Outonomie-reeks: Israel, volkstaat van die Jode

(Foto: Jack Guez/AFP)

Israel is aan die een kant ʼn oeroue Bybelse volk en aan die ander kant ʼn moderne staat wat eers relatief onlangs tot stand gekom het.

Anders as feitlik alle state wat ná die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het en wat voormalige kolonies was waar die inheemse bevolking beheer oor die bestaande strukture oorgeneem het, is Israel deur Jode wat almal van elders gekom het uit niks uit as nuwe staat geskep. Israel is ʼn staat wat spesifiek as tuiste vir ʼn duidelik omlynde volk bedoel is. Israel ontvang baie immigrante, maar hulle moet Jode wees. Dus is dit aan die een kant ʼn baie diverse samelewing en aan die ander kant ʼn volkstaat met een oorheersende taal (Hebreeus) en een geloof (Judaïsme). Dit is ʼn oneindige debat of die Jode ʼn etniese groep, ʼn godsdienstige groep, of albei is.

Dit grens aan ʼn wonderwerk dat Israel onder die uiters moeilike omstandighede van sy ontstaan en stigting en voortdurende gevaar van uitwissing nie net vir meer as 70 jaar oorleef het nie, maar ʼn moderne, voorspoedige, hoogs ontwikkelde en welvarende staat kon word in ʼn streek vol konflikte, armoede en beperkte ontwikkeling. Vandag woon daar sowat 8,5 miljoen mense in Israel, waarvan 75% Jode, 20% Arabiere en 5% ander is.

Kort geskiedenisoorsig

Die grondslag vir die moderne staat, Israel, is deur die intellektueel Theodor Herzl gelê. Herzl se idee is Zionisme genoem: om in die historiese heimat Palestina, waar Arabiere reeds yl versprei gewoon het, Jode van orals heen te vestig deur middel van landbougedrewe nedersettings en om die Joodse kultuur daar uit te leef en uiteindelik ʼn Joodse staat te stig. Die eerste Zionistekongres het in 1898 in Basel (Switserland) plaasgevind. Die Jode was orals minderhede en is ten beste verdra, dikwels bloedig vervolg en onderdruk.

Palestina was tot en met die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) deel van die Moslem Osmaanse Ryk en die vestiging van Jode was dus baie moeilik. Toe die Britte na die oorwinning oor die Osmaanse Ryk die beheer oor Palestina gekry het, het hulle in die Balfour-verklaring (vernoem na die destydse Britse minister van buitelandse sake, Arthur Balfour) aan die Jode die reg toegestaan om in Palestina te vestig met die ideaal van ʼn Joodse tuisland. Die vestiging het stadig verloop en eers deur die grusame vervolging van die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het dit geweldig stukrag gekry.

Juis toe die vervolging op sy ergste was, het die Britse bewind die getal Joodse aankomelinge streng beperk ter wille van die Arabiere wat reeds daar gewoon het. Terselfdertyd het die Arabiere in Palestina teen die Jode in opstand gekom. Die Verenigde Nasies (VN) het ingegryp en voorgestel dat Palestina min of meer gelykop verdeel moes word tussen Jode en Arabiere, met Jerusalem as neutrale gebied wat deur die VN geadministreer sou word. Die Jode het dit aanvaar en in hulle gedeelte in 1948 die staat Israel uitgeroep, maar die Arabiere van die hele streek, wat die verdelingsplan verwerp het, het Israel onmiddellik aangeval. Israel kon die aanval met sy haastig gestigte weermag afweer en selfs nog grondgebied verower.

Israel het sedert sy bestaan ʼn oorlewingstryd gevoer, maar het met elke oorlog sterker gestaan. Veral die Sesdaagse Oorlog in 1967 was ʼn militêre spoedoorwinning soos min, waarin Israel sy grondgebied geweldig uitgebrei het. Tydens die Jom Kippoer-oorlog is Israel heel onverhoeds betrap, maar kon die aanvanklike verliese in ʼn oorwinning omkeer. Die buurlande het later besef dat hulle tweede kom as hulle met Israel skoor soek, maar hulle vyandskap het voortgegaan en daar is van terreur deur die Arabiere wat in Israel gewoon het (die sogenaamde Palestyne) en deur Islamitiese guerillagroepe soos Hamas en Hizbollah gebruik gemaak. Ten spyte van die permanente bedreiging het Israel altyd ʼn demokrasie gebly en ook ekonomies voorspoedig geword.

Hoe het Israel onafhanklikheid bereik?

Daar is geen bloudruk vir die ontstaan van state nie. Israel se onstaansgeskiedenis is redelik uniek en is ook te danke aan buitengewone omstandighede.

