Verskille tussen die regerings van Dubai en Suid-Afrika

Dr. Pieter Mulder

Hoekom is Dubai se suksesverhaal so anders as Suid-Afrika s’n? Ek het hierdie vraag aan myself gevra na ʼn besoek aan Dubai.

Dubai is deel van die Verenigde Emirate in die Midde-Ooste en was ʼn arm Britse protektoraat, soos Botswana en Swaziland ook was. In 1968 onttrek die Britte alle soldate aan die gebied en Arabiese leiers moes skielik hulle eie planne vir die toekoms maak. Dubai het aansienlik minder olie as ander buurstate, soos Abu Dhabi en Saoedi Arabië. Die projeksies was ook dat die olie nie baie jare sou hou nie. Die leiers het toe besluit om die beste kundiges van oor die wêreld te kry om Dubai te help ontwikkel tot ʼn aantreklike toerisme- en beleggingsstad. Daar is geredeneer dat as hulle daarin kon slaag, dit ʼn toekomstige belastinginkomste vir die regering sou waarborg en die lewenskwaliteit van die inwoners sou verseker nadat die olie op is.

In 1970 is met die beplanning begin. Dubai was ʼn onbenullige dorpie in ʼn sanderige woestyngebied met baie min ekonomiese aktiwiteite. Oor die volgende paar dekades het Dubai ʼn ongekende verandering ondergaan. Vandag is dit ʼn reuse Arabiese stad. Dit is in enkele jare omskep in ʼn moderne megastad en internasionale ekonomiese sentrum wat in baie opsigte ʼn brugfunksie tussen die ooste en die weste vervul.

Teen die middel van die 1990’s was daar net enkele wolkekrabbers en ʼn beskeie toerismesektor in Dubai. Vandag is die stad ʼn gesogte internasionale toeristetrekpleister. Dit is die stad in die wêreld wat die vierde meeste besoek word, gebaseer op die aantal internasionale besoekers. Dubai is ʼn Mekka vir eiendomsontwikkelaars met ambisieuse hotel- en winkelsentrum-projekte. Klein soos Dubai is, het dit die derde meeste wolkekrabbers in die wêreld, na China en die VSA. Een so ʼn wolkekrabberprojek is die Burj Khalifa. Die gebou is 828 m hoog en is tans die hoogste gebou ter wêreld. Kunsmatige eilande in die see, in die vorm van ʼn reuse palm, is geskep vir nuwe woonbuurte. Kyk gerus na ʼn foto daarvan.

Burj Khalifa

Burj Khalifa (Foto: Karim SAHIB/AFP)

Die meeste hotelle in Dubai word deur Britte bestuur. Hulle is ook die uitvoerende hoofde van talle Dubaise maatskappye. Meer as 250 000 Indiese werkers is ingevoer om die handearbeid vir die verskillende projekte te doen.

Die Indiese taxibestuurder saam met wie ek lughawe toe ry, vra my of ek weet waarvoor “Emirate” staan. Ek weet ʼn “emir” is ʼn Arabiese vors of prins en dat die Verenigde Emirate, waarbinne Dubai val, se verskillende gebiede deur sulke “emirs” regeer word. Hy lag en verduidelik dat hulle as werkers die woord EMIRATE opbreek en dan hulle eie betekenis daaraan gee. Die “EM” staan vir “English managed” die “IR” staan vir “Indian run” en die “ATE” staan vir “Arabs take it easy”. Ek lag lekker saam met hom, want dit som presies op wat in Dubai gebeur.

Van ons ministers was al in Dubai. Wat het hulle van Dubai se suksesresep geleer? Duidelik net die laaste gedeelte van die EMIRATE-afkorting: “Arabs take it Easy”. Op alle vlakke van die regering, vat die ANC leiers dit “easy”. Die ander dele van die resep het hulle geïgnoreer.

Die Dubai-regering het die privaat sektor entoesiasties betrek om sukses te behaal. Die ANC-regering hanteer die privaat sektor as vyand. Waar die ANC-regering verskeie infrastruktuur-projekte op sy eie, sonder hulp van die privaat sektor aangepak het, het die meeste misluk.

