Tragiese oorlog tussen Israel en Hamas ʼn teken van onstabiele tye

‘n Israeliese soldaat hou ‘n Israeliese nasionale vlag vas wat bo-op die toring van ‘n Merkava-gevegtenk vasgemaak is terwyl ‘n kolom tenks op 11 Oktober 2023 in die boonste Galilea in die noorde van Israel naby die grens met Libanon versamel word. (Foto: Jalaa MAREY / AFP)

Saterdagoggend het die Palestynse terreurgroep Hamas, wat sedert 2007 in beheer van die Gazastrook is, ʼn reuse-verrassingsaanval oor die grens in Israel geloods. Die omvang van hierdie aanval, waarin honderde Israeliese burgers dood is, is die ergste in jare.

Dit was laas in Oktober 1973, toe Egipte en Sirië ʼn verrassingsaanval vanuit twee fronte op Israel geloods het, dat die Israeliese weermag só onkant betrap is. Binne ure na Saterdag se aanval het Israel oorlog teen Hamas verklaar.

Oorloë vind egter byna nooit in isolasie plaas nie. Dit word gevorm deur globale gebeure en omstandighede. Hamas word deur die meeste Westerse lande as ʼn terreurgroep beskou, funksioneer reeds vir jare grootliks in isolasie en slaag ook nie daarin om met die Palestynse Fatah-beweging wat die Wesoewer beheer, saam te werk nie. Tog geniet Hamas sterk steun uit sommige Moslemlande en veral van Iran.

Hamas se grootste ondersteuner is die Hisbolla-beweging in Libanon, ʼn ekstremistiese Sjiïete Moslemgroep wat al dikwels aanvalle op Israel geloods het en wat die volste steun van Iran geniet. Volgens bronne van die gerespekteerde Wall Street Journal in die VSA was senior militêre leiers van Iran en Hisbolla wekelange direk betrokke by die beplanning van Hamas se verrassingsaanval. Dié beplanning het in Beirut in Libanon plaasgevind. Daar is tans heelwat bewerings, party met meer substansie as ander oor die moontlikheid dat Iran betrokke was by die finansiering van die aanval en die verskaffing van wapens aan Hamas.

Die regering van Iran se amptelike standpunt is dat Israel geen bestaansreg het nie en dat Israel as staat vernietig moet word. Terwyl die verhouding tussen Iran en die Weste die afgelope tyd nog meer versuur het, veral weens Iran se kernprogram, het Rusland en China hulle bande met Iran heelwat verstewig, terwyl onder leiding van China as bemiddelaar die verhouding tussen Iran en Saoedi-Arabië genormaliseer is. Die onlangse besluit dat Iran ʼn lid van Brics kan word, iets wat sterk deur China, Rusland en Suid-Afrika, met teenkanting van Indië en Brasilië, gedryf is, bewys die wyse waarop Iran, Rusland en China hulle stryd met Westerse lande binne forums soos Brics laat afspeel.

‘n Vuurbal ontplof na ‘n Israelse lugaanval op Gazastad. (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Dit sou verkeerd wees om Saterdag se aanval op Israel as ʼn geïsoleerde voorval, of net nog ʼn episode in die dekades lange stryd tussen Israel en die Palestyne te beskou. Saterdag se aanval het plaasgevind binne die konteks van ʼn onsamehangende Amerikaanse buitelandse beleid met die Biden-administrasie wat die afgelope tyd, veral weens druk van die linkse magsblok binne die Demokratiese Party in die VSA, alles in sy vermoë probeer doen het om Iran te paai en Amerika se bande met China te normaliseer. Vier Amerikaanse kabinetslede het die afgelope ses maande China besoek, terwyl nie een enkele senior Chinese regeringslid ʼn reis na die VSA, behalwe vir die bywoon van die VN Algemene Vergadering, onderneem het nie.

Iran, Rusland en China werk met ʼn doelbewuste strategie om in sterk koördinering die Weste te verswak, Amerikaanse militêre vermoë te verdeel en die netwerk van outoritêre, anti-Westerse lande stelselmatig uit te brei. Die wyse waarop dié drie lande die afgelope tyd daarin geslaag het om Suid-Afrika se buitelandse beleid te beïnvloed is ʼn verdere bewys hiervan.

Die oorlog in Oekraïne het Westerse lande se aandag die afgelope byna twintig maande grootliks na Oos-Europa verskuif. Navo en sy lidlande het reeds enorme bedrae geld spandeer om Oekraïne te ondersteun, terwyl militêre-, intelligensie- en ander hulpbronne hulle fokus sterk op die Oekraïne-konflik herfokus het.

Rusland bied tans op verskeie fronte groot uitdagings vir Westerse moondhede soos die VSA en Europa. Behalwe vir die oorlog in Oekraïne speel Rusland ook ʼn groot rol in die Midde-Ooste en verskeie Afrika-lande soos Mali, Burkina Faso, Soedan en Niger. Dit alles kom ten koste van Westerse belange, maar ook demokrasie en stabiliteit in hierdie lande en streke.

