Redakteursbrief: Korona: Kom ons klim dié kloktoring saam uit

Susan Lombaard in die trap van die kloktoring (Foto: Verskaf).

Liewe Maroela-leser

Ons wêreld het in enkele weke heeltemal verander.

Elke oggend word ek wakker en vir ʼn oomblik hoop ek dit was alles net ʼn droom, en dat ek nóú mooi wakker gaan word en gaan besef die koronavirus was iets wat my verbeelding in die nag vir my opgedis het.

Ek het hierdie redakteursbrief al oor en oor geskryf, en elke keer iets anders probeer sê. Wat is nog nie gesê nie? Die inligting daar buite oorweldig ʼn mens. Jy weet nie wat is die waarheid en wat is fiksie nie; wie oordryf, en wie onderskat die virus; wie oorreageer, en wie is nie versigtig genoeg nie. Jy sien foto’s van rye mense wat waentjies vol kos koop, en vir ʼn oomblik tref paniek jou en jy wonder of jou doodgewone maandelikse aankope voldoende gaan wees. Jy gee ʼn vriendin ʼn drukkie, en wonder of dit dalk die laaste drukkie vir maande gaan wees. Jy sien mense op ʼn bus of ʼn taxi en sidder as jy sien hoe hul skouers teen mekaar skuur en hoe hulle in mekaar se ruimte asemhaal.

ʼn Vriendin van Felsted in Engeland stuur gisteraand ʼn video waarop sy en haar dogtertjie deur Woolworths se dolleë rakke loop. Al wat oor is, is ʼn klompie blomme en geskenke vir Moedersdag. Op ʼn foto van ʼn varsproduktemark in die stad Bozen in Suid-Tirool, Italië, wat ek en ʼn klompie kollegas nog verlede jaar in Mei besoek het, is die stalletjies leeg. Daar het ek vir my gesin ʼn vet salami gekoop; vir myself een rooiwangperske wat ek in die loop geëet het terwyl die sous oor my ken drup. Keukenhof in Nederland, een van die wêreld se grootste blomtuine in die wêreld, sou vandag vir die seisoen oopgemaak het. Vanjaar gaan ses miljoen tulpe blom en verwelk sonder dat die publiek dit gesien het.

Elkeen van ons het in hierdie tyd ons eie storie van verlies. Daar was in ons onlangse geskiedenis nog nie ʼn gebeurtenis wat ons almal persoonlik so wyd en hard getref het nie. Matrikulante wat moes begin voorberei vir rekord- en eindeksamen, sit tuis. Besighede wat afhanklik is van ʼn dag-tot-dag-inkomste, sluit hul deure. Kunstenaars kom klop by Maroela se deure aan vir hulp om hul vertonings wat gekanselleer is, digitaal aan te bied. Die strate is elke dag stiller. Ons almal hou die media dop en sien hoe die virus nader en nader aan ons onmiddellike omgewing beweeg; trek ons kinders nader, was ons hande, raak stil.

Klaus von Ach sluit die deur na die kloktoring oop (Foto: Susan Lombaard)

Ek onthou ʼn dag tydens die einste besoek aan Suid-Tirool verlede jaar toe ons die sonderlinge voorreg gehad het om op te klim in die toring van die Assumption of our Lady-katedraal op die Walther-plein in die stad Bozen. Dié voorreg is nie almal beskore nie: Die trap en die toring is nie oop vir die publiek nie, en slegs enkele mense het ʼn sleutel vir die kerktoring. Klaus von Ach, een van die vrywilligers wat die katedraal help bewaar, is een van dié mense en het vir ons die swaar houtdeur oopgesluit. Ons is die trap op na bo; diep bewus van die sonderlinge voorreg wat ons geniet. Binne was dit donker en bedompig; die laaste entjie was die trap nou en steil, en dié met hoogte- en engtevrees moes diep asemhaal om hul vrese te oorkom.

Bo is die valdeur oopgestoot en ons het die laaste trap geklim in die vars, helder daglig in. Ver onder ons het die stad gelê, en agtertoe, appelboorde teen die berghange. Dit was stil. Die stadsgeraas het vervaag tot ʼn rustige geruis. Die gewoel op die plein was skielik onbenullig. Ons het afgekyk op die pastelkleure van die huise en geboue asof dit stukkies van ʼn legkaart is.

