Ope brief aan die president: U is heel eerste aan God verantwoordbaar

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/ GCIS

Die ope brief is deur die Sentrale Kerkekommissie van die Afrikaanse Protestantse Kerk uitgereik. 

Geagte Meneer die President,

U het Christene by meer as een geleentheid opgeroep om as morele kompas vir die land te dien en die kerk versoek om vir u en die regering te bid. As lidmate van die Afrikaanse Protestantse Kerk doen ons dit gereeld in opdrag van God. Alle gesag behoort aan Hom: Hý sit konings af en stel hulle aan (Dan. 2:21). Aan regeerders verleen Hy die gesag om as ’t ware namens Hom só te regeer dat mense “… ’n rustige en stil lewe kan lei, in alle godsvrug en waardigheid”. (1 Tim. 2:2). Ook u gesag as staats- en regeringshoof is verleende gesag – dit is aan u verleen deur die ewige koning, Jesus Christus.

As getuies van die Here mag ons nooit anders sê nie as: “So spreek die Here.” In nederigheid word hierdie skrywe aan u gerig in ’n beskeie poging om iets te laat hoor van die kommer in die hart dat die eer van God en die heil van die mense oor wie u regeer, deur u regering aangetas word.

Met ootmoed en erns bid ons vir u aan die hand van die volmaakte gebed, die “Onse Vader”. Die eerste drie bedes van die Onse Vader is die onontbeerlike fondament vir ’n rustige en stil lewe in godsvrug en waarheid. “Laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied …” (Matt. 6:9-10), is die smeekbede dat daar, uit respek en eerbied vir God, erns gemaak sal word met sy Naam; sy gesag en sy wil.

Die drie bedes eggo die eerste vier gebooie van die Here. Dit bly vir ons onbegryplik dat ’n staat waarvan meer as sewentig persent van die inwoners te kenne gee dat hulle Christene is, bereid is om dié drie bedes gering te skat deur met ’n neutrale grondwet tevrede te wees. U regering is egter nie bloot neutraal nie. U handhaaf nie slegs die beginsel van godsdiensvryheid nie, maar bevorder en propageer godsdiensgelykheid. U spot met die enigste God – en geen erger ydel gebruik van sy Naam is denkbaar nie.

Daarmee kom die grondliggende en ware swakheid van u regering en sy optredes aan die lig. U moet onthou: U en die regering is nie eerstens aan ’n party, ’n parlement of aan kiesers verantwoording verskuldig nie. U is heel eerste aan God verantwoordbaar. As daar nie eerbied en ontsag vir Hom is nie, sal daar ook nie respek vir sy gesag of wil wees nie.

Johannes Calvyn het geskrywe: “Die koning wat in sy ryk nie só regeer dat hy die heerlikheid van God dien nie, beoefen nie regering nie, maar pleeg roof.” Kom die plundering van die land onder die regerings van die afgelope 25 jaar nie neer op die berowing van God se eer nie?

Die Here Jesus leer ons verder bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe (Matt. 6:11). Dit is ’n bede om ’n lewe waarin daar vir elkeen ruimte tot bestaan en roepingsvervulling is. In die gehoorsaamheid aan God se Wet, is dit vir elkeen moontlik om ’n plek te hê waar hy sy roeping kan nakom; homself en dié wat aan sy sorg toevertrou is, kan beskerm en versorg; die eiendom wat hy uit die hand van God ontvang in vrede kan benut en sy eer en goeie naam kan behou. Waar daar só gelewe word, is daar ruimte vir deernis met mekaar en erkenning dat ons almal uit God se hand en in sy genade leef.

Dié gehoorsaamheid begin by respek vir God en vir die mense met wie ons saamleef. Dit word uitgedruk in gehoorsaamheid aan die gesag van hulle wat God oor ons gestel het. Daaruit volg respek vir die reëls waarvolgens en die grense waarbinne ons met mekaar saamlewe.

Laat ons nie doekies omdraai nie, Meneer die President. Die misdaadgolf in hierdie land is nie die gevolg van broodsgebrek en ekonomiese nood nie. Dit is die gevolg van ’n diepliggende gebrek aan respek vir God, vir sy Woord, vir wet en orde en vir die mense met wie saamgeleef moet word. Met diep kommer moet dit gestel word dat u regering aktief hiertoe bydra. U regering ondermyn ouerlike gesag en daardeur respek vir alle gesag, met wetgewing wat lyfstraf as wyse waarop ouerlike tug en opvoeding tuisgebring mag word, kriminaliseer. U regering laat toe dat duisende ongebore kinders elke jaar deur aborsie vermoor word, maar moordenaars mag nie die doodstraf kry nie. U regering ondermyn die waarde en waardigheid van lewe en spoor doodslag aan deur nie diegene wat dood en geweld aanblaas, te straf nie. U inkonsekwentheid ten opsigte van haatspraak, u onwilligheid om daadwerklik aandag aan plaasmoorde en misdaad te gee, tesame met ’n korrupte polisiemag, hits dié disrespek aan.

U regering vernietig respek vir die heiligheid en die waarde van die huwelik as hoeksteen van ’n gesonde gemeenskapslewe deur selfdegeslaghuwelike te wettig, pornografie toe te laat en seksuele uitspattigheid deur middel van die nuwe voorgestelde leerplan vir lewensoriëntering (die sogenaamde CSE) te legitimeer en te bevorder. Korrupsie, wat steeds onder u regering voortwoed, ken geen respek vir eiendom, geld of goed nie. Onder u regering word erfgrond soos ’n Nabotswingerd beskou – as die koning dit wil gryp, doen hy dit. U regering ondermyn respek vir die waarheid deur die valse beskuldigings waarmee die witmense in die land gedemoniseer word. U eie verwronge weergawe van die gebeure by Bloedrivier getuig daarvan. Daarby ondermyn u regering die respek vir die reg deur dikwels met vooroordeel te handel en te vonnis.

