Vir die volgende geslag …

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema.

Hier volg dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, se volledige toespraak wat hy Donderdag op die Solidariteit Beweging se tweede Toekomsberaad gelewer het. Die Beweging het sy 2030-blyplan tydens die geleentheid by die Choose Life-kerk in Moreletapark, Pretoria bekendgemaak.

Daar het ons dit nou. ʼn Groepie jong meisies van Afrikaanse Hoër Meisieskool wat met ons raas. ʼn Jong geslag wat aan ons ouer geslag sê ons moet hulle nie van hul toekoms ontneem nie. Hulle sê vir ons dat hulle gaan bou en bly, en dan vra hulle: Wat doen júlle?

Verlede Saterdag het ek die Dink-of-Sink-debatkompetisie se hoërskole-eindronde, en so ʼn paar weke gelede ook die uitdunne, bygewoon. Dit werk so: Die spanne kry ʼn onderwerp en dan moet drie argumente binne vyf minute uitgewerk word, onder die spanlede uitgedeel word, en toesprake en teenargumente geskryf word.

En dan debatteer hulle vir 30 minute – tot vyf debatte per dag. Briljante kinders. Maar ek sien dit orals. Jongmense met besonderse vermoëns. Hulle het ʼn soort vermoë wat ons nie het nie, of nie gehad het nie.

Jongmense met blink oë en ʼn toekoms wat wag. As daar een groot veranderlike vir die toekoms van die Afrikaner is, is dit die veerkragtigheid van Afrikaanse jongmense. Hulle bons terug. Niks kry hulle onder nie.

Hulle word groot in omstandighede wat vir ons abnormaal is en hulle gaan oplossings vir hul tyd ontwikkel; oplossings vir probleme wat ons geslag gedink het daar nie oplossings voor is nie.

Ons mag nie, bloot omdat ons verwysingsraamwerk nie ʼn toekoms sien nie, vir jongmense sê daar is nie antwoorde nie. Hulle wag in die pylvak vir daardie aflosstokkie wat ons moet aangee. Ons mag nie die aflosstokkie laat val bloot omdat ons glo dat ʼn volgende geslag nie die wenpaal gaan haal nie. Ons is verantwoordelik vir óns been van die wedloop.

In die negentiende eeu was die perd die vervoermiddel in stede. Londen se strate was in 1900 vol met 11 000 perdekarre en perdetrems wat deur 12 perde getrek is. Net die perdetrems alleen het 50 000 perde benodig.

Die probleem was dat perde mis. Elke perd het tussen 6 en 16 kg se mis per dag geproduseer. In New York met sy 100 000 perde is 1,1 miljoen kg mis per dag geproduseer. Dis ʼn krisis, skryf The Times in 1894. Binne 50 jaar gaan die strate in Londen onder 2,7 m mis bedek wees en die stedelike samelewing was gedoem.

Toe kom Henry Ford en hy ontwerp ʼn stelsel wat motors bekostigbaar kan bou.

In 1912 verdwyn die laaste perdekarre en die probleem het (letterlik) soos mis voor die son verdwyn – oplossings vir probleme wat voorheen onoplosbaar gelyk het.

Die geskiedenis is nie reglynig nie. Daar is ingrype in die geskiedenis met onverwagte uitkomste.

Die Vierde Industriële Rewolusie is so ʼn ingryp. Klaus Schwab skryf in sy boek The Fourth Industrial Revolution, dat die kerntema van hierdie rewolusie ontwrigtende kennis is.

Kunsmatige intelligensie, robottegnologie, vinnig bekostigbare internet, energieoplossings, ʼn mediese revolusie, onderwystegnologie, veiligheidstegnologie, 3D-drukkers en vele meer gaan die wêreld soos ons dit ken, totaal verander.

Nog meer, die Vierde Industriële Rewolusie erodeer die mag van die sentrale staat. ʼn Onvriendelike, swak staat gaan nie meer ons toekoms bepaal nie. Die Vierde Industriële Rewolusie gaan gemeenskappe in staat stel om soveel vryer van die staat te wees.

Dit bring my by die onvriendelike staat wat verswak. Ons is nie in ʼn normale, werkende staat nie. Staatsdienste is besig om in te plof en die gemeenskap sal al hoe meer verantwoordelikheid moet neem.

Boonop is die regering onvriendelik teenoor minderhede. Mense voel vervreem in hul eie land. Hulle voel magteloos, betekenisloos en geïsoleerd. Hulle wonder dan: Is hier ʼn toekoms?

