Ons praat nie dieselfde vakbondtaal nie

Argieffoto van 'n Cosatu-betoging deur lede van Numsa

Argieffoto van ‘n Cosatu-betoging deur lede van Numsa

Terwyl Solidariteit ʼn Afrikaanse vakbond is wat uit die Christelike tradisie van vakbondwese ontstaan het en wat die markekonomie ondersteun, moet ons daagliks sy aan sy om die onderhandelingstafel sit met medevakbonde wat ideologies, kultureel, histories en polities radikaal van ons verskil. Ons het mekaar nodig om onderhandelingsukses te behaal, maar dit bied soms ʼn uitdaging as dit kom by posisionering en só moet ons deurgaans die negatiewe beeld van vakbondwese wat sekere vakbonde skep, regstel deur verantwoordelike, effektiewe en professionele optrede.

Hierdie diepliggende verskille het my geprikkel om Cosatu, maar veral gegriefde voormalige Cosatu-vakbonde se sterk klasse- en ideologiese denkraamwerk te probeer ontsyfer. Wat gehelp het om die sluier te lig, was gesprekke met vakbondleiers soos Irvin Jim, Numsa se hoofsekretaris, en Zwelinzima Vavi, voormalige Cosatu-hoofsekretaris, wat albei uit Cosatu geskop is; die bywoning van Numsa se politieke skool as waarnemer; twee boeke wat onlangs verskyn het, naamlik: Cosatu in Crisis deur Vishwas Satgar en Roger Southall, en The Battle for Cosatu deur Patrick Craven; asook inligting verkry uit Cosatu se “Worker Survey – 2012”.

In hierdie artikel word woordkeuses gebruik wat tipies deur sogenaamde werkeristiese vakbond-populiste gebruik sal word.

My aanvanklike belangstelling in hierdie verskille is aangewakker toe ek twee jaar gelede Vavi by sy spogwoning in Johannesburg ontmoet het en hy tydens ons gesprek letterlik en figuurlik argumente links en regs uit verskeie hoofstroom- ekonomiese tydskrifte aangehaal het waardeur hy getoon het dat hy deeglik belese is. Ek stel toe die vraag aan hom: “Hoe kan jy jouself as ʼn ‘geharde sosialis’ beskryf terwyl jy in weelde leef en met jou teoretiese kennis tog moet weet watter ekonomiese stelsel die meeste welvaart vir almal skep?” Vavi antwoord toe dat hy as kind van ʼn arm plaaswerker grootgeword het en dat sy sosialistiese denke van kleins af gevorm is, selfs voordat hy kon lees. Hy het dus groot sosialistiese denkers soos Marx en Engels se breë idees en beginsels reeds aangehang vanweë die feit dat sy pa volgens hom uitgebuit was nog voordat hy Marx se Das Kapital en Marx en Engels se The Communist Manifesto onder oë gehad het.

Ontstaan van ideologiese beheptheid

Die vakbonddiskoers, beheptheid met ideologie en vakbondmilitantheid in Suid-Afrika kan herlei word na ʼn verbintenis met die Marxisme-Leninisme van ʼn eeu gelede. Die Sowjet-invloed het gepaard gegaan met die stigting van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (nou SAKP) in 1921 toe die Marxisties-Leninistiese ideologiese denkraamwerk gevestig is. Sosiale demokrasie (ʼn demokratiese welsynstaat met kapitalistiese en dominerende sosialistiese praktyke) is later bygevoeg danksy die invloed van die wit intelligentsia wat saam met swart vakbonde gewerk het. Die Suid-Afrikaanse interpretasie van Marxisme het ongelukkig aanleiding gegee tot die aanvaarding van geweld as deel van die politieke vryheidstryd, wat tans voortgesit word in die ekonomiese vryheidstryd met gewelddadige stakings as wapen.

Só word die populistiese vakbondleiers se ideëraamwerk steeds deur die verlede gevorm. Selfs die ANC se “Nasionale Demokratiese Rewolusie” (NDR), ʼn dokument wat deur prof. Hermann Giliomee beskryf word as “die ANC-alliansie se bloudruk waarvolgens hy sy deurlopende rewolusie en transformasie van die samelewing wil uitvoer”, se historiese verwysings vind groot aanklank by vakbond-populiste. Irvin Jim is veral lief om die NDR se beskrywing van Suid-Afrika se politieke en ekonomiese stelsel as “kolonialisme van ʼn spesiale tipe” te gebruik wanneer verwys word na die stryd teen “wit monopolistiese kapitaal” waarvan die ekonomiese beheer gebreek moet word. In wese beteken die kolonialistiese opmerking dat hoewel Suid-Afrika in 1910 onafhanklikheid van Brittanje verkry het, die nalatenskap steeds koloniale karaktertrekke het en wit mense deur kapitalisme bevoordeel word ten koste van die gekoloniseerdes (swart mense). Dit is die oorsprong van die twee fases van die vryheidstryd om ná 1994 se politieke bevryding, die sogenaamde anti-kapitalistiese bevrydingsfase te betree met ʼn sosialistiese staat as einddoel.

