Om die toekoms trompop te loop

Dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van die Solidariteit. (Foto: Maroela Media)

Die regerende party het ’n powere regeergeskiedenis. Die staat verswak, hulle is obsessief oor ras, hulle skrik beleggers af, hulle boelie minderhede, hulle is korrup, hulle hou nie hulle burgers veilig nie en nog meer. Dit lyk oorweldigend negatief vir die toekoms. Die vraag by talle braaivleisvure is: moet ons gly of moet ons bly?

Ongeveer 67% van Solidariteitlede onder 40 jaar het in ’n opname wat verlede week voltooi is, gesê hulle dink aan emigrasie. Vorige opnames het al gewys dat Solidariteitlede ’n goeie steekproef van Afrikaners in die algemeen verteenwoordig.

67% van mense is so vervreemd van die land dat hulle lus is om pad te gee. Dit is ’n skuldigbevinding van die staat se onvermoë om ’n deel van sy bevolking tuis te laat voel.

Dit is egter ook ’n teregwysing vir ons as gemeenskap se onvermoë om vir hierdie mense voldoende hoop te gee. Hoop gaan uit die gemeenskap kom. Die staat is op die oomblik ’n bron van wanhoop.

Daar is ’n tweede syfer waarsonder die eerste nie gelees kan word nie. 98,5% van die steekproef sê hulle het nog geen stappe gedoen om te emigreer nie.

Van die mense bo 40 jaar het 89% aangedui dat hulle nie aan emigrasie dink nie.

Beide jonk en oud wil dus hier bly, maar hulle uiter terselfdertyd ’n noodkreet dat hulle vreemd voel in hul eie land.

Die werklikheid is dat ’n groot groep vervreemd voel, maar net ’n klein persentasie het die vaardighede en finansiële vermoë om regtig te kan gly. Daar is egter weer onrustigheid onder vaardiges en dit lyk asof daar weer selfs ’n toename in emigrasie is.

Baie van die res emigreer denkbeeldig en probeer die slegte nuus ontvlug. Hulle vlieg nie, maar voel net lus om te vlug.

In 2020 gaan sowat 0,7% van Afrikaners emigreer. Dit beteken dat 99,3% net hier gaan bly.

Volgens die Solidariteit Navorsingsinstituut kry Afrikaners egter ook weer meer kinders. Die aantal kindertjies wat gebore word, troef steeds dié wat emigreer.

Hier is dus baie Afrikaners wat nog vir baie lank hier gaan bly. Hulle is bekommerd, maar as hulle kan, sal hulle hier wil bly.

Baie, waarskynlik verreweg die meeste, wil hier bly, want dit is hul plek; hulle praat hul taal hier, hul identiteit is hier, geslagte se geskiedenis is hier en hul mense is hier. Hulle het grond waarvoor hulle hier hard gewerk het. Hulle hou van die natuur, om in Afrikaans te kan bid, die Afrikaanse sêgoed en ’n Afrikaanse manier van doen, leef en werk. Ons plek is hier, voel hulle. Dit feit dat daar so roekeloos met die plek omgegaan word en dat hulle in hul eie plek geboelie word, maak hulle woedend.

Ten spyte van alles gaan verreweg die meeste van ons net hier bly. Ons mag maar kwaad wees, kla en baklei, maar ons kan nie moedeloos wees en oorgee nie.

Ons het dus net een alternatief en dit is om die toekoms trompop te loop. Om geen alternatief te hê nie is ’n kragtige politieke wapen.

Volgens die Solidariteit-opname is misdaad en werk die twee groot redes waarom mense emigreer. AfriForum is besig om met nuwe tegnologie en uit die gemeenskap ongelooflike oplossings vir misdaad te ontwikkel.

Tydens Solidariteit se Nasionale Kongres is ’n omvattende Solidariteit NetWerk aangekondig om die uitdagings aangaande werk aan te pak. In die volgende vyf jaar gaan R4,5 miljard aan die reuse-NetWerk van werk bestee word. Dit is die krag van die gemeenskap.

Jy kan as individu emigreer, maar jy het die gemeenskap nodig om hier te bly.

