Sien Ramaphosa dalk die lig?

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/ GCIS

Dit lyk of pres. Cyril Ramaphosa die lig sien wanneer hy in sy weeklikse nuusbrief skryf die aanstelling van mense sonder die regte kwalifikasies, maar met die regte politieke konneksies sal tot ʼn einde kom.

Dis ʼn rein gedagte, maar of hy en sy party dit tot uitvoer kan bring, is ʼn ander vraag. Hy skryf ook staatsdepartemente wat nie dienste kan lewer nie verminder die kapasiteit van die staat.

“Dis hoekom ons hooffokus sal wees om die staatsbeheerde ondernemings (SOE’s) weer gesond te maak deur ervare en gekwalifiseerde rade en bestuurders aan te stel en hul mandate te bepaal en hulle die ruimte te gee om dit uit te voer. Waar ons hulp nodig het, moet ons bereid wees om die kundigheid van die privaat sektor te betrek.”

Ramaphosa verwerp ook die stelling – teen baie getuienis – dat Suid-Afrika op pad na ʼn mislukte staat is. Maar ʼn man met die status van Danny Titus skryf in ʼn meningsartikel die mislukte staat is lank reeds met ons. “Eskom, Prasa en die verbrokkelende ondernemings is hier om te bly terwyl die land oorloop van bevoegde landgenote wat nie ‘blacks in general’ en ‘Africans in particular’ is nie.  Maar die vakbonde skop vas en beskerm hierdie mense.”

Dis moeilik om hierteen te stry.

In sy sluitingstoespraak by die lekgotla in Irene het Ramaphosa gesê vorentoe sal daar slegs politieke inmenging wees ten opsigte van strategiese sake en wanneer daar wanadministrasie is. Meer as 740 SOE’s moet saamgevoeg en gerasionaliseer word.

“Baie mense het verwag dat hier chaos en ontwrigting met bekgevegte sal wees. Daar was nie,” het hy onder applous gesê.

Dit sou waarskynlik anders gewees het as Ramaphosa harder en in meer besonderhede gepraat het oor kwalifikasies, politieke konneksies en die betrek van die privaat sektor, maar hy het dit vir sy nuusbrief gelos waar dit veilig (en vergete en ongelees?) is.

Op die pad na rommelstatus

Eskom – die grootste staatsentiteit – is tans ook een van die grootste krisisse in ʼn land wat die slagoffer is van matelose korrupsie en wanbestuur, ook in amper al wat ʼn munisipaliteit is.

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s het Tito Mboweni, minister van finansies, tot Februarie se begrotingsrede kans gegee om ʼn plan te maak of na rommelstatus afgegradeer te word. Standard & Poor het Suid-Afrika reeds na BB+ afgegradeer en Fitch het die land afgegradeer tot die niebeleggingsgraad. Die Wêreldbank skat ons groeikoers op minder as 1% weens die kragprobleme.

Wat beteken rommelstatus?

  • Dit sal dit vir Suid-Afrikaners moeiliker maak om geld van banke te leen;
  • Internasionale fondse sal geld uit die land onttrek;
  • Die rand se waarde sal daal en produkte sal duurder wees;
  • Inkomstebelasting sal styg; en
  • Die staat mag gedwing word om die welsynstoelae aan 17 miljoen mense te sny.

Privatisering

Ramaphosa het dit ook nie durf waag nie om ʼn sprak te sprook oor die oorweldigende bevolkingsaanwas en veral die rol van privatisering en vernietigende vakbonde. Die blote noem van privatisering is ʼn vloekwoord, want dit sal ʼn erkenning wees dat private ondernemings soveel beter is as wat die ANC moet wees.

Lande waar privatisering sterk en staatsinmenging klein is, is die welvarende land. Die Wêreldbank-indeks toon hoe state soos Nieu-Seeland, Singapoer en die VSA voorloop as dit gaan oor die stig van ondernemings en wat daarmee gepaard gaan. In agtergeblewe lande soos Zimbabwe en Venezuela veroorsaak sosialisme en ʼn gebrek aan private inisiatief armoede, hongersnood en dat lang rye gevorm word vir kos en medisyne.

As entiteite soos die SAL (wat nou binne- en buitelandse vlugte kanselleer), Eskom en Denel

geprivatiseer was, sou markkragte hul ondergang verseker het weens hul korrupsie, wanbesteding en swak tot niebestaande diens.

En pleks van aandring dat die horde skarminkels wat hulself so met staatsgeld verryk afgedank word en oranje oorpakke verruil vir uitspattige klere, word die koppe van ministers soos Pravin Gordhan en Mboweni gesoek. Pre-Zuma en sy kaders was die land se groeikoers in 2006 4,5% en die huidige werkloosheidsyfer veel laer as 29%.

