Suksesresep vir toekomshoop

Kallie Kriel. Foto: AfriForum

“Ek het baie hoop vir die toekoms,” sê ek onlangs vir een van my vriende. Hy kyk my stomverbaas aan. Nadat hy uiteindelik sy woorde agtermekaar kry, sê hy: “Volg jy dan nie die nuus nie?” Nog voordat ek kon antwoord, voeg hy verwytend by: “Jy behoort van beter te weet! Dit is tog duidelik dat die ANC-regering die land in die grond in bestuur. Ek sien geen hoop nie.”

My vriend is natuurlik reg, maar beslis ook verkeerd. Hy is reg dat die land onder die ANC se wanbestuur en weens die strukturele gebreke in die huidige politieke bestel agteruitboer. Hy is egter verkeerd om te dink ons toekoms lê in die hande van ’n onbekwame en toenemend vyandige ANC-regering. Ná die verwoestende Tweede Vryheidsoorlog het ’n wesenlike deel van ons voorgeslagte nie hul toekomshoop op die imperialistiese Britse heersers geplaas nie. Hulle het self verantwoordelikheid vir hul toekoms geneem. Waarom sal ons dan vandag ons toekomshoop (of wanhoop) op die huidige heersers plaas?

Dit is bevrydend om ’n kopskuif te maak en te besef ons is in staat om self die toekoms te skep wat ons vir ons en ons nageslag wil hê. Om selfbestuur bo regeringsbestuur te kies, laat wanhoop in hoop verander.

As jy dink ek laat dit dalk te maklik klink, is jy reg. Natuurlik is die pad na selfbestuur moeilik, maar dit is die enigste werkbare pad. Die groot vordering wat AfriForum en die Solidariteit Beweging se instellings reeds op die pad na selfbestuur gemaak het, wys dit is prakties haalbaar.

Binne die Beweging bestaan daar reeds suksesvolle en selfstandige Afrikaanse tersiêre instellings soos Akademia en Sol-Tech, wat beide reeds jaarliks meer as 1 000 studente het. Solidariteit Helpende Hand se studiefondssentrum help reeds jaarliks meer as 1 500 studente met meer as R40 miljoen se rentevrye lenings. AfriForum beskik ook reeds oor 145 buurtwagte wat selfstandig na gemeenskappe se veiligheid omsien, terwyl ons meer as 140 AfriForum-takke met talle selfbestuurprojekte in dorpe besig is.

AfriForum se driebeensuksesresep

Die suksesse wat AfriForum reeds op die pad na selfbestuur behaal het en op nóg groter skaal gaan behaal, is gebou op die organisasie se driebeensuksesresep. Die drie bene hiervan is: Roeping, ’n veg-en-bouplan en die vermoë om die plan uit te voer.

  • Roeping: #AfriForumSkepToekoms

AfriForum se roeping, bestaansrede en visie is om ’n toekoms te skep. ’n Toekoms waarin ons en ons nageslag blywend vry, veilig en voorspoedig en op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan.

Roeping is ons geheime wapen, aangesien dit aan ons die wete gee dat ons met genade van Bo die voorreg het om te werk aan iets groter as net onsself. Ons bly almal mense met foute, maar ’n roeping gee aan gewone mense soos ons die deursettingsvermoë en energie om in moeilike omstandighede buitengewone sukses te behaal.

  • Veg-en-bouplan: #AfriForumVEGenBOU

AfriForum skep ’n toekoms met ’n veg-en-bouplan. Dié veg-en-bouplan behels kortliks dat AfriForum vír geregtigheid en téén agteruitgang veg, maar dat die organisasie terselfdertyd prakties op voetsoolvlak alternatiewe werklikhede help bou wat dit vir ons gemeenskap moontlik maak om met ’n groeiende mate van selfstandigheid en selfbestuur na ons eie belange om te sien. Die plan kan op byna elke lewensterrein toegepas word. Wat die behoud van Afrikaans op tersiêre vlak betref, kan as voorbeeld gewys word dat AfriForum in die howe veg sodat Afrikaans by openbare instellings sy regmatige plek kan kry. Gelyklopend sal die Beweging selfstandige instellings soos Akademia en Sol-Tech bou.