Die doel van die Solidariteit NetWerk is nie net om oplossings ten opsigte van werk te vind nie, maar ook om vir die volgende geslag ’n toekoms te skep waarbinne hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Ons wil die voorwaardes skep vir die jong geslag om hier te kan bly en te kan werk.

Klaus Schwab, voorsitter van die Wêreld Ekonomiese Forum, het die wêreld aan die praat met sy boek The Fourth Industrial Revolution. Die sentrale tema van die boek is dat ons ’n toekoms van ontwrigtende kennis betree. Daar kom nuwe antwoorde vir probleme wat onoorkombaar lyk.

Enkele jare gelede was dit algemeen aanvaar dat privaat onderwys net vir die elite is. Ons is dus uitgelewer aan openbare onderwys en die staat se verknogtheid aan ideologie. Daar is volgens hierdie logika geen langtermyntoekoms vir Afrikaanse onderwys nie; skole gaan Engels word en gaan die staatsideologie, met al die waardes daarmee saam, omhels.

Ontwrigtende kennis het tot gevolg dat ’n span jong, briljante opvoedkundiges en spesialiste op die gebied van nuwe tegnologie op hierdie oomblik by Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum sit en ’n Afrikaanse, wêreldklas, bekostigbare, alternatiewe skoolstelsel ontwikkel. Uit die energie van “ons het nie ’n alternatief nie” word ’n skoolstelsel ontwikkel wat beter is en met die bestes ter wêreld vergelyk. Wêreldklasonderwys is die kernbousteen vir ’n goeie werk.

Uit die energie van “ons het nie ’n alternatief nie” is Akademia gebore met nuwe tegnologie wat vir die eerste keer deur Akademia in hoër onderwys gebruik is. Die einde van Afrikaans op universiteite is letterlik deur nuwe tegnologie ontwrig. Nou word daar fluks planne gemaak vir ’n nuwe kampus, koshuise en sportvelde.

Vanuit hierdie energie het Solidariteit nuwe diensmetodes ontwikkel; beroepsgildes word nou in elke beroep gestig waarbinne mense geborge kan voel. Met nuwe tegnologie word voortgesette opleiding deur Solidariteit se nuwe maatskappy, S-Leer, aangebied.

Solidariteit het ’n totale netwerk van werk gevestig. Deur ’n nuwe sagtewareprogram gaan ontwrigtende kennis gebruik word om saam met die deelnemers aan die Solidariteit NetWerk op hul hele loopbaanpad te stap. Op dié pad wil die Solidariteit Netwerk mense toerus en veilig en geborge laat voel.

Omdat ons nie ’n alternatief het nie, ontwikkel ons iets wat die vakbondwese nog nie gesien het nie. Ons maak ’n skuif van ’n vakbond na ’n totale netwerk van werk. Deur die Solidariteit NetWerk stel ons mense in staat om te kan werk, beskerm ons hulle in die werk, en help ons hulle om te vorder in hul werk.

Die Solidariteit NetWerk is ’n harde politieke boodskap dat ons nêrens heen gaan nie.

Ontwrigtende kennis is kragtig. Dit is ’n golf wat nie eens deur ’n staat wat al hoe meer wil sentraliseer, gekeer kan word nie. Dit bring nie net antwoorde vir werk nie, maar vir talle terreine waarvan die probleme onoorkomelik lyk.

Die Solidariteit Netwerk loop die toekoms trompop vir ons wat net hier bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gert ·

Baie dankie, julle gee ons hoop.
Laat my dink aan ‘n video wat ons jare terug oor Afrikaans gesien het by die skool, sy naam was “Doodkry is min”

Charles ·

Baie dankie Herman – ons almal staan bankvas agter julle, Solidariteit en wat die Afrikaner hier uitgerig kry daarmee is ‘n wonderwerk asook al julle ander inisiatiewe wat die kommunistiese ANC se ideologie fnuik!

Ik ben een Africaander!!!

piet piet ·

Ons eerste prioriteit is om die speelvak gelyk te kry en al hoe jy dit kan vermag is om aan te dring dat die regering diskriminerende wette skrap dit moet n probleem raak deur interne sowel as internasionale druk na 25 jaar se omgekeerde apartheid sal die regering moet ingee.

kolla ·

Nee wat, die klaery gaan nie werk nie. Dis nou tyd om met nuwe projekte vooruit te gaan.