Gebrek aan respek vir God, vir ander en vir wet en orde, vernietig selfrespek. Dit laat selfsug en soeke na eiebelang in mense botvier. Die Here leer ons om te bid dat ons bestaan nie daardeur vernietig sal word nie: “… en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” (Matt. 6:13). Die laaste van die Tien Gebooie dring ons om ons eie begeertes ondergeskik aan God se wil en beskikking te stel.

Die grondslag van u regering berus op die uitgangspunt van die regte van mense en nie op die reg van God nie. In homself dra die veel geroemde grondwet die kiem van ondergang. Dit spreek immers van die heel vroegste verleiding: Dat ’n mens nie aan God gehoorsaam hoef te wees nie, maar self jou eie godjie kan word. In hierdie valsheid word ’n land prysgegee aan die Bose; word ’n staat die gestalte van die Antichris.

Wie van die pad van God afwyk, loop onvermydelik die pad van God se oordeel. Dit is op dié pad waarop u regering ons lei. Daarom doen ons op u en u regering ’n dringende beroep: Moenie net vra dat vir u gebid word nie, maar wys deur u dade dat u God en sy wil, waarvoor u vra daar gebid moet word, erken en dien.

As dit nie gebeur nie, bid ons dat God self vir ons ’n regering sal gee wat met Hom en met sy Woord erns sal maak, sodat ons ’n rustige en stil lewe in alle godsvrug en waardigheid kan lei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Scalla ·

Vertaal die brief asb in engels en stuur dit die wereld in.

Anel ·

Ek is ‘n lid van die APKerk en stem 100% saam. Jy kan ook nie God en jou voorvaders dien nie.

Anoniem ·

Stem 100% saam met jou. Ek het dit ‘n bietjie krasser gestel en op sy naam genoem, dus is die berig nie geplaas nie.

Michael ·

Ek glo nie Godsdiens en Christenskap is vir hulle n prioriteit soos hulle ontslae geraak het van dissipline is Godsdiens oor verwyder van skole en die uniform departemente.

Madelaine ·

AMEN SO WAAR EN MOOI. Die Kerke leeg waar ons, ONS DAAGLIKE BROOD MOET KRY en Tronke VOL en nog slaaplose en hartlose mense op die strate.

Gato ·

Die Bybel sê alle gesag kom van God af en ek weet God maak nie foute nie maar ek kan in my swakheid nie verstaan hoekom God sal toelaat dat ‘n heidense regering met leiers wat geen respek vir Hom of enige van Sy skeppings het nie, ons mooi land tot in die afgrond in regeer.
Miskien kan ‘n Predikant meer lig werp hierop.

marius ·

Waarom word die brief aan hom gerig ? Hy is nie ‘n Christen nie !

SomeOne ·

met ramaphosa se bestuur van suid afrika kan gesien word dat hy nie ‘n gelowige, God vresende gestalte is nie, hy is roekeloos met mense se lewens en sal gestraf word, tensy hy sy houding terug draai na Onse Vader en Hom onvoorwaardelik om verskoning vra en God aanbid – dat Sy Wil geskied en nie ramaphosa s’n nie

Andie ·

Baie mooi brief diep woorde dit raak aan ons Christene se harte maar die skrywer mors sy asem want ons parlement is so ver van God verwyderd. Parlement word nie eers meer met gebed geopen nie.
Laat u wil geskied Heer,

Chris ·

Ek kan nog nie die kloutjie by die oor kry nie. Hoe kan enige regdenkende/beskaafde persoon, Marksisme/Lenisnisme/Maoisme (kommunisme) en voorvaderlike aanbidding by enige gebalanseerde regerings/owerheidsinstelling in stel of propageer. Ons land word deur heidene/ongelowiges beheer en bestuur. Daar is van die mense wat hulle op die Christelike geloof beroep, maar die vraag ontstaan, hoe trou jy die ander met jou Christelike oortuigings. Ek is uit ‘n staatsdepartement “uitgewerk” omdat ek nie in die nuwe bedeling ‘n eed van getrouheid aflê nie. Ek het geweier om te sê “so help me God” want ek het myself die vraag gevra hie is dit moontlik dat ‘n kommunis dit van my kan vra. Ek het geloop. Ek is bevry.

Erik ·

Ek is nie ‘n AP kerk lidmaat nie, maar wel ‘n kerkganger en Christen. Ek beskou myself nie as baie konserwatief nie, maar stem 100% saam met die brief. Dis net tog vreemd dat meeste eerste wêreld lande (uitgesluit die VSA) al meer sekulêr en ateïsties raak. Dis maar die eindtye. Raak betrokke by ‘n kerk en omring jouself met ander Christene in hierdie deurmekaar wêreld en beleef iets van God se liefde en vrede reeds nou reeds.

Zirk ·

Uiteindelik.!! ‘n Duidelike, ope, brief van ‘n onverskrokke Christelike kerk aan ‘n landsleier wat , nes sy onnosele voorganger, hul sosialistiese beleid verheerlik en aanbid. Trouens, ek ervaar dat Mandela vir die ANC as ‘n goddelike wese vereer word, en dat die ANC, as bevrydingsbeweging as ‘n godsdiens denominasie gegroei het, natuurlik met die stilswyende goedkeuring van hul leiers. Vandaar die krete en luide uitroepe van ondersteuners tydens politieke saamtrekke. ” ANC UNTILL DEATH.!!

Grassie ·

‘n Pragtige treffende brief maar ek glo nie CR se Afrikaans is goed genoeg om dit te lees en te verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.