Om konings Dingane én Mpande te onthou

Op 6 Februarie 1838, vandag 185 jaar gelede, word Piet Retief en sy hele geselskap wreed in opdrag van koning Dingane kaSenzangakhona vermoor.

’n Paneel van die historiese fries van koning Dingane en Piet Retief by die Voortrekkermonument. (Foto verskaf)

Dít slegs twee dae na die ondertekening van die historiese grondooreenkoms tussen die Zoeloes en die Voortrekkers waarvolgens die grond tussen die Mzimvubu-rivier in die suide en die Tugelarivier in die noorde deur koning Dingane aan die Voortrekkers afgestaan word.

(Ons weet uit die werk van Vusamazulu Credo Mutwa dat die moord op Piet Retief en sy geselskap bes moontlik toegeskryf kan word aan Halstead se onbehoorlike afloerdery van koning Dingane se vroue, ʼn oortreding wat volgens Zoeloe-gebruike die doodstraf verdien het. Halstead se optrede het die bygelowige Zoeloes oortuig dat die Voortrekkers bose bybedoelings het, wat tot die moorde op die Voortrekkers bygedra het.)

Die Voortrekkers wat in verspreide groepies aan die Tugelarivier en sy sytakke gestaan het word op 17 Februarie deur ʼn Zoeloe-mag aangeval, groot lewensverlies is die gevolg.

ʼn Eerste militêre ekspedisie teen koning Dingane misluk tydens die Slag van Italeni op 9 April 1838, waartydens die bekende kinderheld, Dirkie Uys, langs sy vader Piet Uys sterf. Maande van angs volg, waartydens die laers weer aangeval word, maar daarin geslaag word om die aanvalle af te weer. Ná al die verlies en smart vind die baie bekende Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 plaas waar die Voortrekkers deur die genade van die Here as oorwinnaars uit die stryd tree.

Dié geskiedenis is aan baie Afrikaners goed bekend. Die werklikheid is egter dat dit in die meeste gevalle die somtotaal van die geskiedeniskennis van Afrikaners oor Afrikaner-Zoeloe-verhoudinge is. Wanneer Afrikaners vandag met ander kultuurgemeenskappe saamwerk, is daar telkens stemme wat opgaan: “Onthou vir Retief en Dingaan!”

As ons met onsself eerlik is, sal ons erken dat Afrikaners nog nie die trauma van die moord op die Retief-geselskap en die Bloukransmoorde verwerk het nie. Een van die redes hiervoor is dat Afrikaners se geskiedeniskennis van gebeure ná 16 Desember 1838 uiters beperk of totaal afwesig is. Ons moet onsself vra waarom dit so is, waarom het ons nie (veral op skool) geleer van die gebeure ná die Slag van Bloedrivier nie?

Ná 16 Desember 1838

Koning Dingane beveel sy krygers om Boeregesante te vermoor (Foto: Suid-Afrikaanse Geskiedenis in Beeld (1989) deur Anthony Preston)

Daar is verskeie gebeurtenisse na 16 Desember 1838 waarvan Afrikaners (en Zoeloes) behoort kennis te neem wanneer daar nagedink word oor die verlede, die hede, maar veral ook die toekoms van Afrikaner-Zoeloe-verhoudinge.

Die Slag aan die Wit-Mfolozi

Op 27 Desember 1838 (slegs 11 dae na die Slag van Bloedrivier) is ʼn Voortrekkerkommando van 340 manskappe in die Wit-Mfoloziriviervallei in ʼn Zoeloe-hinderlaag gelei wat in ʼn hewige geveg ontaard het, wat vir bykans die hele dag aangehou het. Die Voortrekkers het met lewensverlies vegtend teruggeval en die slag was ongetwyfeld ook ʼn morele oorwinning vir die Zoeloes. Dit het Andries Pretorius laat besef dat koning Dingane se mag nie gebreek was nie.

Prins Mpande kaSenzangakhona

Prins Mpande kaSenzangakhona, halfbroer van konings Dingane en Shaka, het in 1839 met sy volgelinge oor die Tugelarivier gevlug. In Oktober 1839 het daar ʼn gesprek tussen prins Mpande kaSenzangakhona en die Volksraad van die Republiek Natalia plaasgevind. Uittreksels uit die gesprek tussen die Volksraad en prins Mpande het vir ons behoue gebly (vry vertaal):

Volksraad: Waarom wil u nie saam met Dingane trek nie?

Prins Mpande: Omdat ek gehoor het dat die wit mense vrede met ons wil hê. En waarom sou ek my deur ʼn skelm laat vermoor, of saam met hom op die vlug slaan?

En:

Volksraad: Indien jy die wit mense nie by die rivier ontmoet het nie, sou jy [die rivier] dus oorgesteek het?

Prins Mpande: Ja, ek was besig om te trek, en ek sou [die rivier] dus oorgesteek het.

Volksraad: Weet jy dan nie dat die ooreenkoms bepaal dat geen Zoeloe aan hierdie kant van die Tugela mag kom nie?