  • Uitvoerende vermoë: #AfriForumKan

Indien AfriForum en ander instellings van die Beweging nie oor die vermoë beskik om ons plan uit te voer nie, sal ons goeie plan net ’n kreatiewe skryfoefening wees. Dit is juis dáárom belangrik dat AfriForum en die Beweging sy uitvoerende vermoë deurlopend uitbou. Baie goeie vordering is reeds in dié opsig gemaak. Wat AfriForum betref, beskik die organisasie reeds oor meer as 235 000 lede, sowat 170 personeel, 145 buurtwagte, meer as 140 takke, sowat 9 600 vrywilligers en stewige bestuur- en administratiewe stelsels. Die instellings van die Beweging verteenwoordig tans gesamentlik sowat 500 000 gesinne.

Daar is hoop!

Hoewel die situasie in die land vandag swakker is as 20 jaar gelede, kan diegene wat reeds besef dat selfbestuur en selfstandigheid die oplossing bied, opgewonde wees oor die feit dat ons vermoë om self ’n toekoms te skep eksponensieel sterker staan as 20 jaar gelede. Twintig jaar gelede het AfriForum nie eens bestaan nie. Dié organisasie is nou eers 13 jaar oud en het reeds reusevordering gemaak!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Marius ·

Ek weet nie meer nie…
Ek dink wat Afriforum doen is wonderlik, en dat dit wel hoop gee en kan realiseer, maar my hoop raak al hoe minder en my wêreld al kleiner. Ek moet nogsteeds deur Afrika ry na daardie universiteite, nogsteeds in Afrika gaan werk soek nadat ek studeer het en is nogsteeds onderwerp aan diskriminasie en misdaad. (Ek gebruik Afrika, want Suid-Afrika is nie meer soveel beter as die res van Afrika nie.)
Behalwe om dit te beveg, wat gaan Afriforum doen omtrent NGV? Ons sal nie ons eie hospitale mag bou nie en sal maar in die ry by die klinieke moet val.
Vir die wat bly gee dit hoop, maar as jy kan gaan moet jy maar eerder jou koffertjie gaan pak en dan kan jy maar hier kom vakansie hou – dis my plan!

Kerneels ·

Jy’s reg Marius. Ons moet steeds belasting betaal vir swak of geen dienslewering. Kallie se planne klink goed op papier, maar dit gaan ook geld kos. Daai geld sal opdroog. Lede gaan bars om te betaal. Sodra jou kinders klaar is met Akademia en Soltech, is jy ook klaar met die instellings en moet jy spaar vir jou aftrede. Dan moet ons nog betaal vir private sekuriteit, skoolgeld en ekstra mediese dienste. Afstigting van SA bly die beste oplossing.

Hanno ·

En waarnatoe gaan jy?
Amerika wat deur Suid-Amerikaners oorstroom word?
Europa wat deur moslems oorstroom word?
NZ en “Oestralië” wat deur Chinese oorstroom word?
Die res van die wêreld is net n paar dekades agter ons.

Piet left the Building ·

Amerika is groot, Europa is groot. Dit sal baie lank neem vir buitelanders om daar oor te neem.

Anoniem ·

Afriforum is al klaar besig om NGV te beveg! Lees jy nie die koerante nie, of sommer hier op Maroela sal jy die berigte kan lees….

Wonderlik Afriforum ·

Dit is absoluut wonderlik wat Afriforum doen en hoe hulle die toekoms tegemoed gaan, beplan en daar is nie ‘n taak of uitdaging wat te groot is nie. Vir sekeres van ons wat al lank werkloos is en nie meer so jonk is nie raak die tyd egter min, baie min, al is mens jonk van gees, vang die realiteit jou as jy sien rentekoerse van jou beleggings is maar so in die omgewing van die groeikoers van die land, wat erg is, is as mens op kapitaal moet terugval soos die afgelope 4 jaar of so, terwyl die rentekoerse voor dit genoegsaam was dat jou beleggings fluks gegroei het. Mens moet maar nou en dan die realiteit in die oë kyk, die somme weer maak, al kom mens by dieselfde antwoord uit en sien die onwerklike van ‘n fliek voor jou afspeel, wat jy gedink het net met ander kan gebeur, jou spaargeld is te min en jy sukkel om verby die onvermydelik te kan sien.

Andre ·

235,000 lede en hul gesinne sal ook maar sink in die moeras. Die oormag is net te groot.

Mike ·

Afriforum speel met woorde, hulle is soos ‘n verkoopspan wat ‘n nuttelose produk aan jou verkoop wat jy niks mee kan doen nie terwyl ‘n paar van hulle floreer op ledegeld. Ek stem saam met Maruis wat hy hierbo geskryf het ons bly onderworpe aan die ANC se hospitale, skole, paaie, staatsinstellings wat jy moet’ gebruik.

