Van gemeenskap tot stad

centurion-01

Die foto is van Bothalaan in 1948. Foto: Verskaf.

Die verhaal van ʼn konsentrasiekamp, drie treinstasies, ʼn poskoetsroete en twee vliegvelde

Centurion, soos wat ons dit vandag ken, se geboorteverhaal moet gesoek word in die storie van ʼn konsentrasiekamp, drie treinstasies, ʼn poskoetsroete en twee vliegvelde. Dit is die storie van ʼn gemeenskap wat ontwikkel het tot ʼn stad.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Irene-konsentrasiekamp naby die Irene-treinstasie tot stand gekom. Weens siekte, blootstelling, swak voorsiening van lewensmiddele en onvoldoende mediese sorg het daar in die kamp in ʼn kwessie van enkele maande ongeveer 1 200 mense gesterf waarvan meer as 1 000 kinders onder 15 was. Hoewel daar ʼn gemiddeld van 540 siekes per dag was, het die kampowerheid bepaal dat daar op geen stadium meer as ses verpleegsters in die kamp mag wees nie.

Eers nadat die inwoners uit desperaatheid vertoë tot die Britse bevelvoerders gerig het, is drie vroue weer toegelaat om hulp te verleen, onder andere Henrietta Armstrong, een van die stigterslede van die latere Suid-Afrikaanse Vrouefederasie. Die mediese dokter C Louis Leipoldt het die haglike toestande in die Irene-konsentrasiekamp ondersoek en later daaroor gedig, onder meer in die bekende “Siembamba, ʼn nuwe liedjie op ʼn ou deuntjie”.

Die Afrikaanse digter Jan F Celliers het sy snor afgeskeer en vroueklere aangetrek om medisyne en kos vir sy siek vrou in die Irene-konsentrasiekamp in te smokkel. In 1925 het Celliers die aangrypende gedig “Blomme” geskryf ná ʼn besoek aan die Irene-kampkerkhof. Op 17 Mei 1901 is ʼn kampskool gestig om die sowat 1 200 kampkinders te verengels. Hul skoolbanke is deur hensoppers gemaak.

Ná die Anglo-Boereoorlog sou die kampskool sluit, maar die bou van ʼn weeshuis, naby die huidige Irene Estates, het dit verhoed. Tot in 1948 sou Irene Primary, wat direk langs die konsentrasiekampkerkhof gebou is, die enigste skool suid van Pretoria wees.

Kloofsig (waar Solidariteit se hoofkantoor is) het in 1906 langs die Kloofsig-treinstasie ontstaan. Eers in Augustus 1979 is die voetgangerbrug oor Bothalaan en die spoorlyn wat Kloofsig en Lyttelton verbind voltooi.

In 1908 het Lyttelton Manor op die plaas Droogegrond, langs die Lyttelton-treinstasie, ontstaan. Lyttelton is waarskynlik vernoem na die Britse bevelvoerder sir Neville Lyttelton, omdat die aanvanklike gedagte was dat ʼn weermagbasis vir die Britse soldate ná die Anglo-Boereoorlog by die stasie opgerig sou word. Dit het nie gerealiseer nie en die weermagbasis is ontwikkel op Robert Heights. (Robert Heights is vernoem na lord Roberts, die bevelvoerder van die Britse magte tydens die Anglo-Boereoorlog. Later het dit Voortrekkerhoogte geword en is vandag Thaba Tshwane waar die 1Mil-hospitaal en die Voortrekkermonument is.)

Bothalaan, die hoofpad tussen Irene en Pretoria, was tot in die vyftigerjare ʼn grondpad en is vernoem na genl. Louis Botha, Boere-generaal en die eerste premier van die Unie van Suid-Afrika. Met die uitsondering van Unielaan en Burgerlaan is bykans al die strate in die oorspronklike Lyttelton vernoem na Britse bevelvoerders. Ná 1948 is Menthuenstraat herdoop tot Monumentlaan en Rhodesstraat na Hans Strijdom. Milnerstraat het Pretoriusstraat geword. Latere uitbreidings in Lyttelton is vernoem na Voortrekkerleiers uit die Groot Trek en edelstene.

In 1941 het Clubview langs die gewilde poskoetsroete tussen Johannesburg en Pretoria ontstaan. Dit was aanvanklik ’n “slaapdorp”, maar het sedert 1950 met 11% per jaar gegroei.

Sir Pierre van Ryneveld was die vader van Suid-Afrika se lugmag. In 1920, net ná die Eerste Wêreldoorlog, is ’n militêre vliegveld op die plaas Zwartkop ontwikkel wat vandag bekend is as Zwartkop-lugmagbasis. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Waterkloof-lugmagbasis gebou waar vegvlieëniers opgelei is.

Dit het die raamwerk gevorm vir die ontwikkeling van ʼn nuwe stad.

Eerste Afrikaanse skole suid van Pretoria

centurion-02

Lyttelton in 1950. Foto: Verskaf.

