Private staatskepping: ‘Maatskappystate’ in die geskiedenis

Deur Martinvl/Wikimedia Commons

State se doel is primêr polities van aard: die ordening en bestuur van mense wat een of ander gemeenskaplike afkoms, taal, kultuur of geskiedenis deel, volgens sekere reëls en praktyke binne ʼn afgebakende territoriale gebied. Afgesien van state was daar in die geskiedenis ook territoriale entiteite wie se oogmerk ekonomies, of soms idealisties, van aard was en wat deur maatskappye gestig en bestuur is. Dit het gewoonlik buite Europa en in die konteks van die ontdekkings en kolonisering plaasgevind.

In die meeste gevalle het die maatskappye hulle gebiede later oorgegee aan state, gewoonlik ʼn Europese koloniale moondheid wat dit as kolonie bestuur het wat dan later ʼn staat geword het. Ons kan hier praat van maatskappystate, maar die term moet eintlik in aanhalingstekens gesit word, want geen maatskappy het die doel gehad om ʼn staat te stig nie − dit was eerder die gevolg van die operasie binne ʼn gebied sonder staatlike strukture of erkende gesag. Soms is ook bestaande inheemse strukture tot niet gemaak en deur ʼn Europese opset vervang. Die “maatskappystate” moet egter nie uitsluitlik met uitbuiting en verowering verbind word nie. In ʼn hele paar gevalle het hulle struktuur, veiligheid, ontwikkeling en welvaart na gebiede gebring waar daar niks daarvan was nie. Party maatskappye het ook ʼn idealistiese en godsdienstige doel nagestreef.

Die wêreldwye handelsryk: die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC)

Die tyd van die groot ontdekkingsreise en die begin van wêreldwye handel, breedweg die 17de en 18de eeu, was ook die tyd waarin maatskappye met ʼn wêreldwye operasievermoë ontstaan het. Daar waar nuwe lande ontdek is, en waar geen soewereine state in die Westerse sin bestaan het nie, het maatskappye vir hulle doeleindes kwasi-staatlike strukture geskep.

Die Nederlandse VOC was ʼn voorloper van kolonisasie deur in verskeie wêrelddele handelsposte vir die handel met speserye te stig waaruit dan dorpe en selfs stede met hulle hinterland ontwikkel het. Dit was die eerste globale maatskappy in die ware sin van die woord, wat vanaf sy hoofkantoor in Amsterdam, Nederland, handelsbetrekkinge oor die hele bekende wêreld gehad het. Dit was ook die eerste publieke aandelemaatskappy in die wêreld.

Die VOC het ook sy eie weermag, amptenare en regsprekende gesag gehad, kon munt slaan en het in elke opsig in hulle gebiede soos ʼn regering opgetree. Net soos ʼn staat het die VOC grondgebied verower, en inheemse volke of ander kompeterende Europese koloniale moondhede verdryf. Al was die doel nooit kolonisasie ter wille van kolonisasie nie, het uit die handelsposte permanente nedersettings ontstaan en het daar ook die Nederlandse taal en kultuur versprei, al was die impak in meeste plekke net tydelik van aard.

In Suid-Afrika was die impak besonder sterk omdat die VOC onbedoeld die stigter van ʼn nuwe kwasi-Europese land met Nederlands en later Afrikaans as taal was. Die oudste stede in Suid-Afrika, soos Kaapstad, Stellenbosch, Paarl en Swellendam is almal stigtings van die VOC. Al die ander lande waarin hulle bedrywig was, soos Indië, Sri Lanka, Indonesië, Taiwan en ander is later deur inheemse volke oorgeneem en die Europese spore gereduseer tot enkele monumente.

Tweehonderd jaar na sy stigting is die VOC genasionaliseer, toe Napoleon Bonaparte die beheer oor Nederland oorgeneem het. Die Britse Oos-Indiese Kompanjie was die Britse spieëlbeeld van en antwoord op die VOC en het vergelykbaar geopereer en gefunksioneer in die handel met die Ooste. Ook hier was dit die padbereier van die latere kolonisasie van gebiede in Asië. Ook die Franse, Portugese en ander Europese moondhede het hulle Oos-Indiese handelsmaatskappye gehad om deel te neem aan die uiters winsgewende speseryhandel.

Temmers van die wildernis: die Hudson Bay Company

Die Hudson Bay Company (HBC) was eweneens ʼn internasionale handelsmaatskappy, maar was anders as die VOC en vergelykbare maatskappye nie op die handel van speserye en ander tropiese produkte ingestel nie, maar op pelshandel, veral bewers. Hulle het nie wêreldwyd gefunksioneer nie, maar was in een spesifieke gebied gekonsentreerd, naamlik die Hudsonbaai en wyer omgewing in Kanada, die gebied waar die beste pelse voorgekom het. Die maatskappy is in 1670 in Londen gestig en was ook ʼn aandeelhouermaatskappy met wins as sentrale motief.

