hulle die massas verteenwoordig, is dit die enigste houding waarmee ʼn ontwikkelde gemeenskap kan oorleef. Om die waarheid te sê, dit is ʼn houding wat, as dit deur meer gemeenskappe toegeëien sou word, tot ʼn beeld van Suid-Afrika as ʼn gemeenskap van gemeenskappe kan aanleiding gee – en dit is gewis ʼn aantrekliker en meer belowende beeld as waarop die huidige sentralistiese transformasie afstuur.

Gemeenskapsfederalisme is per definisie nie iets wat van bo af op “Suid-Afrika” (wat is dit in elk geval anders as ʼn koloniale konstruk wat op die momentum van sy hoogbloei gekom het tot waar hy intussen gaan staan het) se bevolking afgedruk kan word nie. Dit groei van onder af of dit groei glad nie. Mense neem, saam met ander wat dieselfde voel, hulle lot in hulle eie hande en skep hulle toekoms self. Gemeenskappe funksioneer uit eie krag of gaan onder, en van laasgenoemde bied die Suid-Afrikaanse samelewing ongelukkig te veel voorbeelde om daarin te berus.

As die toekoms van hierdie wye en droewe land dan in die vestiging en opbou en samehang en sukses van kleiner en groter plaaslike en nasionale gemeenskappe lê, is dit nie vanselfsprekend dat ekonomiese sukses en volhoubare ontwikkeling deur ʼn sterk sin vir die “self” in “selfstandig” onderlê sal word nie? En is dit nie vanselfsprekend dat sulke identiteite hulleself in simbole tot uitdrukking sal bring nie? Of dit Orania se klein reus is wat sy moue oprol om te werk, of Mnyameni (ʼn tradionele isi-Xhosa-gemeenskap in die Oos-Kaap wat ook vriende van Orania is) se suikerbekkie wat hulle ʼn eeu of wat gelede gelei het om te vestig waar hulle vandag nog net oor die berg van Hoggs Back af woon?

Is ʼn eie vlag en ʼn eie volkslied dan ondenkbaar? Daar was ʼn tyd toe elke skool ʼn lied en ʼn wapen en kleure gehad het, en dit het nie verdeeldheid nie, maar verskeidenheid én samehang bewerkstellig. Blote woorde gee egter nie die deurslag nie – Suid-Afrika se nasionale leuse maak immers ʼn buiging na die kant van eenheid en verskeidenheid sonder om enige werklike beslag daaraan te gee. Inteendeel.

Dit is die geleefde werklikheid van mense wat hulle beste krag aan die welstand van hulle gemeenskap bestee, wat die deurslag gee. En dit is ʼn samelewing waarin my bydrae tot my gemeenskap as ʼn bydrae tot die geheel beskou kan word, en nie voortdurend verdag gemaak word asof dit teen ander gerig is nie, wat aan ʼn verskeidenheid soos Suid-Afrika s’n ʼn tuiste kan bied. ʼn Tuiste is immers nie die plek waar jou lot jou neergegooi en laat lê het nie, dit is die plek waar jy gelukkig en suksesvol is.

As Orania se klein, maar groeiende sukses dan op die fondament van sy besondere identiteit as gemeenskap gebou word, waarom sou dit vreemd wees om ʼn lied daaraan te wy? En as daar talle Afrikaners is wat hulle daarmee vereenselwig (soos daar ook talle is wat dit nie doen nie), waarom sal hy dit nie ʼn “volkslied” noem nie? “Volk” in sy gewone betekenis verwys immers nie na ʼn oorspanne politieke begrip nie, maar na die gewone mense in teenstelling met die hoër klasse in die samelewing.

Niemand word verplig nie, maar almal word uitgenooi om deel te neem aan Orania se poging om vir hom ʼn volkslied daar te stel.

  • Anje Boshoff is woordvoerder van Orania se volksliedkompetisie.

OKeR begin met die teks/ lirieke en wag tot 1 Mei 2023 inskrywings daarvoor in, waarna die proses vir toonsettings sal volg. Daar is ook ʼn prysgeld van Ø10 000 (of dieselfde bedrag in Rand) op die spel. Enigeen wat belangstel of meer besonderhede verlang, kan skakel met [email protected] of besoek www.volkslied.co.za. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is net jammer dat Orania nie n onafhanklike tuisstaat is nie en nog onder sa val.Ek het respek vir die mense wat net onafhanklik en vry van onderdrukkers en diskriminasie wil wees,hulle vooruitgang is baie beter as Suid-Afrika in geheel onder die ANC regime.

Koos 100 ·

Orania is ‘n doring in die SA regering se vlees, want dit staan vir alles wat die regering nie kon reg kry nie, en dit deur blankes gedoen. Orania verskil niks van ‘n stam in KZN met ‘n koning en hoofman nie. Hulle dryf ook handel met dinge anders as geld en pas ook hulle eie gemeenskap op.

Koen ·

Die stem. (Bietjie aangepas). Of…”Aant het oewer van het skelfzee, tussen Delf en Rottendam………” ook met bietjie aanpassing. Aan die ower van die oranje, tussen Gauteng en die diep blou see,……

Republikein in die Wes Kaap ·

Nou moet Oranje net hul eie paspoorte uitreik.

Koen ·

Is dit hoe julle dinge daar in oranje doen. Skreeu op mekaar met baie uitroeptekens. Baie gepas vir die oranje mannetjies en vroutjies. Het ook van die geskreeu gehoor.

Harley Davidson ·

Die weskaap kan dit vermag sou hulle onafhanklikheid kry.

piet ·

Ek hou van die simbool van hulle “geldeenheid”. ‘n O met ‘n skuinsstreep. Dink dis nogal oulik.

piet ·

Nooit hoef jou kinders getrou is te vra wat beteken ons vlag dan Orania…LOL

piet ·

Koen, dis nie soos ek dit onthou nie. Dit verwys nie net na getroude kinders so ver ek kan onthou nie maar die wat getrou is. Niks met getroud te doen nie (sovwer ek weet nie).

piet ·

Julle moet onthou ek het neergeskryf van wat ek onthou vandat ek die ding 40 jaar laas gesing het. Ek is bly julle hou nog so getrou by die korrekte woorde.

Jaco ·

Asseblief moet net nie weer ‘n vrymesselaar (ja, CJ Langenhoven) se voorstel vir ‘n volkslied aanvaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.