Skokkende feite oor die uitwissing van ons natuur

pierre-massyn-waterblommetjie

Pierre Massyn en 42 voet-seiljag Waterblommetjie was die eerste seiljag in menseheugenis met ’n Afrikaanse naam en die Franse Tricolere. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Skokkend. Hartverskeurend. Verregaande. Dit is maar drie woorde wat by jou opkom as jy na die jongste statistieke oor die uitwissing van ons natuurlewe kyk:

* 1000 luiperds word jaarliks in Suid-Afrika gestroop. Hierdie pragtige diere word geslag deur gewetelose verbruikers in China wat glo hul bene bevat die een of ander muti wat jou meer woema in die bed kan gee. Die Chinese regering het so pas permitte uitgereik om luiperdbene kommersieel te gebruik. Verreweg die meeste van hierdie gestroopte luiperds word deur Suid-Afrika gelewer. En, soos gebruiklik, swyg onse regering soos die graf, want hulle mag nie ’n belangrike handelsvennoot soos China ontstel nie. Dis nou hierdie China wat die Dalai Lama se land, Tibet, verkrag het. En dis dieselfde regering wat nie die Dalai Lama hier wil toelaat nie, maar verwelkom wel ’n gesoekte internasionale misdadiger soos Omar al-Bashir met ope arms hier.

 * 1000. Dis hoeveel renosters in 2017 gestroop is. Vanjaar reeds meer as 500 net in die Krugerwildtuin alleen. Maar ons weermag gaan beweer liewer die “vrede” elders in Afrika in plaas van om hier ons eie dierlewe te help beskerm.

* 640 000 ton. Dis hoeveel plastiek ons, die menslike spesie, jaarliks in die see stort vir die seelewe om in te verstik. En daagliks wis ons nog ’n ander spesie of ses uit deur ons dodelike insekdoders en spuitstowwe.

* 4%. Dis al renosterveld ons nog oor het. Die res is opgeoffer in die naam van “landbouvooruitgang” en “ontwikkeling”. ’n Groterwordende bevolking beteken meer honger monde om te voed. Daar word elke 10 sekondes ’n baba in Suid-Afrika gebore. Maar ons leiers het nie die moed om te skree: Hou op, daar is genoeg mense, die leeggesuigde aarde kan nie meer gee nie…

 * 3%. Dis hoeveel kreef ons nog oorhet, onthul ’n gasspreker op RSG se program Nuuskommentaar Sondag 8 Julie. Maar in die Republiek van Suid-Afrika het ons ’n disfunksionele departement wat hul plig om ons seelewe te beskerm, skandelik versaak, met die gevolg dat perlemoenstropery en die vang van ondermaat vis onverpoosd voortduur. Volgens die DA se Pieter van Dalen, het die toenmalige minister van landbou, bosbou en visserye, Tina Joemat-Pettersson, haar departement feitlik eiehandig op sy knieë gedwing. Dit kan ook verklaar hoekom die bewaringskip, Saartjie Baartman, letterlik van die radar af verdwyn het. Hierdie dame word nou ook daarvan beskuldig dat die Suid-Afrikaanse oliereserwes van sowat 10 miljoen vate, vir R5 miljard “verkoop” is, dat sy in die parlement gelieg het, en dat “iemand R2 miljard wins” uit hierdie transaksie gemaak het.

Genadiglik het ons nog ’n vrye pers!

  • Pierre Massyn is ’n onafhanklike natuurbewaarder en skrywer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

marco polo ·

Skokkende feite, maar jy moet dalk nie alles glo wat die Amerikaners jou vertel van Tibet nie. Sedert die Chinese oorname het hulle ontslae geraak van ‘n feudale stelsel en slawerny wat deur die lamas bedryf is. Die lewensverwagting het die hoogte in geskiet en daar is nou moderne infrastruktuur. Nie alles in China is net sleg nie.

Judge Dredd ·

Tibet was nie ‘n keuse gegee of hul aan China wil behoort – enough said.

humor ·

En met die huidige regering is omdraai n geheel en al onmoontlike swaak.

dries ·

Pierre, ek geniet jou skrywes en mis nie een nie, maar vandag het jy my dag ordentlik opgeneuk. Dankie vir die werk wat jy doen!!

Reinhardt ·

Die een stukkie positiewe nuus is dat dit blyk al hoe meer mense begin omgee oor die omgewing. Veral wanneer dit by plastiek kom. Die vrye mark bly maar eenvoudig die beste oplossing, maar dit werk slegs wanneer ons deursigtige inligting het – soos die aantal plastiek wat gestort word. EK probeer altyd n glas bottel, plaas van plastiek bottel, koeldrank te koop, en ek herwin amper alles by die huis. Maar dis nie maklik nie.

Eish ·

Altyd waardering vir jou artikels se kritiese eerlikheid.
Baie dankie.

Jerry ·

Goeie skokkende skrywe Pierre. Mense het nie n idee van wat met die omgewing en diere lewe in SA aan die gang is nie. Gemeenskappe op die platteland en afgesonderde stedelike gebiede jag daagliks enige groot en klein wilde dierlike spesies wat beweeg. Bome en plante bly ook in die slag. Gemeenskappe wat naby rivieroewers bly besoedel die rivierwater. Myne wat opskiet soos paddastoele besoedel die lug en besoedel riviere en ondergrondse waterare waar al die plante en bome in daardie areas begin vrek. Geld vir bewaring en teen besoedeling word geplunder. Ons omgewing is in n groot krisis agv die menslike faktor en die skokkendste van alles is dat navorsingstatistieke daarop dui dat die uitwissing aan die toeneem is ten spyte van pogings om te red wat nog te redde is. Die stryd teen uitwissing in SA kan dus na regte geklassifiseer word, synde n verlore stryd te wees!

Jerry ·

Wat die Afrikaner vir 40 jaar bewaar het vir SA se nageslagte was binne 9 jaar amper totaal uitgewis deur staatskaping, misdaad, fees must fall plundertogte, wild stroping en besoedeling. Die skokkende realiteit in SA is dus dat dit wat ons vandag bewaar, more uitgewis gaan word deur werkskepping, myne, kragopwekking, menslike besettings van bewaargebiede, der miljoene mense wat moet eet en onbeheerbare uitbreking van siektes onder mense en diervrektes. Die fokus op omgewingsbewaring gaan bogenoemde invloede wat gaan voortspruit uit die magshebbers se magshebsug en intensies in ag moet neem. Onder die magshebbers en die massas in SA bestaan daar nie n behoefte om te bewaar nie, maar slegs n behoefte om te eet!

john ·

die LIEFDE vir geld is die wortel van ALLE kwaad! – hierdie geld vir mense van elke kleur, geur en stand – dis al

Dejager ·

Pierre volgens greenpeace eindig 26 miljoen ton plastiek jaarliks in die oseane.Dit is 10 persent van wêreld produksie.

Luca ·

Hoeveel boere word in SA uitgewis ? Daar is ook ‘n endangered specie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.