Die grondslag was ʼn oktrooi van ʼn heerser, in dieé geval die Engelse koning Charles II. Deur ʼn oktrooi is ʼn monopolie aan die maatskappy toegeken en omskryf wat hulle operasiegebied en hulle spesifieke regte en pligte was. Natuurlik het hulle ook belasting betaal. Vir die Engelse koning was, behalwe vir die pelshandel, nog ander oogmerke belangrik: die hoop om ander grondstowwe te ontgin en die moontlikheid om die legendariese Northwest Passage te ontdek. Dié gebied, wat deur die oktrooi gedek was en na die koning se neef Rupert’s Land genoem is, en wat eintlik die woongebied van Indiane en Inuit was, het 1,5 miljoen vierkante kilometer beslaan.

Interessant is dat die twee stigters van die HBC, Pierre-Esprit Radisson en Médard des Groseilliers, Franse burgers woonagtig in die Kanadese Quebec-gebied was. Hulle is deur die Franse owerhede ná hulle ontdekkingstog en die opgewonde berig oor die rykdom in wilde diere, beboet omdat hulle sonder toestemming die Franse gebied verlaat het. Toe hulle egter aan Engelse setlaars in New England (die stigtingskolonie van die Verenigde State van Amerika sowat 100 jaar later) van hulle ontdekking vertel het, was daar groot opgewondenheid en die twee ontdekkers het besluit om die Engelse koning vir steun te nader. Sodoende het Engeland ʼn houvas op ʼn gebied gekry wat eintlik deel van die Franse invloedsfeer was.

Die HBC het in sy gebied handelsposte opgerig, bestuur deur Engelse amptenare en bedryf deur veral Skotse handelaars, en het met die Indiane of middelmanne Europese produkte soos suiker, wolkomberse en gewere geruil vir velle. Om die handel te vergemaklik het die maatskappy sy eie geldeenheid, “Made Beaver” gehad, wat se waarde vasgestel is as die van een goeie kwaliteit bewervel. Die handelaars wat in die gebied rondbeweeg het, het onbewustelik die Engelse taal, kultuur en besigheidspraktyke versprei asook groot gebiede verken en gekarteer, wat die voorwaarde vir latere kolonisering van die gebied was. Goeie verhoudinge met die Indiane, wat die teenwoordigheid van die HBC as aanwins gesien het, was daarby van groot waarde vir die latere opeis van die gebied vir Brittanje.

Die HBC het sy fokus vanaf 1770 van veral handel ook geskuif op ontdekking en was ʼn belangrike uitgangspunt vir die koorsagtige soeke na die Northwest Passage in daardie tyd. Die onbedoelde gevolge van die ontdekkingstogte en die interaksies tussen handelaars en Indiane, was siektes waarteen die Indiane en Inuit nie immuun was nie en wat hulle getalle drasties verminder het. Die HBC het mediese dienste aan die Indiane voorsien en ook op groot skaal ingeënt want hulle was op hulle aangewese om die velle te voorsien en wou nie, soos in die latere VSA, die gebied met Europeërs bevolk nie. Nogtans het dit gebeur en Kanada het vandag ʼn bevolking van oorwegend Europese herkoms.

In 1868, nadat die velhandel reeds lankal op die afdraande pad was en die Britse dominium Kanada gevorm is, is Rupert’s Land, op aandrang van Brittanje, aan Kanada verkoop vir die geringe som van 300 000 pond. Dit was moontlik omdat die HBC tegnies nie die eienaar van die gebied was nie, maar net die houer van die oktrooi. Die grondslag wat die HBC gelê het, was van groot waarde vir Kanada. Dit het die pad na die Pasifiese Oseaan geopen en ook gesorg dat Kanada, afgesien van die provinsie Quebec in die ooste, ʼn grootliks Engelssprekende land geword het. Die HBC het daarna soos enige gewone maatskappy gefunksioneer, met sakebedrywighede maar sonder grondgebied en regeringsfunksies. Dit bestaan tot vandag toe nog en bedryf groot afdelingswinkels in Noord-Amerika.

Bouers van kolonies: die British South African Company

Interessant is die latere British South Africa Company (BSAC) van John Cecil Rhodes, wat ʼn staat, naamlik Suid-Rhodesië, die latere Zimbabwe, uit die niet geskep het. Ook die huidige state Zambië en Malawi was skeppings van die BSAC, alhoewel daar, anders as in Suid-Rhodesië, min ontwikkeling plaasgevind het. In die tyd waar die oktrooi toegeken is, in 1889, was imperialisme sterk op dreef. Handel en winsbejag was nie meer die hoofsaaklike doel nie, maar eerder ʼn middel tot ʼn doel, naamlik die bou van kolonies om soveel as moontlik van Afrika te beheer.