Reguit lyne word vorentoe getrek en dan word mense tereg moedeloos.

Die geskiedenis hoef egter nie ʼn reguit lyn te wees nie.

Daar is minstens drie faktore wat antwoorde gaan bring op die probleme waaroor ons so bekommerd is.

Die eerste is die ontwrigtende kennis van die Vierde Industriële Rewolusie. Dit gaan gepaard met die staat se mag wat swakker word en die gemeenskap se krag wat sterker word.

Die tweede is die veerkragtigheid van Afrikaanse jongmense. Hulle gaan net eenvoudig terugbons.

Daar is ʼn derde faktor waarsonder die mengsel nie kan werk nie. Dit is die roepingsbewustheid van ons geslag. Ons geslag dra die verantwoordelikheid vir ons tyd.

Die Afrikaner het ʼn geskiedenis van veerkragtigheid. Ná elke krisis het die Afrikaner ook teruggebons. Gaan ons die eerste geslag wees wat nie terugbons nie? Wat nie ʼn roepingsbesef het nie? Wat nie besef dat die Here vir ons ʼn opdrag vir ʼn spesifieke tyd en op ʼn spesifieke tyd gee nie?

Ons moet doen wat ons moet doen, en dan kan ons op Sy toekomsbelofte vertrou.

Ons mag nie jongmense se toekoms steel nie. Ons moet ons deel doen. As jy jou deel doen, sal jy verstom wees oor die antwoorde wat kom op die vrae waarvoor jy gedink het daar nie antwoorde gaan wees nie.

Dit is binne hierdie konteks wat hierdie toekomsberaad plaasvind – ons geslag wat hier bymekaar kom in ʼn verbintenis met mekaar. Ons gaan doen wat ons moet doen.

Die ander sprekers gaan die ander elemente oor ons verbintenis met mekaar hanteer. Ek praat hoofsaaklik oor werk.

Binne die werklikheid van die onvriendelike staat wat verswak, die nuwe moontlikhede van ontwrigtende kennis en jongmense met blink oë het Solidariteit die netwerk van werk begin.

Binne die groter Solidariteit Beweging het ons ʼn groepering van instellings wat met werk en opleiding te doen het onder die vaandel van die Solidariteit NetWerk, want dit gaan hier net oor werk.

Die Solidariteit NetWerk moet toesien dat die Solidariteit-ledegemeenskap, die Afrikaner-kultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig in die werkplek is.

Almal wat wil werk, moet kan werk.

ʼn Goeie werk bly die mens se grootste behoefte. Dit bepaal identiteit, gee selfvertroue, gee betekenis, gee stabiliteit en bepaal welvaart. Werk is ook koningrykwerk en arbeid is adel.

Ons mag dit dus nie aanvaar as mense in die werkplek geboelie word nie. Ons gaan steeds mense in die algemeen in die werkplek beskerm, maar ons gaan spesifiek optree teen rasseboelies.

Ons beplan om weer in 2020 voor die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) te verskyn. Ons vorige verskyning was ʼn reusesukses wat uitgeloop het op ʼn verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wat bevind het die toepassing van regstellende aksie in Suid-Afrika is rigied, is slegs op ras gebaseer en het aanbeveel dat dit moet verander.

Ons sien ook ʼn nuwe tendens van vals aantygings van rassisme wat gemaak word. Dis krimineel om mense se loopbane deur vals klagtes te vernietig. Ons gaan dit nie aanvaar nie.

Solidariteit gaan sy wettige belastingprotesveldtog verskerp. Ons gaan baie sterk opstaan teen planne om voorgeskrewe pensioenbates te gebruik om sukkelende staatsondernemings te help en beslis ook teen die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). Ons kan nie ons gesondheid laat “eskom” nie.

Solidariteit het pas begin om mense wat werk, ook volgens hul beroep te organiseer. Oor tien jaar gaan daar ʼn reusenetwerk van beroepsgildes rondom Solidariteit georganiseer wees. Die gildes gaan jongmense help om die arbeidsmark te betree. Studiefondse gaan gestig word, internskappe gaan aangebied word, mentorskappe gaan vir die jongmense gereël word en werk gaan gesoek word. Gildes gaan help met lewenslange leer. Netwerke gaan gevestig word en die gildes gaan opstaan vir die belange van die beroep. Ons gaan mekaar op groot skaal help.

