Tweede inperking: SA se eie goederekultus vergroot versameling van onbesonne rituele

ernst-van-zyl

Ernst van Zyl. Foto: Verskaf.

In Oktober 2019 het ek ‘n stuk geskryf getiteld “Die eietydse goederekultus aan die suidpunt van Afrika” waarin ek die goederekultusverskynsel geskets het, asook my argument dat die ANC dieselfde tipe irrasionele gedrag toon.

’n Jaar later blyk dit dat die ANC en sy goederekultusleier, president Cyril Ramaphosa, nie net volhard met hul goed gevestigde kontrolelys van rituele nie, maar inderdaad ’n tweede golf splinternuwe rituele aanvaar het.

In 2020 was die Covid-19-pandemie nie die enigste ding wat in China ontstaan en soos ’n veldbrand dwarsoor die wêreld versprei het nie: daar was ook die ritueel van landwye inperkings. Die meeste regerings het gepoog om die inperkingspioniers na te aap sodat hulle nie besluiteloos of swak sou voorkom nie, terwyl ander baie duidelik beoog het om hul eweknieë te oortref met meer drakoniese inperkingsmaatreëls. Die Suid-Afrikaanse regering val in laasgenoemde kategorie.

Met die ekonomie reeds in ’n gemors het die ANC besluit om een van die strengste en langste landwye inperkings ter wêreld in te stel met maatreëls soos ’n aandklokreël en ’n verbod op die verkoop van alkohol, sigarette en sekere tipes klere en voedsel – maatreëls wat selfs die wêreld se gehardste outoritêre heersers sou laat bloos. Ten spyte van hierdie sterkmanbenadering “om lewens te red” beklee Suid-Afrika in Oktober 2020 die 12de plek ter wêreld vir die meeste Covid-19-gevalle.

Wat sê dit vir ons oor ons eie goederekultus aan die stuur? Die ANC toon ’n blinde gebondenheid aan inperking as wondermiddel, wat holisties skadeliker as die virus is, en hul gretigheid om ’n tweede dosis van die toksiese drankie, genaamd inperking, te sluk, dui op ’n party wat nie deur die werklikheid gedryf word nie, maar deur bygelowige na-apery. Net soos die oorspronklike goederekultusse van die Melanesiese eilande kammalughawens ritualisties met klippe en stokke gebou het in die hoop dat dit welvaart sal bring, so is die ANC besig om wat hy oorsee sien, op ritualistiese en dikwels oordrewe wyse na te aap.

Die beste voorbeeld van die werklikheid wat voor rituele swig, is die feit dat net toe Europese lande tweede inperkings begin beplan ter voorbereiding vir ’n dreigende “tweede golf” van Covid-19, die ANC – soos ’n masjien – ook begin het met openbare waarskuwings oor ’n moontlike tweede inperking. ’n Feit wat in aanmerking geneem moet word, wat hierdie hele belaglikheid ontbloot, is dat die lande wat ’n tweede inperking beplan, byna almal in die noordelike halfrond geleë is en in Desember die winter binnegaan, terwyl Suid-Afrikaners dan swemklere sal aantrek en op die strande sal toesak.

Verdere bewys dat die ANC nie deur die werklikheid nie, maar deur rituele gedryf word, is die feit dat ongeveer 64 000 Suid-Afrikaners in 2019 aan TB gesterf het, maar daar desondanks nog nooit ’n TB-inperking was nie. Vanwaar dan die Suid-Afrikaanse regering se halsstarrigheid om die hele land in te perk ten einde ’n virus aan bande te lê wat wesenlik minder lewensbedreigend as TB blyk te wees?

Tipies moet ’n kultus ’n charismatiese leier hê, en ofskoon die aflees van ’n teks vanaf ’n telesouffleur na my mening op ’n gebrek aan charisma dui, bewys president Ramaphosa dat hy die hoofleier van die goederekultus is, terwyl hy “ons mense” of sy kudde lei. Teen die agtergrond van die ekonomiese verwoesting wat Suid-Afrika in 2020 getref het, word die president se retoriese strategie duidelik. Pleks dat hy besin oor die korrupsie, ontsaglike beleidflaters en verwoestende gevolge van die uitgebreide inperking, waarvoor hy deurentyd voorspraak maak, verkies president Ramaphosa egter om die bevolking te mislei om te glo dat dit die virus is wat ons ekonomie verwoes het.

Hierdie listige taktiek het vier oogmerke. Eerstens hou dit die vlak van landwye vrees oor die virus op kookpunt. Tweedens trek dit die aandag af van die ANC se rampspoedige inperkingsritueel. Derdens gebruik dit die gevaarlike kombinasie van vrees en ’n valse werklikheid om die voortsetting en verdere uitbreiding van hierdie bisarre inperkingsritueel te regverdig; en vierdens word dit gebruik as sondebok om die voortdurende gevolge te verbloem van die ANC se rampspoedige ekonomiese beleidsrigtings, wat al van lank voor die inperking van krag is.

