SEB verdeel landbou in handeklappers en hakke-inkappers

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. (Foto: Verskaf)

Deur dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai

Soos met die Landboumeesterplan (AAMP) is die verdeeldheid tussen landbou-organisasies se steun vir of nié vir die ANC se transformasie-ideologie nie die afgelope week sterk beklemtoon in hul reaksie op die toepassing van swart ekonomiese bemagtigingsvereistes (SEB) op familieboerderye.

Aan die een kant van die vurige debatte staan die handeklappers wat sê die SEB-maatreëls is niks nuuts nie, nie so erg is nie, word nie regtig streng toegepas nie en is nodig om meer swart mense uit landbou te laat voordeel trek. Dit is ook hulle wat op die meesterplan afgeteken het.

Aan die ander kant is die hakke-inkappers wat voel dat die toepassing van SEB nog niks goeds vir Suid-Afrika gebring het nie, die oorsaak is van ekonomiese en staatsverval, omgekeerde apartheid verteenwoordig en ʼn fundamentele ongeregtigheid is. Dit is dieselfde organisasies wat weier om te aanvaar dat transformasie die belangrikste agenda in landbou is en eis dat winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid in die AAMP voorop gestel word.

Van die grootste verskille in die benadering tot die debat is dat die hakke-inkappers dit konsekwent in die openbare domein voer en na die onderliggende beginsels vra, terwyl die handeklappers tegniese punte in briewe aan hulle lede aanhaal, of dit in geslote vergaderings probeer verduidelik waar die teenkanting afwesig is.

Nou wil die hakke-inkappers aan die handeklappers ʼn eenvoudige scenario voorhou en uitdaag om aan te voer wat in hierdie scenario nie realisties is nie, en ook hoe hulle die implikasies daarvan moreel kan regverdig, of daarvoor ʼn mandaat by hulle boerelede kan kry.

In hierdie denkbeeldige scenario word die omstandighede van twee boere vergelyk wat te jonk is om enige ervaring van, of aandadigheid aan apartheid te hê – hulle is skool- en studentevriende op aangrensende plase. Albei het dieselfde kwalifikasie behaal, is suksesvolle, skrander entrepreneurs met omsette van meer as R50 miljoen per jaar wat hulle produkte uitvoer.

Een tree agter

Die wit jong boer het nog groot kapitale skuld op sy plaas, en moes ook self sy verbeterings, infrastruktuur en toerusting finansier. Die ander een is ʼn begunstigde van grondhervorming, wat gereeld reuse kapitale inspuitings van die staat in sy boerdery kry en die meeste van sy toerusting is deur die departement geskenk. Albei is egter knap, hardwerkende produsente wat hul sukses verdien.

Omdat hy wit is, moet net een van hulle ʼn gedeelte van die eienaarskap van sy plaas en sy boerdery-onderneming aan ʼn swart vennoot, wat klaarblyklik nie sy eie potjie kan krap nie, afstaan en as hy dit nie verniet gee of teen ʼn verwaterde waarde oordra nie, sal hy dit bitter moeilik aan hierdie vennoot verkoop kry, want die staat wat dit vereis, het geen funksionerende meganismes om so ʼn onwelkome, selfs lastige vennoot wat op die wit boer afgeforseer word, te help om aandele te bekom nie.

Sy buurman hoef nie

Die ander jong boer kan ongehinderd op die uitbreiding en winsgewendheid van sy boerdery fokus want hy is nie wit nie.

Die wit boer mag ook nie die mees ervare, hoogste gekwalifiseerde, bewese bestuurders wat die beste by sy boerdery sou inpas, werf of aanstel nie. Hulle velkleur moet swart wees. Hulle moet veral vroue wees (in welke nuwe definisie ook al van wat en wie as vroue kwalifiseer). Hulle moet deur hul besluitnemingsmagte beheer oor sy boerdery kan uitoefen. Hulle moet in alle vlakke van bestuur aangestel word.

Die ander jong boer kan gewoon die beste bestuurders aanstel.

Bykomende verantwoordelikhede

Die wit boer kreun onder ʼn gedwonge verantwoordelikheid om vaardigheidsontwikkeling, opleiding en menslike kapitaalverryking uit sy boerdery te dra terwyl (of omdat?) die staat daarmee misluk.

Die wit boer het nie die luukse wat sy buurman het om die beste gehalte saad, kunsmis, teelmateriaal, masjinerie of dienste van die mees betroubare verskaffer teen die beste prys te koop nie. Hy moet dit by swart ondernemings koop, ongeag of hulle in sy gebied sake doen of nie.

Boonop word hy beoordeel aan sy besteding op sosiaal-maatskaplike bydraes tot swart gemeenskappe, maar sy buurman is vry van daardie las want hy is nie wit nie.

Daar is geen sperdatum waarna die wit boer kan uitsien, wanneer die speelveld weer gelyk gaan wees nie, geen teiken of prestasie wat ʼn einde aan die diskriminasie sal bring nie. Soos dit nou staan, is dit vir ewig.

Die hakke-inkappers eis van die handeklappers om te verduidelik wat die morele begronding vir hulle steun aan die ANC se rasmal regulasies is. Die hakke-inkappers wil die impak wat SEB op openbare gesondheidsorg, Eskom, Denel, SABC, die kantoor van die Meester van die Hooggeregshof en dienslewering by plaaslike munisipaliteite gehad het, ten alle koste in landbou vermy.

Tog voel en klink dit in die openbare diskoers of die handeklapper-landbou-organisasies met groter ywer die regering se rasse-agenda dryf as wat die ANC self dit doen!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Produksie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Schalk ·

Die mens probeer die wette van die natuur omgooi vir politieke gewin. Onder enige ouderdom , bevolkingsgroep , ras , geslag is daar altyd mense wat meer natuurlike funksioneer in bv. wiskundige aanleg , wetenskaplike aanleg , boer verstaan en kan trotseer en nou probeer die wette die voorskrifte bepaal op politiese grond

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.