Ons onderkry is min, ons is Pretoria FM

Pretoria FM vier vandeesweek sy 30ste bestaansjaar. Willie Spies, uitvoerende hoof van die radiostasie, vertel meer van die groeipyne en -genot waardeur die stasie sedert sy stigting gegaan het.

(Argieffoto)

Die eerste 15 jaar van die bestaan van Pretoria FM was ʼn tydperk van epiese regstryde waarin die radiostasie telkemale moes teruggaan na die howe om sy reg om uit te saai. Die radio was in die tyd verskeie kere in die hooggeregshof, twee maal in die Konstitusionele Hof en twee maal in die appèlhof, waar die belangrikste stryd in 2007 en 2008 gewen is.

Na die afhandeling van die epiese regstryd in 2008 en die uitreik van ʼn permanente lisensie vir die groter Pretoria gebied, het die stasie aan die vooraand gestaan van ʼn nuwe hoofstuk in sy bestaan.

Die jarelange regstryd het groot publieke simpatie gewek en die radiostasie is finansieel gedra deur moeilike tye, danksy die simpatie van duisende luisteraars wat vier maal ʼn jaar die Vasbyt-insamelings gesteun het. Na die gewonne regstryd, het dit duidelik geraak dat daardie stroom van energieke simpatieke steun, geleidelik kleiner sou raak.

Die uitdaging van die direksie en bestuur sou raak om die stasie volgens normale sakebeginsels op ʼn volhoubare finansiële basis van voortbestaan te plaas.

Kort na sy aftrede as ʼn regter van die hooggeregshof van Suid-Afrika, het regter Johan Smit ʼn uitnodiging aanvaar om betrokke te raak by die direksie van Pretoria FM.

Regter Smit het later geskryf dat hy uit ʼn deurlees van die finansiële state van die stasie vroeg in 2011, besef het dat die stasie homself voor ʼn nuwe bestaanskrisis bevind het.

Die bestaanskrisis was nie meer een van ʼn vyandige owerheid wat die stasie wou toemaak nie, maar die wrede ekonomiese werklikheid van dalende inkomste en stygende uitgawes asook die praktiese realiteit van ʼn ouer-wordende bestuurspan wat die stasie vir die eerste 18 jaar van sy bestaan gelei het en die gebrek aan ʼn volgende geslag.

Die stasie se personeel het ʼn baie oneweredige ouderdomsverspreiding gehad. Op daardie stadium was ongeveer een helfte van die personeel- en bestuurskorps reeds ouer as 65 jaar en die ander helfte was jongmense in hulle vroeë 20’s.

Die personeelomset van jong personeellede was ook baie hoog en verskeie jong omroepers het by die stasie begin werk vir ʼn jaar of twee, net om dan opgeraap te word deur groot nasionale uitsaaiers soos eTV en die SAUK of selfs deur politieke partye en ander korporasies as kommunikasiebeamptes.

Salarisse was klein en daar was geen pensioen-, mediese- of ongeskiktheidsvoordele vir personeel nie.

Dit het ʼn vakuum laat ontstaan van ervare middel-bestuursvlak personeel wat die kern sou moes vorm van die voortsetting van die stasie op ʼn volhoubare basis. Met ʼn immerveranderende junior span en ʼn ouer-wordende senior span van 68 jaar en ouer was die stasie se volhoubaarheid onmoontlik.

Iets sou gedoen moes word om die stasie van hierdie onvolhoubare realiteit af weg te stuur.

Regter Smit het sy bekommernis met die direksie gedeel en daar is besluit om aan te klop by die Solidariteit Beweging met die oog op die ontwikkeling van ʼn groei-, ontwikkelings- en volhoubaarheidsplan vir die stasie.

As regsman was Smit deur die direksie getaak om uit te reik na die besluitnemers van die Solidariteit Beweging. Hy het later vertel dat hy juis as regsman geleer het dat as jy iemand wil kontak, dan kontak jy sy prokureur. So het die afgetrede regter van die hooggeregshof, as gesant van die direksie van Radio Pretoria in die eerste helfte van 2011 ʼn telefoonoproep gemaak na Willie Spies, ʼn prokureur wat beide Solidariteit en AfriForum as kliënt verteenwoordig, om ʼn gesprek aan die gang te sit met Flip Buys van die Solidariteit Beweging en sy span.