Prins Mpande: Ja, maar wat sal ʼn mens tog nie doen nie as hy die gevaar loop om sy lewe te verloor?

Volksraad: Mpande! Vandag is die dag waarop jy die waarheid moet praat!

Prins Mpande: Ja, daarom het ek hierheen gekom om self met u te praat. Ek wil my hart voor u ontbloot.

Volksraad: As Dingane nou soos jy opgetree het en sy hoofkapteins na ons gestuur het, sou die oorlog reeds verby gewees het.

Prins Mpande: U sien dus dat ek self gekom het en dus meer opreg optree as Dingane. Ek wil graag u vriend wees en myself aan u onderwerp.

Volksraad: Wat verlang jy nou van ons?

Prins Mpande: Omdat u my die vryheid gun om te praat, wil ek u graag ʼn versoek rig om die stuk grond tussen die Umhlali[-] en Mvoti[rivier] [te verkry].

Prins Mpande se versoek om tydelike vestiging is toegestaan:

Ná hierdie onderhoud is aan hom belowe dat die land waarom hy versoek het vir so ʼn lang tydperk aan hom toegestaan sal word tot [die tyd aanbreek] dat hy gerus en veilig aan die ander kant van die Tugela sal kan woon; dat hy altyd op die beskerming van die Boere sal kan staatmaak solank hy hom as ʼn vriend en troue bondgenoot gedra.

Koning van die Zoeloenasie, Mpande (Foto: Wikipedia)

Koning Dingane verslaan en prins Mpande tot koning gesalf

ʼn Militêre mag van prins Mpande kaSenzangakhona, onder bevel van Nongalaza KaNondela, het die mag van koning Dingane in Januarie 1840 verslaan, sonder dat die Voortrekkers daarby betrokke was. Prins Mpande is op 10 Februarie 1840 tot koning van die Zoeloes gesalf. Pretorius en Mpande se toesprake tydens die seremonie het vir ons behoue gebly. Pretorius het onder andere die volgende gesê (vry vertaal):

“Ek is ook gelas om u as ons bondgenoot aan te neem, en u vyande as ons vyande te behandel; u sal niemand sonder ons voorafkennis mag aanval nie, en ons sal u by alle geleenthede help om u vyande neer te vel. Ek moet my grootste tevredenheid, nogmaals vir die trou en dapperheid van u volk herhaal.”

Koning Mpande wat “van sy kop tot sy voete met glorieryke blydskap vervul was” antwoord soos volg (vry vertaal):

“My grote heer, ek dank u hartlik vir die openhartige uitspraak van opregtheid teenoor my en my volk. Ek dank u dat ek tans van die berugte tirannie, onder wie ek jare as ʼn verstoteling geleef het, deur u verlos is.

Ek kan u, en die hele regering van die witmense, by alles wat bestaan, my voortdurende trou, plegtig belowe; wanneer enige nasie of volk u ooit iets ten nadele wil aandoen, kan u dit slegs aan my bekend maak, en u kan reken daarop dat ek dadelik met my hele mag u te hulp sal snel, en my laaste man vir u in die stryd opoffer; want, ek was dood, en u het my weer lewendig gemaak, ek was verworpe, en u het my weer opgetel; so het ek my ganse geluk en welvaart aan u te danke.”

Koning Dingane se skuld deur anneksasie vereffen

Op 14 Februarie 1840 het Andries Pretorius die anneksasie van die gebied tussen die Tugela- en Swart-Umfolozirivier geproklameer om verliese van die Voortrekkers en die skuld van die veldtogte teen koning Dingane te vereffen. Daar was ook later vreedsame onderhandelinge oor grond tussen koning Mpande en die Voortrekkers waar die kortstondige Kliprivier Republiek en die latere Republiek Utrecht gevestig is.

Vir vandag

Wanneer ons dus in die Voortrekkermonument staan en ons oë van links na regs beweeg verby die onderhandelingstafel van koning Dingane en Piet Retief, oor die moordtonele, die oorwinning van Bloedrivier en die Geloftekerk, moet ons aanhou kyk – en ook die vries van koning Mpande en Andries Pretorius, wat as bondgenote langs mekaar staan, raaksien.

Dié mooi en goeie beeld uit die verlede kan ons dan neem, ʼn toekomsideaal vorm en werk om dit te verwesenlik.

Die vries van koning Mpande en Andries Pretorius, wat as bondgenote langs mekaar staan (Foto: Verskaf)

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Baie interessant en weereens ‘n bewys dat ‘n muntstuk twee kante het ,maar nou wil ons aanbeweeg maar weens die rassistiese regering met hulle ras malheid en wette gebaseer op velkleur kan ons nie.

Miena ·

Nou wonder ek net – is daardie storie of gebeure dan nie van geslag na geslag oorgedra en oorvertel nie? Hoekom weet vandag se Zoeloes nie van die gebeure nie? Is hulle regtig so negatief ge-indoktrineerd dat hulle nie die stuk geskiedenis wil aanvaar, beleef of erken nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.