Cosatu se ideologiese foutlyne

Hoewel sekere ontleders bloot verskille tussen pro- en anti-Zuma-kampe as rede vir Cosatu se skeuring voorhou, is dit egter ’n ideologiese en klassespanning wat agter die skeuring sit.

As Cosatu-leier het Vavi hom sterk beywer om klasse-eenheid tussen die nywerheidsproletariaat (privatesektorwerkers in veral die vervaardigings- en mynbou-sektore) en openbaresektorwerkers te bevorder. Vavi meen dat werkers in die private sektor die gewelddadige aanslag van die kapitalistiese stelsel by wyse van afleggings, lae loonverhogings en uitkontraktering beleef. Staatsdienswerkers, daarenteen, het nooit dié vorm van onderdrukking beleef wat die sogenaamde nieuliberale beleid teweegbring nie.

Die eerste ideologiese foutlyn het ingetree toe staatsdiensvakbonde meer prominent binne Cosatu geword het. Die Vavi- en die Numsa-kamp glo dat onderwysers, verpleegpersoneel, polisielede en staatdiensamptenare huisverband- en motor-paaiemente kan bekostig; na ʼn middelklasbestaan streef; en hul rug gekeer het op die werkersklas se ekonomiese bevryding. Gevolglik gaan staatsdienswerkers al moeiliker in opstand kom teen die staat vanweë politieke lojaliteit teenoor die regerende party, terwyl blouboortjiewerkers in die private sektor rewolusionêr verbind is tot radikale ekonomiese transformasie en daarvoor in die “strate” veg.

Die tweede Cosatu-foutlyn het ingetree weens Vavi en Jim se mening dat die SAKP nie meer die voorhoede (“vanguard party”) van die werkersklas is nie. Daarom het Numsa die Verenigde Front (VF) gestig om dié rol by die SAKP oor te neem en om só die EFF te troef wat ook poog om dié leemte te vul.

Die derde foutlyn het betrekking op die NDR. Die Cosatu-wegbrekers glo die huidige Cosatu-leierskap bevorder slegs dié gedeeltes van die NDR wat nieuliberale kapitalistiese idees deur die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) bevorder, terwyl die NDR, tesame met die Vryheidsmanifes, as die minimum platform geag word om die Suid-Afrikaanse ekonomie te transformeer tot op die punt waar die werkers in beheer is.

Die vierde foutlyn spruit uit die siening dat die ANC se nieuliberale beleid aanleiding gegee het tot ʼn klassestryd tussen swart werkers onderling, omdat swart ekonomiese bemagtiging ʼn bevoorregte swart werkersklas geskep het wat nie meer die NDR en die Vryheidsmanifes as roetekaart volg nie. Volgens Vavi beheer swart kapitaliste nou beleidmaking en hul gepaardgaande gierigheid het gelei tot verhoogde werkloosheid, massa-armoede en uiterste ongelykhede.

Die vyfde foutlyn verwys na die verwydering wat plaasgevind het tussen vakbonde en gemeenskappe waar die twee groepe in die 1980’s danksy die bestaan van die United Democratic Front (UDF) polities en ideologies belyn was. Cosatu, wat dié rol in 1985 oorgeneem het, word nou daarvan beskuldig dat partypolitiek en nieuliberalisme die verwydering tussen werkers en gemeenskappe veroorsaak het – die doelstelling van Numsa se VF is juis om die werkplek- en gemeenskapkwessies te verenig omdat werkers ten eerste gemeenskapslede is voordat hulle vakbondlede is. Die beredenering is dat vakbonde en gemeenskappe deur gesamentlike veldtogte die werkgewers en die staat teiken – só word politieke mag opgebou en regeringsbeleid beïnvloed.

Ideologiese omwenteling buite Cosatu se strukture

Cosatu, wat as die werkers se magtige wapen moes optree, is nou deur nieuliberale magte gekoöpteer en dit is die dryfveer agter Vavi en Jim se skepping van ʼn nuwe vakbondfederasie saam met die VF. So is die nuwe federasie tydens die stigtingsvergadering beskryf as ʼn onafhanklike, militante, demokratiese, sosialisties-georiënteerde, transformatiewe, rewolusionêre, anti-imperialistiese en werkerbeheerde federasie.