Ons plaas groot fokus op die jeug. Solidariteit Jeug moet jongmense toerus vir die werkplek. Binne twee jaar het sowat 8 000 jongmense profiele by ons geskep. Ons het ʼn spesiale loopbaanbepaler wat jongmense help met beroepskeuses. Ons gee inligting oor beroepe. Ons help met CV’s en rus jongmense toe om voorbereid te wees vir werksonderhoude. Ons help met hul vorming en met talle ander aspekte.

As ons sê dat ons antwoorde wil bied in die inligtingsera met sy ontwrigtende kennis en as ons ernstig is om ʼn toekoms vir jongmense te bou, moet ons kennisfabrieke bou.

ʼn Groot deel van die Solidariteit NetWerk is dus kennisinstellings.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum moet verseker dat daar oor tien jaar wêreldklas- bekostigbare Afrikaanse openbare en onafhanklike skole is wat op ʼn Christelike grondslag berus.

Sol-Tech het reeds 1 200 studente in die onderskeie fases van ambagsopleiding vir sewe ambagte. Sol-Tech word geag as een van die topkolleges in Suid-Afrika. Nou bou ons ʼn nuwe kampus – ʼn R300 miljoen-projek. ʼn Kampus wat die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, byna-byna die stuipe gegee het.

“Julle mag nie, mag nie, mag nie!” het hy geskreeu.

Nee, mnr. Lesufi, ons mag.

  • Artikel 29 van die Grondwet: Elkeen het die reg om op eie koste onafhanklike onderwysinstellings tot stand te bring en in stand te hou.
    Artikel 30: Elkeen het die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem.
    Artikel 31: Persone wat aan ʼn kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om, saam met ander lede van daardie gemeenskap, (a) hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en (b) kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.

Ons mag nie net nie, mnr. Lesufi – ons kán. Des te meer, ons wil en selfs nóg meer – ons móét.

Mnr. Lesufi, ons gaan aanhou hoop gee. Die ware hoop word nie deur jou gegee nie en kan nie deur jou weggevat word nie.

Dit geld vir al ons projekte. Ons doen niks snaaks nie. Ons doen wat ons moet doen.

Ons gaan nie dat politici wat raas en blaas nuwe reg en werklikhede skep nie.

Maar as u bekommerd was oor mnr. Lesufi se gesondheid ná sy stuipe oor die R300 miljoen vir Sol-Tech, daar is nóg nuus: – Akademia se nuwe kampus gaan meer as R1,5 miljard kos. Die man gaan ʼn beroerte kry.

Akademia het sentrums landwyd en dit gaan nog verder uitgebrei word. Tussen 30 en 40 grade word nou vir akkreditasie voorberei. Grond vir die groot nuwe kampus is reeds bekom. Daar word vir 6 000 studente beplan en die kampus maak voorsiening vir koshuise, ʼn studentelewe en sportvelde.

In die era van ontwrigtende kennis is lewenslange leer noodsaaklik. Dit is die taak van S-leer, ons nuwe maatskappy vir lewenslange leer.

Ons moet studente egter ook in staat stel om te studeer. Die Solidariteit Helpende Hand het reeds 5 000 studente teen ʼn bedrag van R200 miljoen gehelp. Teen 2030 wil ons die studiefonds tot R1 miljard uitbou.

Die groot vraag wat dikwels deur mense gevra word, is: Waar kom die geld vandaan? Die bedryfskoste van die instellings word deur ledegeld, die klein bydraes van baie mense, studentegeld, donasies en bemakings gefinansier.

Die eiendomsontwikkeling gaan deur ons nuwe eiendomsontwikkelingsmaatskappy, Kanton, onderneem word. Kanton se bestaansrede is om lewensruimtes vir Afrikaans te bou. Die manier waarop dit gedoen word, is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal. Dit bied aan beleggers ʼn goeie finansiële en kulturele opbrengs.

Die totale Solidariteit NetWerk gaan aan mekaar gekoppel word deur ʼn ongelooflike IT-stelsel. Dít wat Discovery met medies gedoen het, en nog beter, gaan ons met werk doen.

Ons stap die totale loopbaanpad saam met ons lede. Skole, loopbaankeuses, studiehulp, opleiding, werkvoorbereiding, internskappe, werkplasing, beroepsgildes, beskerming in die werkplek, lewenslange leer, medies, pensioen en meer – die grootse werkplan nóg.

Die toekoms is nie reglynig nie. Die geskiedenis wys die mis kan voor die son verdwyn.

Die toekoms kan antwoorde bring op kwessies waarvoor ons gedink het daar nie antwoorde is nie.

Twee groot veranderlikes gaan die toekoms positief kan verander: die ontwrigtende kennis van die Vierde Industriële Rewolusie en die veerkragtigheid van ons jongmense.

