Ope brief aan Dirk Hermann oor ‘Te wit vir my land?’

Bennie Mouers het ʼn ope brief aan Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, geskryf na aanleiding van Hermann se meningstuk “Te wit vir my land?” Ons publiseer ook Hermann se antwoord hierop.

Bennie Mouers van Langebaan skryf:

Bennie Mouers.

Dirk, ek lees jou brief Vrydag met gemengde gevoelens en voel genoop om jou te antwoord.

Ek skat jy is ook deel van die sestiger-generasie soos ek. Beide van ons het dus ‘n proesel van die pre-94 en post-94-regimes.

Jy draai geen doekies om wanneer jy jou ontevredenheid, woede en kwaadheid verwoord nie. Jy sê onder meer jy is nou keelvol. Jy gaan die regime aankla.

Jou stem klink helder en duidelik wanneer jy jou en jou rasgenote as tweedeklas Suid-Afrikaners beskryf.

Dirk, dit is alles goed en wel. Ek sou egter graag wou weet waar was hierdie stem voor 1994 toe jou donker pigment mede-Suid-Afrikaners in hierdie land verontmens was. Jy het soos baie wit Suid-Afrikaners verkies om te swyg want dit het julle gepas.

Karma is maar ‘n blikskottel!

Kom ons plaas jou brief in die Suid-Afrikaanse konteks. Jy kla onder meer oor wit besighede wat oor die hoof gesien word met subsidie van die staat. Besef jy dat miljoene swart en bruin Suid-Afrikaners ver onder die broodlyn lewe? Hulle moet in sinkhokke woon, hulle het nie eers basiese geriewe soos ablusiegeriewe of skoon drinkwater nie en moet die elemente trotseer om jou huis en tuin skoon te hou.

Jy raak verder ʼn hoogs bestrede kwessie, naamlik raswette aan. Jy tier voort oor die feit dat die post-1994-wette wittes van studiehulp ontneem, jy kritiseer vir Faf en ander sportsterre wat die BLM-beweging ondersteun. Niemand kan jou woede mislees nie.

Jou geheue is egter baie kort wat die pre-1994-raswette betref. Onthou jy die Ontugwet, Groepsgebiedewet, Paswette? Swart mense kon byvoorbeeld nie sonder ‘n permit ‘n onderneming in wit gebiede bedryf nie. Sowat 80% van die onderwysbegroting is vir ʼn wit minderheid geoormerk, wyl 20% van die onderwysbegroting na die swart mense moes gaan. Dirk, laasgenoemde het jou nie gepla nie, want wit mense was nie aan die ontvangkant nie. Maar vandag pla dit jou.

As ‘n bruin Suid-Afrikaner moes ek die beswaardheid van Genis gehuldig het, want sien Dirk, ek en my mense trek steeds aan die kortste end. Voor en ná 1994 ken ons net verdrukking en onderdrukking. Maar ons kla nie. Ons maak maar net die beste van die krummels wat na ons kant toe kom.

Dirk, jou holklinkende brief is onsensitief, ongevraagd, ongeloofwaardig en geveinsd en getuig van swak smaak. Ek wil saam met Freek Robinson stem dat geloofwaardigheid die grootste bate is vir diegene wat in ‘n onsekere omgewing wil oorleef.

Dirk Hermann antwoord:

Dirk Hermann. (Foto: Rozier van Tonder/Okay Deer.)

Beste Bennie

Dankie vir jou skrywe. In ons Afrikaanse wêreld praat ons te min met mekaar. Briewe soos joune maak die Afrikaanse gesprek oop.

Ek het geskryf vanuit my wêreld en jy vanuit jou wêreld.

Afrikaans het verskillende stories, verskillende identiteite, verskillende vreugdes en verskillende hartseer.

Ek en jy kom uit verskillende Afrikaanse stories. Ons moet meer eerlik oor ons stories praat. Regte mensstories.

Die verskillende Afrikaanse stories word egter saamgebind in een gemeenskaplike taal. Dit gee ons ʼn woordeskat om mekaar beter te verstaan.

Daarom kan ek en jy vandag in Afrikaans met mekaar praat oor dit wat ons op die oog af verdeel.

