Net nog ʼn rassistiese juffrou?

Die foto wat sosialemediagebruikers warm onder die kraag het. (Foto: Curro)

Kindertjies hou beroepsdag by Curro. Party koop, ander is kassier. Party is dokter, ander advokaat, ʼn ander een veearts en nog een ʼn tandarts. Party is wit en party swart, maar almal is kindertjies.

Op ʼn spesifieke oomblik word ʼn foto geneem. Op daardie oomblik is die een kindjie kassier en toevallig swart en die ander koop en is toevallig wit. Dis bloot die werklikheid van ʼn oomblik. Op ʼn ander oomblik sal die advokaat dalk swart wees en die dokter wit. Heel moontlik nog ʼn kassier en hierdie keer wit. Daar is nie sprake van raskassies vir die kindertjies nie.

Geen mens sal mos dit doen nie. Geen juffrou sal ʼn kind agter ʼn kasregister sit omdat hy/ sy swart is nie. Die persoon wat die plasing gemaak het, is so min rasbewus dat hy/ sy dit geplaas het.

Rasbeheptes sien toe kleur. Dis ʼn siek wêreldbeskouing wat rassisme in ʼn kleuterskoolklassie kry. Jy vra nie sulke mense verskoning nie. Hulle maak van die arme kindertjies rasobjekte. Onskuldige kindertjies word gebruik vir rassepolitiek. Hierdie was g’n rasinsident nie. Rasbeheptes het dit ʼn rasinsident gemaak. Dis nie Curro, die onderwysers of die kinders wat rasstereotipering gepleeg het nie, dis die rasstryders op sosiale media.

Die sosialemediareaksie was kunsmatige woede. Daar was g’n groot reaksie nie.

Curro gaan toe en vra verskoning. Die Departement het nie eers geweet van die insident nie en eers bewus geraak na die Curro-verklaring. Hulle skrik so dat hulle sommer self bieg. Curro is tog so jammer vir die aanstootlike stereotipering. Curro probeer die rasstryders te bestuur, deur soos ʼn hondjie om te rol en ʼn verskoning op die mat te piepie.

My maggies Curro, hierdie was nie ʼn rasinsident nie. Deur julle jammeragtige houding het julle dit ʼn rasinsident, waaraan julle skuldig is, gemaak. Julle het die raskrokodil gevoer wat net meer rashonger raak.

Die rasstryders tree nie terug as verskoning gevra word nie. Daar is geen vergifnis nie. Hulle sien dit as skulderkenning, swakheid, val aan en eskaleer.

Die departement gaan dus verder. Die grondwetlikheid van Curro se waardestelsel moet nou ondersoek word. Daar moet gekyk word of hul menseregte en rassegelykheid verstaan. Dis wat gebeur as jy wil paai deur ʼn verskoning en skulderkenning waaraan jy nie skuldig is nie. Die rasstryders is nie paaibaar nie.

Die departement reageer heftig, skaars twee weke nadat die LUR van onderwys van Noordwes deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gedwing is om vir Elana Barkhuizen verskoning te vra na ʼn vore heftige rasreaksie. Sy het ook ʼn foto geneem van ʼn oomblik. Die hof het in haar guns beslis en die SAMRK het gesê haar menseregte is geskend.

Hulle leer niks nie en Curro rol om.

Al waarvoor nou gewag word is dat ʼn arme juffrou, wat net goed bedoel het, se kop met ʼn rasbyl afgekap moet word.

Moet dit nie doen nie, ons wag vir julle.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

capie ·

Presies sso ek die saak gesien het. Mense wat so bly is om in ‘n nie-ras gebaseerde omgewing te werk , kinders in ‘n nie-ras gebaseerde omgewing op te lei, te onderig en op te voed word gedwing om ras gebaseerd te dink omdat die regering so ras gebaseerd dink. Die ras-denkende mense moet eerder hulle energie gebruik om om die land op te bou en nie so af te breek nie.

Sanet ·

Dit is so belaglik hoe die mense van hierdie land alles uit verband ruk!!!! Die jeug van vandag gaan van die veronderstelling dat hulle geregtig is op alles!!!! SONDER OM DAARVOOR TE WERK!!!! Word wakker mense, julle is besig om alle regte weg te neem!!!!

Gert ·

Dit was ‘n klas situasie en ek glo ander kindertjies sou ook die kassier wou speel wat sekerlik ook gedoen is want kinder is nuuskierig en wil leer ongeag hul ras of kleur. Glo hulle het die les terdee geniet. Ek verstaan nie hoe kan die skool bestuur teen onderrig omverskoning vra vir ras insident in die klas nie. Dit is swak styl van die skool bestuur om die onderwyseres so maklik onder die bus te gooi vir ras kwessies wat ons juis nie vir kinders leer nie maar elkeen is jou klas is ‘n medeleerder en maat.

Patch ·

Dirk, die laaste sin is die kragtigste! Ek kon nie help om te glimlag nie.

Riaan ·

Heeltemal ongevraagd gewees, hoop die een wat besig is om dit aan te hits word goed vas getrap en sommer ook ‘n voorbeeld van gemaak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.