Onlangse gebeure bevestig vryheidstrewe in talle lande

’n Vrou laat haar dogter toe om haar stembriefie in die stembus te gooi tydens die Katalaanse streeksverkiesing by ’n stemlokaal in Barcelona, Spanje. (Foto: Santi Palacios, AP)

’n Hele aantal gebeure oor die wêreld heen die afgelope maand of wat, het weer bevestig dat die strewe na selfbeskikking nie maklik geblus word nie. Terwyl die meeste regerings met onrustige minderhede en internasionale instellings soos die Europese Unie die vlam van vryheid probeer blus, is daar heelwat aanduidings dat in plekke soos Skotland, Katalonië, Bosnië en Suid-Tirool selfbeskikkingsbewegings steeds baie sterk is.

In Skotland is daar toenemend stemme wat opgaan vir ’n tweede onafhanklikheidsreferendum. ’n Onlangse onafhanklikheidsoptog in Edinburg het baie meer mense as verwag gelok en by die Skotse Nasionale Party se pas afgelope konferensie was daar ook ’n sterk gevoel dat Skotte weer ’n kans moet kry om oor onafhanklikheid te stem. Die huidige Brexit-krisis en die chaos in Theresa May se regering, gee momentum aan die onafhanklikheidsbeweging in Skotland.

In België is doodkry min vir die Vlaamse vryheidsbeweging. Terwyl die regse Vlaams Belang ’n paar jaar gelede byna uitgewis is, het die party in Sondag se munisipale verkiesings ’n sterk groei in steun beleef. Daarmee saam ook die nasionalistiese, maar meer gematigde Nuwe Vlaamse Alliansie het meer as 50% van kiesers in talle Vlaamse munisipaliteite vir partye wat ten gunste van ’n onafhanklike Vlaandere is, gestem. Waar die slagspreuk, België Bars! ’n paar jaar gelede byna uitgedoof is, het die naweek se verkiesing gewys dat die vryheidstrewe in Vlaandere steeds lewendig is.

In Suid-Tirool, die semi-outonome Duitssprekende provinsie in die noorde van Italië, vind daar eerskomende Sondag ’n streeksverkiesing plaas en alle aanduidings is dat pro-onafhanklikheidspartye weer goed gaan doen.

Bosnië-Herzegowina is ’n baie interessante land in die Balkan in Oos-Europa. Dit is ’n oorblyfsel van die opbreek van Joego-Slawië in 1991 en bestaan uit drie etnisiteite naamlik Bosniërs, Serwiërs en Kroate. Die drie groepe is ook onderskeidelik Moslems, Ortodokse Christene en Katolieke. Sedert 1991 het dit duidelik geword dat hierdie drie groepe onversoenbaar binne een land is. Tydens verkiesings, verkies die burgers van Bosnië drie presidente uit die drie bevolkingsgroepe wat dan elkeen ’n twee jaar termyn dien. Tydens die onlangse verkiesing op 7 Oktober het die Serwiese bevolking van Bosnië vir Milorad Dodik as hul president verkies. Dodik is uitgesproke ten gunste van die losbreek van die Serwiese deel van Bosnië.

Terwyl die vryheidsbeweging in Katalonië na verlede jaar se onafhanklikheidsreferendum ernstig onderdruk is, is dit duidelik dat die beweging weer hergroepeer en gereed maak om die stryd om vryheid van Spanje voort te sit. Tydens die onlangse eenjaarherdenking van die onafhanklikheidsreferendum het duisende Katalane weer aan openbare betogings deelgeneem.

Ook in lande in Afrika, Suid-Amerika en die Midde-Ooste is daar verskeie selfbeskikkingsbewegings aan die werk. Hoewel daar min rede is om te glo dat Skotland, Katalonië, Suid-Tirool of die Serwiese Republiek van Srpska in Bosnië-Herzegowina binnekort onafhanklik gaan word, is dit duidelik dat selfbeskikking in ’n globalistiese wêreld nie minder belangrik raak nie, maar dat die uitdagings wat globalisme skep, juis tot die opkoms van meer selfbeskikkingsbewegings aanleiding gee.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Willem ·

Jerry en jou oplossing is seker om te versoen met jou lot.