Afriforum is eintlik besig om ons ander projekte om ‘n permanente oplossing nl selfbeskikking (SB) te kelder want die dom afrikaner dink dat as hy lid van AF is is sy toekoms verseker. Afriforum kan nie die moorde, die werkloosheid, die algehele verval van die blanke in SA stopsit of selfs net verminder nie maar hulle word miljoene ingestop deur niksvermoedende blankes. Hofsake wat miljoene kos gaan beslis NIKS verander aan ons situasie nie dis eintlik net ‘n advertensie veldtog vir nog lede.

Expat ·

Ek was saam met ou Kallie op skool, hy het nog altyd baie planne gehad. Planne werk nie altyd nie, dink mooi voor jy glo.

Nou wat dan ·

Mike en Expat, nou kom met voorstelle of gan julle maar net gemoeddelik sink of weg hardloop?

In die kamp ·

Alles wat mens hoor is opinie en alles wat mens sien, perspektief. Afriforum bly ‘n sakeryk, geskoei op vrese van mense as fondament. ‘n Sakeryk wat dalk nie sou floreer in selfbeskikking nie, omdat daar nie ‘n ANC ea sou wees om vrese aan te vuur en so meer lede vir Afriforum te werf nie. Enige iets gebou op vrese is onvolhoubaar. Dis jammer dat dit dalk weereens, soos in die verlede, vrouens, kinders en bejaardes gaan wees wat steier weens nog ‘n onvolhoubare plan. Ek sê dit weer, op ‘n stadium gaan die Afrikaner man homself moet afvra, waarom vrouens, kinders en bejaardes blykbaar so maklik geoffer word ter wille van bly, veg en bou. Afriforum se toekoms plan is nie die enigste oplossing nie, net die enigste oplossing vanuit hul perspektief en eie belang.

Neels ·

@In die kamp. Jy is 100% in die kol. Weerlose mense gaan seerkry.

Breytie ·

Ons moenie die fout maak om net te kyk na alles wat verkeerd of frustrerend is nie. Die groot bedoeling agter die bestaan van mense en volke is tog immers nie om uitgeroei te word nie, maar om met elke geslag nader te kom aan die ideaal. Hoe meer Afrika misluk om die land te regeer en hulleself op te hef, hoe nader kom ons aan die leidende rol wat ons bestem is om in Afrika te speel. Ja, die pad is nie maklik nie en baie verloor hulle lewens of hulle voorspoed in die proses, Maar dit het ook gebeur met vorige geslagte om ons te bring waar ons nou is. Eeue gelede het die Roomse kerk letterlik miljoene mense doodgemaak omdat hulle aan die Waarheid vasgehou het. Mense moes alles los en vlug. Daarom het ons vandag die vryheid om die Waarheid te soek en dit te volg. Ons moet die pad loop en sorg dat ons al beter word sodat ons in ‘n posisie van gesag sal wees wanneer Afrika nie meer verder kan vernietig nie en na ons roep vir hulp.

Elred Ferreira ·

Eks n baie groot ondersteuner van Solidariteit en Afriforum, maar as Kallie werklik positief is, wonder ek op watter medikasie hy is…..

piperno ·

Groot probleme skep ook groot geleenthede, vra enige besigheidsman/vrou. 16 Desember herinner my weer dat ons enige probleem kan oorkom.

Soogdier Vlakvark ·

Die Skepper het geen minderwaardige mense of mense met ‘n minderwaardigheidsgevoel geskape nie. Dit is mense wat ander mense misbruik. Welke ander soogdiere in die natuurlewe misbruik mekaar?

Waarom laat ons toe dat die bose magte wanorde meebring? Is ons dan nie voorstaanders van geregtigheid, naasteliefde, vrede en orde nie?

HEVW ·

Ek staan volkome agter Solidariteit en Afri Forum. DIit gaan nie alleen om hul inisiatiewe nie maar eerder oor die krag agter hul inisiatiewe wat ek en jy is. Hul sien heelwat verder as baie van ons. Die huidige regering is onvermydelik aant faal. Hoe sterker die privaat sektor plaasvervangend op tree hoe sterker die bedingensmag. Ek reken dit is Van Wyk louw wat min of meer die volgende gese het………… Wanneer verstet, rebellie faal is dit skadelik maar wanneer n volk sonder verset ondergaan is dit n tragedie. ( n baie hartseer ramp)

Rainie ·

En wat is julle plan vir gesondheidsorg as NVG oorneem? Die eerste salvo is reeds gevuur deur die Council of Medical Schemes. NVG gaan ‘n slagting van epiese proporsies wees….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.