Die mylpale vir die ontstaan van Israel was die volgende:

  • Die Zionistebeweging met Herzl as die teoretikus wat mense vir die idee begeester het en steun en fondse gewerf het. Die Joodse diaspora speel nog steeds ʼn groot rol, en sonder hulle sou Israel waarskynlik stadig ontwikkel het, soos sy Arabiese buurlande.
  • Die praktiese uitvoerders, oortuigde doeners wat bereid was om groot opofferings ter wille van die ideaal te maak, wat in kibboetse Israel letterlik van onder af opgebou het. Dit was mense soos David Ben-Gurion, Moshe Dayan en Golda Maïr, die stigtersgenerasie.
  • ʼn Sterk weermag en algemene diensplig (ook vir vroue). Elke inwoner besef dat dit sy verantwoordelikheid is om die land te beskerm (met die uitsondering van die ortodokse Jode, wat weier om diensplig te doen). So iets bou patriotisme.
  • Internasionale steun vir die staat Israel. Die Britse mandaatsmag was ten minste aanvanklik positief oor Joodse besetting, soos vervat in die Balfour-verklaring. Sowel die VSA met sy aansienlike Joodse bevolkingsdeel, asook die Sowjet-Unie wat van die sosialistiese aard van die nuwe staat gehou het, was bepalend vir die erkenning van Israel.
  • ʼn Versneller in die vorm van die Joodse vervolging in Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog, wat die getalle immigrante gebring het wat onder normale omstandighede baie langer sou geneem het. Die geweldige steun uit alle oorde aan Israel, deur Jode en nie-Jode, sou waarskynlik sonder die Holocaust nie daar gewees het nie.

Van kibboets-landbou tot hoë tegnologie

Israel se aanvanklike ekonomiese en politieke uitgangspunte was sosialisties van aard, asook sterk op outarkie (stelsel van selfgenoegsaamheid) en internasionale neutraliteit gerig. Die land het min natuurlike hulpbronne, maar deur die stelsel van kibboetse, kollektiewe landbounedersettings, is merkwaardige suksesse behaal ten spyte van min water en min vrugbare grond. Die eerste nywerheidsproduksie was die van klere, sodat die self geproduseerde katoen verder verwerk kon word. Sout is ook ontgin en verwerk.

Die ekonomie was onder die regerings van die Arbeidersparty tot in die laat 1970’s eerder sosialisties van aard, waarna ʼn beleidsverandering na ʼn meer markgedrewe ekonomie plaasgevind het. Israel het intussen ook sterk verstedelik en die kibboets speel net nog ʼn ondergeskikte ekonomiese rol. Ook landbouprodukte (veral sitrusvrugte) het as uitvoerproduk in belangrikheid afgeneem en die toevoeging van waarde deur hoë tegnologie en gespesialiseerde vervaardiging het toegeneem. Diamante en olie is ingevoer en verder verwerk. Meer onlangs het Israel hom gevestig as ʼn wêreldwye sentrum vir sagtewareontwikkeling. Kennis op dié terrein is saamgetrek in Israel se eie Silicon Valley. Produksie en uitvoer van farmaseutiese produkte, asook toerisme speel eweneens ʼn belangrike rol. Meeste ruprodukte en talle landbouprodukte, soos graan, moet ingevoer word.

Dit moet wel ook genoem word dat by alle vernuf en toewyding van die Joodse setlaars in die begintyd die Duitse kompensasiebetalings van etlike miljarde Mark, asook die finansiële ondersteuning deur die Joodse diaspora van onskatbare waarde was om die land ekonomies te ontwikkel. Belangrike infrastruktuurprojekte om die klein land se selfstandigheid te verseker, soos kragstasies, chemiese werke, besproeiingsprojekte, haweontwikkelings en waterontsouting kon daarmee gefinansieer word en sodoende die basis vir die land se merkwaardige ekonomiese ontwikkeling gelê word. Ook gedurige immigrasiegolwe en daarmee saam ʼn vinnige bevolkingsgroei was van groot waarde vir die land se ontwikkeling.

In die begin was dit veral Europese Jode wat vir die Holocaust gevlug het, daarna was dit Jode uit die Arabiese streek − wat die aanvalle en diskriminasie daar wou ontkom − en na die einde van die Koue Oorlog het groot getalle Russiese Jode na Israel uitgewyk, waar lewensomstandighede baie beter was. Terwyl Israel se bevolking toeneem, neem die Joodse diaspora se getalle af. Intussen is amper die helfte van Jode wêreldwyd (sowat 14 miljoen) in Israel gevestig.

Maroela Media gaan in die komende weke tweeweekliks artikels plaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem sal word. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Die Palestyne is ‘n minderheidsgroep waarvan Israel nie baie hou nie. So toe gee Israel vir die Palestyne die Palestinian Authority, wat maar basies ‘n selfregerende tuisland is. Die res van die wêreld is só jammer vir die Palestyne dat hulle die Palestyne help en die Palestinian Authority erken. lsrael laat ook buitelandse belegging in die Palestinian Authority toe. Ek gee toe, dis VER vanaf ‘n 100% onafhanklike Palestynse Staat, maar dis beter as niks.
Die ANC kan mos dieselfde met die gehate wit mense in SA doen: “dump” ons in ‘n tuisland in die Wes-Kaap, laat buitelandse beleggings daar toe, belas dié tuisland hoog en uiteindelik wen albei groepe. Wit mense is op hulle eie en die res van SA cash in uit belasting op die wit tuisland se florerende ekonomie

annie ·

Sal ons links of regs van die 35 plakkerkampe ons waens gaan trek? Die DA kan skaars sorg vir sy ‘stemme’, gaan hulle krag en water verskaf aan die wittes wat sekerlik hul eie party saambring? Probeer ‘n plekkie huur of koop in die eens ontwikkelde Hugenote buurtes. Net rykes en bevoorregtes plus baie uitlanders, bly nou daar.

Stephanus ·

Deur hulle wou God Hom aan die ganse mensdom openbaar as die Almagtige, die Enigste, die Waaragtige.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.