Tot en met 1948 moes die kinders van Kloofsig en Lyttelton met die trein ry tot op Irene-stasie vir skool. Lyttelton Laerskool is in 1948 in die kerksaal van die Lyttelton-moedergemeente gestig met mnr. Daan Malan as die eerste skoolhoof. Die skoolgeboue is eers in 1953 voltooi en Laerskool Lyttelton is herdoop na die digter Louis Leipoldt. In 1949 het Malan die

Jan Celliers Voortrekkerkommando, gestig, ook in die kerksaal van Lyttelton-moedergemeente.

Sedert 1949 is die Voortrekkerkommando jaarliks betrokke by ʼn herdenkingsgeleentheid by die Irene-konsentrasiekamp. Die eerste Voortrekker suid van Pretoria was oom Hannes Hattingh, latere LPR vir Verwoerdburg. Hy is as Voortrekker in 1938 tydens die Eeufeesjaar in Silverton ingelyf. Sy ouers het in 1940 na Lyttelton verhuis. Die naaste skool was Irene Primary en die naaste Voortrekkerkommando in Silverton. Ná matriek het hy met sy fiets tussen Lyttelton en Pretoria gery deur die pikdonker Fonteinedal om bedags te werk en saans klasse by die Pretoria Tegniese Kollege by te woon.

Oom Hannes vertel hy het gereeld genl. Jan Smuts, toe eerste minister, op pad van Irene na die Uniegebou op die pad teëgekom. Smuts het een aand by hom stilgehou en lank gesels. Daarna het die eerste minister hom elke keer gegroet as hulle verby mekaar ry. Smuts met sy swart Cadillac TP 1000 en die jong oom Hannes met sy dikwiel swart fiets.

Die eerste Afrikaanse hoërskool suid van Pretoria was Lyttelton Hoërskool. Die hoërskool is in 1958 op die hoek van Potgieter- en Pretoriusstraat gestig met 259 graad 8-leerders en 13 personeellede. Die nuwe skoolgeboue wat oorspronklik beplan is vir 750 leerders het in 1960 geopen met 764 leerders en 33 personeellede. Teen 1975 was daar ongeveer 1 200 leerders. Tydens die Taalfeesjaar in 1975 is die skool herdoop na Hoërskool Verwoerdburg en ná 1994 het die naam verander na Hoërskool Centurion. Die skool se embleem is ontwerp deur die weermag se heraldikus, maj. Van Rhijn. Die leuse is: “Steeds hoër” en die skoolwapen bestaan uit twee vleuels, ʼn oop boek en ʼn handgranaat – simbolies van die lugmagomgewing.

Lyttelton word ʼn stad

Die drie stasies en slaapdorp het vir dekades geen munisipaliteit gehad nie en het daarom ook geen munisipale belasting betaal nie. Eers in 1955 het Lyttelton ʼn dorpsraad gekry. Teen 1960 is die dorpsraadstatus opgegradeer na Lyttelton Stadsraad met woonbuurtes Lyttelton, Kloofsig, Irene, Clubview, Eldoraigne en Landbouhoewes (waar Centurion Mall vandag is) onder sy beheer. In 1967 is Lyttelton Stadsraad se naam verander na Verwoerdburg.

Soos wat Verwoerdburg uitgebrei het, is nuwe Voortrekkerkommando’s, kerke en gemeenskapsorganisasies saam met elke nuwe skool gestig in Kloofsig, Doringkloof, Wierdapark, Hennopspark en Rooihuiskraal. Die jongste Voortrekkerkommando in Midstream is een van die grootstes in die land. In 1984 is  die eerste fondamente van Verwoerdburgstad, vandag Centurion Mall, gegrawe.

Ons, wat as kinders in die sewentiger en tagtigerjare in Verwoerdburg grootgeword het, kyk met dankbaarheid terug na die vele onderwysers, predikante, Voortrekkeroffisiere en kultuurleiers wat ons laat deel het aan die omgewing se ryk kultuurerfenis.

Die FAK Kultuurraad is in 1964 gestig. Die Rapportryers, Junior Rapportryers, Voortrekkers, Afrikaanse kerke en skole het soomloos saamgewerk aan vele Nuwejaarsfeeste, Geloftedae, Republiekfeeste en Krugerfeeste. Tye het verander. Name het verander. Skole het verander. Woonbuurtes het verander. Vandag is Centurion ʼn florerende stad. Hoewel Centurion se gemeenskappe divers is, toon demografiese syfers dat dit grotendeels steeds ʼn Afrikaanssprekende stad is met ’n sterk onderbou van betrokke Afrikaanse gemeenskappe wat gesins- en familiewaardes koester. Dit is ʼn voorreg dat ons kinders deel is van Polsslag-kommando (ou Jan F Celliers-kommando), Laerskool Louis Leipoldt en Hoërskool Centurion wat vir sewe dekades diep Afrikaanse spore in Lyttelton trap.

centurion-03

Bothalaan verby Groenkloof in 1907. Foto: Verskaf.

Hysbak-operateurs of kulturele brugbouers?

In ons mallemeule-tuimeltrein-stampkarretjie-wêreld oorleef die Afrikaanse gemeenskappe in talle stede en dorpe nie net nie, maar floreer in talle kerke, skole en gemeenskapsorganisasies. Wat is die rede hiervoor?

