Opregte afwenteling of kosmetiese verandering?

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Demokratiese Alliansie/Facebook)

Wanneer ʼn mens na die veld van federalistiese politiek in Suid-Afrika kyk in die aanloop tot die algemene verkiesing van 2024, is daar net twee opsies: die Demokratiese Alliansie (DA) en die Inkatha Vryheidsparty (IVP). Veral die DA het die afgelope paar jaar gepoog om federalisme weer op Suid-Afrika se agenda te plaas, beslis meer as die IVP.

Maar die DA se benadering tot federalisme laat ʼn paar deurslaggewende vrae ontstaan.

“Regte” federalisme verwys nie bloot na “meer gelokaliseerde mag” nie. Verantwoordelikheid vir mislukking is eerder net so deurslaggewend. ʼn Federaal-gesinde sentrale regering, hetsy deur die DA, IVP of koalisieregering bestuur, behoort beslis mag te desentraliseer, maar dit moet ook provinsiale en munisipale regerings – en hul kiesers – toelaat om die gevolge van hul besluite die hoof te bied.

Die subsidiariteitsbeginsel (so belangrik vir ons grondwetlike bestel) beteken dat wanbestuurde en korrup geadministreerde munisipaliteite en provinsies sonder inmenging van bo in duie kan stort, net soveel as wat dit beteken goed bestuurde munisipaliteite en provinsies kan sonder inmenging floreer.

John Steenhuisen tydens die DA se manifesbekendsteling vir die 2024-verkiesing. (Foto: Verskaf)

John Steenhuisen, DA-leier, se toespraak op 6 Februarie waarin die agenda van ʼn “DA-geankerde” koalisieregering se eerste 100 dae in nasionale amp uiteengesit is, was ʼn goeie een. Hy het al die regte note geslaan.

Een ding het egter uitgestaan. Steenhuisen het gesê dat die nuwe, ná 2024-verkiesingsparlement, met die DA in die middel van die meerderheidsblok, ʼn “devolusiewetsontwerp” (afwentelingswetsontwerp) sal instel en aanvaar.

Dit sal onder meer polisiëringsmagte aan “bevoegde” provinsiale en munisipale owerhede afwentel.

Om duidelik te wees, het ek in ʼn 2021 Cato Journal-bydrae aangevoer dat die parlement so ʼn wetsontwerp moet aanvaar, en ek staan by daardie siening. Maar devolusie/ afwenteling is nie federalisme nie. Dat die DA ʼn wetsontwerp op devolusie soek, is nie die probleem nie – dat hy egter nie óók ʼn wetsontwerp op federering soek nie, is wel die probleem.

Suid-Afrika is reeds formeel – op papier – ʼn federale staat, omdat elke regeringsfeer in Suid-Afrika oorspronklike grondwetlike gesag het wat nie afhanklik is van toestemming van die sentrale regering nie. Maar baie van hierdie latente federalisme moet op die voorgrond geplaas word – hoofsaaklik deur die provinsies en munisipaliteite self.

Tydens die DA se manifesbekendstelling. (Foto: Verskaf)

Daar is ʼn paar dinge wat die sentrale regering wel kan doen.

Een van die eenvoudigste dinge is om na homself formeel as die Federale Regering te verwys. Dit is iets wat maklik bereik kan word in die eerste 100 dae van ʼn nuwe administrasie. En hoewel dit kosmeties is, sal dit fundamenteel verander hoe mense dink en praat oor Suid-Afrikaanse politiek.

ʼn Regte federale regering verstaan dat dit nie ʼn ouerlike figuur is nie, met die provinsies en munisipaliteite wat sy kinders is om te koester nie. Dit is waar die DA se verbintenis tot federalisme kraak.

Die DA het lank idees gekoester van regeer oor Suid-Afrika as geheel. Dit – en ons – het getuig van hoe wanbestuur van die African National Congress (ANC) die meeste Suid-Afrikaanse munisipaliteite funksioneel vernietig het en sewe uit die nege provinsies verheerlikte buiteposte van Pretoria gemaak het.