Hendrik ·

Jaco, Sebastiaan, FrancoisvRvO en ander wat die selfbeskikking orreltjie draai (met respek) weet dat die enigste manier is, om soos die Groot Trek van ouds, fisies in te spring en die selfstandige dorpies self te ontwikkel. Dit gaan lei tot selfbeskikking want die S.A politieke toestand moet nog deur die afrika siklus gaan . Afrika siklus soos ondervind deur Zim, en die res. Intussen moet ons enklawes gebou en bewerk word want niks is verewig nie.

humor ·

Hier is nou geen humor in nie. Die wat meen selfbeskikking sal soos n ryp appel in ons skote val sal eenvoudig moet besef om selfbeskikking te bekom sal baie harde werk, swaarkry , armoede en tye van vernedering, en baie onbillike teenstand kom. Maar dit moet ten alle koste, want dit is al manier hoe ons weer vry kan wees en LEEF.

Jerry ·

Ek versoen myself met die idee dat “soort soek soort”. Dit is veral in tye van nood en wanneer die mens se oorlewingsdrang begin inskop dat mense outomaties saam groepeer teen n gemeenskaplike bedreiging of vyand. Die voorbeelde in die skrywe van selfbeskikking oorsee het almal dit in gemeen dat mense eers groepeer en dan selfbeskikking bewerkstellig. In SA word dit anders gedoen. Hier is dit eers selfbeskikking met n verskuilde agenda om mense uiteindelik met geen ander keuse te laat as om te groepeer en laer te trek. Die ANC staat is bewus hiervan en sal hierdie weerstandsagenda met meer dinamiese wetgewing teenstaan wat groepering en oorlewing byna onmoontlik gaan maak. Ons het reeds wetgewing vir regstellende aksie, wetgewing teen wit rassisme en nou gaan wetgewing volg wat wit noodweer of selfverdediging met n vuurwapen onwettig maak. Al hoe meer wetgewing wat ons lewe ondraaglik gaan maak gaan die lig begin sien. Omdat ons nie wou versoen met ons lot nie gaan ons gedwing word om te versoen met ons lot. Dit is nie ek wat so se nie, dit is die feite en die realiteit wat dit vir my wys. Ek kan dit sien, ruik, proe en voel daarom het ek gese ons moet of versoen en saam met die stroom swem of as ons besluit om teen die stroom te swem moet ons voorberei vir oorlog! Enige iets anders sal n mors van kosbare tyd wees en op die ou einde heeltemal nutteloos wees. So is dit!

Saamstaan ·

Is daar al pogings van selfbeskikkingsgroepe oor die wereld om met mekaar saam te werk?

Santie ·

Sover ek weet, woon die lede van al die groepe waarna die artikel verwys, reeds bymekaar en het hulle dieselfde taal en godsdiens. In baie gevalle, soos in Vlaandere, is dit ‘n beweging na regs weens die probleme wat migrante veroorsaak. Maar daar is nog nêrens ‘n land waar die migrante die meerderheid is nie, sekere stede het wel al migrante as stadsraadslede. Die minderheid in SA, sover ek tans kan sien, kan slegs “trek” na die sentra wat AfriForum onlangs uitgelig het, waar hulle dan groter getalle is om sekere privaat dienste te kan bied as die regering dit nie doen nie. Maar ek kan nie sien dat dit rasse kan uitsluit nie, dit kan slegs op “kultuur” fokus, bv. Afrikaanse skool, Christelike Kerk, en ‘n sekere “soort” mens wat bv. deur die huispryse gelok of uitgeskakel word. Dit kan ook net in “ou” buurte gebeur, want die regering probeer selfs dit uitskakel deur in nuwe buurte ontwikkelaars te dwing om goedkoop en duur behuising deurmekaar te bou. Ons sal moet slim en skelm raak en ophou om ons klagtes en planne uit te blaker. Kyk maar hoe stilweg kry AfriForum-takke hulp met selfbeveiliging. Maar om in die openbaar te staan en kerm oor bevooroordeelde polisie en howe bereik niks. Dis soos dit is, dit gaan nie verander nie.

