Nederlandse fabel is Suid-Afrikaanse riller

hansje-brinker-nederland

’n Standbeeld van Hansje Brinker. Foto: Uberprutser/Nl.wikipedia.org

Die naam Nederland beteken letterlik “laer land” met verwysing na sy plat topografie. Verskeie bronne stel dit dat ongeveer 50% van die landoppervlakte meer as 1 meter bo seevlak is en byna 17% onder seevlak. Die land sou met elke springgety oorstroom gewees het as dit nie vir die indrukwekkende stelsel van windpompe en dyke was wat oor honderde jare gebou is nie.

Sowat 6 500 vierkante kilometer van die landoppervlakte bestaan uit herwonne land wat die resultaat is van ‘n proses van noukeurige waterbestuur. Al langs die kus is grond van die see geskei en in die binneland is mere en moerasse gedreineer, veral langs die talle riviere. Al hierdie nuwe grondgebied is omskep in polders, meestal omring deur dyke wat die water terughou.

Dit vir soverre die geografie betref.

ʼn Interessante storie wat uit bogenoemde sy beslag gekry het, is ʼn fabel wat, ironies genoeg, nie in Nederland ontstaan het nie, maar in die VSA.

Mary Mapes Dodge, outeur van die boek Hans Brinker or The Silver Skates: A Story of Life in Holland, vertel verskeie verhale. Een verhaal is van die seuntjie wat een laatmiddag op pad terug na sy huis langs een van die vele dyke loop. Hy hoor water en toe hy opkyk, sien hy water wat stadig by ʼn gat in die dyk uitloop. Hy druk terstond sy een vinger in die dyk en stop die vloei van die water. So keer hy dat die gat al groter word en ʼn ramp plaasvind. Die seun bly die hele nag daar, ten spyte van die koue, totdat die volwassenes van die dorp hom vind en die nodige herstelwerk doen.

Sommige Nederlanders weet nie van die storie nie, maar die ingevoerde volksverhaal het wel erkenning gekry deur verskeie standbeelde waarvan een by die veerboothawe in Harlingen, een in die dorp Spaarndam, en een in die Madurodam-pretpark in Den Haag staan.

Vir my as Suid-Afrikaner is dit asof hierdie mooi volksverhaal hom elke dag in Suid-Afrika afspeel. Vir ons dit egter ʼn harde realiteit. Ons is konstant besig om ʼn groeiende ramp te stuit deur telkens die lekkende gate reg te maak. Elkeen van ons is so besig met voorkoming, hetsy deur individuele optredes, of deur organisasies. Vingers word simbolies in lekkende gate gedruk met ʼn groeiende massa water aan die ander kant. Die vraag is of die damwal aan die een kant gaan hou en of die massa probleme ons gaan oorweldig en so verswelg.

Aan die een kant is die see van vergrype, staatskaping, korrupsie, verswakte dienslewering, swak deurdinkte beleidsraamwerke, en kaderontplooiing wat besig is teen die damwal te druk en dit te verswak. Aan die ander kant is ons wat die grootste risiko loop as die damwal breek. Ons het baie organisasies en instellings wat oor jare heen die damwal versterk het, maar die barste word al groter.

Gaan ons tussen ons genoeg vingers hê om die gate toe te stop?

Ons lees en hoor daagliks van kundiges en hulpbronne wat die land verlaat. Die ekonoom Johan Fourie skyf onlangs in Finweek dat die internasionale marknavorsingsgroep New World Wealth skat dat ongeveer 300 individue met hoë netto waarde (meer as $1 miljoen) elke jaar in die afgelope dekade uit Suid-Afrika geëmigreer het.

Ons hoef nie te ver te soek na bewyse dat daar ʼn nuwe golf van migrasie of emigrasie is nie. In elke woonbuurt is die hoeveelheid huise te koop die barometer. Die redes blyk voor die hand liggend te wees, skryf Johan Fourie: vyf jaar van swak ekonomiese groei; kommer oor veiligheid en sekuriteit; retoriek oor grondherverdeling en ’n verandering in die Grondwet; en korrupsie in die openbare en privaat sektor wat die land tot op die randjie van finansiële ondergang gebring het. Werkgeleenthede in die buiteland is waarskynlik die belangrikste faktor.

Dit is dié kundiges wat Suid-Afrika verloor, wat beteken dat daar nie meer vingers is om die gate toe te stop of die broodnodige herstel aan krake en barste aan te bring nie. Die Nederlandse volksverhaal wat gebou is op ʼn mite, is nou ʼn realiteit vir Suid-Afrika.