Die Dubai-regering het buitelandse kundigheid maksimaal benut. Die hoogste wolkekrabber in die wêreld is deur ʼn Suid-Koreaanse maatskappy gebou. Die beste Duitse ingenieurs het met die infrastruktuur gehelp. Die moderne hawe, Port Rashi, is deur ʼn Britse maatskappy ontwerp en die kunsmatige eilande in die see is deur ʼn Amerikaanse argiteksfirma gebou. Die ANC-regering het met swart bemagtiging, regstellende aksie en talle ander wette en regulasies dit so moeilik moontlik vir buitelandse maatskappye gemaak om by projekte in Suid-Afrika betrokke te raak.

Selfs die kundigheid wat in Suid-Afrika teenwoordig was, is deur die ANC weggedryf. Onder druk het 10 200 wittes Eskom vanaf 1994 tot 2002 verlaat. Vanaf 2008 tot 2011, het nog 455 ingenieurs, waarvan net 110 wit was, by Eskom bedank. As gevolg van kader-ontplooiing het nie wit of swart ingenieurs kans gesien om in so ʼn atmosfeer te werk nie. Tot 50 000 Suid-Afrikaners werk tans in Dubai.

Sedert Januarie 2020 belowe Ramaphosa dat die ANC uit hulle foute geleer het en dat die privaat sektor se hulp nou ingeroep gaan word. Dit is nou 2022. “Miswolke en wind, maar geen reën nie, so is iemand wat net belowe maar dit nie gee nie”, sê Spreuke 25:14.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Nou waarom het Afrikaners nie al in 1970 begin werk aan ‘n onafhanklike Wes Kaap nie? Of in 1980 of 1990 of 2000? Waarom nie in 2022 begin werk vir ‘n kleiner gebied in die provinsie nie? 20 000 vierkante km is genoeg om beter as Dubai te word. Sake in die republiek gaan vererger. Om te glo dit sal beter word is gekheid. Ons is nou by ‘n punt waar daar vir alle Afrikaanssprekende minderhede voorsiening gemaak kan word. Die ANC druk minderhede verder in ‘n blik en dan hardloop ons howe toe.

Werner ·

Goeie nuus! Afrikaners het reeds in die 80’s daaraan begin werk, en uiteindelik ‘n klein stukkie grond gekoop in die Noord-Kaap. Oraniërs leef daagliks vry en groei teen 15% per jaar, en lees in die nuus van die verval van SA. Amper soos ‘n mini-Doebai. Vordering is baie stadiger as Doebai a.g.v. die beginsel van eie arbeid (geen Indiese arbeid soos Doebai nie), maar dis beslis die moeite werd. Word deel van die opwindende oplossing.

Republikein in die Wes Kaap ·

Werner, sterkte met jul werk! Persoonlik verkies ek ‘n onafhanklike land wat aan die see grens. Die land sal potensiaal hê om uit te brei na aangressende streke. Die land sal groot genoeg wees is om ‘n sterk weermag op te bou wat vrees inboesem. Die land se tegnologiese kundigheid sal belangrik wees vir ander lande.

Hendrik ·

Wanneer begin die Suidlanders aan so gebied werk? Ek ken baie Suidlanders en almal is gereed om te onttrek in moeilikheid. Hulle het self vir ons gevra of ons hulle kan akkomodeer. Vraag is hoekom sal die Suidlanders almal lekker gerieflik bly in die stede en dan wil onttrek na ‘n veilige VV erkende noodgebied. Hoekom ontwikkel julle dan nie hierdie veilige VV erkende noodgebied en bly daar nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Daai klomp Suidlanders het die spoor verlaat. Hulle glo nog in die droom van ‘n Afrikaner tuisland, êrens. Toegegee, hulle werk darem aan ontsnap roetes in geval van nood. Hierdie Suidlander is reeds hier en werk eerder saam met ander belangegroepe soos CapeXit en CAIG. Maar hulle is baie stadig, iewat beskaafd, teoreties en sonder noemenswaardige fondse. Ongelukkig is belangrike binnelandse rol spelers met diep sakke onbetrokke. Maar die dag sal aanbreek dat hulle ook die lig sal sien. Intussen werk ons volstoom met wat ons het.