Dirk ·

Die Solidariteit netwerk gaan beter moet presteer om veilige werksomgewings te vestig as wat tans die geval is met plaasbeveiliging. Dit help nie veel om mooi ideale te koester indien jy nie eers n veilige omgewing kan skep nie. Die vertrekpunt moet veiligheid eerste wees en veiligheid gewaarborg, anders gaan dit net soos plaasbeveiliging misluk! CR het nie verniet in sy inhuldigingstoespraak klem gele op “there shall be no privelage”! Net soos daar n aanslag op plaasbeveiliging is sal daar n aanslag op Solidarteit netwerk wees. Virseker tog hierdie keer dat julle eers gebeurlikheidsplanne in plek stel vir enige misdadige, geweldadige gebeurlikhede! Na twee duisend plus witkruise het julle darem seker teen die tyd al iets wys geword mbt veiligheid!

Dieter ·

Ander mense kan jou tog seker net onwelkom laat voel indien jy hulle dit toelaat?
Dieselfde geld vir skuldgevoelens.
Ek het nog nooit onwelkom of skuldig gevoel nie.

Dirk ·

Jou boodskap dat die Afrikaner nerens heen gaan nie is n uitdaging vir die ANC/eff net soos Afriforum se boodskap n uitdaging was en steeds is oor plaasveiligheid. Virseker dat Solidariteit Netwerk binne n veilige werksomgewing kan geskied anders is dit ook n doodgebore paralelle struktuur!

Dries du Toit ·

Maak dit n prioriteit om die Verenigde Nasies op hoogte te hou van die ongeregtighede teen die minderhede

Wilhelm Schack ·

Omdat ek in Afrika gebore is en hier sal bly tot ek omval (en dan is ek nog steeds hier, net ‘n trappie laer af buite bereik van die son), praat ek ‘n Afrikataal, MY en ONS Afrikaans. Op 6-jarige ouderdom is my duitsprekende pa oorlede (hy was ‘n rou duitser). Ons Afrikaanse ma van Boshof in die Vrystaat het ons tweetalig grootgemaak. Engels het ek uit noodweer moes leer. Dis hoekom ek nou vir julle ‘n stukkie Duitse wysheid kan opdis: “Wer will is still! Wem heimlich vor dem Ernste graut, wird ueberlaut”. Overgesetsynde: ‘Wie wil, is stil! Net wie heimelik bang is vir die erns (van die situasie) word luidrugtig’. Ek het agtergekom dat hoe meer ons ernstig wil lyk oor die voortbestaan van ons taal en kultuur, hoe deurdringender word die getjank van die keffertjies wat ons haakskene wil byt. (hier slaan nou sommer ook ‘n stukkie dieresielkunde deur, hoe stop jy die stormende olifant en die weifelende leeu). Ek hou nie van die keffertjiedans nie, en sou my doodskaam om gesien te word dit te doen. Kom ons wees net stil en DOEN ons ding. Niks is so intimiderend vir ‘n opponent as die stil vuur in jou oog nie. Rotsvas, vierkantig en ‘n barshou!

lewies ·

Voorwaar vreemde konsepte veral vir onderwysers wat volgens ‘n spesifieke onderwys-filosofie opgelei is. Onderwys was altyd gesien as die moederberoep, omdat die verhoudingstrukture in opvoeding juis daarop ingestel was om opvoedende onderwys aan die volwasse wordende kind te gee. Ek is van oordeel dat die vestiging van weerbaarheidsbeginsels belanriker as ooit te vore gaan word. Die bloodstelling en beheer oor ‘n oordrewe klem op tegnologie sal baie, baie goed nagevors moet word, veral wanneer die jonger kind tersprake kom. Onderwys en opleiding bly ‘n kultuuropdrag en mag nie as ‘n oorlewingstryd gesien word nie. Die reels wat vir laasgenoemde geld is revolusiner en self-vernietigend.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.