My skrywe het my frustrasie oor die rasmalheid in Suid-Afrika uitgeskreeu. Ras, ras, ras. Ras as ons opstaan, ras as ons gaan slaap, ras by sport, ras as jy gaan werk en ras as jy wil studeer. Ek het die lig laat val op wit Afrikaansprekendes se frustrasie oor ras. Dit het oorgekook toe hulp in ʼn pandemie op grond van ras toegeken is.

Jou skrywe skreeu ironies ook jou frustrasie oor ras uit. Jy brei uit oor die ras van die verlede. Jy is kwaad oor wette wat jou tereg verneder het. Jou frustrasies oor die gebrek aan erkenning daarvan is duidelik en werklik.

Jy skryf as bruin Suid-Afrikaner en dat jou mense steeds aan die kortste end trek en krummels ontvang. Jy is ook kwaad oor vandag se ras.

Ek het bietjie meer van jou wêreld geleer toe Solidariteit opgetree het namens ʼn groep bruin Suid-Afrikaners, werknemers van die departement van korrektiewe dienste, om hulle te verdedig teen die rasmalheid van die regering.

Die regering het die nasionale rasdemografie op die Wes-Kaap toegepas. Bruines kon nie bevorder word nie want hulle is te veel waar hulle bly. Al hierdie kandidate het een ding in gemeen gehad. Hulle was nie bevorder nie en die rede was dat hulle bruin is.

Die hele land moet oral dieselfde lyk. Alles moet dieselfde geras word.

Jimmy Manyi, destydse direkteur-generaal van arbeid, het gesê as daar ʼn ooraanbod van bruin mense in die Wes-Kaap is, moet hulle maar trek. Dis rasmalheid.

Die regering het hierdie rasobsessie verdedig tot in die konstitusionele hof. Hulle het in die hof geargumenteer dat bruin mense minder benadeel is in die verlede en dat die huidige diskriminasie teen hulle geregverdig is.

Ek het ure met die groep bruin Suid-Afrikaners spandeer. Hulle het hulle stories vir my vertel. Hulle stryd teen ʼn vorige rasbestel. Van hulle was opgesluit en ek het van hulle stories in ʼn boek, Regstellende Trane, opgeskryf.

Hulle het ook vertel van hulle nuwe stryd teen ʼn nuwe rasbestel. Ek het empatie en begrip vir elkeen van hulle ontwikkel en hulle is wonderlike mense met wie ek tot vandag ʼn mooi band het. ʼn Verteenwoordiger van die groep was selfs deel van ʼn afvaardiging van Solidariteit wat die regering by die Verenigde Nasies aangekla het.

Solidariteit het die saak gewen, maar die hoogste hof in die land het rasseklassifikasie bevestig tot groot nadeel van alle minderhede, bruin, wit en Indiër. Ons is in raskassies geplaas tot voordeel van die rasmeerderheid.

Dis hierdie rasmalheid van die regering wat moet stop. Dis hierdie rasmalheid wat daartoe lei dat jy sê jou mense trek aan die kortste end. Dis dieselfde rasmalheid wat my woedend maak oor die effek op my mense. Die rasmalheid benadeel dus ons mense.

Jy is kwaad en ek is kwaad. Ons mag maar kwaad wees vir ʼn regering wat daarin slaag om ras te gebruik om hul mag te konsolideer te gunste van ʼn meerderheid en ten koste van minderhede. Ons moet kwaad wees vir ʼn regering wat ras gebruik om kaders te ontplooi van hier in die Noorde tot daar in die Wes-Kaap onder die dekmantel van mooi woorde soos nie-rassigheid en tot nadeel van openbare dienste.

Ons moet egter nie vir mekaar kwaad wees nie, maar saam kwaad wees. Ek en jy moet saam sê: stop die rasmalheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Martie Smartie ·

Mnr Mouers, jy weet seker dat die mense wie nou nog ly, baie erger ly agv ‘n ANC regering wat al vir jare der jare, en ja nou nog – soos mnr Ramaphosa ruiterlik erken – die staatskas plunder en korrupsie vervolmaak het. Hoe anders dink jy sou miljoene lewens gewees het as die ANC nie korrup was nie?En terselfdertyd, hou hulle hulsef aan bewind met ‘n reusestelsel van korrupsie. Jy weet seker van miljoene der miljoene wat uit die belastingkas gaan na hoofmanne en konings om te verseker dat die tribes vir die ANC stem. ‘n Eenvoudige vb – in 4 maande het die ANC baie min gedoen om plattelandse skole gereed te kry om te open te midde vd pandemie. Maar honderde miljarde is spandeer uit die belastingkas. Soos Dirk sê, elkeen het sy eie storie. Maar as jy wil voorgee dat die ANC nie nog altyd rassisties en korrup was nie en steeds is nie, en dat dit nie hoofsaaklik bydra tot mense se armoede nie, dan is jy naief en jou bydrae ook maar ongevraagd en geveinsd.