Die derde groot veranderlike is of ons geslag die roepingsbewustheid het om te doen wat ons moet doen.

Vandag se toekomsberaad is ons antwoord op daardie vraag.

Ons mag, ons kan, ons wil en ons moet.

Ons bou om te bly.

Hier is die aflosstokkie waarvoor ek verantwoordelikheid moet neem.

In die sakke wat elkeen van julle vandag ontvang het, is daar so ʼn aflosstokkie. Jy moet dit simbolies vir jou kind gaan gee. Dit is jou verbintenis met die volgende geslag. As jy nie ʼn kind het nie, gaan plaas dit op ʼn prominente plek. Dit is steeds jou verbintenis met hierdie geslag en ʼn volgende geslag.

Ek wil my twee oudste dogters (van vier) vra om vorentoe toe kom.

Mag ek van my lewe sê: Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.

Ek het gedoen wat ek moet doen op ʼn spesifieke tyd en plek, en ek het aan God se toekomsbelofte, daar waar Hy my roep, vasgehou.

Ek oorhandig my aflosstok aan my dogters – nie omdat ek klaarmaak nie, maar omdat hulle solank wil begin.

Hardloop, my dogters, hardloop. Julle moet nog die stokkie vir my kleinkinders aangee.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Piet ·

Waar is hierdie volkstaat, in Pretoria? Hoekom nie in noord of suid kaap? Hoekom alles bou in Pretoria?

Ben ·

Piet in die kol.
Miskien ons doen in die Weskaap.
Bygesê Dirk bring Hoop en ons gaan en moet saam bou, wie weet, tyd sal leer. Dankie Dirk.
Groetnis

Frik ·

Want die vakbond se base leef lekker in Pretoria, met vakansie huise in Hermanus. Die lewe is tog te lekker met ander mense se geld. Terloops, wat het geword van Inzalo? Doen eerder vakbond werk en veg vir werkers.

Francois ·

Dankie vir die skrywer Dirk!
Dit is iets wat mens hoop gee om aan te baklei vorentoe!

Hendrik ·

Ek voel geeerd om alreeds in ‘n gemeenskap te bly met veiligheid en selfbestuur. Dit is beslis die grondslag vir geslagte wat volg. Wees gewaarsku dat jy beslis nie met hande in jou sakke kan rondstaan nie.

aj ·

Gemotiveerde, talentvolle mense gaan die wêreld verander!

… ook vir ons hier aan die Suidpunt van Afrika!

Jack Klok ·

So ‘n mond met “jem” kry. Wel gezegd jonge doktor Herman.

Jack Klok ·

So ‘n mond moet “jem” kry. Wel gezegd jonge doktor Herman.

Afrikaner ·

Dirk, jy is ons Moses. Dankie vir dit wat jy vir ons volk doen. Sonder mense soos jy met durf, visie, harde werk en geloof is ons verlore. Mag die Here jou seen.

Chris ·

Dankie Solidariteit en Afriforum en al die helpende hand(e). Daar is baie uitdagings, maar ons is hier en dus sal ons saam skouer aan die wiel slaan. Rome is nie in ‘n dag gebou nie, maar die punt is, Rome is gebou en het nie uit die lug geval nie :)

Jerry ·

My geslag het soos die geslagte voor ons met die stokkie gehardloop, laat daar geen twyfel daaroor wees nie, dit is die rede hoekom die ANC sukkel om ons en ons kinders aan wie die stokkies oorhandig is, te verarm. Ons het as jeugdiges die stokkie gevat en nie aan die vorige geslag gevra wat “doen julle” nie. Ons het geweet dat ons die stokkie gevat het en dus daarmee moes hardloop en boeta ons het gehardloop totdat ons vlerke gekry het! Indien die jeug van vandag wel die stokkie gevat het, dan behoort hulle dieselfde te doen. Dit is uiters arrogant om te vra wat doen “julle” wanneer jy reeds die stokkie gevat het. Indien jy die stokkie wil teruggee om watter desperate redes ookal, raak eers die minste deur jou trots in jou sak te steek en gee dan die stokkie terug. Indien jy nie die stokkie teruggee nie moet jy elke dag in die spieel kyk en vir jouself vra, wat doen ek met die stokkie, wat bereik ek met die stokkie, kan ek in veiligheid gaan sokkie! Indien nie, sal net die tyd leer wanneer jy wel die stokkie gaan teruggee! Hopelik sal dit nie dan te laat wees nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.