Die rol van vakbonde

ʼn Groot deel van Eskom se probleme kan gesoek word by die ANC se rassepolitiek en die voorrang wat korrupte kaders geniet. Dit geld die enorme probleme met onderwys, wat ingelui is deur die minister Kader Asmal en die septer wat tans deur die vakbond Sadou geswaai word.

Die politieke kommentator Max du Preez het alles goed opgesom met sy stelling: “As ons net mense het wat vir werk opdaag en agt ure lank werk sonder om te steel.”

Lady Margaret Thatcher word gehuldig en in baie kringe gehaat vir die wyse waarop sy die mag van Britse vakbonde in 1979 gebreek en inflasie van 10,3% tot 5% laat daal het. Nadat sy uitgetree het, het die Ystervrou gesê: “Ons was die eerste land wat sosialisme teruggerol het.”

In 1979 was elektrisiteit, gas, water steenkool en die staalindustrieë in privaat besit. Nou is dit in private hande.

Vakbonde kan ook ʼn noodsaaklike en goeie rol vir sy lede speel. Dit gebeur nie wanneer hulle, soos in Suid-Afrika, poste in die onderwys teen betaling aan ongekwalifiseerde onderwysers en hoofde verkoop nie. En in lang uitgerekte stakings eindig die stakers soms slegter af en hul leiers ryker.

Die Griekse wysgeer Sokrates het gesê regerings werk op hul beste wanneer hulle geregeer word deur individue wat oor die grootste bekwaamheid, kennis, deug en eerbaarheid beskik en ʼn goeie insig in hul eie vermoëns het.

Dis iets wat nie tot die ANC en sy leiers sal deurdring nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johan Venter ·

Miskien begin die lig so stadigaan deurskyn, na 25 jaar, destyds met die onderhandelinge oor die grondwet was die oë nog bot-toe!

Johan Venter ·

Dankie Org, ‘n hele bekvol waarheid in ‘n neutedop, seker die beste saamgevat wat ek nog gelees het. Ek wed jou Roelf sal hierdie artikel ‘n paar maal lees, veral die gedeelte oor die lig.

Lou ·

Ek glo jy verwys na Roelf Meyer. Hy het so jaar of drie gelede in n TV onderhoud gesê dit gaan glad nie so sleg in die land nie. Hy weet nie waaroor kla al die blankes so nie.
So ek dink nie hy sal hom steur aan die artikel nie. Deur sy bril lyk alles in die land baie rooskleurig.

Feite ·

Hierdie mening slaan die spyker op die kop in die laaste paragraaf. Besef tog net dat die oorsaak ideologies strategies en met opset is. Vir die ANC is dit n kwessie van die einddoel, “all or nothing”!

John ·

En wie moet die verbeteringe aanbring? Dieselfde mense wat die probleme skep? Tito predik in die buiteland atoomkrag. Europa wil dit so gou as moontlik staak. Wie gaan miljarde na SA gooi om skelms uit hul dwaashede te red? En dan wil ons prosesse wat nog nie getoets is nie, invoer. Om ‘n krisis met ‘n gevaarliker probleem op te los is dwaas verby. Van rommelstatus tot rampstatus… Waansin het oorgeneem.

Frik ·

Ek het net gelees tot by die verwysing na Max du Preez. Toe word ek naar en moes vars lug soek.

Judge Dredd ·

Die enigste lig wat Ramaphosa sien is die van die aankomende trein en homself vasgevang in die middel van die tonnel.

JohanR ·

Ek het altyd gedink Nkosazana Dlamini-Zumais is vrek stadig, maar dink nou Cyril Ramaphosa is nog stadiger. Het hy al enige rerige belangrike besluite sedert 9 Mei 2019 geneem?

Elred Ferreira ·

Daar is ongelukkig nie enige sprake dat die SA Titanic omgekeer kan word nie. Slegs n totale idiotiese dagdromer sal nie besef SA sal oor minder as 10 jaar by Zim wees nie…

Kallie ·

Zimbabwe is nie werklik ‘n mislukte staat nie. Die land het net gedekoloniaseer. Die mense daar aanvaar dit so.

Gert Potgieter ·

Ag assesblief! Wanneer gaan julle besef dat hierdie marionet dinge sê op die regte tye net om mense wat bekommerd is oor sake in die land weer te kalmeer. Agter die skerms konkel hy nog steeds met die kommuniste en met George Sorros en Robert Renwick om die land, die ekonomie en eiendoms reg te vernietig! Skrik asb wakker Maroela!

Eddie ·

Baie, baie dankie Org , sal jy asb vir ons gereeld kommentaar op elke nuusbrief lewer ??

Willie Nel ·

“Ervare en gekwalifiseerde bestuur aan te stel”

HAHAHAHA!!! Hulle diskriminerende BEE wette en EFF sal dit nooit toelaat nie. HAHAHAHA!!! Nice try dude, maar ons is nie gullible nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.