AndréS ·

Baie dankie Bennie Mouers en Dirk Hermann vir die duidelike en openhartige gesprek

Martie Smartie ·

Jy sien, ek kan baie rassistiese wette opnoem wat sedert 1994 in werking gestel is, net soos daar voor 1994 rassistiese wette was. Ongeag wat die mikpunt daarvan is, dit bly rassisties. Die ‘demokrasie’ in hierdie land is niks anders as ‘n eenparty-staat wat met belastinggeld in stand gehou word nie. Ware demokrasie en beskerming van minderheidsregte werk nie in Afrika nie. Die ‘n Europese bestel wat nie hier werk nie. Mens is naief as jy dink dit werk.

Juls ·

Die verskil is dat pre94 dit nie ‘n demokrasie was nie. Nou is ons al 26 jaar in ‘n demokrasie en die volk stem met oorweging vir die huidige regering wat hulle in (soos Mr Mouers beskryf) sinkhokke laat woon en nie aan hulle skoon water verskaf nie. DINK NET! Om vir amper 30 jaar leiers te verkies wat jou soos mis behandel! Sorry ne

Andrew ·

Geargte Mnr Mouers;

Karma?
Nee wat broer jy verlekker jouself mos nou en het duidelik, soos jou ras genote, nog nie jou haat en kwaad klaar uitgewoed nie. Tits for tats gaan veroorsaak dat die wiel nooit ophou draai nie. Hoop maar vir jou mouers dat dit nie jou leeftyd terug op jou weer draai nie. Jy het Dirk net reg bewys sonder dat jy dit eers besef.

Andre ·

Mnr Mouers , jy is reg wanneer jy noem waar die wittes was voor 1994 maar so kan vrae gevra word waar was wie met die uitwissing van mense in Rwanda; Duitsland en ou Tsjeggo-Slowakye. Sien die mens is nog altyd geneig om na sy eie om te sien en die wat helde was, is maar dun gesaai. My vraag aan julle; moet die ongeregtighede van die verlede nou vir ‘n tydperk aanhou totdat iemand se “nou is ons gelykop” of moet daar na oplossings gekyk word om hierdie rasse sage tot ‘n einde kan bring want dit vergiftig almal

Snowball ·

Met alle respek aan bruin mense wat verdruk en onderdruk voel, wil ek graag vir Mouers sê, hy bly en gaan deel van ‘n minderheidsgroep bly in ‘n land waar die regering rasbevoordeling sal aanhou toepas ten koste van die toekoms vir alle minderheidsgroepe.
Mouers se verlekkering in wit verdrukking en ongemak gaan van korte duur wees, want as ons sink, gaan ons saam sink.
As geloofwaardigheid nodig is om in ‘n onsekere omgewing te oorleef, gaan Mouers selfondersoek moet doen waarom hy genoodsaak voel om iemand wat wil opstaan vir eie hulle reg en die regte van minderhede, wil platslaan met ‘n vrot vis uit die verlede, eeder as om op te staan vir sy eie regte as bruin mens en daarin geloofwaardigheid te vind. Om meewarig te sê Karma is ‘n blikskottel kan dalk net so waar word vir Mouers. Om die blankes te vertrap gaan jou nie ophef of sin aan jou bestaan gee nie – dít Mouers, kan elke nasie/ ras/ mens/man of vrou net vir homself doen.

Kokerboom ·

Goeie kommentaar Dirk. Die blaamspel gaan ons nerens bring. Of ons staan saam en gaan vorentoe of ons hou aan die raskaart speel en vasklou aan die verlede en NIKS verander

Therese ·

Mnr. Mouwers se verwyt oor “swart en bruin mense wat die elemente moet trotseer om jou huis en tuin skoon te hou”, is die sóveelste wat opduik in soortgelyke gesprekke.
Dit is die één aspek oor SA wat ook met buitelanders dikwels ‘n besprekingspunt is.
Klaarblyklik is “werkskepping” nié ‘n geldig genoeg rede/verskoning is nie, anders sou mnr. Mouwers nie so bitter daaroor wees nie.
Dink daaroor na en pas aan.