Daarmee saam het spanning tussen die Weste en China die afgelope tyd ook wesenlik toegeneem. Die Chinese regering onder leiding van president Xi Jinping werk uiters strategies om Westerse belange stelselmatig op elke kontinent te verswak. Dreigemente om Taiwan te annekseer dwing die VSA om militêre en ander hulpbronne na die Stille Oseaan-gebied te kanaliseer.

Israel se nooddienste bekyk die toneel van ‘n vuurpylaanval in die stad Ashdod.
(Foto: Ahmad Gharabli / AFP)

China wil Amerikaanse aandag verdeel en Westerse lande ekonomies verswak voordat dié land probeer om Taiwan te annekseer en sy globale posisie ekonomies, polities en militêr verder te versterk. Om hierin te slaag besef Xi dat hy Amerikaanse militêre aandag moet verdeel terwyl hy Westerse invloed in streke soos Afrika, die Midde-Ooste en die Stille Oseaan-gebied moet verswak, terwyl hy ʼn breë netwerk van anti-Westerse lande toenemend onder een sambreel moet laat verenig. China se louwarm reaksie op Hamas se aanval op Israel bevestig dat die aanval juis Chinese belange verder dien.

Die realiteit is dat die wêreld reeds ʼn tydperk van wesenlike onstabiliteit ervaar, wat tot meer konflik, staatsgrepe, konflik en selfs oorloë lei. Demokrasie is op die agtervoet met meer lande wat minder demokraties raak as dié waar die demokrasie versterk word. Rusland is direk in Afrika betrokke by militêre staatsgrepe en burgeroorloë. China probeer deur ekonomiese sabotasie groter invloed in talle Afrikalande kry. Iran sien toenemend sy enigste uitweg uit ekonomiese verwoesting weens Westerse sanksies die ontsluiting van markte in Asië, China en Suid-Amerika deur met Rusland en China saam te werk.

In onstabiele tye, en veral wanneer stabiele magte, in hierdie geval die Weste en veral die VSA, besig is om te verswak en arm aan leierskap is, gebruik groepe, individue en lande met duistere motiewe die geleentheid om geopolitieke skuiwe in hulle guns te maak. Dit is hier veral Rusland, China en Iran wat saamwerk om die Weste te verswak. Met leiers soos Biden in die VSA, Scholz in Duitsland, Macron in Frankryk en Sunak in Brittanje sien die outoritêre alliansie ʼn reuse-geleentheid om deur destabilisering van lande in Afrika en die Midde-Ooste hulle invloed uit te brei en Amerikaanse invloed verder te verswak terwyl die VSA gedwing word om ten spyte van sy enorme binnelandse verdeeldheid en reuse-staatskuld nog meer geld aan lande soos Oekraïne en Israel te skenk.

Die aanval op Israel en steun aan Hamas

Daar is die afgelope tyd ʼn persepsie geskep dat Israel se verhouding met ander lande in die Midde-Ooste besig is om vinnig te normaliseer terwyl groepe soos Hamas geen kans staan om die magtige regering en weermag van Israel uit te daag nie.

Hoewel die Palestyne in die Gazastrook reeds ʼn baie duur prys vir Hamas se lafhartige aanval Saterdag op onskuldige burgerlikes in Israel betaal, is dit duidelik dat Hamas nie alleen staan nie. Dié groep geniet die steun van Iran, Sirië en verskeie ekstremistiese Islamitiese groepe soos Hisbolla, asook minstens die simpatie van lande soos Katar, Saoedi-Arabië, Rusland, China en ander Midde-Oosterse en Noord-Afrika Moslemlande.

In die naskokke van Hamas se aanval op Israel (Foto: MAHMUD HAMS / AFP)

Wat die Palestyne egter nie besef nie is dat hulle net ʼn onderdeel van ʼn groter globale magstryd uitmaak. Hamas is ʼn wrede onderdrukkende, ondemokratiese terreurgroep wat sedert hy in 2007 beheer oor die Gazastrook oorgeneem het, nog nie weer enige demokratiese verkiesing gehou het nie, terwyl vroue in Gaza onderdruk word en jong seuns en mans met ekstremistiese anti-Israel en anti-Westerse haat geïndoktrineer word.

Die Palestyne is leierloos, verdeeld en grootliks sodanig geradikaliseer dat geen oplossing vir die spanning tussen Israel en die Palestyne gevind sal kan word sonder ʼn uitgebreide oorlog waarin duisende mense waarskynlik gaan sterf nie. Iran, Rusland en China gee egter nie werklik hieroor om nie. Hulle vier fees oor ʼn bondgenoot van Amerika wat aangeval word, terwyl hulle dit geniet dat Westerse aandag en geld verdeel word terwyl reuse immigrante-bevolkings in die meeste Westerse lande, toenemend die Westerse orde en Westerse beskawingsvlakke uitdaag. Betogings van vreugde in stede soos Berlyn, Rotterdam, Brussel, New York, Londen en Sydney oor die koelbloedige slagting van onskuldige burgers van Israel laat waarskynlik Ebrahim Raisi van Iran, maar ook Poetin en Xi met groot glimlagte agteroor sit.

