Totalitarisme bekruip jou soos Raka

Argieffoto

Deur Connie Mulder

Dit begin met ’n gevoel. ’n Onreg teen jou hart wat weet iets verkeerds het gebeur. Soos die gevoel groei, probeer jou verstand verbete stoei om woorde te kry wat hierdie onreg kan verduidelik. Eers wanneer jy besef dat jy nie woorde het nie, begin die omvang van die probleem jou tref.

Ware totalitarisme is nie die ontneming van vryheid van beweging of assosiasie nie – dit is die ontneming van vryheid van spraak. Totalitarisme steel jou woorde, want dan volg alles anders.

Die gelykheidshof het beslis dat die vertoon van die ou landsvlag, buiten in ’n akademiese, joernalistieke of kunstige konteks, haatspraak is. In ’n 77 bladsy-hofuitspraak is daar een klein paragraaf wat die hart laat kriewel. In paragraaf 186 stel adjunkregterpresident Phineas Mojapelo dit vinnig en duidelik, amper in die verbygaan: “Daar is nie werklik private spasies in Suid-Afrika vry van ras nie, gevolglik is die vertoon van die ou landsvlag in jou private spasie ook haatspraak”.

Een klein paragraaf in ’n groot uitspraak is ’n groot treë vorentoe vir totalitarisme. En die kruipende gevoel op jou hart dat hierdie darem nie kan reg wees nie.

Regter Mojapelo se rede vir sy beslissing is uiters onrusbarend.

Op 30 Oktober 2017, die dag van die Swart Maandag-betogings, het Nickolaus Bauer die wêreld aan die gons gekry deur te twiet dat betogers die ou vlag rondswaai. Die foto wat Bauer getwiet het, was van ’n vorige optog, en hy het eers ’n dag later om verskoning gevra, maar toe is die skade reeds gedoen.

Verslaggewing oor die optog is oorheers deur Bauer se vals verslaggewing. Hierdie vals verslaggewing kom uit by Sello Hatang, uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-stigting, terwyl hy ’n toer van Robbeneiland lei. Dié vals verslaggewing oor die ou vlag veroorsaak dat meneer Hatang sekere pynvolle episodes uit sy apartheidservaring oproep, en tereg ontstel dit hom.

Regter Mojapelo stel onomwonde dat niemand daardie gevoel moet herleef sonder dat die gereg tot sy hulp kom nie. Die gevolge van so ’n stelling is ongelooflik verreikend. Deur enige spraak (wat mense herinner aan apartheid se pynvolle verlede) as haatspraak te klassifiseer, is al gevaarlik; om dan boonop te stel dat die regstelsel genoop moet wees om in sulke gevalle te help, skep ’n roekelose presedent.

Logies volg die EFF se standpunt dat die nasionale volkslied moet verander, want Die Stem is deel daarvan en herinner aan die pyn van apartheid. Vanselfsprekend sal daar ook iets gedoen moet word aan elke liewe Afrikaanse pleknaam, want hierdie plekname is waar apartheid afgespeel het. Dan is die Voortrekkermonument volgende in die oog, want so ʼn viering van Afrikaners se reis deur Afrika, herinner sterk aan apartheid. Afrikaanse onderrig in staatskole sal ook dan moet gaan – 16 Junie 1976 was immers een van die groot veldslae in die stryd teen apartheid. Uiteindelik sal Afrikanerskap as idee ook uitgewerp word, want die bestaan van Afrikaners herinner aan apartheid. Op daardie punt sal die howe moet besluit wat om te doen met ’n minderheidsgroep wie se bestaan die meerderheid sal herinner aan apartheid.

Vinnig word vergeet dat die grootste euwels in menslike geskiedenis uit gehoorsaamheid gepleeg is.

Dit is ’n roekelose uitspraak wat stukrag gee aan diegene wat Afrikaners reeds as ’n lastigheid in Suid-Afrika beleef. Regter Mojapelo plavei die pad na ’n totale vervreemding van ’n minderheidsgroep in die land van hulle geboorte en beweeg verder weg van enige kans tot versoening.

Tekenend is dat hierdie vlag in 2019 verban is, en nie in 1995 nie. Daar was geen sprake van so ʼn uitspraak direk ná die val van apartheid nie, toe die wonde nog rou en emosies hoër as nou moes wees nie. Nee, die uitspraak kom in ’n tydgleuf waar swart nasionalisme besig is om ander minderhede te verswelg.