Kokerboom ·

Te laat..hele Ooskaap sit al in Weskaap plus honderde buitelanders

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien jy so deur die sensus en die OVK se syfers gaan lyk dit tog of dié migrante wel in sekere streke in die WK konsentreer. Veral in Kaapstad (vlaktes), Tuinroete, Theewater, Overberg, S’bosch, Paarl en Matzikama. Daar is streke waar Afrikaanse wittes en bruines steeds in die meerderheid is, ten minste vir nou. Dis in hierdie streke waar gewerk kan word vir afstigting. ‘n Gebied van 20 000 vierkante km is groot genoeg. Dis bykans soos Israel. Afstigters moet vergeet van hele Wes Kaap.

Groen Ghoen ·

Dit is alles waar, dr. Mulder. Dit is die pad van die meeste lande in Afrika. Onverstaanbaar is egter dat niemand betyds iets kon doen om die S.A. Titanic te red nie.

Piet Snot ·

Dubai het ʼn regering wat sy taak ernstig opneem. ZA het grapmakers. In Dubai sien ons wat gebeur as jy ʼn regering het wat sy inwoners se belange op die hart dra.

Treurwilger ·

Dr. Mulder se artikels altyd só interessant en goed geskryf.
Met sóveel goeie, intelligente welsprekende mense aan ons kant bly die verloop van die Afrikaner- geskiedenis onverklaarbaar.
Daar móés eenvoudig ‘n beter uitkoms beding kon word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners is eiewys en het mekaar nog altyd in die rug gesteek.

De Villiers ·

Dubai is ‘n geval van bo blink, onder stink.

Dit is glad nie ‘n ‘n plek om te bewonder nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Inderdaad, van die grootste skelms in die wêreld woon en doen sake daar. Maar dit het gewerk vir die emir.

MK123 ·

Goeie berig. Ons woon in Dubai en ons is gek oor ons lewe hier. As mens rondom jou kyk en sien wat die Arabiere in die middel van ‘n woestyn vermag het, dan gee dit mens hoop. Dubai is regtig ‘n stad van luuksheid waar als ekstra “fancy” is, maar steeds bly ‘n gewone braaivleisvuurtjie en yskoue bier saam jou Afrikaanse pelle die lekkerste tydverdryf hier.

Treurwilger ·

Dis Vrydag, lekker braai vanaand!
Geniet die lewe in Dubai.

Petrus Albertus ·

Dr. Pieter Mulder, is ‘n man met baie insig en my kommentaar wil dus nie soseer met hom verskil nie as om net die ooglopende te konstateer – die ANC regering WOU nie dieselfde bereik as Dubai nie. Die plaaslike regering van Dubai in 1968 het nie begin as ‘n groep Marxiste wat eerstens ideologies gedrewe was nie. Wel vir my ‘n baie tergende “wat as” vraag: “wat as” Dr. Verwoerd destyds besluit het om die sg. tuislande onmiddelik hul onafhanklikheid te gee en ‘n soortgelyke aggressiewe ekonomiese ontwikkelingstrategie vir hulle in samewerking met Suid-Afrika te volg – ek praat nou nie net van die ou grensnywerhede nie maar werklike groot kapitaal belegging? As hierdie voormalige stofstad in die woestyn nou ‘n mekka vir toerisme is, dink aan wat die Transkei se kus, Natal, Bophutatswana en selfs Venda kon wees, ook natuurlik vir landbou uitvoere. Maar “as” is verbrande hout.

Meinung ·

Baie dankie vir nog ‘n goeie, interessante en leersame artikel deur doktor Mulder. Ek wonder baie keer of ons ANC-regeringsmense hierdie soort goed lees. Waarskynlik nie, maar daar is tog baie ander inligting wat hulle bewus moet maak van die feit dat hulle regeerstyl afbrekend is. Waarom is dit so moeilik vir hulle om dit te besef en te sien? Ek wil selfs dink hulle wíl nie anders regeer nie. As so baie dinge in ‘n land vekeerd is en mens kom dit nie agter nie! Dis onbegryplik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.