Dele van die gebied waarbinne die BSAC gefunksioneer het, moes die nodige winste voorsien om ander dele te kon ontwikkel met die uiteindelike doel om die Britse invloedsfeer in suidelike en sentrale Afrika uit te brei. Rhodes was nie bloot ʼn kapitalis nie, maar ook ʼn idealis (as ʼn mens imperialisme uit die huidige oogpunt idealisme kan noem) en benewens die ontginning van veral myne, was sy visie die doelbewuste stigting van nedersettings om Britse kultuur en belange te versprei. Dat dit met veel verraad en brutaliteit teenoor die inheemse bevolking gepaard gegaan het staan vas, maar die opset voor die aankoms van die maatskappy, met gereelde aanvalle van die Ndebele as “herevolk” op die ondergeskikte Sjona, was ook alles behalwe idillies.

Die BSAC het baie vinnig geopereer, soos wat die tegnologie en die politieke opset in die laat 19de eeu baie meer gunstig vir hulle was. Met die Ndebele-koning Lobengula is wel, om die formaliteite te bewaar, ʼn verdrag gesluit om binne sy gebied sekere dinge te mag doen, alhoewel dit baie vaag omskryf is.

Nedersettings is gestig, myne en plase ontwikkel, Britse setlaars gevestig, spoorlyne en paaie gebou. Die gebied is beheer deur ʼn goewerneur. Die BSAC het alles in die gebied hanteer: administrasie, regspreking, handhawing van orde, handel en vervoer. Soos wat die wit bevolking van die gebied gegroei het, was daar meer en meer aandrang op selfbestuur, en die oktrooi wat in 1924 sou verval, is nie meer deur die Britse regering hernu nie. Suid-Rhodesië met goed gevestigde strukture en ʼn aansienlike blanke bevolking het selfbestuur gekry, die ander gebiede het die status van ʼn Britse kolonie bekom. Die drie gebiede het later, in 1964, onafhanklike state geword.

ʼn Idealistiese maatskappy-staat: die Jesuïete-nedersettings in Suid-Amerika

Hier was geen maatskappy in die sin van winsbejag die drywer nie, maar ʼn godsdienstige orde, naamlik die Jesuïete. Hulle het eweneens kwasi-staatlike strukture geskep en mense in nedersettings gekonsentreer om ʼn idealistiese doel na te streef, naamlik die beskerming en opheffing van die Indiane.

Die Jesuïete was nie koloniseerders of voorlopers van koloniseerders nie, maar wou inteendeel die negatiewe impak van kolonisasie en die uitbuiting van inheemse volke verhoed, deur ʼn Indiaanse selfbestuurde gebied, gebou op die Christelike leerstellings, te skep.

Die gebied waarin dit gebeur het, was die grensgebied tussen Argentinië, Brasilië en Paraguay (die Argentynse provinsie Misiones se naam verwys daarna), wat deur die koloniale bedrywighede van die Spanjaarde en Portugese minder geraak was en as ʼn soort toevlugsoord gedien het. Dit was die teenmodel tot die Spaanse uitbuitingstelsel, waar Spaanse veroweraars inheemse stamme verkneg het om vir hulle grondstowwe te ontgin. Die Jesuïete het nedersettings gestig waar die Indiane gevestig is en geleer is om ekonomies selfstandig te wees en hulle self te bestuur. Spaanse priesters was wel in beheer, maar die bestuur is geleidelik oorgegee aan die Indiane. Die opset was baie soos ʼn kibboets, natuurlik met ʼn Christelike fokus: alles was gekonsentreerd rondom ʼn sentrale plein met die kerk, daar was ambagswinkels en landerye en elkeen het sy pligte en sy werk gehad. Die nedersettings was outargies: voedsel is geproduseer en verwerk, ambagsmanne het gebou, herstel en ontwerp en kunste is beoefen. Opvoeding en opleiding was sentraal. Alles is saam gedoen: etes, eredienste, kultuurbeoefening. In ʼn sin was dit ʼn kommunistiese utopie lank voor die term bestaan het en wat nooit meer so herhaal kon word nie.

Teen 1732 het die sendingstaat sy hoogtepunt bereik, met sowat 150 000 mense oor 30 nedersettings versprei. Die koloniale regering het aanvanklik die projek gesteun en selfs belastingvrystelling gegee, want hulle het gereken dat die kerstening van die Indiane asook die vestiging van dorpe in die omstrede grensgebied ʼn stabiliserende uitwerking sou hê. Later was daar egter jaloesie op die outonomie van die Indiane, en die ontevredenheid van die veroweraars dat hulle nie meer slawearbeiders kon kry nie, omdat die sendingstasies almal opraap. Die Jesuïete is toe in 1767 uit Suid-Amerika verdryf en die nedersettings is aangeval en vernietig, of het geleidelik verval.

Maroela Media gaan in die komende weke tweeweekliks artikels plaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem sal word. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek wil nie deur Pfizer, Google, Amazon, ens regeer word nie. Hulle kan loop speel.

Jaco ·

Wats die kans dat ‘n ryk man soos Donald Trump of Elon Musk die Wes-Kaap kan koop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.