Tydens die werkersberaad, wat die federasiestigting voorafgegaan het, het die werkeristiese leiers sterk aanstoot geneem as werkgewers en die media privatesektorwerknemers, wat ʼn dubbelsyfer salarisverhoging eis, as bevoorregtes (“werker-aristokrasie”) beskryf het teenoor diegene wat informele werk beoefen of werkloos is. Die populistiese teenargument is dat dit juis weens die land se enorme werkloosheid is dat swart werknemers ʼn groot aantal werklose afhanklikes moet onderhou (sogenaamde “black tax”), wat hulle nie bevoorreg maak nie en ʼn hoë looneis regverdig.

Vavi gee egter toe dat ’n “werker-aristokrasie” wel aan die ontstaan is binne die vakbondwêreld waar voltydse vakbondamptenare werksekerheid, goeie salarisse, gunstige diensvoorwaardes en ʼn gemaklike werksomgewing en lewenstyl geniet, wat ʼn vervreemding met gewone werkers – hul lede – veroorsaak. Om dit te vererger word permanente vakbondposisies ook geag as ʼn trapleer na politieke posisies, wat beteken werkerbelange word nie meer eerste gestel nie.

Ek het hierdie klasontkoppeling beleef tydens die Marikana-gebeure in 2012 toe die National Union of Mineworkers (NUM) se Lonmin-streeksverteenwoordiger by die “Marikana-onderhandelinge” met óf die een óf die ander van sy splinternuwe luukse motors opgedaag het wat die klassekontras tussen hom en sy lede skriller laat uitstaan het (terwyl finansiële ongerymdhede nie heeltemal uitgesluit kan word nie). So het die Cosatu- en die ANC-leierskap by die berugte Marikana-koppie met luukse motors, swart pakke en donkerbrille opgedaag om met die gegriefde werkers te praat, wat weereens Vavi se kommer oor ’n klasse-ontkoppeling beklemtoon.

Marikana het die opkoms van die EFF, Amcu, die nuwe vakbondfederasie en die Verenigde Front wat aan werkers en arm gemeenskappe werklike alternatiewe links van die drieparty-alliansie bied, tot gevolg gehad. Vavi en Jim se werkersklas- en gemeenskaps-gebaseerde inisiatiewe is om die SAKP as die voorhoede van die werkersklas te vervang en word “sosialebeweging-vakbondwese” genoem wat die vakbondlandskap gaan domineer.

Al hierdie verwikkelinge maak Solidariteit se posisionering nog moeiliker, maar ons moeilikste taak is om die populistiese vakbondleiers te oortuig deur argumente, optrede, geloofwaardige navorsing én die realiteit dat uitgediende ideologiese denke hul lede se vooruitsig op ʼn beter toekoms ernstig benadeel.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Willie Werkni ·

Solidariteit kan nie eers vergelyk word met die militante vakbonde nie. Die grootste probleem is dat hierdie vakbonde nie eenvoudige ekonomiese beginsels verstaan nie. Hulle kan ook sê oor kapitaliste net watookal hulle wil, maar kapitaliste skuif doodeenvoudig hulle fokus oor na ander lande waar werkers nie so trots militant is nie, dan moet die werkers met hulle baie afhanklikes maar op hulle trots Afrika tegnologie staatmaak om te probeer oorleef. Neewat, hierdie vakbonde is net n spul verloorders. Onder kry jy die pione wat maar net bly glo in hulle skewe ideologie, en aan die bestuurskant is die uitbuiters wat minder as n vlenter omgee vir die werkers.

Salfvlieg ·

Die neo-liberale weergawe van markgedrewe ekonomie is nie sonder gebrekke nie, soos tentoongestel in Johan Rupert se onlangse uitsprake oor Afrikaans. In sy paradigma word selfbelang voor die van die gemeenskap gestel. ‘n Mens moet versigtig wees vir daardie soort kortsigtige selfsugtigheid, soos Adam Smith alreeds was toe hy die Onsigbare Hand geformuleer het. Die Onsigbare Hand is ‘n krag wat die gemeenskap voorop stel, en nie, soos die neo-liberales beweer, uitkontraktering ten koste van plaaslike ontwikkeling bevorder nie.