Chris ·

Geagte Mnr Mouers. Dt is soos jy daar beweer dat Karma (Blindesambok) jou kom piets altyd wanneer jy dit die minste verwag. Ek lees jou brief met gemengde gevoelens. Die karma slaat jou en jou ras net so lekker. Die anderskleuriges in die land is die mense wat die laaste moet kla oor die regering en situasie in die land. Vir wie het jy in 1994 gestem Mnr Mouers? Vir wie het miljoene ander in 1994 gestem? Wat het jou ras gedoen om hulself op te hef sedert 1994. Ek weet, julle skuif jul mislukkings af op die blanke (witte) vir alles en verlustig jou in die wittes (Afrikaner) se ongemak met die huidige stand van sake. Hou asseblief daarmee op. Elke land verdien die regering vir wie hy stem. Bietjie raad van my, hou op om verbitterd te wees. Dit besoedel jou gedagtegang en uitkyk op die lewe. Get over it. Die lewe is te kort om wrokke te dra, mense vernietig hulself deur dit te doen. Jy ontneem jouself geleenthede en lewensvreug. Sterkte, mag jy vrede ervaar voor dit te laat is.

koos10 ·

Bennie, eerstens wil ek hard en duidelik stel dat enige vorm van rassisme verkeerd is en baklei moet word met alles wat ons het. Tweedens, die onregte van die verlede mag nie weer gepleeg word nie, een fout kan en mag nie met ‘n ander fout vervang word nie.
Ons land se grondwet bepaal uitdruklik dat geen ras, of persoon bo ‘n ander gestel word nie, punt. Apartheid het ook basies begin soos ons dit nou weer beleef, stadig en stukkie vir stukkie, amper soos CR se padda kook resep. Hier is egter een groot verskil ook, voor 1994 het ons land ‘n redelike groei koers gehad waarin baie (hoofsaaklik, ek erken, wit mense) floreer het. Na 1994 is die omgeswaai dat tans vandag net hoofsaaklik elite ANC lede floreer. Die omswaai het beteken dat jy as bruin persoon nie enige “voordeel” getrek het nie, en die ironie is dat geen mens in SA binne kort enige voordeel gaan kry nie, want alles word verwoes deur korupsie.

annie ·

Jy weet, Dirk, daar is altyd diè ooms wat kombuis toe sluip uit skone verveling en nog so bietjie kruie byroer by die pruttende pot… of so ‘n stronkie bygooi by die rustige kole… want hul weet eintlik hoe. Dalk moet diegene as hul so voel liefs op die kooi onder die verekombers gaan inkruip en lè tot hul beter voel. Die res van die familie is fine. Sommige benodig soms bietjie pyn-appelbier maar hulle is ook heel happy wagtend op ‘n geurige dis deur ‘n bekwame kok.

Danie ·

Maw ter opsomming, Bennie sal tevrede wees indien hierdie afgebreekte land en sy anc vertrapte inwoners voorgaan met rassediskriminasie solank dit net nie weer vir hom tref nie.

Robert Sydney ·

Bennie Mouers se ongelukkigheid gaan almal +25 jr gelede en Dirk Herman se ongelukkigheid gaan oor vandag. Met ander woorde, volgens mnr Mouers , is dit tog duidelik dat alles wat vandag verkeerd is, apartheid se skuld is . Mouers sê dat ‘sy mense’ nog steeds van die krummels moet lewe maar kla nie. As hulle nie kla nie is hulle dan tevrede met die huidige toedrag van sake, of beskou hulle dit as hulle verdiende loon?
Iets sê vir my dat mnr Mouers nie heeltemal op dieselfde bladsy is as Dirk Herman nie.

Paul ·

Ja ag gesprek is nodig, en dit is goed om gesprek te voer. Die hele “waar was jy voor 94” gedagte is een wat mens baie hoor, maar as dit daai tyd verkeerd was, waarom is dit dan nou reg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.