Die aanvanklike gesprekke tussen regter Smit, Willie Spies en Flip Buys is opgevolg met verdere gesprekke tussen ampsdraers van die Solidariteit Beweging en ʼn implementeringskomitee wat deur die direksie van Radio Pretoria gevorm is om oor ʼn groei- en ontwikkelingsplan te beraadslaag.

Na die uittrede van mnr. Clem de Clerk as uitvoerende hoof van die stasie in 2011, is die bestuurskrisis behoorlik op ʼn spits gedryf.

Daar is ooreengekom dat die Solidariteit Beweging vir ʼn tydperk van drie maande ʼn tussentydse uitvoerende hoof vir Radio Pretoria sou befonds. Die werk van die tussentydse uitvoerende hoof sou wees om die stasie te bestuur, ʼn nuwe bestuurspan te vind en te ontwikkel, ʼn sake- en volhoubaarheidsplan vir die stasie te finaliseer en die stasie op ʼn volhoubare basis te plaas.

Dit sou sy onbegonne taak wees om binne drie maande ʼn uitvoerende hoof, ʼn stasiebestuurder en ʼn bemarkingsbestuurder vir die stasie te vind om die bestuursvakuum te oorkom.

Die drie maande van Willie Spies se deeltydse betrokkenheid het ses maande geword, die ses maande het ʼn jaar geword en uiteindelik is Willie Spies steeds na 12 jaar betrokke as uitvoerende voorsitter van die direksie van die stasie.

Die groei- en ontwikkelingsplan het in die volgende 12 jaar op die volgende mylpale uitgeloop.

1. As eerste stap is ʼn konsultasieproses met personeel, luisteraars en adverteerders van stapel gestuur om behoeftes te bepaal en leemtes te identifiseer;

2. ʼn Bedrag van R100 000 wat deur die Solidariteit Beweging bewillig is, is gebruik om die klankgehalte van uitsendings te verbeter deur die installering van klankverwerkingstoerusting wat die mono-klank van uitsendings veredel het tot ʼn dieper stereo-klank;

3. Die 45-minute voorafopgeneemde aktualiteitsprogram Volksmikrofoon is omskep in ʼn regstreekse uurlange polsende nuusprogram met regstreekse onderhoude en publieke deelname;

4. Die uitsaaiskedule van die stasie is gestandaardiseer in ooreenstemming met internasionale beste praktyke, met die instel van horisontale programmering wat beteken dat dieselfde persoon elke weeksdag in die dieselfde tydgleuf as gasheer of gasvrou opgetree het;

5. Die uurlange Volksmikrofoon is uitgebrei tot ʼn omvattende nuus-en aktualiteitsaanbod onder die sambreelnaam Klankkoerant met ʼn oggend-uitgawe, ʼn etensuur-uitgawe en ʼn laatmiddag-uitgawe;

6. Die bestuurspan is geleidelik uitgebrei, aanvanklik met Fred Maree as stasiebestuurder en Corrie Pretorius en Marianne Breytenbach as sy adjunkte. Later is Sarel du Plessis as ʼn bestuurskonsultant betrek en Sarel sou ʼn bepalende rol in die volgende mylpaal, naamlik die insluiting van die stasie op DSTV se oudio-boeket onder die nou reeds bekende kanaal 887, gedurende Junie 2013;

7. ʼn Nuwe regsuitdaging moes afgeweer word: ICASA het laat in 2012 kennis gegee dat die agt herleistasies in Pietersburg, Tzaneen, Thabazimbi, Naboomspruit, Koster, Brits, Greylingstad en Newcastle nie gelisensieer was nie en moes afskakel. ʼn Hofsaak het gevolg en alhoewel die hofsaak aanvanklik verloor is, is die tafel steeds gedek vir ʼn onderhandelingsproses met ICASA wat daartoe gelei het dat lisensies vir hierdie senders in April 2015 uitgereik is;

8. In Julie 2015 is die agt herleistasies saam met die ankerstasie in Pretoria saamgesnoer onder een handelsnaam Pretoria FM, die nuwe handelsmerk het vinnig posgevat en luisteraarsyfers volgens amptelike RAMS-getalle het tot ʼn nuwe hoogtepunt gestyg;

9. Namate die stasie homself herontdek het as ʼn sakeonderneming, wat finansieel moes slaag, het die tyd ryp geword vir die hervestiging van die stasie in nuwe moderne ateljees. Vroeg in 2014 het die stasie sy splinternuwe pasgemaakte ateljees in die HB Forum gebou in Val-de-Grace betrek, nadat Corrie Pretorius die nodige verkenningswerk gedoen het en ʼn geskikte perseel gevind het.