Die DA krimp ongetwyfeld ineen oor die idee om hierdie korrupte en wanbestuurde munisipale en provinsiale regerings te bemagtig terwyl die sentrale regering ontmagtig word om in te gryp. Dit is waarom Steenhuisen sy verbintenis tot devolusie verskans het op die maatstaf dat die provinsie of munisipaliteit wat die afgewentelde mag “ontvang”, “bevoeg” moet wees.

Soos dit gebeur – en dit is nie toevallig nie – is bevoegde bestuur en DA-bestuur amper sinoniem in Suid-Afrika. Dit beteken dat Steenhuisen in werklikheid gesê het dat slegs DA-munisipale en -provinsiale regerings (of minstens dié wat in lyn is met die veelpartyhandves) afgewentelde magte sal ontvang.

Dit is nie federalisme nie, en dit is ʼn gevaarlike vertrekpunt.

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: LUCA SOLA / AFP)

Die realiteit is dat die DA, as hy nasionale mag as deel van ʼn koalisie wil proe, nie lank genoeg, of styf genoeg, die magsleisels sal vashou om die beleërde munisipaliteite en provinsies van bo af reg te ruk nie.

Koalisies in Suid-Afrika was en sal vir die afsienbare toekoms relatief chaoties wees, wat beteken dat selfs al neem die veelpartyhandves die bewind in vanjaar se verkiesing oor, dit dalk van korte duur sal wees. Boonop, gegewe die aard van koalisiepolitiek, sal geen enkele, samehangende “DA-plan” vanaf Pretoria opgelê kan word nie. Kompromie is die naam van die spel.

Federalisme is verkieslik bo blote devolusie omdat dit verantwoordelikheid ernstig opneem. In ʼn federale bedeling, as enige regeringsfeer misluk – 90% van ons 257 munisipaliteite het reeds ineengestort of is op die rand van ineenstorting – moet dit die stukke optel, of sy inwoners moet iemand anders kies om die werk te doen. Die verre sentrale regering is nie beskikbaar om as borg in te staan nie.

Die DA se beheptheid met meritokrasie staan dus ook onrustig langs sy veronderstelde verbintenis tot federalisme. Die DA wil, prysenswaardig, “die werk gedoen kry”.

Maar omdat die DA homself as ʼn toekomstige nasionale heerser beskou, soek hy die gesag om misdadige munisipaliteite en provinsies te oorheers om “dit gedoen te kry” eerder as om die wense van die kiesers in daardie munisipaliteite en provinsies wat vir ondergang gestem het, te respekteer.

Martin van Staden (Foto: Verskaf)

Die Grondwet gee tans wel hierdie gesag aan die sentrale regering, maar wanneer dit vanuit ʼn federalistiese perspektief beskou word, moet hierdie mag baie lig aangewend word en slegs onder die mees destabiliserende omstandighede.

Dit is die pynlike dimensie van verantwoordelikheid neem.

As kiesers in ʼn munisipaliteit ʼn administrasie kies wat ʼn geskiedenis van plundering het, moet daardie kiesers met die gevolge van hul besluit saamleef. In ʼn federale bedeling moet die sentrale regering daardie kiesers se wense respekteer.

Alles in ag genome, is die eenvoudigste (maar mees wesenlike) ding wat die DA en beslis die IVP daarvan weerhou om hul eie verbintenisse tot federalisme ten volle te aanvaar, waarskynlik dat hulle (soos die ANC en vele ander) glo dat Suid-Afrika grondwetlik ʼn eenheidstaat is.

DA- en IVP-regsadviseurs vertel hulle ongetwyfeld dieselfde leuen. Hiervoor moet hulle afgedank word. Geen federalistiese party moet staatmaak op die advies van prokureurs wat nie ʼn federale grondwet kan raaksien nie.

Suid-Afrika is op die randjie gebring deur gesentraliseerde regering. Selfs al het ons magte wat toegewy is om federale stof op die federale bene van die Grondwet te pak, is hulle self buitensporig ambivalent. Slegs deur ware federalisme te omhels, kan ons polities volwasse word tot ʼn regering wat verantwoordelikheid neem vir mislukking.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Martin van Staden

Martin van Staden is beleidshoof van die Vryemarkstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Zille, Steenhuisen en Winde moet hierdie artikel bestudeer. Hulle verstaan federalisme nie so lekker nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.