Die uitdrukking “Drink die Kool-Aid” slaan op iemand wat foutiewelik in ’n gedoemde of gevaarlike idee glo op grond van potensiële groot belonings wat in die vooruitsig gestel word. Die frase het sy ontstaan in die gebeure in 1978 in Jonestown, Guyana, toe die kultusleier Jim Jones aangedring het op “rewolusionêre selfdood” deur die drink van ‘n dodelike konkoksie wat, onder meer, sianied bevat het – waardeur 918 van sy volgelinge gesterf het.

Die ANC het vir ons ’n dodelike inperkingsmengeldrankie berei, met die Nasionale Demokratiese Rewolusie, paternalistiese statisme, kritieke rasseteorieë en sistemiese korrupsie as bestanddele, en hou dit voor as ’n tonikum, soos ’n regte kwaksalwer. Daar is baie min tyd oor vir Suid-Afrikaners om uit hul beswyming te ontwaak en die aangebode dodelike “Kool-Aid” te weier deur nadruklik te verklaar dat die hoofleier van die goederekultus en sy lojaliste naak is. As ons hulle blindweg volg, is ek bevrees dat Suid-Afrika se ekonomie gedoem is tot ’n “rewolusionêre selfdood” soortgelyk aan die arme mense in Jonestown, wat die utopiese beloftes van hulle “redder” geglo het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dirk Mostert ·

Maak Mbeki die minister van gesondheid. Hy was bestand teen propaganda.

Derek ·

Baie goed gestel, veral met verwysing na die “rituele” of drakoniese besluite soos die vorige OB dit genoem het. Besluite geneem was nie net gebaseer op sogenaande wetenskaplike feite maar op godsdienstige beginsels wat absoluut teenstrydig is met die Woord van God. Die hele grendel periode was maar net n kopiering van of westerse of oosterse besluite. As in aggeneem word die ekonomiese toestand lank voor die epidemie,wil dit blyk dat die virus nou net gebruik word om alles toe te smeer. Mens wonder nog steeds waarom kubaanse dokters ingevoer is terwyl daar goed opgeleide SA dokters beskikbaar is, is dat dalk maar net n voortsetting van die stryd wat lank voor 1994 begin is? Die uiteindelike skade veroorsaak is net nie ekonomies van aard, maar baie wyer.

Dirk Mostert ·

Ek is bly dat nog iemand agtergekom het dat die coronavirus (winter) seisoensgebonde is. Grafieke hier en oorsee wys dit duidelik en ons weet dit almal uit ondervinding. Ekself het laasjaar Julie ligte Covid-19 gehad. (Die huidige “pandemie” is eintlik Covid-20). Daarom is dit absurd om vanjaar hier ‘n Tweede Golf te verwag. Om dieselfde rede , ten spyte van gereelde voorspellings, verwag ek nie dat die pandemie in die warm lande van Afrika hond haaraf sal maak nie.

Marius ·

Dankie Afriforum dat jul ons probeer waarku teen ‘n skadelike tweede golf van inperkings.

Anton ·

Definisie van ‘n masker: dit is iets wat jy om jou ken dra dat die sekuriteitswag jou nie uit Checkers jaag nie ????

JJ ·

Nuttelose feit: Wie het nog in die verlede maskers gedra?
Antwoord> slawe
die simboliek van maskers moet dus nie verlore gaan nie

antieke antie ·

ek stem…dis die algemene siening…maar die maskers is vir my ok want nou spring ek sommer die ander goggas ook mis…… maar die onbevoegte en halstarrige houding teenoor rook en drank is belaglik….. vat die oortreders wat hulle wangedra vas met alkohol…. verbied rook nog in geboue ens maar gee hulle buite plek om te rook….. maar die verband van verkoop van sigarette was net om kopdoek en haar familie/kaders te bevoordeel met die smokkel sigarrette en so het hulle van wetgsgehoorsame burgers kriminele dade laat pleeg…. en ek sien nog glad nie watter beperking op die siektes gesit het nie….. die dronklappe was nog net dieselfde mense.
Ja beperk mense om in hulle eie areas te bly en nie in ander areas te wees nie….. maar dan weet ons ook almal wie die arogante is wat alle reels sal oortree…… want hulle kan….al mag hulle nie

Kobus ·

Ten gronde van hierdie vrees vir doodgaan lê die mensdom se totale ongeloof.
As ek nie my Verlosser geken het nie sou ek sekerlik net so vreesbevange soos bykans almal in die wêreld gewees het.

JJ ·

Ernst- ek verstaan wat jy se. Maar heel laas, wat is die oplossing?

Anel ·

Jy het nou hardop gesê wat ons almal saggies dink, en weet.

Chris ·

Wanneer iemand in vrees leef is dit nogal heel ongemaklik en veeleisend. Jy is soos ‘n persoon met ‘n verwoede babalaas en skrik naderhand vir jou eie skaduwee. In die land sterf daar jaarliks meer mense aan motorongelukke, obesiteitsverwante siektes, griep en sommer net. Ek staan nie onverkillig teen die virus nie, maar dit was een van die bes georkestreerde oefeninge wat die wêreld nog oorheers het. Die ongelowiges het dit hoek lyn en sinker gesluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.