10. Die stasie het geleidelik sy eie verkoopspan ontwikkel. Daar is vroeg geleer dat die stasie se lugtydverkope sy vernaamste lewensaar was en dat die stasie dit self moes besit en nie bloot kon uitkontrakteur aan advertensie-agentskappe nie. Hierdie proses het behoorlik stukrag gekry nadat Hennie Koortzen middel 2014 by die stasie aangesluit het as oggendskof aanbieder en stasiebestuurder.

11. Die personeelkorps is gestabiliseer en aftreepakkette is onderhandel met ouer personeellede terwyl moeite gedoen is om nuwe toetreders te ontwikkel en te behou met aangename werksomstandighede, behoorlike salarispakkette, mediese, pensioen- en ongeskiktheidsvoordele wat voorheen nie bestaan het nie. Vandag is die personeelkorps uiters stabiel en is daar slegs ʼn geringe personeelomset met ʼn geleidelike ouderdomsverpreiding van personeel wat volhoubaarheid ʼn gegewe maak.

12. Sedert 2019 bied Pretoria FM jaarliks die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings aan waar erkenning gegee word aan suksesvolle nuwe vrystellings van Afrikaanse musiek in al sy genres. Die vierde Aitsa Afrikaanse musiektoekennings vind vanjaar op 19 September 2023 plaas.

Die bestaansdoel van Pretoria FM is om Afrikaans as taal, en ook Afrikaners se kultuur-, geloofs- en gesinswaardes te bevorder. Daarom bied Pretoria FM landswyd ʼn netwerk van Afrikaanse stasies bekend is vir hul onafhanklike beriggewing, gehalte programme en ʼn aangename luister-atmosfeer in Afrikaans

Die toekoms is een waarin Pretoria FM homself voortdurend gaan vernuwe, sonder om sy ontstaansrede en bestaansrede te versaak.

In die digitale era raak FM een van meerdere kanale waardeer die boodskap van ʼn radiostasie uitgesaai word, sosialemediaplatforms en kanale soos YouTube en Spotify ding saam mee om inhoud aan ʼn honger luistergemeenskap te bied. Pretoria FM gaan sy plek ook daar volstaan.

Pretoria FM sal vir sy luisteraars en gemeenskap vanuit Afrikanergeledere ʼn luistergenoot en ʼn huisgenoot bly. Elke selfoon in elke Afrikanerman of -vrou se hand, ongeag of hy of sy in Pretoria, Parys, Perth, New York of Londen bly, kan ʼn radio word wat die boodskap van hoop, geloof en lewe in Afrikaans bly bring nie net in Pretoria en die noordelike provinsies nie, maar oor die groen heuwels van KwaZulu-Natal, die goue Vrystaatse vlaktes, die dorre Karoo, die berge, dale en strande van die Kaap en tot in elke uithoek van die aarde.

Dertig jaar gelede het ds. Mossie van den Berg toe daar gevra is “wat nou?” gesê “nou gaan ons net aan”.

Vandag “gaan steeds aan” en ons groei en bou en maak seker dat niks ons sal uitdryf uit hierdie land wat ons tuiste is nie, maar dat ons boodskap gehoor word:

“Ons hou aan,

Ja, ons hou aan,

Om die vlam van vryheid te laat vlieg tot by die maan,

Ons jou mirre se sy, jou tent in Bethlehem,

Ons onderkry is min, ons is Pretoria FM.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is direkteur van Hurter Spies Ingelyf en uitvoerende voorsitter van Pretoria FM.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Haal net Pretoria uit die naam. Die naam maak dit streeksgebonde. Kry ‘n naam wat Afrikaners van oral bymekaar bring en hou.

houopkruip ·

Die naam Pretoria is juis waarin die sukses gelee is.
Dankie tog dit het nie enige verbintenis met skaapstad nie.

Hendrik ·

Ons luister van dag 1 af en ons woning is binne sig van die toring. Die verbintenis van Pretoria FM met Kleinfontein is baie sterk en ons gemeenskap het al telkemale die diewe gejaag wat agter die toerusting was. As gemeenskap wat die nuwe groeipunt van Afrikaners in Pretoria is sal ons gemeenskap Pretoria FM steun tot uitbou van die christelike Afrikaner gemeenskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.