Lojaliteit en patriotisme teenoor Suid-Afrika is nie meer genoeg om krake te stop nie. Daarvoor is daar te veel probleme en begin die damwal op verskeie plekke bars. Neem geweldsmisdade. Ons het vingers in gate begin druk met gemeenskappe en individue wat self moet sorg vir hul eie beveiliging, net omdat die staat sy plig versaak.

Party organisasies in die burgerlike samelewing begin nou self met dienslewering op plekke waar dit in duie gestort het. Die slaggate in ons paaie word egter vinnig al hoe meer en ons kan eenvoudig nie voorbly nie. Het ons genoeg vingers vir die gate waar ons onsself na die howe moed wend om ʼn regering eensydig besluite te beveg?

In die onderwys het ons ook vingers in die gate begin druk met aktiewe beheerliggame, ouers wat hoë skoolgelde betaal om uitnemendheid in ons onderwysstelsel te skep.

Betreffende gesondheidsorg stop óns die gate toe: Ons betaal duur mediese premies vir privaat mediese dienste, juis omdat die openbare gesondheidsorg nie aan die nodige standaarde voldoen nie. Maar selfs dit word nou ook ernstig bedreig deur ʼn staat wat ʼn groter en duurder stelsel wil skep wat nog meer ruimte gaan bied vir korrupsie en ʼn moontlike verdere uittog van mediese kundiges.

Die storie van die vinger in die damwal kry egter ook sy eie ras-kinkel by omdat die vingers wat die gate kan toestop, dit nie deur moedertaalonderrig kan doen nie, en omdat helpende hande weggewys word deur onbillike uitsluiting deur regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

Deur ons vingers in die talle krake en barste te hou, wil ons Suid-Afrika veilig en suksesvol maak. Maar dan moet dit ʼn Suid-Afrika wees waar Afrikaners hul kundigheid kan aanwend tot voordeel van Suid-Afrika en nie as gevolg van regstellende aksie daarvan ontneem word  nie.

Dit moet ʼn Suid-Afrika wees waarin elkeen in sy taal kan skryf en praat oor die land en sy mense. Ons weet daar is baie lojale Suid-Afrikaners wat konstruktief krities wil meehelp om dienslewering vir alle Suid-Afrikaners te bewerkstellig en wat aktief in die ekonomie help om die land aan die gang te hou. Daarom hou ons deur die gate en barste en groter wordende krake toe te druk.

Die vraag is egter: vir hoe lank kan ons die tydelike oplossing volhou?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jimmy ·

Ek is bevrees, die damwal het klaar gebars. Ons kom dit net nie agter nie.

J van Rensburg ·

Orde uit chaos of dan in Latyn “Ordo Ab Cha”. Van alle organisasies sou ek gedink het die broederbond ken diè plan

Meraai ·

So waar en op so ‘n goeie manier verwoord. Welgedaan aan die skrywerm, al laat hierdie waar woorde my met ‘n gevoel van benoudheid…

Danie ·

Het die Broederbond nie help meewerk aan die heel eerste krake en gate nie, ou vriend Jan?

Leon ·

Die water is besig om in ons monde in te loop. binnekort loop dit in ons neuse in. Die regering het die pompe verkoop so ons kan nie die water meer uitpomp nie. Ons sal ons vingers uit die gate moet uithaal en emmers gebruik. Glug, glug.

leser ·

hoe gaan die liedjie;
“there is a hole in the bucket, dear Liza, dear Liza, there is a hole …………………………….

Jerry ·

Die toedruk van gate in SA spreek van desperaatheid deur diegene wie deur die ANC gyselaar geneem is, juis vir spesifiek daardie doel. Terwyl die desperate gyselaars die gate toehou verryk die ANC hulself steeds te lekker met belastingbetalersgeld (losprysgeld) wat bedoel was om die skade van staatskaping te herstel! Of die gyselaars nou hulle vingers in die gate hou of nie, hier kom n nuwe orde tensy opposisiepartye gesamentlik, plaaslik en internasionaal die ANC as n kollektief aankla van verraad en vir menseregteskendings wat gepleeg is deur staatskaping se skade en die skade wat deur doelbewuste verlangsaming vir die herstel van staatskapingskade plaasvind! Die ANC kon en kan enige tyd die ekonomie begin regruk. Die ANC is egter nie van plan om dit te doen nie, omrede hulle motief dit ten doel het om hulle gyselaars te verarm totdat die se weerstand teen verandering na n nuwe orde verkrummel. Die hofsaak oor die ou vlag en die eff se veldtog wat gaan volg vir die verwydering van die stem uit die volkslied is alles weerligafluiers weg van die ware motief van die ANC!

aj ·

Baie mooi vergelyking Jan!

Die paar Wit vingers wat die gate toedruk om die dreigende watermassa terug te hou.

Wat van betyds ‘n ‘vlot’ bou …? … soos Noag? … om die geliefdes te red?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.