Dit is duidelik dat ons naas die oorlog tussen Israel en Hamas, oor die volgende maande meer globale konflik moet verwag. Die geopolitieke tafel is tans ongelukkig eerder gedek vir oorlog as vrede. Indien die Weste nie sy huis in orde kan kry, beter leiers kan verkies, onwettige immigrasie kan beëindig en strategies sy vyande kan verswak nie, kan ons meer bravade van die vyande van die Weste verwag. Saterdag se aanval deur Hamas was slegs ʼn voorsmakie hiervan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nommer 7 ·

MM, plaas asb ‘n opsomming van die berig. Dit is te baie om te lees! Just the basic facts.

Republikein in die Wes Kaap ·

Deel dit op in drie dele en lees elke dag ‘n deel. Dit werk.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Waarom plaas Nommer 7 nie ‘n eie artikel nie. Ek is so moeg vir die leuenstoel kritici wat self niks doen nie. net om braaivleisvure kla en kla en kla.

Ivor ·

”Dit is duidelik dat ons naas die oorlog tussen Israel en Hamas, oor die volgende maande meer globale konflik moet verwag.”
Bid vir Israel! Bid vir die vrede van Jerusalem! Amen!
God het Sy Naam op Jerusalem geskryf. Dis Sy eiendom.
Hou die Bybel baie naby.
Lees en sien wat gaan gebeur. Hamas is nie ‘n volk nie. Hulle is net ‘n tereur organiesasie.
Rusland, Turkeie, Libiee, Iran. Hulle is die lande wat teen Israel sal veg.
Wegraaping tyd is vinnig besig om naby te kom.
Kyk fliek “Before the Wrath” oor ‘n Galaleaanse troue.
Bid. Bly naby aan Jesus. Maak seker jy is bekeer en jou naam is in Jesus se Boek van die Lewe geskryf. Sy handpalm gegraveer.
Maranatha. Jesus kom gou! Amen!

hondbyt ·

Ag kry tog net ent, die “eindtye” was al verwag deur elke generasie van Paulus se tyd af.

Elke keer as ‘n koning of land se president net te hard poep in ‘n ander land se rigting dan skreeu julle lot “die eindtye is hier!”.

Net so terloops, daar was al BAIE groter konflik oor die eeue in daai gebied as wat vandag daar afspeel…

JD ·

So, sê my, wanneer in die geskiedenis het al die profesieë so tergelyke tyd bymekaar getrek soos nou.
Finansiële ineenstortings
Aardbewings
Oorloë en gerugte van oorloë.
Oorstromings
Praatjies van vrede en sekuriteit
Die Jode wat hulle tempel weer wil herbou
Die land Israel wat weer floreer
Die toetslopie van die merk wat suksesvol was in 2020/2021.
Ongekende haat end geweld.
Mense wat net agter geld en roem aan is.
Mense wat geen morele waardes meer het nie.

Wanneer!?

hondbyt ·

JD, op die meeste van jou punte, gebeur al die dinge nog altyd, inteendeel lewe ons vandag in een van die mees vreedsame tye van die mensdom se geskiedenis.

Dit blyk jy het nie al deur veel geskiedenis boeke geblaai in jou lewe nie…
Daar is geen profisieë wat tans uitspeel nie, net jou en ander oningeligde mense se waninterpretasies van gebeure VS wat eintlik geskryf is in die bybel.

capie ·

Juis vanoggend lees ek op dat Noord Korea besig is om te mobiliseer om Suid Korea aan te val. Sal nie verbaas wees nie.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Uitstekende artikel. Dankie Jaco. Mense en nasies met historiese minderwaardigheidskomplekse is jaloers op die suksesse en kultuur van die Weste. En al hierdie minderwaardigheidskomplekses koek saam teen die Weste. Dit is ‘n stryd van jaloesie onderspan deur gierigheid en magsbeheptheid.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Alle Jode, Moslems en Christene moet gelyke regte te hê om op gelyke basis die Jerusalem Tempelterrein te mag besoek en aldaar te aanbid. Ons leef in die 21ste eeu: waarom nog die gesukkel om konsensus hieroor te kry? Onverdraagsaamheid is die euwel met die probleem.

Chris ·

Solank as die mens op dees aarde loop sal daar nie vrede tussen nasies en volke wees nie. Wat verstaan ons nie? Help my reg. Sedert die koms van Jesus 2023 jare gelede was daar slegs ongeveer 16 jare totale vrede op aarde?. Geen volk en nasie het geveg nie. Die Israeliete het ook nie baie vrede sedert hul ontstaan beleef nie. Hoeveel oorloë/aanvalle het hulle nie al moes weerstaan nie. Wat het verander. Wat gaan verander. “Vrede op aarde, en in die mens ‘n welbehae”? Wat jy waar kry. Jy (lande) het nie vriende nie, net belange.

Jaco ·

Ek verstaan nie die wonderlike BRICS nie. Lyk my dit hou GEEN voordeel vir SA in nie. Rusland kan ten minste SA se stilswyende “goedkeuring” van die oorlog teen Oekraïne “beloon” met goedkoper petrol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.