In die vorige eeu, toe Centurion nog Verwoerdburg was, was Suid-Afrika se samelewingspatroon geknip en gestik deur die Nasionale Party en sy stutorganisasies. Dit was die tyd van juigkommando’s. Van baas en klaas. Van hysbak-besluitneming wat van bo-af na ondertoe kommunikeer. Van stilbly-en-in-lyn-val as die sinode, party of leiers praat. Hysbak-operateurs het die hysbak-kommunikasie noukeurig genotuleer, effektief en ordelik aan die hand van vele reëls en reglemente geadministreer en soos papegaaie nagepraat. Die staatsgesentreerde “one-size fits-all” patroon pas nie meer by moderne gemeenskappe en organisasies nie. Samelewingspatrone word nie meer op ʼn sentralistiese en hiërargiese wyse geknip en gestik en van bo-af deur hysbak-besluite afgedwing nie. Inteendeel, hysbak-besluitneming maak mense woedend en word pens en pootjies omgekeer, soos wat ons regdeur die VSA, Europa en ook in Suid-Afrika beleef.

Vandag knip en stik kultuurgemeenskappe self hulle nommerpas patroon aan die hand van hulle unieke storie. Gemeenskappe is dinamies en organies met internasionaal erkende taal- en kultuurregte en boonop ʼn grondwetlike vryheid om self te mag besluit.

Danie Goosen verduidelik die gemeenskapsgesentreerde selfdoen-benadering as “’n beweging weg van staatsafhanklikheid na gemeenskapselfstandigheid; weg van die sindroom van wag op die staat se inisiatief na deelname aan eie gemeenskapsinstellings; weg van die teleurstellings in die staat na ʼn benadering wat self skep, self handel, self die toekoms oopmaak. Dit is ʼn kultuurstrategie wat gekenmerk word deur nuwe kulturele woordeskat, kulturele vlugvoetigheid en die wegbeitel van uitgediende benaderinge.”

Die selfdoen-benadering skep nie net diverse gemeenskappe nie, maar ontsluit diversiteit in gemeenskappe. Lyttelton sal anders lyk as Melville, Stellenbosch of Potchefstroom. Die Afrikaanse gemeenskap in Lyttelton sal anders lyk as die Engelse gemeenskap. Die wit gemeenskap sal anders lyk as die swart gemeenskap. Die gemeenskap wat fokus op tradisionele gesins- en familiewaardes sal anders lyk as die LGBT-gemeenskap. Selfs kerk- en skoolgemeenskappe in een woonbuurt sal verskillend lyk.

Gemeenskappe het nie vandag staatsgesentreerde hysbak-operateurs nodig nie. Vandag is netwerkontwikkelaars en kulturele brugbouers nodig wat diverse gemeenskappe se internasionale reg tot kulturele vryheid erken en dit kan verwerklik.

Samehang lê immers in ʼn ruimteskeppende orde wat gemeenskappe se stories en bouwerk oor dekades respekteer. Diverse gemeenskappe voorveronderstel ʼn sensitiewe hantering, begrip en akkommodering van taal-, kulturele en geloofswaardes sonder ʼn hoogmoedige, moralistiese veroordeling of die afdwing van ʼn verstikkende eendersheid.

Respek is die sleutel vir gelukkige gemeenskappe en ʼn florerende stad.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Peet Schabort ·

Baie dankie dr. Danie, voorwaar ‘n uiters interessante stukkie geskiedenis. Ook daar in Centurion is Koos Doep (du Plessis), bekende Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, ter ruste gelê in 1984.

Johan Carstens ·

Uitstekend Danie. Geskiedskrywing soos hierdie is kultuurvaslegging en dit skep die vaste grond vir die opkomene geslag, ons jong Afrikanerkinders om op te beweeg. Dit gee hulle trots op ‘n produktiewe en skeppende voorgeslag wat hierdie land ontwikkel en gebou het.

Oosie ·

Stem saam met Peet. Dit was nou werklik lekker om te lees en laat ‘n mens se gedagtes sommer diep in die verlede dwaal. Ek dink ons het meer sulke geskiedenisverhale nodig om die huidige en die toekoms beter te verstaan…

Piet ·

Jou skrywe sou dalk bietjie trots kon aanwakker by een of twee mense wat die moeite doen om dit te lees. Voorwaar n mooi verhaal van Cilliers wat medisyne smokkel na die kamp in Irene. Ons sal maar self ons kinders moet leer dat ons voorvaders ysters was.

Riana Steyn ·

Dankie Pa At en Ma Joan Viljoen vir diep spore self getrap in Lyttleton se begin jare. Goeie herinnering met die feit dat my broer Uys Viljoen ook een van die eerste leerlinge aan Lyttleton Hoërskool was. Wonderlike plekkie wat nou ‘n stad geword het!

Gemsbok ·

Die ontwikkeling van Centurion gee vir ons ‘n heerlike vooruitsig van hoe Orania oor 100 jaar mag lyk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.