Lance ·

Sterkte met daardie ontsyfering …as jy dit regkry glo ek is daar wereld vrede

Vaalseun ·

Voordat die Europeërs hier geland het en grootliks tot vandag toe is swart vrouens die ware swart werkersklas in die swart tradisie. Hulle is eintlik veronderstel om te werk en vir die kinders te sorg sodat die swart man kan ontspan en homself saam met sy vriende vermaak. Maar dié sosiale verpligting op die swart vrou word gekompliseer deur die blankes se vereiste dat meriete en taakvoltooing beloning vir swart mans moet bepaal. Dit gebeur nie in die swart man se huis nie. Sosialisme en kommunisme kan daaraan ook niks verander nie. Hulle slagspreuke is al wat nuttig is om getalle mee te werf. Die swart klassestelsel laat verder toe en gun die leier/heerser sy rykdom en mag. Dit beteken ook hy maak die reëls en hy is derhalwe bokant die reëls. Dis waarom Zuma en die rits ander swart ANC politieke leiers met korrupsie kan wegkom. Die wette is nie veronderstel om vir hulle te geld nie. Solidariteit kan gerus vir hulleself as vakbondleiers daardie leierstatus en gelyke reg van “ons is ook bokant die reg” opeis. Eers dan is Solidariteit op dieselfde speelveld in die oë van swart politici en vakbondleiers.

Knikkebollen ·

Ek dink dis ‘n uiters verkeerde stelling dat swart mans se ‘taak’ is om tuis te sit en hulle vriende te onthaal. Die historiese konteks is dat die vrouens verantwoordelik was vir huishouding en die landerye, die mans vir bees boer en om die stam te verdedig teen gediertes en vyandelike stamme. Die klassieke rol van die man het drasties verander en die baie funksionele rol is verander in ‘n tradisie. En soos ons self beleef- tradisies verander baie baie moeilik.

Vaalseun ·

Swart politieke en vakbond leiers beskou hulself bokant die reg en reëls, in lyn met die erkende tradisionele swart klassestelsel. Die wette en reëls geld vir die klasse onder hulle. Ek stel voor dat Solidariteit se leiers daardie gelyke reg vir hulself en Solidariteit opeis en toepas, anders sal hulle nooit as gelykes in die Suid-Afrikaanse arbeidstryd beskou en erken word nie.

John ·

In die wysbegeerte stry geleerdes oor die die grondslag van die mens se denkwyses en waar dit gesetel is. Vaalseun is reg, as hy se dat swartmense steeds antieke denkwyses huldig, ten spyte van al die boeke in hul boekrak. Dat godsdienstige uitgangspunte onweerlegbaar ingebed is en moeilik verander sonder ‘n hartsverandering, is duidelik. Hoekom bly die swart leierskorps steeds gryp na Marxistiese denkswyses, al ry hulle in duur motors? Om die volk aan te por om aan te was, terwyl hul aantrede tot die probleem van die gevolglike oorbevolking tot ellende lei, is vir buitestaanders duister. Regoor Afrika gedy smart en die gevolge en word oorgeplaas op witmense se gewetens (wat dan glo beter af is); gerieflikerwys en met ‘n plan daaragter(?). In Indie en Sjina word oorbevolking elk op ‘n eie manier gehanteer. Vakbonde verteenwoordig ideologiee, Solidariteit ook. Die hele Ou Testament handel oa oor die Hemelvader se vaslegging van etiese waardes by die Jode. Christus bring ‘n nuwe dimensie. Om kombersies te brei en kospakkies uit te deel is nie dissipelskap nie, as Christelike waardes nie saamloop en in woorde omgesit word nie.

Knikkebollen ·

Die dialektiek van die Kapitalisme vs Kommunisme, sorg al vir meer as 100 jaar vir die vernietiging van kulture, soewereine regerings, individuele vryheid en die geleentheid vir gewone mense om dit na te streef wat wat elke mens maar nastreef: sekuriteit, welvaart en gesondheid.
Albei stelsels het, ter harte, sterk sentrale beheer in gemeen: in die Sowjet model- ‘n uber-staat wat alle produksie en distribusie beheer en in die moderne kapitalisme- monopolie van die ‘too big to fail’ korporasies. Die vakbond se enigste nut is dat hulle binne hierdie dialektiek, die werker probeer beskerm, maar soos in die artikel aangedui- as die Vakbond die doelwit word en nie meer oor die werker gaan nie, is dit neusie verby. Solank die ekonomie bestaan uit die monopolie van krediet ( verkeerdelik ‘geld’ genoem) en die monopolie van geleenthede van vervaardiging en verspreiding van goedere en dienste weg van klein entreprneurs af, gaan die situasie stelselmatig versleg totdat chaos aan die orde van die dag is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.