Met sy uitspraak gee regter Mojapelo die swart nasionaliste toestemming om voort te gaan om die land uitmekaar te ruk. Sy maatstaf vir wat verwerp moet word, is eenvoudig en ongelooflik subjektief (en wat die swart meerderheid aanstootlik sou vind). Sodoende lewer hy alle minderhede uit aan die swart meerderheid se genade.

In sy uitspraak beskou Regter Mojapelo die mag van die howe as amper mities.

Suid-Afrika ly aan ’n siekte – die siekte waar howe morele uitsprake eerder as juridiese uitsprake lewer. Ons begin glo dat ’n hofuitspraak bepaal wat reg en verkeerd is. Howe het ons morele kompas geword, met regters wat preek eerder as wette toepas.

Binne hierdie konteks voel regter Mojapelo gemaklik daarmee om te verklaar dat die hof se mag tot private burgers se slaapkamermure strek.

Hierdie uitspraak verander die definisie van haatspraak vanaf ’n populistiese leier wat ’n opruiende skare aanhits tot geweld, tot ’n vlag teen ’n kasdeur in ’n slaapkamer.

Die Angola-veteraan wat die vlag waaronder sy vriende dood is, in sy kroeg hang, pleeg nou haatspraak. Die geraamde skildery met die woorde van Die Stem en die ou landsvlag in die agtergrond, is nie ’n viering van jou kultuur nie, maar haatspraak. Verskeie bandopnames van skoolkonserte voor 1994 waar die vlag op die verhoog is (en gevolglik op die video vasgevang is), is nie meer ’n kind se revue-dans nie. Nee, dit is eerder haatspraak.

Dit is hoe totalitarisme redeneer: dat ’n hof die mag en die reg het om private burgers se idees en drome te beheer. Ten spyte van die bewese feit dat ’n idee met staatsmag probeer doodmaak, net so nuttig is soos om spoedboetes vir ’n rukwind uit te deel, is totalitarisme se antwoord altyd net nóg ’n bietjie staatsmag om hierdie idee uiteindelik die nekslag toe te dien.

Wat jou koue rillings moet gee, is dat so ʼn uitspraak gevier word deur sekere dele van Suid-Afrika, en dat daar nou ywerig aangedring word op nóg simbole wat verban moet word.

In daardie aspek lê die kruks: totalitarisme word aanvanklik ingenooi. Alle burgers van Suid-Afrika is skuldig hieraan, Afrikaners inkluis. Ons nooi ook gereeld die staat uit om ons opponente uit te soek, sonder om te besef dat ons elke keer meer mag aan die staat afstaan daardeur.

Wanneer staatsmag jou opponente uitsoek, dan verwelkom jy dit en jy vra weer. Wanneer staatsmag dan jou vryhede begin vat, dan laat jy dit gretig toe en jy vra weer. Dan, wanneer die monster wat jy ingenooi, verwelkom, vertroetel en gevoer het jou begin vreet, bied net jou hart nog weerstand, want alles anders is weg.

Juis daarom moet regter Mojapelo se uitspraak gelees word as ’n testament tot totalitarisme, vermom as verdraagsaamheid.

  • Mulder is die hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Christiaan Jooste

“All animals are equal, but some are more equal than other” – Orwell

Sarie

Jy is reg Connie en ek verstom my vir sommige mense se logika wanneer sekere uitsprake gemaak word.

Jeremia

Ons is lankal op die punt waar die hek nooit weer gesluit sal kan word nie.
In die epos se slot is dit slegs ‘n ou vrou (enkeling wat nog roemryke verlede kan onthou) en wat die oorname beween.
Slegs ‘n klein minderheid besef wat in die land gebeur het en wat die implikasies daarvan is.
Ons beleef nou al meer as twee dekades die implikasies.

Francois

Baie dankie Connie vir ‘n goed bewoorde repliek. Ek dink stellig dat sommige mense ‘n idee het van wat werklik aan die gebeur is in ons land maar nie werklik die subtiele omvang van die kommunistiese oorname besef nie.
Elke lid van ‘n minderheidsgroep se nekhare moet penorent staan na die uitspraak van regter Mojapelo aangesien dit elke faset van ons identiteit en kultuur raak en aan bande lê.
Die strop word al nouer getrek!!!

Koos

In Engels word daar van mense gesê, wat vêr bo hul vermoë sogenaamde belangrike uitsprake maak, in die stille hoop dat almal sal dink hulle sal nou onder die hoogs geletterdes en mense van aansien tel, dít terwyl die waarheid bloot is dat:

“Their attitude exceeds their intelligence by far!”