jaco ·

die minderhede in skotland en katalonië het NIKS om oor weg te breek nie. Hulle lande is SONDER die volgende:
-beurtkrag
-grootskaalse korrupsie
-swak lae standaard onderwys
-vuil en swak staatshospitale
-plakkerskampe
-40% werkloosheid
-misdaad om elke hoek en draai
-regstellende aksie
-plaasaanvalle en plaasmoorde
Die paar ou diskriminerende goedjies waaroor hulle kla, as seker minder as ‘n tiende van 1% van die nonsens wat in SA aan die gang is.

skollie ·

Groot verskil tussen die selfbeskikkingsidee oorsee en díe van verregse rassiste in SA wat hul wil afsonder van die bree samelewing grootliks op grond van die kleur van hul vel en ‘n meerderwaardigheidsgevoel teenoor mense van ander rasse.

Keuses ·

Nee skollie hou op om na Julius Malema te luister. Die minderheid wil maar net n kans hê op oorlewing…dis al. Blankes word niks gegun nie. Ons moet maar na onself begin kyk. En asb. kry bietjie meer selfrespek. Dis nie blankes wat n meerderwaardigheidsgevoel het nie. Breek joyself los van jou minderwaardigheidsgevoel. Dit sal wondere vir jou siel doen. Jy kan!!

Joe Hall ·

Wonderlike raad wat jy vir ou skollie gee Keuses!
Vasbyt skollie!!!
Raak ontslae van daai gevoelentes wat soveel onnodige swaarkry vir jou en jou siel veroorsaak.

Rasper ·

Die beste wat met Suid-Afrika kan gebeur is dat hy opbreuk in verskillende dele. Die Afrikaner kan dan na die streek trek waar hy voel hy die beste gaan inpas. Dit is snaaks dat die mense so teen die Afrikaner uittrek omdat hy sy kultuur wil beskerm. Het hulle al ooit die moeite gedoen om met ‘n Zulu te sit en gesels? Weet hulle dat ‘n Zulu, eerste ‘n Zulu is, voor hy ‘n Suid-Afrikaner is? Maar dit is seker lekker om vanaf ‘n troon te besluit wat is die beste vir ander mense. (Verwys hier na ‘n dame se mening in News24). Net so min as wat Sotho’s, Venda’s en ander in die verlede onder die Afrikaner se invloed wou leef, net so min wil ons onder hulle invloed leef. ‘n Mens sal seker lank kan debatteer of hulle werklik beter af is na 1994… Ek weet ons is nie beter af nie. Of FW de Klerk nou ‘n oorlog gekeer het of nie. Nie net bly ons in ‘n land erger as ‘n oorlog sone nie, (58 moorde/dag), betaal ons af aan ‘n “skuld” met ‘n onbepaalde leningstermyn. Sien SEB, RA, Kwotas. Kan enige iemand ons kwalik neem dat onafhanklike in verskillende vorms deesdae deel word van die Afrikaner se besprekingspunte?

John ·

Net jammer hierdie denkwyses was nie 25 jaar gelede geopper nie. Die groot aanval teen die Afrikaner is gerig teen sy kultuur deur groepe wat juis hul eie identiteit probeer afse… selfs hul fisiese voorkoms verwerp. Interessant dat diegene dan die Westerse kultuur hulle eie maak. Iets is verkeerd as ‘n Westeling dit doen/ is, maar aanvaarbaar as diegene met ander ingebore vermoens dit oorneem/verbeeld. Vreemd. Noem mens dit nie manipulerende dominasie nie? As jy minderwaardig voel tov ander se doen en late, kan jy nie daardie mense daarvan beskuldig dat hulle meerwaardig voel nie… Dis hoekom ons wiskunde leer; om dit buite die skool toe te pas. x = y. Bewys dit asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.