Bokant ons koppe was die kerkklokke. In die koper was delikate versierings wat die klokmaker liefderik aangebring het, wetend dat min mense dit ooit sou sien, maar dat daar ʼn Skepper is aan wie sy liefdeswerk hulde bring. Onder ons hande was die kliprelings van die kloktoring se balkon klam en mosbegroei.

En toe begin die klokke lui.

Ek dink nou terug aan daardie oomblik. Die grootsheid van die gebeier wat ek deur my hele lyf kon voel. Die oomblik van skoonheid waarvan ek met elke vesel deel kon wees – deel van iets wat ek nie sou beleef het as ek bang was vir die donker kloktoring en die steil trap nie.

Dis dalk ʼn bietjie filosofies om die vreemde en skrikwekkende tyd waarin die wêreld tans is, te vergelyk met opklim in ʼn donker kloktoring, en te dink as ons anderkant uitkom, gaan die uitsig prentjiemooi en wonderskoon wees. Waarvan ek wél seker is, is dat ons wêreld anders gaan lyk, en dat ons anders na ons wêreld gaan kyk. Kontak met vriende gaan kosbaar wees. Ons gaan stadiger beweeg, gesonder eet, mekaar in die oë kyk, glimlag vir vreemdelinge. Ons gaan dieper asemhaal. Ons gaan vir mekaar lief wees. Ons gaan groentetuine kweek en vrugtebome plant. Ons gaan konsert hou op ons stoepe en in ons tuine.

Dit herinner my aan hoeveel keer Jesus hom afgesonder het wanneer dit dol geraak het rondom hom. Waar ons gedwing is om ons self te isoleer, het Jesus dit gekies: Hy het teen die berg opgegaan, met ʼn skuit uitgevaar, in die woestyn gaan vas en bid. As die nood gedruk het, het Hy tyd saam met sy Vader spandeer. In die volgende weke gaan ons tyd hê, en ons kan kies wat ons daarmee doen.

Ek vertrou dat jy, Maroela-leser, veilig en gekoester sal wees in die volgende paar weke. Dat jy sal omsien na jou mense, verantwoordelik sal optree, en dat ander na jou sal omsien. Trek jou Bybel en ʼn boek nader. Stof die bordspeletjies af. Drink rooibostee; stap in jou tuin. Ek vertrou dat jy die kloktoring sal uitklim met moed oor die uitsig wat voorlê, en met dapperheid ter wille van hulle wat saam met jou op die trap is. God het ons immers nie ʼn gees van vrees gegee nie, maar van liefde en krag en selfbeheersing.

Groetnis

Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

Voetnota: Wat maak Maroela Media in dié tyd?

Van Maroela se kant gaan dinge soos normaal voort. Ons span is gerat om op enige plek te kan werk, te danke aan tegnologie. Ons onderneming is om jou ingelig te hou met gebalanseerde betroubare nuus, net soos altyd; om nie sensasie na te jaag nie (soos altyd), om jou nie te oorweldig met nuus oor die koronavirus nie, maar tog vir jou alles te sê wat jy moet weet om ingeligte besluite te kan neem. Ons onderneem ook om vir jou positiewe nuus te bring. Ons Maroela-gemeenskap leef koronavry voort, sonder veiligheidsmaatreëls en streng higiëneregulasies. Jy kan hier kom saamkuier sonder die vrees dat jy gaan siek word. Nooi sommer jou vriende ook; ons kan lag-lag ʼn kuiertjie van meer as 100 mense op ʼn slag akkommodeer. Kom sluit sommer aan by Maroela-fontein, Maroela Media se aanlyn-gemeenskap, sodat jy kommentaar kan lewer op ons stories, vir jou vriende e-poskaarte kan stuur wat virusvry afgelewer word, en tiekies en balkies kan verdien vir jou Maroela-lojaliteit. Klik hier om by Maroela-fontein aan te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Susan, dit is nou in jul hande hoe julle in die weke wat kom, dalk maande, ons van nuus (net nie te veel van die negatiewe nie, maar ons moet ook darem weet wat aangaan) voorsien, ook hoe julle al jul lesers gaan besig hou. Daar is mos nou nie meer sport nie. Wat van mense met skryfwerk betrek, tolletjieswerk, hekelkompetisies? Dalk moet ons weer leer dambord speel, wat van soduku, brug? Julle sal moet innoveer wat skrik vir niks.

Dr Pieter

Wat ‘n pragtige, positiewe boodskap! Dankie! Mag ons dit uitleef.